Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 13: 44 – 45 Wat moet ons hier leer? Om die ongewone in ‘n gewone dag te verwag? Maar daar is meer hier. Is dit dan om die waarde van goed te ken? Wat van ons kyk na die reaksie van die man wat die ongewone in die loop van ‘n gewone werksdag ontdek. Die saailand is die ruimte waarbinne jy lewe. Verwag om die skat te vind daar waar jy besig is met jou elke dag se dinge. Soos dalk vandag in jou gereelde erediensbywoning. Ek is oortuig dat jy hier is omdat die Here jou vandag hier wou hê. Here, mag U wil dan vanoggend met ons elkeen geskied. Amen. Die boer het nie uit sy pad uit gegaan om die skat te kry nie. In hierdie gelykenis is hy ook nie opsoek na skatte nie. God verras hom hier. Hy was dalk besig om te ploeg toe sy ploeg iets tref. Ek kan hom nogals hoor sê: “Ag nee man. Dis nou die laaste ding wat ek nodig het. Sê nou net my ploegskaar is gebreek. Nou van alle dinge” En dan maak hy die grootse ontdekking. En skielik lyk dinge vir hom anders. Dieselfde ou saailand wat hy waarskynlik huur, is nou die moeite werd om te hê. Nog altyd het hy gedink dis te duur. Die grond is regtig dit nie werd nie. Maar nou toe hy die skat ontdek, toe is dit net anders. Nou moet hy dit net hê. Miskien het jy al gedink dat jou lewe maar te doodgewoon is. Dat jou lewe soort van saai en vaal is. Maar dat daar tog iewers meer kan wees. Maar dit is nie vir jou beskore nie. Dalk was jy tot hiertoe tevrede met so 'n bietjie van God in jou lewe. Ek dink dis baie mense se fout ... God is nie alles in ons lewens nie ... is Hy? Ons soek net so 'n bietjie van God ... en 'n bietjie ewigheid ... en 'n bietjie godsdiens in die grysheid van ons lewens. Dit maak die lewe bietjie meer verteerbaar. Maar God is nie 'n bykomstigheid nie. Die pêrel is nie 'n stukkie versiering om die nek te hang nie, of as jy bietjie af voel jouself mee op te lig nie. Die boer en die handelaar moes alles verkoop het om die skat en die pêrel te bekom. En as hulle nie gedink het dis baie meer werd as enigiets wat hulle nog ooit besit het dan sou hulle nie alles verkoop het om dit hulle eie te maak nie. Die boer sou dit bloot toegegooi het en verder geploeg en gesaai het. Die handelaar sou dit afgemaak het as 'n swak belegging. Wat ons moet raaksien is dat dit ‘n opsie is wat ‘n mens kan uitoefen. Ons kan ook wegstap, tevrede met ons bietjie bietjies lewe. Maar ek wonder of die boer nie vir die res van sy lewe diep binne 'n ongelukkigheid sou beleef het nie. Iets in die lyn van “moes ek nie maar alles verkoop het en daardie land gekoop het nie. Ek wonder hoe sou my lewe vandag anders kon gewees het.” Die handelaar sou 'n ongelukkige mens geword het want hy sou daardie pêrel nooit kon vergeet nie. Helmut Thielicke vra: “Hoeveel mense kom werklik voor Jesus te staan en voel innerlik in twee geskeur en word oor Hom ongelukkig. Hulle voel dalk aan: Vir Hom moet ek in my lewe hê! Hy sou my lewe ryk en nuut kon maak.” Maar hulle harte bly vasklou aan die dinge wat hulle nie wil opoffer nie. Hulle bly weerskante loer ... bang hulle mis iewers iets. Hulle probeer op twee stoele tegelyk sit. Die stoel van God en die stoel van Mammon. Daarom kry hulle nooit die pêrel nie. En mag ek dit ook sê?: Dis nie die Here se skuld nie as ons 'n innerlike ongelukkigheid bly beleef – 'n soeke na iets anders of meer wat nie bevredig wil word nie – dis ons eie halfartigheid wat nie wil kies nie – nie die eending wil doen en die ander nalaat nie. In die woorde van Openbaring. Dan is ons lou. Nie warm en ook nie koud nie. Uitgespoeg. Soos die ryk jong man wat nie alles wou verkoop, vir die armes gee en Jesus volg nie. Hy het hartseer weg gegaan. Ongelukkig. Die boer doen wat die ryk jong man nie wou doen nie. Ek het gebid dat ons oë vandag mag oopgaan en ons die skat van God mag ontdek. Vir die eerste keer of herontdek vir die hoeveelste keer soos iets wat jy al jare besit het maar nog nooit besef het hoe kosbaar dit vir jou is nie. Ons behoort teen die tyd almal te weet dat die koninkryk van God is 'n saak van alles of niks. Die Here gebruik woorde soos “afstand doen; self verloën. Die christelike lewe word gekenmerk deur opoffering. Prysgee. Ook prysgee en myself tweede stel twv ander. Die klem in hierdie twee gelykenisse is nie op prysgee nie maar op dit wat jy KRY. As jy kyk na wat alles verkoop is ... dan sal ek verstaan as jy nog terugdeins. Ek meen ALLES wat die boer en alles wat die handelaar hulle lewe lank opgebou het ... gaan verkoop hulle. Maar kyk wat kry hulle! In hulle oë – volgens hulle oordeel – iets baie meer kosbaars en besonders as al die goed wat hulle nog hulle lewe lank gehad het. En as ek mag byvoeg: meer kosbaar as enig iets wat jy nog ooit begeer het om te besit. Die kosbaarste in my eie lewe is nie 'n besitting nie ... dis die vreugde en die vrede wat My Verlosser en Here in my lewe ingebring het. Dis die hoop wat Hy my gee, die kalmte as dinge om my skeefloop; dis die sekerheid wat Hy n my losmaak op kritieke oomblikke; dis Sy vergifnis as ek struikel en val; dis die wete ek hoef niks besonders te wees nie ... net Hom liefhê. Ek begeer so veel dat u dit ook mag vind. Maar voor jy dink maar ek het Hom in my lewe moet jy dalk ook gaan worstel met die vraag of daar nie iets in jou doodgewone lewe is wat vir jou nader aan die hart lê as Jesus Christus nie ... Of daar nie iets is wat as die Here dit van jou sou vra jy dadelik sou weier nie. Thielicke vra: “Of een van ons voorkeure nie eendag die prys kan word waarvoor ons ons Christelike geloof sal verkoop nie: dalk 'n duistere hartstog, 'n bepaalde lewenstyl, 'n vorm van troubreuk, 'n sake-intrige of dalk iets anders waarin die donkerte in jou lewe gehul mag wees.” Al kos die genade jou niks nie is dit nie die spreekwoordelike gebraaide eend wat gerieflik in jou mond invlieg nie. Die genade is die skat in die saailand – in die daaglikse roetine van jou lewe – dis die pêrel waarvoor jy alles moet verkoop. Vers 44 sê die boer was baie in sy skik. So in sy skik dat hy alles wat hy gehad het gaan verkoop het om die saailand te koop sodat die skat syne kon wees. Jesus sê in vers 52 dat as jy die oorgawe maak ... totaal en onvoorwaardelik en as jy jou dan soos Hy verdiep in dit God wat sê en wil hê dan is jy soos 'n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring. Maar jy kan nie jouself wil handhaaf en die skat hê nie. Jy kan nie vir jouself en jou eie EK leef en jou eie nukke grille en giere hê ten koste van ander nie. Jy sal nie verder kan bly sê maar dis nou maar hoe ek is nie en dink jy kan iets van die skat van die koninkryk ten toon stel nie. Jy gaan dan nie wees soos die huiseienaar wat die een kosbaarheid na die ander lewer nie ... jy gaan wees soos die ryk jong man wat bedroef ... hartseer van Jesus af wegstap. Glo my: 'n bietjie bietjie godsdiens maak nie die soeke hierbinne stil nie ... net so min as wat so nou en dan oefen jou die olimpiese spele sal laat wen. Dis alles vir Jesus ... of dis niks. So, wat gaan ons maak? Gooi ons die skat toe en ploeg dood rustig voort asof niks gebeur het ... of is dit nou die tyd om onsself te verloën, en Jesus regtig onvoorwaardelik te aanvaar as die Eienaar van jou lewe. Kans om in stilgebed die besluit te maak en persoonlik, sou u wou, die oorgawe aan die Here te maak.