Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 15: 1 – 20 Hierdie deel is intens persoonlik. Jesus trap die fariseers en skrifgeleerdes uit oor hulle meer omgee vir hulle oorgelewerde reels en terselftertyd ‘n veer voel vir dit wat God wil sien. Hulle godsdiens is oor die uiterlike reels, oor moets en moenies en dit werk nie vir God nie. In vandag se taal staan hulle op die Bybel en op interpretasies van die Bybel wat hulle pas. Maar God is nie meer deel van dit wat hulle doen nie. In hierdie konfrontasie haal Jesus Jesaja aan. En sonder om doekies om te draai sê Hy hulle reguit: Julle eer God met julle mond maar julle hart is ver van God af. Dit … dit is waarvoor ek en jy moet oppas. Dat ons harte ver van God af is. Dat ons die Bybel wil misbruik om te sê wat ons wil hoor. Dat ons versies soek om ons self mee te regverdig of te verontskuldig. My oupa het almelewe gesê: Mense koop net die koerant wat sê wat hulle wil hoor. En dis dikwels waar. Wat in hierdie deel skerp deurbreek is die vraag na hoe belangrik is die wil van God vir jou? Hoe belangrik is dit vir jou om te doen wat God sê? Daar het Fariseërs en skrifgeleerdes vanaf Jerusalem gekom. Hulle wou weet: 2 “Hoekom verontagsaam u dissipels die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte? As hulle gaan eet, was hulle nie hulle hande nie.” Matteus 15:2 Dit lyk of die skare hulle ruimte gegee het vir die gesprek. Hulle het so ‘n entje weg gestaan en gekyk. En dan word hulle in vers 10 nader geroep deur Jesus. En Jesus brei dan verder uit op dit wat Hy vir die afvaardiging te sê gehad het. En die dissipels het vir Jesus daarop gewys dat die afvaardiging hulle vererg het vir Jesus. Die sleutelwoorde aan die kant van die afvaardiging was: die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte. En aan Jesus se kant is dit: die wil van God. God se gebod. En klaar wys dit vir ons die kloof tussen die twee groepe. Vir die fariseers en die skrifgeleerdes was die oorgelewerde gebruik belangriker. Dis hoe dit gedoen moet word. Ons oupas en hulle oupas en so aan het dit so gedoen en ons moet ook. Jesus antwoord dat hulle dit wat mense leer voor stoot as die gebooie van God. Kan ek vir ‘n oomblik net die kern nader aan ons trek? Sondag is nagmaal en ons gaan elkeen selfondersoek doen hierdie week. Hierdie teksverse dring ‘n mens om jouself te vra, en ek Here? Ignoreer ek U wil en Woord twv ou tradisies en sieninge? Want ek het so groot geword. Want dis hoe dit behoort te wees. Here, is daar tye wat die gemeenskap se opinie meer tel as U opdrag? Ek het op facebook iets gelees in die lyn van dat mense die Bybel lees en verstaan vanuit hoe hulle is en dink. En nie met ‘n openheid, en eerlik genoeg, dat dit wat hulle lees en hoor in die teks dalk nie is wat hulle daar wil sien nie. Op fakulteit is ons al gewaarsku dat mense dikwels net bevestiging soek van hulle eie idees in die Bybel. Hulle soek ‘n versie wat sê wat hulle sê. Of wil hoor. As dit waar is dan is ons net mooi waar die fariseërs en skrifgeleerdes was. Vanuit die sosiale wetenskappe weet ons dat mense se lewens ingekleur word, gedikteer word deur die stories in die gemeenskap. Stories oor man wees. Vrou wees. Stories oor kerk wees. Oor geloof. Ons leer hierdie stories by ons ouers. En by hulle ouers. En sonder om oor dit te dink aanvaar ons dit as dit moet so wees. Die fariseers en skrifgeleerdes het boeke vol verduidelikings op die wet gehad. Die Talmud en die Mishna is die twee bekendstes. En ja, die bepaling het gegeld dat jy jou uiterlik moet skoon maak voor jy voor God verskyn. Maar dit was by Sinaiberg. En die priesters moes hulle reinig voor hulle sekere offerhandelinge uitvoer. Maar dis nerens tot wet gemaak vir gewone mense nie. Die fariseers en die skrifgeleerdes het dit belangrik gemaak. Jesus antwoord nie hul vraag dadelik nie. Hy gee Sy antwoord aan die skare mense wat daar was. Maar die afvaardiging trap Hy vas in geen onsekere manier nie. Jesus wil weet hoekom hulle God se wet verontagsaam ter wille van hulle oorgelewerde gebruike. Sy voorbeeld wat Hy gee is duidelik. Die Skrifgeleerde en die Fariseers het mense toeglaat om spitefull te wees teen hulle ouers. Hulle kon sê dat die geld waarmee hulle veronderstel is om hul ouers mee te help is korba, dit beteken hulle wy dit nou aan die Here so die ouers kan dit nie kry nie. Volgens William Hendriksen het daardie geld meer kere ook nie by God of die tempel uitgekom nie. Dis nooit vir God gegee nie. Net aan Hom “toe gewy”. Wat is God se wil? Eer jou vader en jou moeder. Sorg vir hulle as dit nodig is. Liefde. So jy kan ‘n mens wees wat op die oog af mooi vroom is en dinge opdra aan die Here maar in die doen van die wil van God is jy so ‘n bietjie skaars. Jy leef soos jy wil. Uiterlik, voor die mense is jy hierdie goeie ou. Agter af is Christen wees nie eers ter sprake nie. In die negentiger jare, het ‘n man my vertel hoe hy ‘n tender ingesit het en so ‘n ietsie onder die tafel ook want anders kry jy nie die tender nie. Dis nog in die ou regering se tyd gewees. Vir hom was daar geen konflik met geloof nie. Jesus haal Jesaja aan. 8 “Hierdie volk eer My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af. 9 Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie.” Matteus 15:8-9 Vir my roep dit op tot selfondersoek. Jy kan hierdie gesprek deur trek na al die dinge wat ons sondermeer aanvaar as reg, en aanvaar as dit moet so wees, almal doen dit dan, en jouself dan afvra: Wat is die wil van God hieroor? Bid. Vra die Here. Worstel hiermee en leef die vraag tot jy in die antwoord in leef onder die hand van die Heilige Gees. Wat jy nie moet doen nie is om in die Bybel te soek vir verse wat jou siening bevestig. Sit die verse langs ander verse. En meet dit aan die liefdes gebod. Hoekom die liefdesgebod? Want God is liefde. En as Jesus die wet saamvat dan trek Hy dit deur na die liefde toe. Die liefde doen niemand kwaad aan nie. Die mooi van so leef is dat waar jy aanhou bid en vra wat is U wil Here, leef jy almeer ‘n lewe wat net om God draai. Is jy besig om God lief te hê met jou hele menswees. As jy soos die Fariseërs en skrifgeleerdes dink dan dink jy in terme van waarmee kan ek weg kom. Wat is toelaatbaar. Wat is nie verbied nie. En gaan jy dalk jou sieninge op ander wil afforseer. Moenie ‘n fariseër wees nie. En dan roep Jesus die skare nader. En wat Hy vir hulle sê moet ons laat regop sit. Die moets en moenies wat mense voor hou is nie waaroor dit gaan nie. Dit maak jou nie heilig nie. Dit wat in jou hart leef maak jou heilig. Dit wat jy leef en is as niemand jou sien nie gaan wys of jy heilig is. As jy in jou alleen wees of tussen mense wat jou nie ken nie, heilig leef, en nie net as mense jou kan eien nie. Dis waarvan ek praat. Dit wat uit jou lewe uit kom is belangrik. Dit wys of jou hart by God is. Jy kan jou hande soveel keer as jy wil in ‘n rituele handeling was maar as jou hart nie volledig by God is nie is jy verlore. Want as jou hart nie by God is nie, sê Jesus, dan gaan lelike goed uitkom. Slegte gedagtes. En dan sê Jesus sommer ook wat Hy bedoel met slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery. Daar is baie dinge in ons samelewing wat skynbaar okay is volgens mense. Daar is min wat God se lig sal oorleef. Ek sluit af: In hierdie wêreld is ons vreemdelinge. Moenie inpas nie. Wees soos Jesus wat God geleef het en nie soos die afvaardiging uit Jerusalem wat meer belanggestel het in hulle eie interpretasies nie.