Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 16: 13 – 23 Hoe lyk die prentjie in jou kop oor Jesus? Is Jesus byvoorbeeld die goeie Vriend wat al ons alles vergewe en ons lief het? Of is Jesus net die gekruisigde wat die straf op ons sondes dra? Of is Jesus die Een wat ander se sondes en weggesteekte oortredings uitlig en veroordeel? (soos met die Fariseers). Watter een van die baie prentjies wat die Bybel oor God en veral oor Jesus teken, is die een wat jy vashou en uitlig en mee leef? Ek het in my vakansie opgelees oor die beeld van God. Ek het artikels ge-Google en gelees. In een so ‘n artikel het Walther Bruegemann geskryf van al die prente in die Bybel wat ons teenstrydig vind en probeer wegverklaar. Soos byvoorbeeld, God se bevel dat oud-Israel met die intog al die mense en diere van dorpe moes doodmaak. Die dissipels het Jesus al misverstaan. Byvoorbeeld toe hulle gedink het Hy sinspeel op hulle oor hulle nie brood gekoop het nie. Hoekom is dit belangrik? Hoekom moet ons hieroor nadink? Wel die prentjie in jou kop oor Jesus, en meer spesifiek wie Jesus is, gaan of hoe jy lewe en die keuses wat jy maak direk raak, of dit gaan net soos baie ander goed, net kopkennis wees. En ‘n tweede rede is in ons Skrifgedeelte. Die twee dele direk hierna sê op verskillende maniere dat jy jou ou prentjies oor wie Jesus is, moet laat gaan en begin om te leef soos Jesus sê Hy is. Die eerste is vers 21 tot 23. Petrus het die mooi belydenis gemaak dat Jesus is die Seun van die lewende God. Hy is die Christus. Maar as Jesus later praat oor hoe Hy moet ly en doodgemaak gaan word, dan pas dit nie by Petrus se prentjie van Jesus in nie. Hy het duidelik net een deel reg. Jesus is die Seun van die lewende God. Die res het hy verkeerd gekry. Die tweede deel is vers 24 tot 28. “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg.” Dit is ‘n prentjie wat sê bekering beteken iets anders as wat baie mense dink. Baie dink dit is ‘n een keer in my lewe, of dalk ‘n paar keer, wat ek my hart vir Jesus gee en daarna kan ek aangaan met my lewe soos ek wil. Nee. Die prentjie wat Jesus ons van Hom gee is een waarin ek ons by Hom skaar en begin leef soos Hy. Ek moet agter Hom aan leef. En ek doen dit elke dag in die lewe wat ons elke dag het om te lewe. Ons kan op ‘n ander keer meer hieroor praat. Wat ons nou moet insien is dat as ons sê Jesus is die Christus. Jesus is die Seun van die lewende God, dan moet ek myself verloën en Hom volg. As jy dink Hy is dit nie, wel dan doen jy jou ding op jou manier. Niks in die Bybel hang in die lug nie. Bv as die Here sê dis moeiliker vir 'n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan as vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan, dan was dit waarskynlik teen die agtergrond van kameel-konvooie wat verby beweeg het. Jesus en Sy evangelie gebeur nie in afsondering soos in sinagoges of later in kerkgeboue op Sondae nie. Jesus kom staan op straat by jou en in die werkplek, in sportstadions en by jou kuierplekke. Ons sien dit in Matteus 16: 13 tot 20. Kyk waar vra Jesus die wie-is-Ek-vraag aan Sy dissipels. Jesus is in die omgewing van Cesarea Philippi. Daar draai Jesus om na Sy dissipels en Hy vra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die Mens?” Die dissipels het geantwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.” Maar dan vat Hy hulle van die algemeen na die persoonlike. Van wat sê die mense, na wat sê julle. Dis maklik om in die bondel weg te kruip. Ons sê maklik vir mekaar “die mense sê …” of “die mense kla …”“ of selfs “ maar almal sê dit of dat”. Gewoonlik sê mense so iets as hulle nie prontuit wil erken maar dis hoe hulle voel nie. Dit is interessant dat Jesus nie vra wie sê die mense is Ek nie. Hy vra, asof Hy na Iemand anders sou verwys, wie sê die mense is die Seun van die Mens? Wie sê hulle is die Messias? En dan maak Hy dit persoonlik: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” Maw: Vergeet van wat almal sê. Wie sê jy is Ek? En dan kom Petrus met sy mooi belydenis. Kom ons staan vir ‘n oomblik stil by Jesus se vraag. Jesus vra: Wie, sê julle is Ek?” Of dan: Wie sê jy is Ek? Ek gee jou weer ‘n oomblik of so om oor jou antwoord te dink. Ons sit hier in ‘n relatiewe veilige omgewing. Ons gaan waarskynlik almal dieselfde antwoord gee: Jesus is die Seun van God. Die Christus. Val dit jou op, dat ons antwoord in die derde persoon is, Jesus is die Seun van God … en nie soos Petrus s’n wat Jesus voor hom sien staan en dan sê “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” Dalk moet ons anders antwoord. Vanuit die besef dat Jesus hier is en sê: “Here, U is die Christus. Die Seun van die lewende God.” Dan weer wonder ek of Jesus dit vanoggend juis hier in die erediens van ons sal vra. Hier waar ons knus en warm saam is in die geloof en almal deur die bank gaan bely: Jesus, U is die Christus, die Seun van die lewende God. Ek dink Jesus gaan die vraag kom vra daar waar jy dalk jou geloof graag stil vir jouself wil hou. Die dissipels se belydenis is niks nuuts nie. Blaai saam met my terug na 14:33. Daar waar Petrus op die water probeer geloop het, gesink het en gered is – en dan as hy veilig terug in die boot is -- toe het die dissipels voor Jesus gekniel en bely: “U is waarlik die Seun van God.” So hoekom nou weer die vraag? As jy kyk na waar vra Hy die vraag dan begin dinge skielik helder word. Naby – in die gebied van Sesarea Filippi. Dis soos om te sê ... reg om die hoek van die hoof aanbiddingsplek van die afgod Pan of Panias. Die half bok half man afgod. Daar, by die groot rotsformasie met die skeur wat diep in die aarde insak -- ja net daar waar die mense van Sy dag geglo het die geeste heen en weer – in en uit die hel beweeg. Daar vra Hy vir sy dissipels: Wie sê julle is Ek? En as hulle antwoord dan sê Hy oa 2 dinge: 1. Op hierdie rots (belydenis) sal ek my kerk bou. 2. Die poorte van die hel sal dit nie oorwin nie. By die plek “Die poorte van die hel” -- sê Jesus vir Sy dissipels: die magte van die doderyk sal dit – die kerk en die belydenis -- nie oorweldig nie. Daar is geleerdes wat sê dit is 'n plek wat deur goeie Joodse seuns vermy sou word. Jy sou nie daar gesien wou word nie. Die mense wat daar aanbid het het met die groot feesvieringe seks met bokke gehad. Dis ook naby aan die plek waar Koning Herodus sy tempel en adminstratiewe hoofkwartier sou gehad het. Soos iemand gese het: By die plek van die mens wat homself god laat noem het en die plek van die god wat deur mense uitgedink is ... daar naby ... vra Jesus die vraag: Wie sê julle is Ek? Dis een ding om in die veiligheid van die bootjie, weg van mense wat anders dink te bely Jesus is die Seun van God ... dis 'n gans ander saak om dit te bely in die aangesig van mense wat in bokgode glo ... of ateiste is ... of niks van jou geloof wil weet nie. Ons belydenis dat Jesus die Seun van God is, ons Here en ons Verlosser, is maklik om te bely op 'n Sondag in die erediens. Maar die vraag word nie net hier gevra nie. Dit word gevra ... op verskillende maniere ... juis daar waar jy jou geloof liefs vir jouself sou wou hou. Dink aan 'n plek waar jy bitter moeilik sal bely: Jesus is my Verlosser. Daar ... op daardie plek, sal Jesus na jou draai en vra: Wie sê jy is Ek? Daar sal Hy sien of jy Hom liefhet met jou hele lewe. Of dink aan ‘n plek waar jy maak soos jy wil en Jesus en God se wil afskuif in ‘n ver vierde plek. Daar is die plekke waar die Here jou belydenis wil sien. Hoekom sê ek Jesus wil dit daar sien? Want in vers 21 tot 23 kry Petrus raas omdat hy nie Jesus se woorde wil aanvaar nie en Jesus wil omswaai na sy, Petrus se siening. Petrus wil nie hê Jesus moet dit deurgaan nie. Petrus wil Jesus vir altyd hier by hom hê. Petrus wil …. Wat God nie wil nie. Petrus se belydenis was reg, Petrus se verstaan van wat dit beteken, is so skeefgetrek dat Jesus nie daar in kan pas nie. Wil jy nie jouself afvra, hoe kom Jesus se Christus-skap in jou lewe tuis. Sal jy op die water agter Hom aanloop – soos Petrus? Sal jy jou lewe aanpas, selfs totaal verander, om Hom te volg? Kan Jesus dit in jou lewe sien? Ons kom in die moeilikheid as ons prentjie van wie Jesus is, nie in lyn is met die volle prent van wie Jesus regtig is nie. As ons aan Jesus dink as genade en liefde en die prente wat Johannes in sy visioene in Openbaring gesien het ignoreer. Daar sien jy Jesus as in beheer. As die Een in Wie se hand die lot van elke mens is. As ek kyk na die briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring, dan sien ek hoe verkeerd ‘n gelowige dit kan kry. Ons wil dit nie so hê nie. Ek wil pleit, gaan sit met hierdie vraag by Jesus self. Vra Hom of jou belydenis en jou lewe met mekaar rym. En met Hom in lyn is. Wie is Jesus vir jou? En dan ... die kontrole vraag ... Wys my lewe die antwoord?