Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
God se Wil –29 Mei 2022 Johannes 6:38-40 1. Ek dink vir meeste mense is God se wil ‘n raaisel. As jy sommer so vir enige mens in die straat sou vra of sy of haar lewe binne God se wil is, dink ek ongeveer 80% gaan nie vir jou ‘n antwoord kan gee nie. Jy sal antwoorde kry soos ek hoop so, ek doen my bes ens. Want vir baie gelowiges is God se wil ‘n stuk misterie, ‘n raaisel. Ons is in die kerk geleer dat God ‘n wonderlike plan vir jou lewe het. En dan haal ons maar lekker teksversies buite konteks aan om dit te staaf. 2. Nou as ek 50 of 60 jaar oud is en ek hoor in ‘n preek dat God ‘n plan vir my lewe het gaan ek so bietjie ingeloop voel. Want hoekom moet ek eers op 50 of 60 uitvind wat God se plan vir my lewe is. Nee, God se wil is nie so ingewikkeld nie. Ons het nie nodig om ons hele lewe lank te stoei en te worstel om uit te vind wat God se wil is nie. Iemand het eendag gese: The day you plant the seed is not the day you eat the fruit. Die dag waarop jy die saad geplant het is nie die dag waarop jy die vrugte eet nie. 3. Miskien is dit wat ons van kleintyd af in die kerk gehoor het en die boeke wat ons gelees het wat veroorsaak het dat ons vandag dink dat God se wil een of ander misterie is. Miskien het dit God se wil vir ons so moeilik en onverstaanbaar gemaak. 4. Ervaring het geleer dat mense ook net oor God se wil praat wanneer hulle in slegte omstandighede is. Wanneer iemand kanker kry, ‘n kind moet begrawe of dies meer wonder almal altyd waarom het God dit toegelaat. Maar wanneer ‘n kind 10 onderskeidings in matriek kry dan hoor jy nie dat dit God se wil was nie. Nee, dan is dit die slim kind. 5. En dan is daar altyd die gesegdes waarmee ons getroos word. Net om vir mense wat deur slegte tye gaan te verseker en te herinner dat God mos ‘n individuele plan met hulle lewens het en dit nie moet vergeet nie. In slegte tye hoor ons altyd dinge soos Toemaar. Jy sal later verstaan As God ‘n deur toemaak maak Hy ‘n venster oop Daar is ‘n doel met alles. God het ‘n plan daarmee 6. Snaaks hoe ons denke beinvloed word met dinge wat nie eens in die Bybel geskryf staan nie. Dinge wat nie eens hul oorsprong in die Bybel het nie. ‘n Gesegde wat ek gereeld by begrafnisse hoor is die volgende: As jou strepie getrek is, is hy getrek! Waar kom dit vandaan? Nerens se die Skrif dat ons strepie getrek is nie. 7. En ja, daar is enkele teksverse wat daarop dui en op die oor af klink asof ons lewens predetermineerd is. Dat alles vasgestel is en dit cast in stone is. Ek dink aan Job 14:5 en Psalm 139:16. Ons gaan DV volgende Sondag daarop in. 8. Kom ons kyk vir interessantheid waar hierdie denkwyse sy ontstaan gekry het. In die Griekse mitologie was daar die Moirae. Die Moirae was die drie sustersgodinne van die noodlot. Destiny. Hulle besluite en invloede was onveranderlik. Nou die mens is geskep met ‘n vrye wil om eie keuses te maak. Totdat die hoofgod Zeus die eerste vrou nl Pandora, geskep het. Van hier af word mense se lot by geboorte vasgele deur die drie godinne. Die eerste godin, Clotho, het ‘n weefdraad gehad waarmee sy alle mense se lewens geweef het. 9. Dan was daar Lachesis wat almal se lewens met ‘n maatband afgemeet het. En laastens was daar Atropos met haar sker. Sy het mense se lewens afgeknip wanneer hulle weefdraad opgeweef is. En so het die mite ontstaan dat wanneer jou strepie getrek is, is hy getrek. Die Moslems glo dit, die Hindoes glo dit, die New Agers glo dit. En ongelukkig glo so baie Christene dit ook. Dis nie so vroom as ons ander probeer oortuig dat jou strepie getrek is nie. 10. Feit is, die Bybel dink nie so oor God se wil nie. Die Bybel sien God se wil as heeltemal anders. So kom ons kyk na ‘n klompie Bybelse perspektiewe oor God se wil. Eerstens, God se wil gaan oor GOD! Dit klink vanselfsprekend, maar dit is nie. Meeste mense vra die vraag Wat is God se wil vir MY lewe! Wat wil God he moet ek met MY lewe doen? Hoor U? Dan gaan dit nie meer oor God nie maar oor MY. 11. Feit is, oral in die Skrif waar daar gepraat word oor die wil van God word in die enkelvoud gepraat. Daar staan nerens dat God 7 biljoen wille het vir 7 biljoen mense op die aarde nie. Dink maar net die konsternasie as God vir elke mens ‘n bloudruk plan het tot in die fynste detail uitgewerk en een persoon wyk van daardie plan af. Dit sal so ‘n sneeubal effek he dat alle mense op aarde later sogenaamd “buite” God se wil gaan leef. Nooit skets die Bybel God se wil so nie. 12. Hiermee saam kan ons een baie belangrike vraag vra: As God ‘n detail plan vir elkeen van ons uitgewerk het, waarom bid ons dan nog? Want as God dit uitgewerk het is dit mos vasgestel, of hoe? 13. God is nie ‘n gevangene of slagoffer van sy eie planne nie. Daarvoor is daar te veel voorbeelde in die Skrif. In Genesis 2:17 se God vir Adam dat wanneer hy van die boom van alle kennis eet, hy sal sterf. Maar in Genesis 3 nadat hulle hiervan geeet het, sterf hulle nie. Het ons dit gemis? God se nee, Hy sal uitstel gee. 14. Genesis 4 -Kain vermoor sy broer. Was dit deel van God se uitgewerkte plan vir Kain se lewe om op ‘n sekere dag sy broer te vermoor? Beslis nie! In Gen 4:6 en 7 kan ons gaan lees van God se waarskuwing aan Kain, maar Kain gaan voort om te sondig. In Jesaja 38 lees ons hoe Jesaja vir Hiskia kom vertel dat sy strepie getrek is. Hiskia vra dat God sy lot sal verander en God doen dit. Is God wispelturig? Nee, Hy verander sy planne volgens sy hart. God is nie gebind aan ‘n bloudruk plan wat hy iewers vir elkeen in ‘n liasseer kabinet in die hemel het nie. Hy is genadig. Hy hoor as sy kinders na Hom roep en Hy antwoord hulle. 15. So kan ons aangaan. Jona en Nineve – God verander sy plan met Nineve. In Luk 18 lees ons van die onregverdige regter wat van plan verander omrede die weduwee by hom bly kla. En ons weet dat die regter eintlik God verteenwoordig en die weduwee ons. 16. Cicero, die groot Romeinse wetgeleerde, het verkondig dat dit nie help om dokter toe te gaan wanneer mens siek is nie want as dit vooruit bepaal is dat die medisyne nie gaan werk nie sal dit nie. Maar dis nie Bybelse denke nie. Ons skuld onsself ‘n beter lees en verstaan van die Skrif. 17. Tweedens is ons geneig om die teksvers wat God se wil so duidelik verduidelik te ignoreer wanneer ons oor die wil van God praat. Ons teksgedeelte vanoggend: Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.” 18. U sien, ons is nie die produk van ‘n beplanningsessie wat in die hemele gehou is en nou voer ons soos robotte hierdie plan uit nie. Johannes se in essensie vir ons die volgende: God het een plan met hierdie wereld. En sy plan het ‘n naam: Jesus Christus! 19. En Jesus se Hy het gekom om God se wil te doen. En God se wil, se vers 39, is om almal in hierdie wereld te red. Dis God se wil, se Jesus, om die lewe vir elkeen te gee, voor en na die dood. 20. Derdens, God wil he dat ek en jy met ons lewens by sy wil inval. Het u al gehoor hoe mense ure oor God se wil kan praat sonder om oor Jesus te praat? Hulle soek God se wil wanneer hulle moet verhuis, of met wie hulle moet trou, of hulle kinders moet he en of hulle van beroep moet verander. Dan moet God skielik gou ‘n teksvers gee of ‘n profeet moet besoek word. Maar nooit noem hulle die naam van God se enigste plan vir die wereld nie: Jesus! 21. So dit blyk vir my dat die enigste vraag wat ons moet vra is hoe val ek by God se wil in en nie hoe God by my lewe inval nie. Ek, met my gawes en talente en vermoens, hoe dra ek daartoe by dat die wereld gered kan word. Sodat, op die einde van die dag, God verheerlik kan word sodat mense Jesus Christus kan vind. Wat ek ookal doen moet ek doen vir God. Kol 3 se so! 22. My lewe is as kind in my Vader se huis. Ons is kinders van God. Ons ken sy hart en dit is om mense te red. Sy wil is dat ek in Jesus glo. En nou doen ons dit. Nou is sy wil dat ek so sal leef dat ek mense in sy plan intrek. Dat ek mense deur my gedrag na Jesus toe aantrek. God gee nie om waar ons bly, werk, skoolgaan of wat ons ry nie. Solank ons daar waar ons is, Hom so verheerlik dat ons deur ons optrede mense na Hom toe trek. Dan leef ek binne God se wil. 23. Wat is God se wil vir u en my? Hoe pas ons elkeen in sy plan in? Hoe word ons deel van God se plan? Die Skrif se nog baie meer oor God se wil as wat ons vanaand aangeraak het. Ons het vroeer gese dat dit nie gaan oor God se plan vir my lewe nie, maar sy plan met hierdie wereld en hoe ons daarby kan inval. En as die Here vertoef om te kom gaan ons in die week wat voorle elke aand na ‘n paar aspekte kyk van hoe God wil he ons deel van sy plan met hierdie wereld moet wees.