Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
PSALM 27 So, okay, uhm, wat soek Putin se magte nog in die Oekraine? Die blote feit dat Putin se tenks en soldate nog daar is sê, dat God anders doen as wat ons voor bid. Dit is ‘n skerp herinnering dat ons nie vir God kan voorsê nie. En ook dat die Almagtige anders dink en doen as mense. God gee elkeen die vryheid van keuse. En die arme mense in Oekraine ervaar die sleg van Putin se keuses. Het God hulle versaak? Nee. God is daar tussen die bomme en die lelik om nuwe hoop en wonders te bewerk. Miljoene vlugtelinge sal getuig van hulp van vreemdelinge af. Omgee wat hulle nie eers op gehoop het nie. God aan die werk. Dit is nie altyd oorlog wat seermaak en vernietig nie. Soms is dit bloot mense se vlymskerp tonge. Of hulle alewige stroom van beterweterigheid of kritiek wat mense ontstel of diep seer maak. Psalm 27 is ‘n mooi voorbeeld van dit alles. Dit gaan oor ’n mens wat self baie deurgeloop het nie net onder ander se vlymskerp tonge nie. Hy het ook oa moord pogings en geweld teen hom beleef. Om die waarheid te sê: Dawid se vyande het met tye hom gejag soos jagters bokke nie kan jag in ’n jagseisoen nie. Selfs sy eie seun het jag op hom gemaak. Ek wil jou mooi vra: Moenie vanoggend oppervlakkig kyk na die Psalm en net wil raaksien hoe God beskerm, en veilig versteek en bewaar van al die vyande en dinge nie. Die oorlog in die Oekraine het reeds gewys dat gelowiges ook sterf in konflik. As ons net fokus op wat ons wil sien gaan ons dalk diep teleurgesteld raak en soos talle kennisse en verlangse familielede van God, vir God kwaad wees, want, volgens jou, het God nie gedoen wat Hy hier sê nie. En as jy nie weet wat ek bedoel met kennisse en verlangse familie nie – dis mense wat op ’n tyd dalk hul hart vir die Here gegee het, of dalk net gelowige ouers gehad, – maar nou net kontak maak met God as hul ’n krisis het of iemand iewers in hul familie doop, trou of begrawe word. Ons het almal sulke familie wat ons net met sulke tye sien of van hoor. Moenie so met God wees nie. Ek wys u graag op ’n paar dinge: 1. Vers 1. Die Here is MY lig! Kyk mooi na die vers: Wie se lig en wie se redder moet God wees of word? MYNE. JOUNE! Ons sê so maklik wie moet almal tot bekering kom en hul misdade en nonsens laat staan. En hulle moet. Maar wat van ons? Moet ons nie ook nie? Is ons nie dalk ook op God se lys van mense wat dringend nader aan Hom moet leef en definitief meer volgens Sy woord moet leef? Mahatma Ghandi sou gesê het: Jy moet self eers die verandering word wat jy in hierdie wêreld soek. Dawid sê God is sy lig en sy redder. En in die res van die psalm tel jy dit op want Dawid se grootste begeerte is om tyd saam met God deur te bring. Om oor wat God sê, na te dink. 4 Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag: dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe en daaroor na te dink in sy tempel. Kom ons skuif aan na vers 8. Ek lees dit vir ons: 8 Ek onthou wat U gesê het: “Julle moet My kom dien!” Ek is hier om U te dien, Here. Die Here het gesê: Julle moet My kom dien! En Dawid sê: Hy onthou dit en hier is ek, Here. Hier is ek om U te dien. Dawid het tsv sy sondes naby aan die Here probeer leef. En selfs na die lelike gemors met Batseba het hy terug gekom na God. Altyd terug na die Here. Dawid was nie maar net ’n kennis of verlangse familie van God nie. Hy het gevra na God se wil en hy het dit probeer leef. En hy het dit wat hy geleer het probeer toepas. En ja, hy het ook maar hard geval. Die opskrif (vers 1) sê daarom – omdat God sy lig en sy redder is, is Dawid vir niks of niemand bang nie. Hy sal vertroue hê. 2. “Dien” in vers 8. Matt 5: 14, 16 sê: Julle is die lig vir die wêreld ... laat julle lig so voor die mense skyn ...” Hoekom sit mens ’n lig aan? Hoekom vat jy ’n flits as jy in die aand iets buite die huis moet gaan doen? Om die donkerte te verdryf. Om jou stukkie van die wêreld minder donker te maak sodat jy kan dinge doen. Hoekom het die Here Sy lig in jou aangesit? Dink daaroor. En toe Jesus in ander woorde kom sê jy moet My kom dien – laat jou lig skyn – wat dink u het Hy daarmee bedoel? ‘n Ou vriend van my wat nou reeds oorlede is het graag gesê: Geloof is nie ‘n om te ontvang ding nie. Dis ‘n doen en gee ding. Hy het te velde getrek teen wat hy as ‘n lazyboy geloof beskou het. Wel ’n Lazy-boy-geloof gaan nie vir jou die beskerming en troos van die Here bring wat die psalm so mooi van skryf nie. 3. Kom ons raak prakties. Dis moeilik om jou lig te laat skyn as dinge nie regloop in jou lewe nie. Veral as God anders toelaat as wat jy gebid of gedink het. Soos met die oorlog nou in die Oekraine. In ‘n oomblik het mense se lewens onherroeplik verander. Een dame het vertel hoe sy die aand gaan slaap het as ‘n joernalis en die volgende oggend wakker geskrik het as werkloos en vlugtend. Dalk gebeur dit nie so dramaties in ons lewens nie. Dalk is dit net jou baas wat jou inroep en sê hulle kan jou nie langer betaal nie. Of finansiële probleme wat nie wil wyk nie, of die doktor wat jou van die slegste nuus denkbaar gee. Jy sou kon vra: Waar is my God nou? Hoekom het Hy nie gekeer nie? Of jy kan vra: Was ek regtig by God in die tye vooraf? Wat kan gebeur is dat jy dan fokus verloor en dink gebed en geloof werk nie. Dit kan so erg raak / sleg raak dat jy naarstiglik rond begin soek en jou redding oral en in alles soek. Maar as God nie in jou hart is nie gaan jy op al hierdie goed hoop en konsentreer. En dan gaan jou lewe hoop-loos word. Dawid sê hy het geleer dat God hom beskerm tsv al die storms en probleme wat op hom toegesak het. Hoe het hy dit geleer? Vers 4. Lees. 4 Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag: dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe en daaroor na te dink in sy tempel. Psalms 27:4 Hoe meer Dawid op God gefokus het, hoe kleiner en minder het sy probleme gelyk. Dis wat gebeur as jy soos Dawid naby God probeer leef en Sy wil probeer doen. En ja, hy het ook amper krampagtig gebid dat die Here hom nie moet verstoot nie en nie vir hom moet kwaad bly nie. Vers 13: As ek darem nie geglo het nie. Dis asof Dawid in vers 13 en 14 wil sê: Luister mense. Ek ken hierdie God! Hy is betroubaar. Kom dien Hom met oorgawe. Kom steun op Hom en vertrou op Hom. Betsie ten Boom het saam met haar suster Corrie hel belewe in Ravensbruck konsentrasiekamp. Sy is selfs later daar dood, maar sy het altyd vir haar suster gesê: “Ons moet vir almal vertel dat Jesus die enigste antwoord vir al ons vrese is. Omdat ons uit ervaring vir ander kan vertel dat Sy lig kragtiger is as die diepste donkerte. Die werklikheid van Sy teenwoordigheid is veel groter as die werklikheid van die hel rondom ons...” Dis presies wat Psalm 27 in vers 1 bely: “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees”. Psalm 27 gaan oor plekke waar die menslike en Goddelike ontmoet in onbeskryflike pragtige nabyheid. Oomblikke wat jy van kan sê: As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien nie. Ek onthou van ‘n ma wat graag die “Hoe was jou dag?” vraag anders gevra het. Haar rede was want ons luister meer kere nie eers ordentlik na mekaar se antwoorde nie. Daarom het hierdie ma eerder gevra: “Waar het jy vandag vir God ontmoet?” En haar kinders het haar dan een vir een geantwoord: ’n onderwyser het my gehelp, daar was ’n daklose in die parkie, ek het ’n boom gesien wat oortrek was met bloeisels. Dan vertel sy hulle waar sy God ontmoet het. So gaan hulle saam oomblikke binne waar hulle opnuut beleef hoe naby God aan hulle is . Probeer dit gerus en sien hoe jy ook sulke oomblikke mag betree waar God en jy naby aan mekaar is! Begin Sy liefde uitleef. Begin met respek van ander praat want God praat nie sleg van jou nie. Begin uitreik en omgee omdat God jou binneste verlig het en jou gered het. Begin optree soos Jesus sou optree teenoor ander ... soos Hy jou vergewe het ... soos Hy alles prysgegee het om mens te word – vir jou! ... gee jouself dan ook vir ander. En kyk of God nie nader aan jou is as wat jy ooit kon droom. En kyk of Psalm 27 nie ook jou waarheid word nie. En bly hoop op die Here. Hy weet wat Hy doen al verstaan ons dit nie.