Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1 Kor 10: 16 – 17 Hier, uitgebeeld, is die hart van die evangelie. En in die verse wat ons saam gelees het echo Paulus dit helder. Word stil ... laat dit insink ... dis net God se genade dat ek en jy leef en is wie ons is. Brood. Wyn. Ek wonder hoeveel koringkorrels moes gebreek word tot 'n fyn meel om hierdie brood te kon skep. Sonder al die korrels saam en sonder dat elke korrel fyn gemaal is sou hierdie brood nie gewees het nie. En ek wonder hoeveel druiwekorrels moes hulself prysgee om pap gedruk te word sodat hierdie wyn geskep kon word wat ons vandag gaan drink, En ek wonder of jy besef dat as jy jou bes probeer om behoue te bly en jouself te beskerm en te handhaaf dat jy ... • jy eintlik Christus se manier van doen en wees op sy stoot. Hy het Homself laat verguis vir ons. • En dat as ons nie gebreek en gegee word nie, dan is ons nie deel van die produk wat Jesus vir God gee nie. Kan ek iets weer sê? Druiwekorrels is nie wyn nie. Koring is nie brood nie. Jy is nie kerk of gemeente op jou eie nie. Jy en ek is 'n deeltjie in 'n groter geheel. Nog nooit was dit God se bedoeling dat ons een een op ons eie ons geloof sal leef nie. Saam, as een liggaam, maak ons 'n verskil in die wêreld. Saam is ons die een liggaam van Christus (1 Kor 12) en Hy alleen is ons hoof. Ek glo ons weet almal dat dit beteken: Hy neem die besluite oor ons lewens. Kyk om jou – jy is 'n klein deeltjie van die liggaam van Christus maar jy is nie die hele liggaam nie. Kyk nog 'n keer ... wie sit om jou? Jy is na vanoggend onlosmaaklik deel van hulle lewens. En ons van jou lewe. 1. Gebreek. Gemaal. Selfverloen. Vanoggend, in die nagmaal word ons saamgebind aan mekaar deur die Heilige Gees. Wat elkeen van ons onself vanoggend moet afvra is: Het ek myself verloen. Het ek myself in God se hand geplaas om gebreek, gemaal en gepers te word na Sy wysheid, sodat ek vir Hom bruikbaar kan wees. Sodat ek deel van die “brood” kan wees waarmee Hy die wereld wil voed. Of probeer ek op twee stoele tegelyk sit? Dien ek God maar ek dien ook ander dinge wat vir my naas God staan. Vers 16 vra vanoggend van ons of ons dink ons kan nagmaal gebruik en nog steeds wêerelds of selfgerig gaan lewe. Die tyd vir egte selfverloëning twv Christus is NOU. Daar is nie ‘n meer gepaste tyd, of ‘n tyd waarin dit meer nodig is as nou nie. Kom ons verloën onsself twv Christus, soos Hy Homself verloën het twv ons. 2. Herinner. Iets groots gebeur in die nagmaal. Ons word herinner ... sterk herinner dat ons nou deel in Christus. Daar is nie plek vir eiewilligheid nie. Net vir gehoorsaamheid en toeweiding aan die Hoof van die liggaam waarvan ons deel is ... dit is Jesus Christus. Die eie-ek moet weg. Moet buig voor Christus. Die eie-ek, wat ek wil hê, dit wat ek voor lus is of wat ek wil sien gebeur ... dit moet buig voor Christus. Wat Jesus wil ... dit alleen moet nou wees wat ek begeer. As ons terugblaai na 1 Korinthiers 10:5 dan kom die skokkende nuus. Israel van ouds het so baie van God ontvang, maar God was met die meeste van hulle nie tevrede nie. Hulle het in die woestyn omgekom. Israel moes leer: Dit is nie genoeg om genade te ontvang nie. Jy moet deur gehoorsaamheid en persoonlike toeweiding in die genade bly. Paulus sien in die gemeente in Korinthiers die moontlikheid raak dat die geskiedenis haarself gaan herhaal. Hy sien dat die mense se sondige begeertes hulle weg van God sal dryf. En nou probeer hy dit hokslaan. Hoe doen Paulus dit? Hy lê nie reëls en regulasies neer om dit te keer nie. Hy vat hulle terug na die hart van die evangelie. Hy fokus hulle op dit wat belangrik is. Hy wys hulle daarop hoe maklik mens in versoekings val ... maar hy wys ook waar jou krag lê. In God. In God wat getrou is en seker maak dat ons nie bo ons kragte versoek word nie. En daarmee saam die uitkoms gee. Die krag om staande te bly. As ek so oor dit alles dink dan besef ek een van die groot versoeking vir ‘n gelowiges is, om beheer te wil hê. Niemand moet my voorsê wat om te doen of hoe ek dit moet doen nie. Ek wil dit doen soos ek dit wil hê. Dit is my gemeente hierdie. Ons gemeente. So asof die gemeente iets is wat ons besit, of na kan vingerwys maar nie self is nie. Ek kyk na Paulus se harde woorde in vers 21. Dit is ‘n versoeking om vinnig oor dit te lees. Ek meen, ons gaan nie na afgode-tempels toe nie, ons bring nie offers daar en eet afgodsoffervleis nie. Maar ons moet weer dink: Vat nou ons eiewilligheid, en “verdeeldheid” .... dink maar ook in terme van mense wat eredienste vermy want so en so is daar en hulle kan hulle nie uitstaan nie ... of nie wil saamwerk want so en so is daar ... of nie die diaken wil ontvang want ek hou nie van hom of haar nie ... hierdie verdeeldheid ... pas dit nie presies in by dit wat die sondige mens voor bekend is daar in Gal 5: 19 en verder? Verdeeldheid. Skeuring. Ens. U weet waarvan ek praat ... ek is vir Apollos, jy vir Paulus, sy vir ... Lees gerus die twee briewe aan die Korinthiers. Dis eintlik hartseer hoe laag sommige gelowiges daar kon daal. Dalk is dit nie vir jou 'n probleem nie. Dit is vir Christus. Dis gedrag wat Hom kruisig. Dalk het jy dit by die vorige nagmaal bely ... maar jy doen dit steeds? Hoe kan dit? Breek daarmee. Vandag nog. Dis nagmaal. Die tekens van vergifnis en hoop en God se groot groot liefde vir jou en my. 3. Geinspireerd! Weet u wat beleef ek in die hierdie verse? 'n Groot groot stuk hoop! En ek bid dat jy dit vanoggend saam met my sal aangryp. Ons wat ter dood veroordeeldes was, is nou, sonder dat ons dit enigsins verdien, nie net vrygespreek nie maar ingenooi en aangeneem as kinders van God. Ek hoor dat ook ek nie maar net soos brandhout uit die vuur gered word nie (Sagaria) maar ek word skoongewas en ingetrek om deel te wees ... om te behoort en saam te mag werk vir hierdie wonderlike genadige Here. Wat 'n voorreg!! As mens na die nagmaal kyk en jy weet wat dit voor staan ... en jy ken die Here as jou Verlosser en Meester ... dan kan ek nie verstaan dat ons nie meer saam hande vat en ons geite en dinge laat staan ... ook die seerkry wat jy my aangedoen het of nie aangedoen het nie ... los ... en as 'n span dien. Dink wat God kan doen met ons. Dink hoeveel meer die Heilige Gees in Deneysville kan vermag as ons op Hom fokus en saam as Een die wonderlike nuus uitdra. Christus het vir sondaars gesterf. Hy gee lewe. Lewe in oorvloed. Ewige lewe. Onthou. Dis baie duidelik: EEN Brood. Een Beker. Een Liggaam. En ons is saamgebind as dit. Maar ons gaan net daar kom as ons die pad van die koringkorrel volg ... gebreek, gebak saam as een liggaam. So, more oggend as jy opstaan: Sien Sy voorbeeld. En ek hoop dat Sy voorbeeld ons almal sal inspireer om Sy pad van selfverloening te stap. Sy voorbeeld te volg as gebreektes wat gebak is tot een liggaam van Christus. Nagmaalbediening