Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
God se Wil – Dinsdag 1 Petrus 2:15-17 & 3:15-17 1. Ons trek by die derde boodskap rondom die wil van God, of dan nou soos dit in die kerkmond bekend staan, God se plan. In die eerste twee boodskappe het ons in kort gese dat God net een plan met die wereld het, een wil vir die wereld, en hierdie plan se naam is Jesus Christus. 2. God wil he dat u en ek deel van hierdie plan moet wees deur met ons lewens Hom aan mense bekend te stel en so deel te wees van sy reddingsaksie vir die wereld. Of ek werk, speel, waar ek ookal bly, met wie ek ookal trou: Is ek besig om mense deur my voorbeeld na God toe aan te trek en op die manier sy evangelieboodskap te verkondig. 3. Ons het ook gesien en gaan nog in die res van die week sien dat God se plan, sy wil, nie ‘n vreemde plan of misterie of bloudruk is net om jou pret te bederf nie. Jesus is God se wil. Hy is ons Vader en soos ‘n goeie Vader het sy wil te make met ‘n verhouding met Hom. Dat mense in verhouding staan met Hom en gered word deur Jesus. 4. Maar soos ons weet, in enige familie, is daar familiereels. Ons het in ons huis sekere reels gehad toe die kinders nog in die huis was. Eet nie voor die TV nie maar aan tafel, wanneer aandete verby is gaan pa en ma bad en kinders ruim die kombuis op. Huiswerk wat oor 2 weke ingehandig moet word, word vanaand gedoen. Met die seuns moes hierdie reel soms afgedwing word maar u kry die prentjie. 5. Nou in God se familie is dit nie anders nie. Daar is ook reels. En ek wil graag aan die hand van sekere teksverse oor die volgende paar aande he ons moet hierdie reels in God se familie van nader bekyk. Ek is seker u sal self nog ‘n klompie kan byvoeg en ek is dankbaar daarvoor. Tyd is egter beperk en gaan ons in die tyd tot ons beskikking op ‘n paar huisreels in God se familie fokus. 6. Kom ons kyk na ons eerste teksgedeelte. 1 Petrus 2:15 – “Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen, 'n einde sal maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat.” Nou ek het al baie gehoor dat ek moet goed doen, maar ek kan nie onthou dat daar al direk vir my gese is dat dit die DIE WIL VAN GOD IS nie. Ja, ons hoor dat ons God se wil moet soek wanneer ek wil trou, of van werk verander, of wil verhuis. En dis goed so. Maar heel belangrikste se God self in sy woord vir ons, is dat sy wil is dat ons goed sal doen. 7. En dan los Petrus ons nie net in die donker hiermee nie. Hy gaan verder deur vir ons te vertel hoe ons goed moet doen. V 16 – Dien God V17 – Respekteer ALLE mense. Nie net mense in my familie of vriendekring nie. Ook hulle wat nie dink soos ek dink nie, ook hulle wat ‘n ander velkleur as ek het V17 – He julle medegelowiges lief. Petrus praat spesifiek van medegelowiges omrede dit ‘n groot probleem onder die gelowiges in Klein Asie was. Onmin en tweedrag. V17 – Vrees God. En vrees beteken nie hier dat ons moet bang wees nie. Dit beteken om God te eer en te erken vir wie Hy is. V17 – Eer die keiser. MAW respekteer hulle wat oor jou aangestel is. Enige gesag en outoriteit. Solank dit wat hulle van ons verwag binne God se wil is. Nie so eenvoudig nie ne? 8. Respekteer mense. Dis hoe jy goeddoen. Ons wereld is stukkend. Statistieke toon dat slegs 13% Suid Afrikaners mense buite hul familiekring vertrou. Slegs 50-53% families vertrou mekaar. Met al ons godsdienste in Suid Afrika, met byna 80% mense wat se hulle is gelowiges vertrou ons nie mense wat anders dink, praat en lyk as ek nie. Ons blyk wantrouig te wees teenoor almal wat nie soos ek dink en lyk nie. 9. Alle mense wil gerespekteer word. Die kelner by die restaurant, die petroljoggie, karwag, tuin en huiswerker. Almal wil graag met respek behandel word. Sielkundiges noem dat ongeveer 98% van geweldsmisdadigers op een of ander tyd hulle selfrespek ontneem is deur die manier hoe ander teenoor hulle opgetree het. En dan gaan neem hulle wraak hiervoor. Skokkende syfers. 10. Jesus het almal met respek behandel. Selfs hulle wat uit die sogenaamde lae klas kom. Die vrou wat met prostitusie betrap is, die vrou by die put, die melaatses, die ryk Saggeus, die ryk Romeinse offisier. Almal dieselfde behandel. Dis God se wil, sy plan vir mense op hierdie aarde. Om goed te doen. Selfs ‘n beker koue water aan iemand in God se naam te gee – Matt 10. 11. Ons doen nie God se wil as ons mense minderwaardig behandel nie. Het u gemerk dat Petrus nie belangstel oor watse werk ek doen, waar ek bly, met watse kar ek ry of met wie ek trou is nie. Nee, dit gaan vir hom daaroor of ons God se wil doen deur goed te doen aan alle ander mense. Nie net die wat my pas nie. Alle mense. 12. Ons almal weet dat die Johannesbrief oor die liefde gaan ne? Dis dieselfde Johannes wat se dat die kriteria vir liefhe is dat ons ons lewens vir ons broers moet afle. Dis die kriteria. En dis die goeddoen wat Jesus self van ons vereis. Dis hoe hoog die standaard van sy wil en sy plan vir hierdie wereld is. 13. Maar hiermee saam se Petrus dat dit ook God se wil is dat ons teenstand sal vat. 1 Petrus 3:15-17. “As dit die wil van God mag wees dat julle moet ly wanneer julle goed doen, is dit beter só as om te ly wanneer julle kwaad doen.” U sien, om ‘n gelowige te wees beteken nie dat jy altyd die geur van die week of die smaak van die maand gaan wees nie. Die evangelie wek soms weerstand by mense op. En as jy binne God se plan met hierdie wereld gaan leef, so gaan leef dat jy mense na Christus toe trek, gaan jy weerstand kry. 14. Dit beteken nie ek moet moeilikheid soek nie. Daar is Christene wat dink hulle moet altyd rede soek om te lei vir die Here. Jy hoef nie ander kwaad te maak en om te krap nie. Petrus en Paulus roep ons gereeld op om juis sober te leef. MAW met nugter denke moet leef. Dat ons nie moet aanstoot gee nie. Maar as my lewe binne die evangelie van Christus is gaan moeilikheid jou opspoor. Jy hoef nie moeilikheid te soek nie. Moeilikheid het klaar jou naam en adres. Glo my! 15. Wanneer ek onreg sien plaasvind of iemand word te na gekom en ek staan op vir daardie person omrede dit is wat Jesus van my verwag, dan gaan ek teenstand kry. Wanneer op armes getrap word of iemand word te na gekom moet ons opstaan. En dan gaan jy beslis weerstand kry van ander mense. Selfs van gelowiges. 16. Die evangelie vra van my en u om ‘n punt te maak wanneer dit nodig is. Dis deel van God se plan vir u en my.. Die vraag is nie hoe dit my bonus gaan affekteer of my gewildheid gaan beinvloed nie. Dis God se wil vir my en u, sy plan vir ons, sy doel met ons. Staan op vir hulle wat nie kan nie, staan op vir die evangelie wanneer dinge rof raak. Om ‘n stem vir die stemloses te wees. 17. Maar wie is diegene wat geen stem het nie? Ek noem hulle God se vriende. Ons kry sommer ‘n pasklaar lysie in Ps 146:7-9. “Hy laat reg geskied aan verdruktes en gee brood aan dié wat honger ly. Die Here bevry die gevangenes, die Here laat blindes sien, Hy ondersteun dié wat bedruk is. Die Here het die regverdiges lief. Hy beskerm vreemdelinge en help weeskinders en weduwees.” 18. Dis die mense van wie God hou. Die nobody’s, has been’s. Nie invloedryke mense nie. Dis God se plan vir u en my dat ons goed sal doen deur op te staan vir hierdie vriende van Hom. Opstaan is maklik wanneer jy dit in die kerk doen, maar wanneer jy in die wereld daarmee gekonfronteer word raak dit moeiliker. Dan gaan ons teenstand vat. Maar dis God se wil. Dis sy plan vir ons. 19. Het God ‘n plan vir u en my? Ja, Hy het. En dis sy plan vir ons dat ons goed sal doen en teenstand sal vat as ons opstaan vir sy evangelie, vir diegene wat nie vir hulself kan opstaan nie. Kom ons streef daartoe!