Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
SONDAG 13 FEBRUARIE 2022 (“Valentynsdag”) Skriflesings: Kolosense 3: 18, 19 (met Efes 5: 21 ev in ag genome) en Prediker 9: 9 In 'n wêreld waarin so baie dinge kan skeef loop, waarin die lewe die een of ander tyd met ons almal gebeur, is daar een konstante waarop jy kan terug val. Ek sluit die Here vir 'n oomblik hier uit. As al die ander dinge en pligte, al die markte en die base by die werk, as wat ookal waar ookal met jou gebeur … dan het God hierdie een daar gesit vir jou. Jou vrou wat jy liefhet. En in vandag se wêreld waar vrouens ook buite die huis werk: Mev jou man. Weet u wat maak vir my baie sin? Baie meer as om jou vrou te elmboog as die versie van onderdanig wees ter sprake kom. Dis om jou vrou aan te moedig. Om nie so begaan te wees oor wie moet onderdanig wees nie maar om soos die Here meer kere die skotteltjie water te neem en haar voete te was. En as ons dalk die beeldspraak misverstaan: Om vir haar tee te gaan maak. Om haar op allerhande maniere te bederf. En haar voete te was. Maar tensy jy weet hoe, los dalk maar liewers die pedikuur. Betaal maar liewers vir een. Ek hoop dat jy vandag iets van die hart van God sal hoor. Joh 3: 16 sê duidelik dat God nie wil straf en vernietig nie … maar dat Hy lief het. Trouens Johannes skryf in sy eerste brief dat God liefde is. Hoor dan vandag dat hierdie God van liefde vir jou oneindig lief is en wil hê dat jy jou lewe moet geniet. Die probleem is ons fokus op al die verkeerde goed as ons oor geniet dink. Ons fokus op dinge en gebeure. Ons maak goed belangrik wat net vir ‘n oomblik hou en dan verby of weg is. Prediker 9: 9 ruk ‘n mens nogal as dit sê die lewe kom tot niks. Al die goed wat jy so oor begaan is kom tot niks. Dis alles relatief. Tydelik. Selfs die lewe kom tot niks. In dieselfde vers 9 gee die Prediker ons ‘n stukkie insig. Hy skryf: Geniet die lewe saam met die vrou wat jy liefhet. Kom ons los maar al hierdie skerp grappies oor vrouens in die huwelik. God se bedoeling was iets moois. Jy moet haar geniet. Nie as 'n gebruiks artikel nie. Nie om te misbruik as 'n gratis slavin nie. Nie om haar met disrespek te hanteer nie. Maar as ‘n geskenk van God aan jou. ‘n Geskenk wat vir jou kosbaar is en jy ten alle koste wil bewaar. In sy brief aan die gemeente in Kolosse sê Paulus: “Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie. Kom ons kyk vanuit ons eie ervarings na die vers. Wanneer raak ons bitter by die werk? As ons stank vir dank kry? As ons ons afsloof en geen erkenning kry nie? As hulle jou net skel en nooits iets goeds van jou sê nie? As jy gebruik voel. As jy voel hulle misbruik jou. Moenie dit aan jou vrou doen nie. Koester haar. Bederf haar. Moedig haar aan met mooi woorde. En jy sal sien hoe sy blom en floreer en jy sal soveel meer vind in haar om te geniet. Ek vermoed sy sal minder bitter en skerp wees met jou. In Efes 5 waar Paulus ook oor hierdie kultuur ding van onderdanig wees skryf skryf hy: (v 21 en 28) 21” Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.” 28 “Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet het homself lief want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel hy voed en versorg dit, soos Christus met Sy kerk doen … “ Kom ons maak dit eenvoudig: Voorsien in haar behoeftes. As dit jou lyf se behoeftes was sou jy plan gemaak het. Maak nou plan met hare. Bedien haar bietjie. Sy verdien dit. Sy is die een wat vir jou daar gaan wees as dinge skeefloop. Moenie sê “ek glo nie in die valentynsdag ding nie”. Jy weet sy sal van 'n ietsie of 'n kaartjie hou. Gee dit vir haar. En as jy nie inkoop in die komersialisering nie, skryf 'n briefie. Pluk blomme in die tuin. Wat ookal: Wees 'n man en wys vir haar jy gee nog net so baie om soos voor julle troue. Sê vir haar jy is nog lief vir haar na al die jare van getroude lewe. Eintlik nog liewer. Hier 'n wenk: Dra haar op jou hande, bederf haar, laat haar elke dag spesiaal voel. Want as die petrolprys styg, of die markte tuimel of Eskom jou in die donkerte laat en of die regering maak jou medisynetjie of waffer plesiertjie van jou nog duurder, is dit sy, skryf Prediker, wat die lewe weer genietbaar maak. So – as jy gister en die week voor dit en die week voor dit op”geslip” het – gaan maak 'n plan – gaan kyk haar diep in haar oë en sê “ek's lief vir jou.” “Jy's die mooiste.” Gaan sê dit want die Here wil hê jy moet haar liefhê. Die Here wil hê dat sy geliefd moet voel. En as jy dogter het: Sê dit vir hulle ook. En as jy nog wil teenstribbel: (Kol 3:19). Jy moet haar liefhê. Bevelsvorm. Opdrag. Jy moet haar liefhê. So staan dit geskrywe. Dalk wil jy my nou vertel: Maar jy ken nie my vrou nie. Nee. Daar word nie gesê volgens die graad van haar oulikheid nie, maar omdat … aangesien jy saam met Christus uit die dood opgewek is. (3:1) Wat ons daarom doen is: Ons hanteer haar soos sy kan wees as sy baie liefde kry en ons hanteer haar nie soos sy is nie. Jy is bedoel om die lewe saam met haar te geniet. En mev, die boek Spreuke is vol van stories oor vroue wat meer irriterend as 'n druppende kraan is. As dit jy is. Stop dit. En as dit nie jy is nie – onthou als het 2 kante. Los die gekritiseer. Moenie jouself probeer handhaaf deur altyd te wil beter weet. Moenie hom slegmaak by jou vriendinne nie. Gaan kyk hom in die oë en vertel hom hoe goed is hy vir jou. En bedoel dit. Gaan prys hom aan. Besing sy lofgesange by jou vriendinne. En bewonder hom openlik. Dis nie so moeilik nie. Kan ek vra: Wie van julle dames sal more graag ietsie persent wou kry? 'n Kaartjie of 'n sjokoladetjie? Dit gaan nie hou nie. Behalwe die sjokolade, dit sit vir ewig om die heupe. Wat meer kosbaar gaan wees is as ons mekaar ‘n slag weer styf vasdruk en vir mekaar sê: Ek het jou lief. Ek sal jou altyd lief hê. En dan bewys ons dit in die res van die jaar. Die Bybel sê mos: Doen aan ander wat jy graag aan jouself gedoen wil hê. Ek weet Paulus skryf nerens dat vrouens hulle mans moet liefhê nie … maar dis darem die post moderne era … gelyke regte … voorkeur behandeling vir vroue. Eintlik kom vra ek net vandag: Gaan dink bietjie anders oor julle liefde. Klim uit die groef van 'n-man-doen nie dit of dat nie. Vergeet die vrees dat een of ander neandertal jou dalk 'n softie sal noem as jy vir jou vrou bederf met blomme, so elke dan en wan. En dames, los die drama-queen streke en kom ons maak nie van molshopies berge nie en ons geniet mekaar net. Gaan wees opreg lief vir mekaar. Dit is God se wil vir jou. Want jou man – jou vrou – is God se geskenk aan jou. Die geskenk saam met wie jy die lewe moet geniet. Geniet is mos 'n lekker woord. Daar is nou geleentheid dat jy vir God dankie kan sê vir die mense in jou lewe.