Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Hemelvaart – 26 Mei 2022 Lukas 24:50-53 1. Jesus se werk op aarde is verby. Hy lei sy dissipels vir ‘n laaste keer uit die stad Jerusalem. 40 dae vroeer het Hy onder luide toejuiging op ‘n donkie die stad ingery. Vandag? Wel vandag is dit net Hy en sy dissipels wat die stad verlaat. Betanie toe. Betanie was minder as 3 kilometer van Jerusalem af. Dis Johannes in hoofstuk 11:18 wat dit so verduidelik. Dis die blyplek van Lazarus en sy twee susters, Marta en Maria. 2. Betanie was aan die hange van die Olyfberg. Handelinge se vir ons dit was ‘n Sabbatsreis ver van Jerusalem af. Daarom dat Lukas in Handelinge 1 daarna verwys dat die hemelvaart op die Olyfberg plaasgevind het. 3. Die hemelvaart van Christus kan maklik misgelees word in die Skrif bloot omdat daar nie so baie hieroor gepraat word nie. Slegs ‘n totaal van 8 verse in die Skrif praat oor die hemelvaart. Ons vind een teks in Mark 16:19, 3 tekste in Hand 1 en dan natuurlik ons Skriflesing vanoggend in Luk 24. ‘n Blote 0,03% van die Skrif. 4. Eerstens is vertalers is dit eens dat selfs die teks in Mark 16:19 oor die hemelvaart nie in die oorspronklike teks is nie maar ‘n latere byvoeging is. Matteus skryf niks oor Jesus se hemelvaart nie. Aan die einde van Johannes is Jesus nog op aarde. In 1 Kor 15:3 en 4 noem Paulus die beginsels van die evangelie wat hy verkondig : “3 Die belangrikste wat ek aan julle oorgelewer het en wat ek ook ontvang het, is dit: Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte; 4 Hy is begrawe en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte.” Sien u dat Paulus nie eens die hemelvaart noem in hierdie belangrike uiteensetting van die evangelie nie? As die Hemelvaart van Christus dan so belangrik is dat ons dit steeds vandag op so ‘n spesiale wyse vier, waarom blyk dit dan dat die Skrif nie soveel gewag maak daarvan nie? 5. Tweedens moet ons se dat die hemelvaart nie na ‘n baie goeie opsie vir ons lyk nie. Sou dinge nie baie makliker gewees het as Jesus steeds op aarde was nie? Neem evangelisasie byvoorbeeld. In die 21ste eeu glo mense in wat hulle kan sien. Om met mense te praat oor iemand wat lankal nie meer op aarde is nie, is nie die maklikste ding nie. Dit sou darem baie makliker gewees het as Jesus steeds op aarde was om mense te oortuig van sy belangrikheid. 6. Derdens is dit moeilik om te verstaan waarom die hemelvaart enigsins nodig was. Was die opstanding dan nie genoeg nie? Volgens Handelinge was die laaste vraag wat die dissipels vir Jesus gevra het voor sy hemelvaart of dit nou die tyd is wat Hy sy koninkryk vir Israel gaan oprig. Hulle het beslis nie die hemelvaart verwag nie. Miskien is dit waarom hulle heeltyd na die hemel gestaan en staar het sodat twee engele hulle moes kom aanjaag omrede daar werk was wat gedoen moes word. 7. Meer nog, die 8 teksgedeeltes oor die hemelvaart gee nie regtig vir ons enige teologiese verduideliking vir die rede vir die hemelvaart nie. Ons staan ook maar saam met die dissipels verbaas die hemel en inkyk vandag. Ja, die res van die Skrif gee vir ons verduidelikings vir die hemelvaart, maar ook is dit nie in dieselfde boeke nie. Nie eens dieselfde Testament nie. 8. Maar miskien word daar tog baie meer in die Bybel gese oor die hemelvaart as wat ons dink. Miskien lees ons dit net ‘n bietjie mis omrede ons na opskrifte soek soos die van ons teksgedeelte vanoggende wat duidelik verwys na “Die Hemelvaart van Jesus”. 9. Mense soos Paulus, Petrus en ook Lukas kombineer die opstanding en hemelvaart van Christus op ‘n baie subtiele wyse. In Luk 24:26 meld Lukas alles in een asem. “Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?” In Filippense 2 gaan Paulus in opeenvolgende verse direk van Jesus se dood oor na sy verhoging wat tydens sy hemelvaart plaasvind. 10. In Hand 2 vind ons die eerste preek wat deur Petrus gebring word. In ‘n kwessie van twee agtereenvolgende verse, 32 en 33, gaan hy van Jesus se opstanding na sy hemelvaart. “God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan……..Hy is verhoog aan die regterhand van God….” 11. Ons moet verstaan dat in die gedagtes van die dissipels het die verhoging van Christus vanuit die dood voortgevloei na sy hemelvaart om aan die regterhand van God te gaan sit. Die opstanding asook die hemelvaart van Christus na die Vader toe vorm saam sy verheerliking. Nie net die een of die ander nie. Wanneer meeste van ons egter hierdie tekste lees dink ons slegs aan die opstanding. Ons lees dit dan nie verkeerd nie, net onvolledig. 12. Wanneer die Nuwe Testamentiese skrywers na die verhoging van Jesus verwys dink hulle aan die opstanding en hemelvaart as ‘n geheel. As ons in ons verkondiging van die evangelie slegs gaan fokus op die opstanding van Christus gaan die hemelvaart ‘n blote antiklimaks wees. Daarom dat die dissipels die een nie sonder die ander laat nie. Opstanding en hemelvaart vorm vir hulle ‘n geheel. 13. Maar waarom is hemelvaart vir ons belangrik vandag? Watter voordeel hou dit vir ons in? Dis mos die vraag wat mense mos maar altyd vra. Wat hou dit vir my in? Wel, in Joh 16 het Jesus dit duidelik gemaak dat die Voorspraak, die HG, slegs na ons toe kan kom as Hy sou weggaan. Daarom is dit tot ons voordeel. Maar daar is iets anders wat ek dink ons miskyk met die hemelvaart van Christus. Iets wat tot my gedagtes gespreek het in die tyd wat ek met die teks besig was. 14. Ek gaan weer ons teksgedeelte lees. Vier verse. “Daarna het Hy hulle uit die stad uitgelei tot by Betanië. Daar het Hy sy hande opgehef en hulle geseën. Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem. Hulle het Hom aanbid en met groot blydskap na Jerusalem toe teruggegaan. Daar het hulle die hele tyd by die tempel gebly en God geprys.” 15. Ons sien Jesus daar teen die Olyberg, hande uitgestrek terwyl Hy sy volgelinge seen. In Lev 9:22 lees ons dat waneer Aaron klaar sy priesterlike funksie voltooi het en al die gebruiklike offers gebring het, het hy sy hande na die volk toe uitgesteek en hulle geseen. Dan het hy van die altaar afgeklim en die tempel verlaat. Want sy werk as priester was klaar. Terwyl Jesus sy volgelinge geseen het, het Hy aangedui dat sy werk klaar was. Hy het dit reeds vroeer aan die kruis uitgeroep. TETELESTAI!!! 16. Maar dit gaan verder: Hou asb hierdie beeld in u gedagtes. Jesus strek sy hande uit en seen sy dissipels. MAW Hy gee aan hulle God se guns, beskerming, voorspoed en alles wat met ‘n seen gepaard gaan. En terwyl Hy met uitgestrekte hande hulle seen, gaan Hy van hulle af weg die hemel in. Het u hierdie prentjie? 17. Weet u wat sê die engele vir die dissipels in Hand 1:11? “Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, SAL NET SO TERUGKOM soos julle Hom na die hemel sien opgaan het.” Jesus vaar al seenende op, en volgens die engele sal Hy op dieselfde wyse terugkeer. Al seenende! 18. Indien Jesus dan, terwyl Hy opgevaar het, sy dissipels geseen het, en indien Hy dan by sy terugkoms gaan kom met seeninge vir sy kerk, dan kan ons aanvaar dat Hy Hom huidiglik daarin verheug om vir ons ‘n bron van seeninge te kan wees. Daardie uitgestrekte hande van Christus is nog nooit teruggetrek nie. Dis steeds wyd uitgestrek en vanuit die hemel seen Hy steeds elke dag. 19. Die vraag is waarom sal die dissipels “met groot blydskap” teruggaan na Jerusalem toe. Ek meen, hulle het vir so lank tyd saam met Jesus deurgebring, en sopas het hulle hul Meester en goeie vriend verloor. Hy is nou weg. Waarom sal hulle met groot vreugde na Jerusalem teruggaan? Ons sal die opdrag vind as ons bietjie verder aanblaai na die evangelie van Johannes. Joh 14:28: “Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, maar Ek kom weer na julle toe. As julle My liefgehad het, sou julle bly gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter as Ek is”. 20. Die dissipels het verstaan dat Jesus tot hulle voordeel weggaan. Ons kan se dat Hy opgevaar het sodat Hy in volheid by die kerk kan wees. Op aarde, in menslike vorm, kon Jesus nie oral op alle plekke tegelyk wees nie. Maar noudat Hy by God is, is dit vir Hom moontlik om oral teenwoordig te wees. Terwyl Jesus op aarde was, was Hy teenwoordig by sy kerk, maar nou is Hy deur die HG teenwoordig IN sy kerk. Ons kan se dat Jesus weggegaan het om nader aan ons te wees. 21. Terug by ons as mense se selfsugtige vraag: Watse voordeel hou die hemelvaart van Christus vir my in? Wel, dit het tot gevolg dat u en ek in hierdie tyd leef in die seeninge van Christus. Dat Hy ons verlaat het met uitgestrekte arms, besig om te seen. Dat waar Jesus aan die regterhand van die Vader sit ons elke oomblik van elke dag steeds deur genade sy seeninge beleef en dat Hy op hierdie wyse, met die grootste seen van alle seeninge, gaan terugkeer. 22. Lukas begin sy verhaal met ‘n toneel uit die tempel daar vanaf hoofstuk 1:5-23. Hy eindig dit op soortgelyke wyse met die dissipels wat terugkeer na die tempel toe om tyd daar te spandeer. Hoofstuk 1 bevat die lofliedere van Elisabet, Maria, Sagaria, Simeon en die engele. Hy eindig sy evangelie met die aanbidding van Jesus deur die dissipels. Ons teksgedeelte verskaf in essensie ‘n baie gepaste afsluiting van Lukas se evangelie: Aanbidding van God. Is Lukas dalk besig om te suggereer by sy lesers dat dit die enigste gepaste response is tot die evangelie verhaal? Lof en aanbidding tot God? 23. Dis ‘n vraag waarmee ons in hierdie hemelvaart tyd tot Sondag se nagmaal mee besig moet wees. ‘n Dankbare lofprysing en aanbidding, jubelend soos die dissipels teenoor God vir die wonder van die grootste verhaal wat homself ooit afgespeel het. En dan om te leef in hierdie jubeling terwyl ons die seeninge van Christus beleef, totdat Hy weer kom met die grootste seen van alles: Die Ewige Lewe by God! Amen