Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 4: 1 – 14 Die versoeking is groot om die tema vanoggend te maak: Wys my dat jy glo! Die duiwel doen dit daar in die woestyn met Jesus ‘n bietjie anders. Hy sê in effek keer op keer: Wys my dat U die Seun van God is. Wys my dat jy geesvervuld is. Wys my dat jou geloof iets beteken. Wys my dat jou lewe relevant is. Wys my dat jy ‘n verskil maak. Dit is goed wat ons oor en oor hoor. Dalk nie so uitgespel nie maar op soms meer subtiele maniere en soms minder subtiel word ons sulke goed gevra. Of dinge gebeur wat meebring dat ons so voel. Die teenvoeter vir “wys my”, is om absoluut oortuig te wees dat ook jy ‘n geliefde kind van God is. Ek kan dit nie genoeg sê nie. Ons moet regtig tuis kom in God se liefde. En besef God is genoeg. En ons is in God se oë ook genoeg. Die teenvoeter vir “wys my” is om onder beheer van die Heilige Gees te wees. ‘n Mens sien dit in Jesus se verhouding met God. Ek vat ons vir ‘n oomblik terug na Sy doop. 21 Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan 22 en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos 'n duif op Hom neergedaal. Daar was ook 'n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.” Luke 3:21-22 Die Heilige Gees het op Jesus gekom. En ‘n stem het gesê: Jy is My geliefde Seun. Een van die sleutel sinne in hierdie deel, en in die Lukas evangelie, is: 1 Jesus het vol van die Heilige Gees van die Jordaan af teruggekom, en deur die Gees is Hy na die woestyn toe gelei, Luke 4:1 14 Jesus het na Galilea toe teruggegaan vol van die krag van die Gees, en berigte oor Hom het deur die hele omgewing versprei. Luke 4:14 My punt is: Jesus het geweet Wie Hy is. Hy was oortuig van God se liefde en van Sy roeping. Dit gekoppel aan die Heilige Gees in Hom het gemaak dat Hy deur hierdie moeilike tyd kon werk. Die duiwel kom na Hom as Hy broos is. Hy is honger want Hy is lank reeds sonder kos. En die duiwel sê: “As U die Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.” Luke 4:3 So wat doen Jesus? Bewys Hy dat Hy wel die Seun van God is? Hoekom sal Hy? Hy weet Wie Hy is. God weet Wie Hy is. En dit is genoeg. En die mense sal dit ontdek in dit wat God deur Jesus gaan doen. En ja, die duiwel weet ook dat Jesus die Seun van God is. So hoekom die vraag. Die duiwel wil vir Jesus verlei om ‘n kort pad te vat. Om dinge op ‘n makliker manier te doen. Kom ek verduidelik: Dit was God se wil dat Jesus daar in die woestyn versoek sal word. Die Heilige Gees het Hom soontoe gelei. Dit is ook God se wil dat Jesus op die tyd wat God sou bepaal aan die kruis vergifnis vir mense gaan verwerf. En dit is God se wil dat die ganse skepping en al die nasies onder Jesus se heerskappy sal kom. Maar eers na Sy opstanding uit die dood. Die duiwel probeer om vir Jesus ‘n makliker manier te bied om by daardie einste doelwitte uit te kom sonder die pyn en swaar kry. ‘n Vinnige kortpad. Aanbid my en ek gee jou al die koninkryke van die wêreld. Kom wys jy is die Seun van God en gebruik jou goddelike krag ter wille van jouself. Vir jou eie gewin: maak die klip ‘n lekker brood om te eet. 1. In die woestyn. In die Ou Testament is die woestyn ‘n paar dinge. Dit is ‘n woonplek van die bose. Dit is ‘n plek waar mense gaan om stil te word by God of deur God gevorm te word bv Israel is in die woestyn deur die Here versoek “om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie” (Deutr 8:2 Ou Vertaling) Paulus is na sy bekering die woestyn in. Elia gaan soek God in die woestyn. ‘n Woestyn is ‘n plek van stilte. En in die stiltes kan jy God hoor. En as jy wil praat oor versoekings. Die Bybel en die geskiedenis is vol van mense wat hul pad deur versoekings heen moes vind. En die moeilikste versoekings is die wat lyk asof dit die regte uitkoms sal meebring, maar dis die ene kortpaaie en nie in God se wil nie. Die term ‘versoeking’ beteken in die Bybel, nie altyd om verlei te word om sonde te doen nie. In die meeste gevalle wys versoeking op moeilike omstandighede wat uitbring wat werklik in jou is. Een so ‘n voorbeeld kry ons in Deutronomium 8, waar in die 1953 vertaling staan, dat die Here die volk versoek het “om te weet wat in jou hart is, of jy sy gebooie sal hou of nie”. Die 1983 vertaling praat van beproef het. Jesus se versoeking bring uit Hom na vore, Wie Hy werklik is. Seun van God wat 100% verbind is tot die doen van dit wat God wil hê. 2. Die versoekings: daar is ‘n groter prentjie. Ons het drie versoekings hier. Maar in 40 dae tyd was daar waarskynlik baie meer. En later sou nog volg. Soos toe die skares Hom met geweld wou koning maak. En dit nog nie God se tyd vir dit was nie. Daar is slim mense wat meen dat Jesus hier die ‘gehoorsaamheid geleer’ het om Hom volkome aan die bedoeling van God te onderwerp (Heb 5:8-9). Die versoekings lê daarin dat die duiwel probeer het om Jesus te kry om op ‘n ander manier as wat God bedoel het, vir Homself die verheerliking en regering oor alle volke te verkry. God se pad is die van die kruis. God se plan was om die mensdom ‘n kans te gee op redding. Die groter prentjie, die mense wat verlore gaan, ek en jy, sou nie gerealiseer het nie. En Jesus sou net nog ‘n sondige mens gewees het wat vir niemand redding kon bewerk nie. Vandag leef ons tussen hierdie oorwinning van Jesus en die finale oorwinnning wat nog moet kom. Jesus het gekom om ons deur sy lewe en Woord terug te bring tot die besef dat God tussen ons woon. En na Sy opstanding uit die dood ook in ons woon deur die Heilige Gees. As jy so bietjie anders kyk dan besef jy Jesus bewys hier dat Hy die Seun van God is want Hy bly by dit wat God wil. Sy gehoorsaamheid aan die wil van Sy Vader onderstreep Sy kindskap. Van hier af verder sien jy hoe Jesus dinge nie om Homself laat draai nie, is Hy die mooiste voorbeeld van selfverloëning wat jy ooit sal kry. Handhaaf Jesus Homself, nie deur sy mag en gesag uit te oefen nie, maar deur Sy nederigheid en sy diens en uit eindelik Sy lyding. Dit staan so in skrille kontras met vandag. Is dit nie so dat ons gemak en gerief verkies? Die lugreeling is ‘n voorbeeld. Party bly weg as dit te koud is en ander as dit te warm is en ander bly weg as dit te warm of te koud buite die gebou ook is. Ons het mense geword van verskonings…… Mense wil kort paaie hê en maklike en vinnige oplossings. Die grootste versoeking vir die kerk deur die eeue en vandag, is steeds die versoeking om kort paaie te neem wat ons niks kos nie. Dit en die versoeking van mag, en om in beheer te wil wees. Te wil voorskryf. Om die lang pad van deur God gevorm te word en om die pad van gehoorsaamheid te loop is wat by ons pas. 3. God se wil is ononderhandelbaar. Die doen van God se wil is ononderhandelbaar. En hoor my, die doen van God se wil … en nie die doen van ons interpretasie of siening oor wat die wil van God sou wees nie. Ek dink soms dat ons almal meer begaan is oor ander wat moet doen wat God se wil is as wat ons is oor ons eie gehoorsaamheid aan God. Die versoeking: Bewys dat U die Seun van God is, staan steeds. Kom ek wys jou net weer op iets: Daar is ‘n raampie om hierdie deel wat alles vir my bymekaar hou, en dit is die Heilige Gees. Tussenin word niks gesê van die Heilige Gees nie. Maar Hy is daar. Hy het Jesus die woestyn ingelei, trouens vers 1 sê duidelik dat Jesus vol van die Heilige Gees was. En in vers 14, as Jesus uit die woestyn uit kom en na Galilea toe gaan, gaan Hy vol van die krag van die Gees. Iewers tussenin lê ‘n tyd van in isolasie by God deur gebring. Paulus is na sy bekering ook die woestyn in . En Elia het die woestyn ingevlug. En God het hom daargekry en vandaar verder gelei. Vandag is dit ons wat die druk beleef. Is dit ons wat so hard probeer om te bewys dat God God is. En ons vergeet dat God verwag dat ons die tekens van Sy teenwoordigheid sal wees. Tekens van Sy liefde en vergewensgesindheid, en van Sy genade. Ek sluit af met ‘n staaltjie oor moeder Theresa. ‘n Joernalis sou haar gevra het oor hoe meet sy sukses in haar werk. Sy het hom aangekyk en gesê dat sy nie kan onthou dat God ooit iets oor sukses gesê het nie, maar wel oor gehoorsaamheid. Kom ons bly getrou aan God en kom ons leef in gehoorsaamheid aan Hom en ons los die resultate en bewyse vir die Heilige Gees. Los die kortpaaie en sit die tyd in met God vir God en jou eie onthalwe ook. Wees getrou. Leef gehoorsaam. Leef onder leiding van die Heilige Gees.