Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Filippense 3: 17 – 4:1 (NAGMAALSDIENS 24 FEBR 2022) Gewoonlik sê ons dankie met 'n lied of 'n psalm wat as lofverheffing gelees word. Vandag – soos dit behoort, gaan ons met ons lewens dankie sê. En ek wil dit begin met 'n vraag of twee: • Hoe werklik is God vir jou? • Dink jy Hy is hier? • Orals? Of is daar tye en plekke waar jy vergeet dat God teenwoordig is en jy dinge aanvang wat jy nie eintlik sou wou hê God of enigiemand van moet van weet nie? Ek vra die vrae want ek dink die antwoorde gee jou 'n kykie in die optrede van die twee groepe mense van wie Paulus skryf in die gemeente van Fillippi. Die een groep lidmate was waarskynlik gereeld in die eredienste maar het ook hierdie om die hoekie ding aan die gang gehad. Goed gedoen wat almal liewers nie van moet weet nie. God was nie genoeg van 'n werklikheid vir hulle dat hulle Hom om elke hoek en draai sou dien nie …. veral nie daar waar niemand hulle kon sien nie. Die evangelie was net nog iets in hulle lewe. Belangrik maar nie so belangrik dat hulle opofferings sou maak of anders as die wêreld sou leef nie. Die NLV “Al waaraan hulle dink is die lewe hier op aarde.” Hulle optrede was goed in hulle eie oë maar het soveel skade aan die koninkryk van God gedoen dat Paulus sover gaan om te sê hulle leef soos vyande van die kruis van Christus. Jare geleentheid het ek 'n vriend gehad wat kom kuier het. Toe ek uitstap toe sien ek hierdie ligblou Willies' Jeep --- so 'n 2de WO “look”. Man, ek was opgewonde. Kyk, mooi was nog nooit lelik nie. Maar toe ek naby kom toe moet ek ontdek dis 'n “kit-car”. Veselglas op 'n VW onderstel en enjin. Nou daars niks fout daarmee nie … dis net dat dit voorgegee het om iets te wees wat dit definitief nie onder die “bonnet” was nie. Netso was Paulus teleurgesteld met mense in Fillippi wat sulke “kit-car-christene” was. Hulle geloof of verbintenis aan Jesus was net oppervlakkig. Onder het 'n wereldse hart geklop Jesus sou gesê het: Hulle probeer twee base tegelyk dien. Of die afrikaanse gesegde: op 2 stoele tegelyk sit. Die vrouens sal reken dis 'n “commitment” probleem. Die punt is hulle optrede het skade gebring aan die saak van die Here. Hulle kon net sowel Sy vyande gewees het. Hulle sg “christenskap” het jou met 'n swak smaak in die mond gelaat. Wat kan mens by hulle leer? (Voor ek aangaan na die regte dankbaarheid) Om eerlik met jouself te wees: Wie dien jy eintlik? Hoe “committed” is jy regtig aan Christus? Het ek iewers nie dalk my lewe wat deur God vrygekoop is, terug gesteel nie? Wie se gerief of wense gee ek voorkeur in my lewe? Ek vir een, wil tog nooit moet hoor ek is 'n vyand van die kruis nie. Ek wil altyd aan Jesus Christus alleen behoort. Ek wil 'n burger van die Koninkryk van God wees. Burgers van die koninkryk van God is anders. Hulle het 'n visie. ' n Duidelike beeld of verwagting van dat Christus weer gaan kom en ons gaan verander dat ons soos Hy sal wees (vers 20, 21). En as ek na 2 Kor 4: 16 – 18 kyk, dan word ons van dag tot dag vernuwe. Dan gaan hierdie ou aardse lewetjie uitloop op 'n heerlikheid wat alles wat ons nog ooit geken het, vêr oortref. As jy die gedeelte vooraf in Fil 3 lees dan gaan jou oë so bietjie oop vir hoe lyk 'n burger van die koninkryk van God. 1. Hulle is bereid om alles prys te gee twv Christus. Niks wat voorheen vir hulle belangrik was het meer waarde nie. Om Christus te kan leef … om Christus te kan dien is al wat tel. (vers 9 ev) 2. Hulle weet hulle is vrygespreek deur wat Jesus vir hulle gedoen het. Hulle het geen aandeel in hulle redding nie. Dis alles Christus se werk. Daarom leef hulle nou volledig net vir Hom. 3. Hulle is nie skaam om 'n voorbeeld te wees vir ander nie. Hulle kan vir ander sê “volg my voorbeeld na.” Hulle dink nie hulle is perfek of leef alles 100% reg nie. Hulle is ook nie verwaand nie. Paulus vertel dikwels dat hy die grootste sondaar uit is. Eerder bedoel hy hy gee sy alles … hy span alles in om meer soos Jesus te lewe want hy is dankbaar dat Jesus vir hom wat Paulus is, gered het … Syne gemaak het. (vers 12) 4. Hy span hom in om die hemelse prys te kan behaal waartoe God hom geroep het. Hy span hom in. Hy maak 'n punt om daartoe werk. Hy sit “effort” in. Hy doen moeite om soos 'n kind van God te leef. En dis hoe 'n burger van God se koninkryk is. So anders as iemand wat net leef vir wat hier op aarde te kry is. En so is ook ware dankbaarheid. Dit kom uit die hart van 'n mens wat oortuig is God is werklik hier by hom of haar. En dat God elke oomblik by jou is. En daarom wil jy elke oomblik leef soos iemand wat aan Christus behoort. Ek gee nie om hoe u was tot hiertoe nie. Die nagmaal is tog immers die teken van God dat as jy jou sondes bely dat Hy getrou en regverdig is en jou volkome vergewe en jou 'n nuwe mens maak. Wat ek oor omgee is hoe jy na die nagmaalsdiens gaan leef. Ek bid dat die Heilige Gees ons elkeen sal inspireer om werklik in alles daarna te strewe om net Christus te lewe. Ek wil pleit dat ons vir eens en vir altyd elkeen ons eie ek gaan kruisig en Christus leef. Kom ons leef soos iemand wat volledig aan God behoort. Kom ons wees lewende voorbeelde vir ander om ons na te volg, maar ons kom ons maak seker dat hulle Christus duidelik genoeg in ons kan sien om Hom na te volg.