Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Psalm 103 Ek wil hierdie diens ‘n onthou diens noem. Ons wil ons ma’s met dank onthou. Hulle het diep spore in ons lewens getrap. Ons wil vandag ook onthou Wie God regtig is. Ons wil mekaar herinner dat dit God is wat ons weereens geseën het met die basaar. En op vele ander terreine ook. Ek wil begin met ‘n storie van twee konings. Die een het God gedank vir alles. Die ander een nie. Dawid was 'n groot koning. Hy het baie bereik. Baie besit. Vir mense van sy tyd kon hy weelderig lewe. En tog is dit asof hy die spreekwoordelike bus hier in Psalm 103 stop. En sê ek wil afklim en ek wil weer onthou wat God alles vir my gedoen het. En dan wil ek die Here my God dank vir alles in my lewe. Dawid doen dit nie oppervlakkig nie. Hy loof die Here met alles wat in Hom is. Kan ek dit weer sê: Dis nie maar net nog iets wat Dawid doen nie. Hy loof nie net die Here nie. Alles, alles hierbinne wat Dawid Dawid maak, loof die Here. Ek hoor 'n stuk verwondering ... hoekom ek Here? Hoekom is U so goed vir my? Maar dankie Here. Dankie. So dankie Here, dat hy wat Dawid is, 'n punt maak om nie een van die dinge te vergeet wat die Here vir Hom gedoen en gegee het nie. Die ander koning is Nebukadnesar. Hy was 'n groot koning. Dalk 'n groter wêreldmoondheid as Dawid selfs. Baie ryk. Hy het gesê: “Kyk net hoe groot is Babel! Deur my groot mag het ek daarvan 'n koningstad gemaak, tot my eer en roem.” En God het Nebukadnesar summier tot niks gemaak. Alles van hom af weggevat. Hoekom begin ek op so 'n trant. Want die Here wys my met herhaling dat selfs in ons toeweiding aan Hom kruip ons eie ek weer in en wil oorneem. Ons kry altyd 'n manier om 'n stukkie kollig te wil hê. Op die een of ander manier kry ons gewoonlik dit reg om die klem op ons te laat val. Ons basaar. Ons moenie. Hierdie gemeente is God se gemeente. Gister se basaar was God aan die werk. Ons is God s’n en al die harde werk gister en die dae vooraf, was vir die Here. Wat ‘n voorreg was dit nie om dit vir Hom te doen nie. As gemeente sit ons vandag hier by die Here. En ons dank Hom vir die basaar. Ons het te min hande gehad. Ons het nie geweet of hier genoeg mense sal opdaag nie aangesien ‘n hele paar gemeentes in ons Ring of basaar of ander funksies aan die gang gehad het gister. Ons het gebid. En die Here het mense na vore laat kom wat gehelp het, soms uit onverwagte oorde uit. Selfs mense uit Johannesburg uit het laat weet ons kom saam werk. En ek dank die Here vir Sy seen daarop. Dit is ons begin punt vandag. Maar kom ons kyk waarvoor Dawid die Here nog alles voor loof: Vir sondes vergewe; vir genesing; vir die feit dat hy wat Dawid is nog lewe en nie dood is of vermoor of gesneuwel het nie (ek neem dit uit sy lewe uit); En Dawid dank die Here vir die oorvloed wat Hy het om te geniet. En as jy kyk na vers 6 en 7 dan kan jy nie anders as om God te dank dat Hy reg en geregtigheid laat geskied, selfs in vandag se wêreld. En Sy wil vandag nog bekend maak. Dis nogals anders as Nebukadnesar wat homself op die skouer getik het en gesê het kyk wat ek als vermag het. En onthou jy nog die gelykenis van die ryk man wie se grond so goed gedra het dat hy sy skure vergroot het en homself so effe op die skouer geklop het. God het nog in daardie nag sy lewe van hom weggeneem. (Luk 12: 16 – 21) Ons hou vandag 'n dankdiens. Ons dink wyer as net die basaar. Ons sê dankie vir ons gesondheid. Ons het sover Covid-19 oorleef. En grendeltye ook. En die feit dat ons nog werk het. En ons dank God oor die feit dat ons elke dag kos het om te eet. Mense kla graag oor skottelgoed was. Wel vandag as jy vir jou ma sê “sit mamma, ek sal die skottelgoed was”, sê dan vir die Here dankie dat jy skottelgoed het om te was want dit beteken daar was kos in daardie borde. En ons kon eet. En as ons kyk na werkloosheids syfers, dan besef ons dat God vir ons oorvloedig gee. 'n Mens wonder: Wat is anders vir ons? Hoekom word ons vergewe? Hoekom hou God Sy hand oor ons? Hoekom kan ons na 'n yskas loop en iets uithaal om te peusel of is daar meestal brood om te sny en eet, maar baie ander gelowiges weet nie waar vandag se kos vandaan gaan kom nie. Ek verstaan nie hoekom hierdie klein gemeente nog oorleef terwyl talle ander toemaaak of sonder ‘n leraar moet reg kom nie. Ek weet regtig nie hoekom God vir ons goed is nie. Ek weet daar staan in Esegiel dat God aan Sy volk goed doen ter wille van Sy Heilige Naam. Wat ek wel baie seker van is, is dat ek wil Hom loof en prys met alles wat in my is. Ons moet baie mooi na Dawid se opeinings reël kyk: “Ek wil die Here loof met alles wat in my is ...” Dis nie maar net nog iets wat Dawid doen nie. Hy loof nie net die Here nie. Alles, alles hierbinne wat Dawid Dawid maak, loof die Here. En Dawid wil seker maak dat hy nie een van God se goeie dade aan hom vergeet nie. Loof die Here en moenie een van die dinge vergeet wat Hy doen nie. En ja een van die grootste dele is die genade. Die besef dat God ons sondes sover van ons af wegvat dat ons dit nooit weer sal kan raak loop nie. So ver die ooste van die weste verwyder is. Maar onthou: Die God wat dit vir jou doen is ook die God wat sê: “Ek spreek niemand sondermeer vry nie. (Eksodus 34: 7) Dit het God se Seun Sy lewe gekos, in een van die wreedste teregstellings denkbaar, om jou en my sondes sover weg te was as wat die ooste van die weste verwyder is. Psalm 103 is nog nie klaar met ons nie. As u kyk na vers 10 en verder dan is daar een woordjie wat baie opduik. Dien. Eintlik 'n frase wat soos 'n refrein in 'n lied bly opduik. 11 “want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien”. 13 “Soos 'n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.“ 17 “Maar onverganklik is die liefde van die Here vir dié wat Hom dien, sy trou vir opeenvolgende geslagte,” 18 “vir dié wat getrou bly aan sy verbond en sy voorskrifte nakom.“ 21 “Loof die Here, alle hemelwesens wat Hom dien en sy wil doen! “ Oor wie ontferm die Here Hom? Vir wie is Sy liefde onverganklik? En voor ons te vinnig uitkom by 'n “ek dien die Here”, let net op die laaste deel van vers 21: “en Sy wil doen!” Kan ons dit eerlik sê: Ons dien die Here EN ons doen Sy wil! En nou is die logiese vraag as ek Hom nie dien en ook nie Sy wil DOEN nie, het ek Hom dan geloof met alles wat in my is? Gebed