Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 16: 1 – 12 Ek is weer by ons les materiaal. Jy onthou mos dat ons Matteus evangelie benader as leerstof wat ons moet deurwerk en ons eie maak en dan leef. Dit is wat Jesus onder andere die dissipels mee geskool het. Ons is nou aan die beurt. Die risiko is dat ons ons eie weergawe skep van dit wat Jesus vir mense leer. Of ons verdraai dit om ons te pas. Ander kere reageer ons deur ons self te verdedig oor ons skuldig voel of sensitief geraak het oor iets. En dan kom daar misverstande. ‘n Mens sien dit hier by die dissipels. Ek probeer voorbeelde gee wat ons kan help om te verstaan wat hier in hierdie deel uitspeel. So gun my nog ‘n laag van verstaan rondom hierdie teks. Pete Scazzero, skrywer van boeke soos The emotional healthy Church, het op Twitter die opmerking gemaak. Hy het gesê: Ons groot versoeking is om te fokus op dit wat ons nie het nie ipv om te fokus op Hom Wie by ons is. Kom ek sit ons in die dissipels se skoene. Kom ons sê, ons aandag word afgetrek en ons vergeet om brood te koop voor ons saam met die Meester in die skuit klim om oor die meer te vaar. Die Here Jesus maak ‘n opmerking oor die suurdeeg van die Fariseërs en Saduseërs. En dadelik dink ons dit gaan oor die brood wat ons vergeet het om te koop. Ons praat nie met die Here oor Sy opmerking of oor ons vergeetagtigheid nie. Ons praat onder mekaar en ons aanvaar sonder meer dis die brood. Die brood is waarop die Here sinspeel. En ons mis die punt totaal. Ons raak angstig en ons stry onder mekaar want ons het die brood vergeet. Terwyl in die skuit, saam met ons, is die Here. Dieselfde Here wat ‘n dag of so van te vore nog, vir ‘n tweede keer 7 brode en ‘n paar vissies gevat het, God vertrou het, en toe die skare van oor die 4000 mense kos gegee het. Genoeg kos sodat daar mandjies vol oorgebly het. Iewers mis die dissipels (en ons) die punt. Ag ek wil dit weer sê. Dit is so interessant: hulle het gesien hoe die Here 5000 mense voed met vyf brode. En by nog ‘n geleentheid, met sewe brode vier duisend mense kos gegee het. En daar het by elke geleentheid mandjies vol kos oorgebly. En as jy terug gaan na die dele dan lees jy as Jesus sê gee vir die mense kos, dan het die dissipels somme gemaak en nog somme gemaak tot hulle by die gevogtrekking gekom het: dis onmoontlik. Die bietjie wat hulle het is nie genoeg nie. Die bietjie wat hulle het. Dit is nie genoeg nie. ‘n Mens moet met hulle saamstem. Sewe brode en ‘n paar vissies is te min (2de vermeerdering). Maar na die vorige keer toe hulle net vyf brode en twee visse bymekaar kon skraap, en die Here met daardie hopeloos te min, gebid het, die seën gevra het, en 5000 mans plus ‘n aantal vroue en kinders hulle vol geëet het. En daar het 12 mandjies vol oorgebly. Na dit moes jy darem geweet het as die Here sê gee die skare kos dan is sewe brode en ‘n paar vissies absoluut genoeg. Die keuse is waarteen kyk jy vas? Die dissipels het teen die werklikheid vas gekyk. Hulle het nie genoeg gehad om mense mee kos te gee nie. Jesus kyk na Wie by Hom is, en dit is God. En Hy kyk op na die hemel (14:19) en vra die seën. En die bietjie word baie. Die disspels raak angstig oor hul nie brood het nie terwyl die Jesus wat skares voed in hul boot sit. Carlie raak angstig oor die basaar en oor die gemeente se finansies en die erediensbywoning terwyl die Here in hom woon. Rerig? En nou kan ek oor jou lewe en jou geloof praat. Waar in jou lewe is hierdie tendens waar? Waar is jou oog nie op die Here nie maar op mense of omstandighede? Ek sê nie gaan vat kanse en doen soos jy goeddunk want die Here sal net sorg en sorg nie. Nee. Vra die Here. Doen wat Hy vra. Al vra Hy wat vir jou onmoontlik lyk. Doen dit. Ek is bewus dat die dissipels se verantwoordelikheid oa was om seker te maak daars brood. En hulle het opgeslip. Ek sien ook raak dat die Here die wa deur die spreekwoordelike drif getrek het. Ons is nie beter as die dissipels nie. So laat ons hulle nie oordeel nie. Ook ons doen nie wat ons moet nie. Ook ons slip op. En dit gaan nie oor my of enigiets anders as ek en jy wat moet leer om nie vas te kyk in wat ons nie het nie, maar eerder na die Here te kyk. In verse 1 tot 4 probeer die Fariseërs en die Sadduseërs Jesus versoek. Hulle vra Jesus om vir hulle as ‘n teken uit die hemel uit ‘n wonder te doen. Dit ten spyte van al die genesings en ander wonderwerke wat Hy konstant gedoen het. Hulle vra ‘n teken. Die dissipels het al die tekens gesien en hulle – hulle vra nie ‘n teken nie – hulle glo net doodgewoon nie. Op daardie punt was die dissipels en die Fariseers en Sadduseers dieselfde. Die een wil ‘n teken hê om te kan glo en die ander glo nie ten spyte van al die tekens. Kom ons wees sagter met hulle en met ons. Die punt is dat ons in ons geloof nog nie anders begin kyk het na die lewe nie. Ons geloof het ons nog nie gebring by wat God kan doen nie. Ons glo. Maar ons tree nie met geloofsvertroue in God op nie. As ek ‘n verskil moet soek tussen die Fariseërs en Jesus en dissipels en ons. Dan is dit in die feit dat Jesus so naby aan God geleef het dat Hy presies geweet het wat wil God doen en dit dan gedoen het. En Hy het dit kon weet want Hy het baie gebid en geluister. Vroeg oggende, eenkant alleen. Aan die bid. Voor groot keuses of uitdagings het Hy die nag vooraf in gebed deur gebring. Ons is nie daar nie. Ons vertroue in God, ons vertroue in God se liefde vir ons, is ver van waar dit moet wees. Maar wat is die punt van Jesus se opmerking gewees? Jesus wou die dissipels waarsku teen die dwaalinge van die godsdienstige leiers van daardie tyd. Hy gebruik bekende Bybelse beelde om Sy punt te maak. Dit is eintlik ‘n pragtige beskrywing: Suurdeeg. ‘n Bietjie suurdeeg kan ‘n hele bak meel verander. En nou sê Jesus oppas vir die Fariseërs en Saduseërs se suurdeeg. Oppas vir wat hulle leef en vir die mense voorsê. Die Japanese sê ‘n vis vrot van die kop af. Die suurdeeg van die geloofsleiers se lewens en woorde maak dat die res hulle nadoen en in die moeilikheid kom by God. Kom ons vat misdaad. Misdaad floreer want teveel van die sg leierskap in hierdie land is korrup. So die mense sê as hulle kan dan mag ons ook. Dit is ‘n voorbeeld van slegte suurdeeg. Die dissipels is aards in hul denke. Suurdeeg word positief of negatief gebruik. Negatief is dit soos daardie een skewe woordjie wat iemand jou toevoeg en nou stop jy alles. Bv iemand sê jou plan is onmoontlik. Nou los jy dit. Suurdeeg kan ook positief wees soos die koninkryk van God is soos suurdeeg wat ‘n vrou in meel sit en dit rys die skottel vol. Bv jy tree met geloof op en iemand anders begin jou voorbeeld volg en dit kring al hoe wyer uit. Ek en jy en ons geloofstories kan die suurdeeg van die koninkryk deur hierdie gemeenskap laat trek en alles verander. Of nie! En die nie sal wees omdat ons vaskyk in wat ons nie het nie ipv om net na God te draai en te bid. Kom ons bid.