Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Psalm 63 Dit is stil in ‘n woestyn. Dit voel verlate daar. Of dit die Juda woestyn is, soos in Dawid se geval hier, of net jou eie geestelike woestyn, dis stil en dis alleen. Selfs al is daar mense om jou. Wat dit vererger, is dat Dawid se seun Absalom hom wou dood hê. Dawid het vir sy lewe gevlug en hier opgeeindig. Dalk is dit vir jou eerder ‘n gevoel dat die lewe so teen jou gedraai het dat jy net iewers vêr weg wil wees, iewers wil kan wegkruip van alles en almal af. Psalm 63 kan ook soos jou hart klop wees omdat jy juis die woestyn wil in want dit is stil daar en jy wil in die stilte God hoor. Hoor dan die drie werkwoorde waarmee Dawid sy lied inlei: soek; dors; smag. Hulle bou op in intensiteit. Die soek word meer dringend soos iemand se soeke na water dringerder raak in ‘n dor en droee land namate die dors jou oorweldig. Dors word later smag. Ek wil vanoggend ‘n vierde werkwoord byvoeg. Dawid gebruik dit eers in vers 7. Weet. Weet is belangrik want dit is waar ons moet uitkom. Ek wil ‘n beeld uit een van my oggendboodskappe gebruik. Die vreemde gedagte wat onverwags dit self tuisgemaak het in my kop. Anders, en ook nie iets wat ek oor geloop en dink het nie. Moenie na dinge smag nie. Smag na My. Psalm 63 maak ‘n rede oop. Dawid het alles gehad. Vanuit vers 12 lei ons af dat hy reeds koning was, dus sy verblyf in die Judawoestyn was nie oor Saul nie maar wel oor Absalom. As koning het Dawid alles gehad. Tot hy inderhaas moes vlug voor Absalom uit. En nou is al die luukshede en besittings verlore en hy kruip in die woestyn weg. Goed, besittings is altyd tydelik. Ja, dit maak die lewe makliker maar jy kan nie jou lewe hierop bou nie. En ja Dawid het die woestyn verblyf oorleef en terug gekeer na sy paleis toe. Absalom, sy seun was dood. Die krisis was oor. En Dawid het geweet dat dit God is wat hom nog altyd gered en gedra het. Kyk maar na vers 7: 7 As ek aan U dink op my bed, oor U peins in die nag, dan weet ek: 8 U is vir my 'n hulp, en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels. Psalm 63:7-8 Hoe het Dawid by hierdie punt gekom dat hy tsv wat om hom en met hom gebeurhet, hy met sekerheid kan weet: God is sy hulp en beskerming? As jy die Psalm noukeurig lees dan besef jy dit gaan oor 'n verhouding met God. En hierdie verhouding is vir Dawid die belangrikste ding in sy lewe. Dit maak nie saak of dit goed of sleg gaan met hom nie: Sy verhouding met God is vir hom belangrik. Kan ek sê: Selfs belangriker as sy eie lewe? Vers 4: 4 U troue liefde is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys. Psalms 63:4 Ek besef Dawid het hierdie psalm geskryf toe sy lewe erg skeef geloop het. En ek dink ons gaan almal aanklank by Dawid vind. Absalom, sy seun, wou hom doodmaak. Dawid het gevlug die woestyn in. Sy omstandighede is benard. Sy lewe is oornag van hom afgestroop. Weg is sy koningskap. Die lekker paleislewe: Weg! Die oorvloed is weg. Hy moes vlug met seker net wat hulle vinnig kon bymekaarskraap. En nou honger, dors en swaarkry. En hierbinne, vermoed ek, 'n groot stuk seer oos sy eie kind wat hom dit aan gedoen het en wil doodmaak. Wat doen hy? Hoe hanteer hy dit? Wat ek nou gaan sê is nie 'n aksieplan nie. Dis nie 10 stappe tot 'n beter lewe nie. Dit is om ons te laat ervaar hoe jou verhouding met God jou kan deurdra. Dawid se verlange na die heiligdom het hom gehelp dra. Die plek waar God daardie tyd Sy volk ontmoet het. Op ‘n manier vandag se eredienste. Dawid verlang na die heiligdom want dis waar hy nog altyd God se grootheid en mag beleef het. Dawid gryp terug na sy verhouding met God. Sien, God was nie vir hom iets wat by geleentheid in die eredienste gebeur het nie. God was vir Hom altyd daar. Hier in sy moeilikheid wil hy God se nabyheid ervaar. Wil hy net weet God is hier by hom. Maak dit sin vir jou? As dit met ons sleg gaan is dit wat jy wil weet: God sien raak wat met my gebeur. My hemelse Vader is hier by my. … • Dis waarna Job gesmag het … dat God hom tog net sal antwoord dat hy kan weet dinge is okay tussen God en hom … • En Jesus in sy donkerste oomblikke hier in sy aardse lewe … daar aan die kruis wou Hy weet “My God my God, waarom het U my verlaat?” Hulle het almal na God gesmag. Dawid druk dit uit met woorde soos: Soek. Smag, verlang. Kom ons wees eerlik met mekaar. Jy doen dit net – dis nou hierdie soek en smag na God – as jy weet dis al wat vir jou oor is. Die meeste mense wat ek ken – solank hul dink daar is nog ander opsies wat dalk kan werk, soek nie na God met so 'n dringendheid nie. Kom ons kyk weer na die Psalm. Vers 4, 5, 6. Wat doen Dawid. Hy loof die Here. Vyf maal kom woorde van lof aan God voor: prys, loof, juig. Dawid is nie stil oor God nie. Hy loof en prys God. Dit is deel van hoe hy sy woestynsituasie hanteer. Dis nie 'n truuk nie. Hy probeer nie God sag maak of op so ‘n manier God daartoe beweeg om hom wat Dawid is te help nie. Dis iets wat eg, opreg uit sy verhouding met God kom. Kyk maar weer na vers 5 en 6. Hy prys God soos in tye toe dit met hom goed gegaan het. Tye toe hy letterlik die murg en vet – die smaaklikste van die lewe kon geniet. En nou waar dit sleg gaan doen hy dit steeds. Hy hou net eenvoudig nie op om God te loof en prys nie. Dit is een van die maniere wat Dawid sy hart en sy vertroue by God hou. Hy dink na oor God. Selfs in die nag is sy gedagtes by God. Ek leer in Psalm 63 om in goed en sleg aan te hou om God te loof en prys. Om dankbaar te wees vir Wie God is en dat Hy met jou ‘n pad loop. Doen dit eg. Doen dit uit jou hart uit. Hou jou lewe by God. Ons moet ook nie miskyk hoe belangrik dit vir Dawid deurgaans was om in God se heiligdom te wees nie. Dit is daar wat hy God se mag en grootheid ondervind het. Dit is daar waar hy ontmoetings met God gehad het. Natuurlik het hy God se mag en grootheid op ander plekke ook beleef. Selfs op die slagveld. Sekerlik is die mooiste, wat ook ons moet hoor, vers 4: 4 U troue liefde is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys. Psalms 63:4 Hoor jy dit? Laat dit insak. God se troue liefde is meer werd as die lewe. In Jesus, die Seun van die lewende God, beleef jy juis dit: God se liefde, groot en toegespits op ook jou. Ek wil 'n opmerking nog maak oor vers 2 dan gaan ek sluit. In vers 2 is daar 'n dubbele herhaling van God se naam. Eers “Elohim” en dan “El”. Elohim word gekoppel in die Ou Testament aan God wat skep, die Almagtige is, die Sterke op wie jy kan reken. En “El” is die naam wat gekoppel is aan die God van krag en sterkte wat ook vir jou in jou woestynsituasie kan help. Dawid se dubbele herhaling “o God, my God”, sê dan iets van Dawid se verhouding met God en sy geloof in God. Wat ookal in jou lewe aan die gebeur is: God is daar. En al voel dit vir jou die wêreld is teen jou, al is dit hoe stil in jou woesterny, die God van Dawid, Die God van Elia en Elisa, die God van baie van ons se ouers, ons Here en ons God, is by ons. Bly jy ten alle tye by Hom.