Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
2 Konings 18 en 19 Lees 18: 3 – 8, 19 – 36 en 19: 1 - 4, 14 – 19 Ek dink baie oor gehoorsaamheid aan God. Omdat ek dit oral raaklees. Ek dink ook oor God se teenwoordig wees by ons. En hoe, prakties, leef ons bewus van God. Hoe bly jy vir God kies as die dinge om jou uitmekaar val? Vanoggend se vraag het nie maklike antwoorde nie. En ek vermoed dat in baie mense se lewens, tel dit wat elke dag gebeur meer as wat geloof in God vir hulle werk. Geloof het dalk vir baie mense ‘n vae hoop geword. Iets wat onrealisties maar sê nou maar net dit kan gebeur. Daar is twee realiteite. Werklikhede. Ek praat nie net van hier in 2 Konings 18 en 19 nie. Ek praat ook van ons eie lewens elke dag. Elke dag staan ons voor twee werklikhede. En ek en jy moet kies watter een die sekerste met ons praat. Aan die een kant is daar dit wat jy sien en beleef ... en aan die anderkant dit wat God sê. Daar is die manier van doen wat mense sê is al wat werk. En dikwels, reg teenoor dit staan wat God sê. Die lewe is vol vol moeilike keuses. Soms lewe en dood sake. Kies jy verkeerd gaan dit baie slegte gevolge hê. Vanoggend praat ons oor hierdie harde werklikheid. Die konflik tussen realiteit en geloof. Drie punte. • Die drama by die muur. En die drama agter die muur. • Die lewensuitkyke en houding van die gesprekvoerders. • Vandag: 'n realistiese alternatief? Was Hiskia se alternatief realisties, werkbaar gewees? 1. Die drama by die muur. Die drama gebeur op twee plekke: By die muur en agter die muur. Dit is die jaar 701VC en Assirie maak haar stem dik teen Juda. Assirie is 'n wereldmoontheid. Juda 'n klein landjie. Die Assiriers het gekom om Jerusalem te beleer. Amper soos Rusland wat die Oekraine wil oorneem. Ons begin met die drama by die muur. Die Assiriese onderhandelaar staan by die muur en hy skree die terme vir Jerusalem se oorgawe uit. Hy tart die Judeers. Hy sê God is nes die ander volke se gode. En al die ander volke is platgevee en baie is dood. Platgevee deur die Assieriese weermag. Hulle gode kon hulle nie een red nie. Hy sê daar is nie vir hulle 'n ander uitweg nie. Hulle moet oorgee. Assirier is te groot en sterk vir hulle. Hulle sou nie eers kan weerstand bied teen een van die kleinste goewerneurs van Assirie nie, wat nog van teen Assirie self. As hulle nie oorgee nie sal hulle nog hulle eie ontlasting moet eet en urine moet drink. Juda se onderhandelaar vra: Praat asb Aramees (18:26) sodat die gewone man nie kan verstaan nie. Hy wil nie hê die gewone ou moet geintimideer word en dalk oorloop nie. Natuurlik weier die Arameer. Hy praat Hebreeus. Die taal van die gewone man. Hy maak dinge so moeilik soos hy kan vir koning Hiskia. Hy speel vuil en probeer Hiskia in 'n hoek verf en die druk groot opdraai. Dit bring ons by die drama agter die muur. Kom ons noem dit, dit wat hierbinne gebeur as jy by die huis is of waar niemand jou kan sien nie. As jy besef hoe groot en kritiek jou moeilikheid is. Breekpunt oomblikke. In hierdie geval: die stad en al die stad se mense se lewe hang af van wat nou gaan gebeur. Dit is ook hier wat die drama agter die muur vir baie mense nie sin uitmaak nie. Dis hier waar mense sal sê, daars nie nou tyd vir sulke dinge nie. Hier moet nou groot en vinnige besluite gebeur, daars nie tyd vir bid en nog wat nie. Koning Hiskia antwoord nie. Hy neem nie 'n besluit nie. Hy voer nie samesprekings met sy leiers nie. Hy doen twee dinge: 1. Hy doen berou werk. Hy verootmoedig homself voor God. Hy skeur sy klere en trek rouklere aan. Hy is stukkend oor die gemors waarin hulle sit. 2. Die tweede ding wat Hiskia doen is hy gaan na die huis van God. Hy stuur sy paleisbestuurder en die staatsekretaris en die leiers van priester, almal in rouklere, na die profeet Jesaja toe. Jesaja se boodskap is kort en bondig: “Julle moet vir julle koning sê: So sê die Here: Moenie bang wees oor wat jy gehoor het, hoe die amptenare van die koning van Assirië My gelaster het nie. 7 Ek gaan hom onrustig maak, sodat hy na sy land toe sal teruggaan wanneer hy daarvandaan 'n berig kry. Ek sal hom in sy eie land laat doodmaak.” 2 Konings 19:6-7 Ek verkort die verhaal. Daar kom dreigbriewe van hoe al die stede al voor die koning van Assirie geval het en dat Jerusalem nie anders sal wees nie. Wat doen koning Hiskia? Hy het die briewe gelees en toe na die huis van die Here gegaan, en daar by God, sprei hy die gesant van Assirie se briewe oop voor God en hy bid. Die koning vat die dramas by die muur na God en hy praat met God daaroor. Dit is nie wat die meeste mense van 'n staatshoof verwag nie. Die probleem vandag is waarskynlik dat ons sukkel om te sien dat geloof meer tel as watter dramas ons ook al besig is om te deurleef. Daar is baie gelowiges wat voel die werklikheid van dit wat elke dag met ons en om ons gebeur is die enigste werklikheid. Dit is asof hulle dink geloof is net vir jou siel en vir eendag. En jy kan met God praat oor jou frustrasies en vrese maar niks gaan verander nie want dit wat jy vandag beleef ... of dit wat jy more vrees ... is net te groot! Kyk weer mooi na wat in Hiskia se werklikheid gebeur. Die realiteit by die muur is dat die Assieriers die sweep klap. Hulle bepaal die gang van die gesprek en wat gebeur. Die agenda op die tafel is Assirrie se belange en hulle dwing dit af op Juda. Wat Juda wil hê, tel net mooi niks nie. Hulle moet net betaal en oorgee. “Betaal of!!!” Volgens Assirie tel God ook nie. God word afgemaak as 'n dooie god. En weet jy wat: nes vandag mag die profeet nie by die onderhandelinge by die muur gaan praat het nie. Godsdiens moes daar uit. Agter die muur, by ons ander drama, is die hooffiguur God. Die Reddende Lewende God. Hy is die een wat die deurslag kan gee. Vir Hiskia is Hy die teenwoordige God, by hulle. Hul Redder.Hier weet hulle dat God groot en magtig is. Hier sê hulle Assierie spot met God. Sanherib beledig God. Red ons Here sodat die nasies kan weet U heers oor alle koninkryke. Kan daar 'n groter kloof wees? Assirrie teenoor geloof in God. Jy kan nou jou eie situasies gaan in lees by die drama by die muur. En besluit dan watter kant van die kloof jy is. Wat is die oplossings wat jy sien en volg: die wêreld s'n? Of God? Dink mooi. Dit is belangrik dat jy nie nou hier in God se teenwoordigheid een ding sê en more iets anders leef nie. Dink mooi: Juda se realiteit was, hulle het in opstand gekom. Hulle was erg beboet daarvoor en nou is hulle stad beleer. Hulle gaan as ballinge teen hulle wil weg gevat word met geen sê waarheen of wat daar met hulle kan gebeur nie. En of hulle gaan bly lewe nie. Baie hang seker af van die mens wat jy is. En die mense waarmee jy deel. Die onderhandelaar van Assirie tree nie op in goeie trou nie. Alles is in sy guns. Hy weier om Aramees te praat soos versoek en hy probeer om dinge so sleg as moontlik vir hulle te maak. Hy glo nie in God nie. Hy sê God is dood. En Hiskia? 18:5 HY glo in God. Hy vertrou op God. Hy het die afgodediens laat vernietig. Hiskia het God getrou gedien en nooit van God af weg gedraai nie. Hy het God gehoorsaam. En nou dat hy 'n krisis het, nou reageer hy steeds met geloof. Selfs al is die realiteite oorweldigend. Hiskia kies om steeds net te glo. Het Hiskia reg opgetree? Dis maklik om nou terug te kyk, te lees wat God gedoen het en te sê, ja. Hy het reg gedoen. Ons moet onsself afvra: Watter gesprek is die belangrike een? Die onderhandelinge by die muur of die binnegesprek met God? En ja, die vyand by die muur gaan nie vanself weggaan nie. Maar solank jy glo dat geloof is iets los van elke dag se oorlewing, dis net vir geestelik gaan jy ly onder die wereld se druk. Solank jy glo dat geloof in God is nie deel van elke dag se gevegte nie gaan jy maar die slaaf moet wees van wat ook al jy vrees of teen baklei of selfs voor baklei. As die buitegesprek by die muur vir jou die enigste of belangrikste gesprek is of net die swaarste weeg, dan glo jy die leuen dat God nie kan nie. God is dan dood volgens jou. Of stel nie belang nie. En dan moet jy maar vat wat die wêreld uitdeel. As ons kyk na hierdie stukkie geskiedenis in 2 Konings 18 en 19 dan is dit die binnegesprek, die gesprek met God wat die deurslag gee. Hiskia het God geeer en getrou gedien. In sy krisis het hy al die moeilikheid voor God oopgesprei en God het hom en sy mense gered. En ek vra myself af: God is nie die afwesige een of die probleem vandag nie. Ons afwesigheid by God en ons eiewilligheid en gebrek aan doen wat God vra, is dit nie hoekom selfs gelowiges vandag dink God sal ons nie help nie. Geld, mag, politiek, wat ookal praat harder. Moenie wag vir die krisis om die binnegesprek met God te begin nie. Leef nou reeds reg. Kies nou reeds om elke dag daardie gesprekke met God te hê en leef dan dit wat God jou leer. En dankie Here, dat U getrou is al is ons ontrou. (2 Tim 2:13)