Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Psalm 29 Wat is jou grootste vrees vir 2022? Sing: Wees stil en weet Ek is die Heer. Matteus 10: 26 “Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. 27 Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê, en wat in julle oor gefluister word, moet julle van die dakke af uitbasuin. 28 Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan. 29 “Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. 30 Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. 31 Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.” Matthew 10:26-31 Onthou dit hierdie jaar wat kom: Jy is meer werd as baie mossies. Jy is so kosbaar dat Jesus Sy lewe vir jou kom gee het. Jy is ‘n geliefde kind van God. Kom ons kyk bietjie dieper na Psalm 29. Dit gaan ons help. Psalm 29 wil ons oorweldig met die grootheid en die krag van die Here. As jy vanadag hier uit stap dan bid ek dat u opnuut sal besef hoe groot God regtig is. Wat Hy alles kan doen. Dat absoluut niks vir God onmoontlik is nie. Ek hoop dat ons tenminste net so 'n klein bietjie sal besef dat God nie dieselfde beperking as ons het nie. God voel nooit uitgelewer nie. God beleef nooit ons magtelose frustrasie as ons iets nie gedoen kan kry nie. Psalm 29 gee aanvanklik 3 opdragte. Al drie gaan aan die hemelinge – dws die wat diens doen tans om die Here. Ek dink dis veilig om te sê dat dit ook vir ons geld. Ook ons moet die Here prys, Ook ons moet neerbuig voor Sy verskyning. (Sommige vertalings lees: Dien) Dan vanaf vers 3 word uitgespel hoekom ons die Here moet dien en eer. 7 keer word gesê wat gebeur as die Here Sy stem laat hoor. Sy stem: • kloof die groot sederbome middeldeur • laat die Libanonberge rondspring soos dit dreun • laat die woestyn en wilde diere verskrik Die Here se stem kom met so 'n krag en mag dat die hemelinge uitroep: “Hoe geweldig!” Mag ook ons oorwekdig word deur God se grootheid dat ons elke dag in verwondering voor Hom leef. Nie net verwonderd oor Wie Hy is nie maar ook verwonderd dat ons enigsins Sy kinders genoem mag word. En dat ons elke dag spontaan sal wil bely: Hoe groot is U, Here ons God. Mag hiermee saam dan die besef tuiskom dat ons veilig in Sy hande is, Dat vers 11 regtig so is: “Die Here gee krag aan sy volk; die Here seën sy volk met oorvloed.” Miskien voel u dis alles goed en wel maar dit was nog nooit vir my so nie, of dalk ken u iermand wat so voel. Wat sê: Ek hoor nie die Here se stem in my lewe nie. Ek veg maar op my eie voort. Ek kan nie sien dat God hier by my werk of by my huwelik gaan instap en my omstandighede verander nie. Dalk moet ons gaan dink oor wat 'n paar mense opgemerk het oor hulle eie pad met God. Gelowiges hoor iets - altans behoort iets te hoor - waarvoor ander mense doof is: die stem van God. “God is altyd tuis. Dis ons wat vir ’n uitstappie gegaan het”, het Meester Eckhart lank teruggesê. Dalk moet ons onsself vra of ons nie te besig is om God te hoor nie. Te vasgevang met oorlewing dat ons die Lewe mis. Het ek nie dalk op 'n uitstappie gegaan nie. Of is ek soos die jong man wat sy werk verloor het en nie geweet het watter kant toe nie! Hy het ’n ou afgetrede predikant gaan sien. Hy het daar by die predikant te kere gegaan en op en af geloop en uiteindelik sy vuis gebal en geskreeu: “Ek het God gesmeek om te help. Sê vir my, hoekom antwoord God nie?” Die ouer oom wat oorkant hom gesit het, het iets amper onhoorbaar geantwoord. Die jong man het het nader gestap en gevra: “Ekskuus tog? Wat het u gesê?” Die predikant het weer geantwoord, maar sag in fluisterstem: “God fluister soms” het hy geantwoord “sodat ons nader aan Hom moet beweeg.” Het jy dit gehoor? Leef naby God. Luister. Onthou net: God het met Elia gepraat – nie in die rukwind wat die rotse op die berg uit mekaar geruk het nie. Ook nie deur die aardbewing nie. En anders as met Moses met die brandende bos het die Here ook nie die vuur met Elia gepraat nie. Maar daar was 'n fluistering in die windstilte (1 Koning 19: 12). Toe het God met Elia gepraat. Psalm 29 wil sê God is nie soos Baal waar mense eintlik maar net die weerlig of ander natuurelemente aanbid uit vrees nie. God is groter as die goed. God se stem is meer kragtiger as die ergste en vreesaanjaendste storm wat jy nog ooit beleef het. Maar God het baie maniere waarop Hy met jou praat. So moenie met resepte kitsoplossings vir Sy stilte in jou lewe gaan soek nie. Gaan leef naby aan Hom – so naby dat jy kan hoor – en jy sal God hoor praat met jou. En jy sal beleef: Hy gee krag aan jou, Sy kind; die Here seën ook vir jou met oorvloed. Word nou stil … en aanbid Hom … in stilgebed. Amen. Lees Flam 93 God Van Krag God van krag U stem kom skeur die hemel soos weerlig in die nag. U woorde vernietig elke twyfel en vrees,want U lewe. U lewe! Ek sal sing al huil die stormwinde,al dreun die vloed met mag. Die Ewige vlam van hoop branddiep in my, want U leef. U leef! U lewe. Meer as wat ek kan dink of kan droom, kan U waar maak in my lewe. U regeer oor my donkerste nag. Ek vertrou U, God van krag, my God van krag. Slotlied: Lied 474: 1, 2, 3, 4. Skeppergod, U is die Heer. Seën.