Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 15: 21 – 28 “Here, help my.” Hierdie uitroep ken ons. Ons almal het al so gepleit. Gewoonlik as ons eie lewens in so ‘n gat geval het en ons nie weet hoe ons daar gaan uitkom nie. Of so vasgedraai het dat ons nie herwaarts of derwaarts weet nie. En in die laaste tyd waar ons ons harte vasgegryp het as ons die tonele van oorlog uit die Oekraine uit sien. En die misdaad in ons eie land. En die uitsprake van politici hoor en hulle bedoelings hoor. Dan pleit ons: “Here, help ons!” En selfs, “Heer, wees ons genadig.” Oor en oor sing ons wees genadig Here. Wees genadig. Help ons. En ja, ons situasie is anders as die vrou van wie ons hier gelees het. Ons is ook uit die heidendom uit. Bekeerlinge uit die sg heidense wêreld uit. Maar ons is deel van die koninkryk van God. Die Here se roeping is vervul. Hy het klaar afgehandel wat God Hom voor gestuur het. En in daardie sin is ons pleidooie dalk anders as die vrou s’n in die sin van dat toegang tot God (Hebr 10) nou reeds vir ons hier is. Ons hoef nie te wag die kinders eers klaar eet nie. Maar ons seer en die diepte van ons bekommernisse is net so eg en oorweldigend soos hierdie vrou se bekommernis oor haar dogtertjie. Agter Jesus se weiering om met haar te praat, lê Sy roeping, die rede vir Sy mens wording: Om redding te bewerk. Eers na die volk Israel en dan na die wêreld. So hierdie vrou is so bietjie vroeg. Maar haar nood is nou en haar nood is werklik. En sy vra. En sy hou aan met vra en uiteindelik vang sy Jesus in Sy eie woorde vas. Ek gaan nou iets uitwys wat belangrik is: Hierdie vrou is een van net twee mense in die Nuwe Testament vir wie Jesus gesê het: jou geloof is groot. Die ander was die heidense offisier van wie ons gelees het in Matteus 8. Hy het Jesus verwonderd gehad. Van hom het Jesus gesê: “Ek het nog by niemand in Israel so ‘n groot geloof teëgekom nie (vers 10).” Altwee hierdie mense van wie Jesus gesê het hulle het ‘n groot geloof gehad was heidene. Nie-Jode. God vra dat jy glo in Sy Seun Jesus. Jou geloof is reeds genoeg. Kom ons beweeg verby die punt van groot of klein geloof. Kom ons glo. Nie halfhartig nie. Nie met geloof as ‘n opsionele ekstra in ons lewens soos ‘n spaarwiel nie. Nie glo twv die dag as dinge skeefloop nie. Kom ons glo. Punt. Kom ons kyk na hierdie vrou se geloof. Sy was seker dat Jesus haar kind kan help. Sy was so seker dat sy aanhoudend geroep het: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van 'n bose gees, en dit gaan sleg.” Matthew 15:22 Aanhoudend. Soos net ‘n bekommerde ma kan. Want dit gaan sleg met haar dogtertjie. En hierdie Jesus is haar enigste hoop. Sy was committed! Wat verrassend is is dat sy ‘n Kanaaniet was. Beter gestel, sy was uit die gebied waar Kanaaniete gebly het. Markus gee haar herkoms beter weer: Hy sê sy was ‘n Griek wat in Siro-Fenisie gebore is. Wat belangrik is vir ons, is dat sy, net soos ons, nie ‘n Jood was nie. Maar kyk na haar belydenis, of dan, hoe sy Jesus aanspreek. Sy is so anders as die fariseers en skrifgeleerdes wat Jesus nie wou herken nie. Maar sy spreek Jesus aan as Here. En as Seun van Dawid. Sy sien, of voel aan, wat die godsdienstige Jode nie wou sien nie of nie kon sien nie. Jesus is die Messias. Maar weet jy wat? Dit is nie haar teologies korrekte belydenis, of aanspreekvorm van Jesus wat haar dogtertjie red nie. Dit is nie die feit dat sy Jesus reg eien as die Messias nie. Wat die genesing bring is haar eenvoudige maar sterk geloof dat Jesus haar kind kan red. Nie belydenis nie. Maar geloof. Haar aanhoudende geroep maak dat die dissipels haar wil weg hê. Hulle sê vir Jesus: “Stuur haar weg want sy hou aan met skreeu hier agter ons.” Stuur haar weg, kan beteken jaag haar weg, laat sy gaan. Of soos sommiges meen: Gee haar wat sy wil hê sodat sy kan stil wees. As dit die tweede een is verander alles. Gee haar wat sy wil hê. En dis hier wat Jesus uiteindelik sy stilte verbreek. En vir haar sê: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.” Matthew 15:24 Wat doen sy? Sy kom kniel voor Jesus en sê: “Here, help my!” Maar Jesus skop vas. “Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.” Die Jode het oor die heidene gedink as dat hulle onrein is en hulle het na die heidene verwys as honde. Jesus versag dit met die verkleinwoord, hondjies. Maar, ons moet die woorde kinders en hondjies saam lees. Jesus beledig haar nie. Hy koop nie in in die Jode se neerhalende manier van praat oor mense uit die heidendom nie. Hy gebruik ‘n beeld van kinders aan ‘n tafel wat eers moet eet. Dis tog logies, eers die kinders en dan die oorblyfsels vir die honde. Eers die mense na wie toe Hy deur God gestuur is en daarna sal die res van die wêreld kan deel in dit wat Jesus kom doen het. En dit is hier waar die vrou Jesus in Sy eie woorde vang. Sy kry reg wat al die skrifgeleerdes en fariseers nie kon reg kry nie. Hulle kon Jesus nie met woorde vasvang nie. Maar die vrou het. Beleef, nederig, vang sy Jesus met Sy eie beeldspraak: 27 “Dit is waar, Here,” sê sy, “maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.” En sy ontvang wat sy op gehoop het. Op vertrou het. Jesus sê vir haar: “Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” Van daardie oomblik af was die dogter gesond. Matthew 15:28 Ek moet dit weer sê: Die vrou se geloof haak die knoop deur. Nie haar geloof in Jesus as die Messias van Israel nie. Maar haar geloof wat net nie wou gaan lê of opgee nie. Wat bly vashou het dat al het sy geen reg of aansraak op enigiets van Jesus af nie, die krummels van die tafels af genoeg is om haar kind te red. En dit was genoeg. Mevrou, jou geloof is groot. Daar was al tye in my bediening waar ek weg was vir ander verpligtinge, en iemand was siek en die ouderling het vir hulle gebid. En as ek terugkom, moet ek hoor dit tel nie, die dominie moes kom bid het. Hoor my vanoggend. Jou gebed, mevrou. Meneer. Jou geloof hoef nie groot of uitsonderlik te wees nie. Dit moet net aan Jesus vasklou met alles wat jy het. Jou vertroue moet in Hom wees. Vir my is een van die groot figure in die Bybel en veral in die Ou Testament, Elia. Sy verhouding met God, sy geloof, dit wat God deur Elia gedoen het is vir my daar bo … ver bo ons. Kyk wat skryf Jakobus: Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking. 17 Elia was 'n mens net soos ons. Hy het ernstig gebid dat dit nie moet reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande lank nie gereën nie. 18 Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer. James 5:16-18 Hy sê: Elia was ‘n mens net soos ons. Jou gebed. Jou geloof, is wat die deur oopmaak waardeur Jesus genees, dinge verander. Wat met ons hier leer? Hoekom het die Here ook hierdie gebeure in die Bybel laat opneem? Dat ons moet weet maak nie saak wie of wat ons is nie, as ons aanhou vra sal die Here ook vir ons help. Hy sal ook ons raaksien en ons help. Ek dink vandag aan Hagar as sy die woestyn in vlug om weg te kom van Sarah, en dus ook van Abram af, dan ontdek sy die Here is die God wat haar raaksien. As jy wyer kyk en besef sy is nie die een uit wie God vir Abram ‘n groot nageslag belowe het nie, sy is nie die een van die belofte nie nie, dan besef jy God skryf haar nie af nie. Hy sien haar raak al is sy net ‘n slavin. Sy het God aangeroep: “U is ‘n God wat my sien, hier het ek Hom gesien wat my gesien het. (Gen 16: 13)” Miskien moet ons verwonderd raak. Al dink ons hoe klein oor onsself, God hoor jou. God sien jou raak. God dink altyd aan jou. Jou naam is op Sy handpalms gegraveer. Mag ook jy beleef, jou geloof het jou gered.