Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
GENESIS 15 As ek die boodskap in een sin kan gee: _______________ (jou naam) het toe in God geglo. God het die inisiatief geneem in ___________________ (jou naam) se lewe. Weet jy wat dit beteken? Jy is nie so alleen en so uitgelewer op hierdie aarde soos wat jy dink nie. Die Almagtige is betrokke en besig in jou lewe. Daar is hoop. Ek weet jy is nie Abraham nie. Ek weet ook dat God jou lief het. Dat God Sy liefde bewys ook aan ons kinders en hulle kinders. As ons vir ‘n oomblik kan dink oor ons lewens as geheel. Hoe sal mense ons lewens in een sin opsom? Sal die een groot sin oor jou lewe kan wees “…………………. Het toe in God geglo.” Eintlik kan dit nie die boodskap wees nie. Op die meeste net ‘n onderdeel, want dit gaan oor God! God wat die inisiatief neem in Abram se lewe. En in jou en my lewens. God is die boodskap. Abram, ek, jy, ons kinders kan net antwoord met geloof op wat God doen en belowe. God is alles. Hy doen. Hy gee. Hy maak voorspoedig. Hy beskerm. (oa vers 1) En daarom mag dit ook van ons waar wees dat ons lewens opgesom of beskryf kan word as ons het toe in God geglo! Hierdie is een van die belangrikste verhale in die Abram sage. So belangrik dat dit ‘n groot invloed gehad het op Israel se verloop verder. En is deur Paulus aangehaal in Romeine 4. Romeine 4 maak baie van die sin “Abram het toe in die Here geglo” Natuurlik val so ‘n sin nie uit die lug uit nie. Sulke goed kan net gesê word as daar ‘n pad met God geloop is. 1. Inisiatief. Want God het die inisiatief geneem. In die Abraham verhaal is dit God wat dinge laat gebeur. Daar is ‘n pad wat met God geloop word omdat God dit so laat wees het. Dit moet ons en ons kinders leer. God sê: Trek uit Haran uit. God gee die beloftes. God red Sara en Abram nadat Abram vir mense gejok het oor dat sy sy suster sou gewees het. God weet wat aangaan en is besig agter die skerms. God sê Ek gaan ‘n verbond met jou sluit. Gaan kry dinge reg vir die simboliese handeling van ‘n verbondsluiting. Abraham volg net. Abram hou net vas aan God. En Abraham doen wat God beveel. En as die verbond gesluit word, dan is dit God wat Homself daaraan verbind en Abram uitskakel. Kom ek verduidelik: Destyds met so ‘n verbondsluiting is al die bepalings neergeskryf. ‘n Dier, bv ‘n bees is gevat en middeldeur gekap. Die twee helftes is weg getrek van mekaar. En dan het albei die partye tussen die twee stukke bees deurgestap. Simbolies het jy dan gesê: As ek nie my kant van die ooreenkoms hou nie, dan kan jy met my maak soos met die bees. Jy het jou met jou lewe verbind aan die hou van die verbond. God laat Abram nie toe om dit te doen nie. Want Hy het geweet Abram sou dit nooit kon hou nie. Net God verbind Homself aan die verbond. En op Golgotha betaal God omdat ons nie ons kant van die verbond gehou het nie. En ook Golgotha was dit God se inisiatief. God se plan om ons te red. So, eks baie jammer maar dit gaan nie oor klein Dianna nie, ook nie oor haar ouers of familie nie, ook nie oor jou of my nie. Dit gaan altyd in alles oor God. En ons … ons het hierdie wonderlike voorreg om aan die ontvangkant van God se liefde te staan. Ons kan gewoon net antwoord op God se woord en dade. En dit is wat vanoggend met Dianna gebeur. Haar ouers het gereel en haar ouers het haar hierheen gebring maar dit is God wat Hom aan Dianna verbind vanoggend. Dit bly vir my aangrypend. Die Almagtige verbind Hom aan ons. En kyk hoe kosbaar: In hierdie eerste paar verse van hoofstuk 15 kom die Here uit vrye wil na Abram. Ons lees nie dat Abram na God geroep het of so iets nie. ‘n Tyd na die gebeure in hoofstuk 14 gebeur dit: “1 Hierna het die woord van die Here in 'n gesig tot Abram gekom: “Moenie bang wees nie, Abram, Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees.”(Gen 15: 1) Die Here neem die insiatief en maak ‘n belofte aan Abram. En Abram bly sê dat dit wat hy wil hê, het God nooit vir hom gegee nie en nou is dit onmoontlik. Die kind wat hy na gesmag het en wat God belowe het, wel dit kan nie meer nie. Abram is te oud en Sara ook. Die Here verseker Abram dit sal nog gebeur. Die Here vat Abram buitekant toe en wys hom die sterre … “tel die sterre as jy kan … so baie sal jou nageslag wees” Vers 6: “Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het.” Nota: Abram het toe in die Here geglo … en duidelik het Abram volgens die wil van die Here gehandel. Die storie van Abram se lewe is: hy het in God geglo. (En die storie van jou lewe?) 2. Glo Die enigste antwoord wat ‘n mens op God se inisiatiewe kan gee is geloof. Jy antwoord op dit wat God vir jou sê met geloof. Jy bly glo dat God sal doen wat Hy beloof het al lyk die teendeel vir jou hoe seker. Jy hou vas aan wat Hy gee. Al lyk dit vir jou totaal onmoontlik, maar as God dit onderneem het, dan sal dit so wees. Leer om op God te wag. Soos Abram moes wag vir Isak om gebore te word. En Abram moes wag en die aasvoels weghou by die verbondsluiting. Twyfel is soms deel van wag. Daarom is dit kosbaar om te sien dat God nie kwaad word vir Abram nie. Dat die Here ewe geduldig vir Abram deur ‘n proses vat. Eers buiten toe sodat hy die sterre kan sien … teveel om te tel. En dan verseker God vir Abraham weer van die belofte. En dan die ritueel van verbondsluiting sodat hy kan glo. En toe het Abram geglo. 3. Dit wat jy nou gaan lewe. Punt 3 is die doop en wat jy nou daarmee gaan maak in jou lewe. Jacques, Berlize, leer Dianna om haar doop te leef. Leer haar om vas te hou aan wat God belowe het. Vir die res van ons: Hou vas aan God se beloftes. Moenie haastig raak nie. Wag op hom. Jaag die aasvoels van twyfel en onmoontlikheid weg en sien die God wat jou jou opdrag gee. En ook Sy belofte: Ek is by jou. Hou vas aan Hom wat die goeie en die mooi vir jou wil gee. Vertrou Hom met alles. Jou huwelik, jou werk, jou finansies. Alles. Doen wat Hy sê. Op die lang duur sal jy sien dit werk. Die water waarmee ek Dianna gedoop het, waarmee ons almal gedoop is sê: Ons is skoongewas. Ons is God s’n. God het Homself aan jou verbind. Dit was Sy inisiatief. Hy wou dit doen. Daarom: “Moenie bang wees nie, ________________ (jou naam), Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees.” Jou lewe behoort aan God. Weet dan Hy is in beheer. Hy sal met insiatief lei. Wag jy net op Hom en doen wat Hy sê.