Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 21: 1 -11 Palm Sondag Kom ek vat ons terug in tyd. Ons almal ken die intog verhaal. En die donkie en wat die dissipels vir die eienaar moet sê as hulle die donkie neem. Sien die skare. Hoor die toejuigings. Al die bedrywighede. Die baie mense wat gekom het vir die paasfees. Luister hoe hulle wonder oor Jesus. Johannes vertel dat die mense onder mekaar gepraat het en wou weet, “Hoe dink julle? Hy sal seker nie fees toe kom nie, of hoe? (Johannes 11: 56)” En ses dae voor die paasfees het Jesus in Betanië aangekom. Daar is ‘n ete vir Hom gehou. Toe het Maria, ‘n half liter egte, baie duur nardusolie op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Judas het geprotesteer: Dit is ‘n vermorsing van geld. Die geld kon vir die armes gegee geword het. Of so iets was sy beswaar. Dis baie duur olie. Weer moet mens vra: Is Jesus dit werd? Is Hy hierdie eerbewys werd? Of moes die geld maar liewers vir die armes gegaan het? As Hy die Christus is, die Seun van God, dan ja, Hy is dit en baie meer aanbidding en verering werd. Of die antwoord kan wees, ‘n nee, saam met Judas. Volgens Matteus het die dissipels ook gedink dis geldmors. En volgens Lukas was net party van die mense verontwaardig. Hoe dink jy? Is Jesus Maria se grootse daad werd? Die volgende dag is Jesus Jerusalem toe. En van die mense, baie mense, het met palmtakke in die hand, Jesus te gemoet gegaan en Hom geloof en prys soos ‘n Koning geloof en geprys moet word. Matteus skryf dat (21:10) dat die hele Jerusalem in beroering gekom het. Hulle wou weet: Wie is hierdie man? En die skare wat Jesus toegejuig het het geantwoord: Dit is die profeet Jesus van Nasaret in Galilea. ‘n Profeet? Die profeet? Net ‘n profeet? Ek dink aan die woorde van Johannes die Doper (1: 9-11): 9 Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. 10 Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. 11 Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie. Johannes 1:10-11 Jesus is meer as net ‘n profeet. Hy is die ware Lig. Hy is die weg en die waarheid en die lewe (Johannes 14: 6). En tog, herken Sy eie mense Hom nie. Is Jesus, of is Hy nie, die Seun van God, die Messias, ons Christus? Aan die kruis, as Jesus uitroep “Eli, Eli, lema sabagtani,” “My God, My God, waarom het U My verlaat? Dan verkies die leiers om te hoor dat Hy na Elia roep. En hulle spot Hom so, want nou sou Hy Elia roep om gou te kom sodat Hy wat Jesus is voor Sy dood nog die Christus kan wees. Maar ‘n Romeinse offisier staan en kyk by die kruisiging en sê: Hy was werklik die Seun van God. God, die Vader, sê, Jesus is die Christus. En meer. By Jesus se doop het die Gees in ‘n vorm van ‘n duif op Jesus neergedaal. En ‘n stem uit die hemel het gesê: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.” Matteus 3:17 Jesus is God se geliefde Seun. Die woordjie verheug het my vasgevang. God verheug Hom oor Jesus. En ek wonder of ek dieselfde van ons kan sê: Dat ons ons verheug oor Jesus. Dat ons die ene vreugde is oor Jesus. Ek wil tog vra dat jy hieroor sal nadink. Is jy werklik verheug oor God se geliefde Seun? Vind jy vreugde in Hom? Of voel jy dalk soos baie ander dat Hy jou pret bederf. Beperkend op jou lewe is? As jy aan Jesus dink, dink jy aan moets en moenies, of aan jou ma se woorde toe jy klein was dat liewe Jesus sien jou! Dis nou as jy stout was. Soos jy hieroor dink, hoor die Almagtige, Alwetende, Alwyse, sê: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.” Matthew 3:17 By die verheerliking op die berg vat God dit verder: 5 Terwyl hy nog praat, het 'n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi, en 'n stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.” Matteus 17:5 Dieselfde woorde as by Jesus se doop. Hierdie keer kom by: “Luister na Hom.” Ek verstaan “luister na Hom” as doen wat Hy sê. Gehoorsaam Hom. Doen soos Hy doen. Dit gaan duidelik oor meer as om op Palm Sondag, of Paasfees selfs, palmtakke te swaai en saam met die skare uit te roep: “Prys die Seun van Dawid. Loof Hom wat in die Naam van die Here kom. Prys hom in die hoogste hemele.” Dit vra: Luister na Hom! Doen soos Hy sê. Doen soos Hy doen. Maar dan weer, as jy onseker is oor Wie hierdie man is, gaan jy sukkel om te dien en te gehoorsaam en te word soos Hy. Kom ek spring vorentoe, na dit wat nog kom: 10 Op die dag van die Here is ek deur die Gees meegevoer en ek het agter my, so hard soos die geluid van 'n trompet, 'n stem hoor 11 sê: “Skrywe wat jy sien in 'n boek op en stuur dit vir die sewe gemeentes: Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea.” 12 Ek het omgedraai om te sien wie dit is wat met my praat. En toe ek omgedraai het, het ek sewe goue staanlampe gesien 13 en tussen die lampe Iemand soos die Seun van die mens. Hy het 'n lang kleed aangehad en 'n goue band om sy bors gedra. 14 Die hare op sy kop was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë het soos vuur gevlam. 15 Sy voete was soos geelkoper wat in 'n smeltoond gloei, en sy stem soos die gedruis van 'n groot watermassa. 16 In sy regterhand het Hy sewe sterre gehad, en 'n skerp swaard met twee snykante het uit sy mond uit gekom. Sy hele voorkoms was soos die son wat op sy helderste skyn. 17 Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, 18 die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk. Openbaring 1:10-18 Die Skrifgedeelte spreek vanself. Jesus is meer as ‘n Koning. Meer as net die Koning van die heelal. Jesus vandag is eintlik skrikwekkend. Die Jesus wat nederig op ‘n donkie die stad Jerusalem binne gery het is nie meer nie. In Openbaring is Jesus die Geslagde Lam. Die Lewende. Hy wat is en wat was en sal wees. Hy wat die boek wat geseël is in Openbaring 5 kan oopmaak. Groot en ontsagwekkend. Sy effek op Johannes is soos in totaal. Johannes het by Sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Vandag trek die Woord van God ons in. Ons word die geleentheid gebied om meer te sien as wat die skare daardie dag met Jesus se intog kon sien. Maar die vraag, die wonder oor Wie is hierdie Man moet ons nooit verlaat nie. Die bedoeling is nie om bang te maak nie. Maar om vir ons hoop te gee. Jou keuse vir hierdie Jesus, jou erkenning dat Hy, Jesus, is die Geliefde Seun van God, is ‘n keuse wat van jou en my geliefde kinders van God maak. Kinders met hoop. Kinders wat weet hulle Here is met hulle en daarom die waagmoed het om Sy keuses te leef. En om Sy goeie nuus na ons medemense te bring. Ons keuse vir Hom, ons keuse om Hom gehoorsaam te dien en lief te hê is ‘n keuse vir die lewe. Lewe hier en nou en ewig en in oorvloed. Maar dit is ook ‘n keuse wat deur jou lewe gewys word. Ek meen, Judas het ook Jesus gevolg. Maar net tot op ‘n punt. Vir ons viering van Paasfees, en vir ons voorbereiding en stilword en saam wees hierdie week, is dit ‘n belangrike vraag. Daarom is dit goed as ons mekaar vra: Wie is hierdie mens? En onsself bly vra: Wie is hierdie Jesus op Wie ek my lewe bou. En as jy iets van Jesus se glorie kan sien, van Sy grootheid en Sy Heer-likheid, al is dit net deur Johannes en die ander Bybel getuienisse, dan wil jy nie anders as om ook jou lewe aan Hom te wy en om Hom met jou lewe te vertrou. Ek hoop jy besef ook, dat jou antwoord, op die vraag, wie is hierdie man?, ‘n wesentlike rol sal speel in jou bywoon van hierdie week se groot-lydensweek-eredienste. Want as Jesus is Wie Hy sê Hy is, en Wie ek uitwys Hy is vandag, dan moet ons mos hierdie week des te meer saam in aanbidding voor Hom wees. En so ook elke Sondag. En vir die wat regtig nie kan nie, in aanbidding by jou huis wees. Wie Jesus is, raak elke besluit en elke stukkie van ons menswees en lewe. Jesus is die Christus. Eer Hom deur jou lewe in onderdanigheid en gehoorsaamheid aan Hom te lewe. Maar, … As Jesus nie, volgens jou, die Christus is nie, wel dan kan jy seker maar leef soos jy will en praat soos jy wil. Die mense wil weet: Wie is hierdie Man? Is Hy of is Hy nie die Christus nie.