Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
JESAJA 40: 20 – 31 Die laaste paar jare was ekstra hard op ouers. In Grendeltyd moes julle kinders skool en steeds die pot aan die kook hou. Dinge het ook nog nie makliker geraak nie. Die petrol prys is deur die dak. Kospryse styg. Jy bekommer jou dalk oor jou kinders en kleinkinders se veiligheid. Dalk is jy al verby dit en nou moet jy die pensioen maak werk en die medies probeer byhou en en. Selfs die sterkstes onder ons moet soms erken dit raak teveel. Vandag is vadersdag. En ek wil jou bemoedig. Jy is kosbaar en God sien jou raak al voel dit nie altyd so nie. Uit my eie lewe uit kan ek sê dit help oneindig baie om te bly onthou dat God jou lief het. Regtig intens liefhet. Hy sal jou nie in die steek laat nie. Hy sal jou help om deur dit te kom wat ookal jy moet deurkom. Ek het dit eers nie raakgesien nie en toe gesien. God antwoord Israel soos Hy Job geantwoord het. Nee, nie presies dieselfde nie. Maar wel. As ek dit in een sin kan saamtrek: Kan jy doen wat God doen? En ons reaksie moet wees: Laat jou lewe in Sy hande oor. Jesaja het graag gepraat oor God se troon. As ons dit besef dan help dit ons om iets van God te verstaan. Oor hoe God in Sy koninkryk werk. Hier is iets van die prentjie waarmee Jesaja werk. Israel is God se mense. Hulle verteenwoordig Hom tussen die ander volke. Jesaja kan nie verstaan hoekom hulle God verlaat het en die vrae vra wat hulle vra nie. Hy vra: “Weet julle dan nie, het julle nie gehoor nie, is dit nie van die begin af aan julle bekendgemaak nie, het julle nie 'n begrip van hoe die aarde ontstaan het nie? God het Sy troon bokant die hemelkoepel … (40: 21) Israel stoei met hulle lewens en veral met hulle ballingskap. Hulle sit al plus minus 50 jr in ballingskap. Dinge gaan nie te sleg nie. Die groot probleem is net … hulle is nie vry nie. Hulle sit in ‘n vreemde land en hulle kan nie terug na hulle eie land toe nie. Hulle wil antwoorde hê en nie die mooi prentjies wat Jesaja van God vertel nie. Hulle soek bewyse dat God by hulle is. Hulle wil dit sien en hulle wil voel dat God hulle help. Hulle wil weet God kan en God sal hulle help. Hoe antwoord Jesaja hulle? Hy vat hulle vrese en vrae en sit dit regoor God se troon. Ons kan seker sê dat Jesaja, op ‘n manier wil hê hulle moet dit wat hulle ervaar en voel meet teenoor Wie God is. Hy sê vir hulle kyk hoe groot is God se koninskap. God is Koning van die heelal. Hy wys op hoe groot God is en wat Hy als doen maar Jesaja laat dit in die lug hang. Hy sê glad nie God sal hulle help nie. Hy vra God se vraag: “Met wie kan julle My vergelyk? Wie is soos Ek? Vra die Heilige” (vers 25) Jesaja het ook ‘n manier gehad om spot te dryf met die afgode. Hy sê dinge soos: mense vat 'n stuk hout, maak 'n beeld daaruit en aanbid dit. Die maker aanbid die maaksel. En God? God skep. God dra. God doen. As jy by hoofstuk 46 kom dan sê Jesaja, God sê wat Hy gaan doen vooruit en dan gebeur dit. In hoofstuk 40 sê Jesaja: Kyk op en jy sal niks mensgemaak sien nie. Ek wil drie verse aanhaal. Verse 25, 26 en 27: Vers 25, na die Here deur Jesaja gesê op ‘n klomp voorbeelde gewys het wat God kan doen en die mens nie. En hoe nietig klein is die mens teen God gemeet. En in vers 18 en 25 kom die vraag: 25 Met wie kan julle My dan vergelyk, wie is soos Ek? vra die Heilige. Wat vir my net sê ons moet ophou om aan God te dink asof Hy ‘n supermens sou wees. Hy is nie. Hy skep mense. God se vermoeens en God se manier van doen is nie soos ons nie. Jesaja vra ook Wie kan vir God raad gee? Wie sal vir God leer wat om te doen? Niemand nie. Vers 26: 26 Kyk op na die hemel: wie het die sterre geskep? Hy wat die hemelse leër laat uittrek in hulle volle getal, dit is Hy wat hulle elkeen gemaak het. Met sy groot krag, sy groot mag, sorg Hy dat geeneen van hulle ontbreek nie. Jesaja 40:26 Die implikasie is ook dat God vir ons sorg binne ons situasies. Dat ons God kan vertrou om Sy plan, Sy wil met ons lewens deur te voer tenspyte van wat die wêreld en die bose probeer doen. En dan in vers 27 kom die vraag: 27 Waarom sê jy dan, Jakob, waarom kla jy, Israel: “Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby”? Jesaja 40:27 Die deel laat mens nogal aan Job dink. God antwoord nie Job se vrae nie. Hy wys net op Sy grootheid en vra of Job sou kon doen wat God gedoen het. En dis dikwels wat God doen. Hy nooi ons uit om om ons te kyk en raak te sien wat Hy doen. Hy nooi ons uit om te kyk wat ons met ons vryheid wat Hy ons gegee het gedoen het en steeds doen: Na die mate waarin ons op God vertrou of op dinge of mense vertrou. En ja ons sit ook met die verkeerde keuses van ander mense wat hulle vryheid misbruik om te moor, steel, seer te maak of wat ookal. God keer nie als weg nie … Hy laat dikwels dinge 'n loop neem … maar Hy gee nooit Sy beheer oor nie. En nooit laat Hy sy kinders alleen nie. Al loop Sy kinders van die huis af weg soos Israel gedoen het en al gebeur lelike dinge met hulle terwyl hulle wegloop van God af. As hulle na God roep, dan kom staan Hy by hulle … en Hy inspireer en Hy gee krag om te kan terugstap na veiligheid. Iewers het ek ‘n meer hedendaagse vertaling van Jesaja 40:31 raakgelees: “Hulle wie se aandele vasgemaak is by God, sal ’n tweede asem, derde asem, vierde, vyfde, sesde kry. Hulle sal vlieg. Wonderlik, soos die arende op die Natuur kanale op DSTV. Hulle sal marathons die een na die ander hardloop. Hulle sal berge uitloop teen die middel van die dag, in die middel van die somer en nie eens ’n druppel sweet wys nie!” Dit is my werk vanoggend om vir jou te sê dat by God, in God is dit ook vir jou moontlik. Dis my werk om ons te leer vlieg vanoggend. (Kan ek gou afdwaal?) “George Faux , 'n Engelsman uit die 19de eeu en taamlik eksentriek. Eendag sê hy hy het hierdie ding van vlieg uitgewerk. Hy weet hoe om te vlieg. Hy het al sy bure en wie ookal bymekaar gekry, om sy woorde te staaf. Hy weet hoe om te vlieg. Hy het op die dak van sy huis geklim, afgespring en sy arms op en af geklap. En hom skoon besimpeld geval. Toe die mense hom uitlag toe reken hy: Eintlik kan ek goed vlieg. Ek sukkel nog net met die landing. Nou kom ons leer vlieg. Vertrou God. En die begin van vertroue is ‘n duidelike besef van God se liefde en God se grootheid. Sit met dele soos Jesaja 6, Jesaja 40 tot 46 of verder. Job 38 tot die einde. Openbaring 1. Daar is soveel dele. Meer belangrik is bou ‘n verhouding met God waarin jy soms baie kan praat en selfs kla en ander dae net sonder woorde by Hom sit en tevrede te wees. Ek praat van ‘n tipe verhouding waar jy bewus raak dat God elke oomblik van jou dag deel van is. En jy Hom daarmee vertrou. Maak jou oë oop vir die klein dinge wat die Here om ons plaas en vir ons gee. Wees dankbaar vir alles in jou lewe: vir jou blyplek, vir jou kos en klere en vir jou werk of inkomstes. Nie net eenmalig nie, maar elke dag sê ons dankie vir God. Dit gaan ons oë oopmaak vir alles wat God reeds doen. Gaan kyk na die sterre. Bewonder die natuur. Sien God wat dit geskep het en wat sê Hy sorg selfs meer vir jou as vir die natuur. Hou jou fokus op God. Sien God raak vir Wie Hy is en vir hoe baie Hy jou liefhet. Besef opnuut Wie Hy is, hoe groot Sy vermoeens is en hou vas aan Hom. Vertrou op Hom en weet dat hy die beste vir jou sal doen op die tyd wat Hy weet die beste sal wees. Onthou God IS in beheer. Leer om op God te wag. Maar terwyl jy wag. Bly bid vir nuwe krag en energie en leiding. Vryf jou hande in die oggend teenmekaar in afwagting en sê: Ek kan nie wag om te sien hoe God vandag my gaan help met al my uitdagings. Onthou: God woon in jou. Hy het jou geloof gegee. Om geloof te hê is om vlerke te besit. God is nie vêr nie. Daars altyd nuwe moontlikhede by Hom. Wat ookal gebeur: Hou vas aan God. Hy sal jou deur alles kry. Ek sluit met ‘n aanhaling uit: The Message: “Don't you know anything? Haven't you been listening? GOD doesn't come and go. God lasts. He's Creator of all you can see or imagine. He doesn't get tired out, doesn't pause to catch his breath. And He knows everything, inside and out. He energizes those who get tired, gives fresh strength to dropouts.” Pa, jy is nie alleen nie. God is in jou en met jou. Gebed.