Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Psalm 18 (Ou jaar 2021) Sien ook 2 Samuel 22 waar die lied ook voorkom. Dit is geskryf na aanleiding van ‘n moeilike tyd in Dawid se lewe. Saul het hom gejag soos ‘n dier. Mense het hom verraai. As Dawid oor hierdie tyd in sy lewe praat dan gebruik hy beelde soos “bande van die dood het my omsluit” “strome van onheil het my verskrik: “bande van die doderyk het my vasgetrek”. En Dawid het in daardie tye na God geroep (vers 7) en God het sy hulpgeroep gehoor. God het geluister. Dis so mooi ek wil dit weer sê: God het gehoor. God het geluister. God het gered. God het krag gegee. Ek hoop jy het dit ook raakgelees. Raakgelees wie doen wat in hierdie deel. Dit is belangrik want dit hou die sleutel in vir die volgende jaar. Psalm 18 gaan maak dat jy nie uitgelewer voel nie maar veilig en beskermd. Psalm 18 vat jou aandag weg van Covid-19 en die krisisse en vrese wat ons het en laat jou die Here sien wat jou raaksien en na jou geroep luister en jou red. En daarin raak 2022 sommer hanteerbaar. Party jare, so aan die einde van ‘n jaar en die onvermydelike begin van ‘n nuwe jaar, dan voel die nuwe jaar soos ‘n onmoontlike berg om te klim. Al ooit so gevoel? Dit is gewoonlik na ‘n paar ekonomiese moeilike jare. En of polities deurmekaar jare. Of soos die laaste twee jaar met Covid-19 en inperkings. Of as dinge in jou persoonlike lewe haak. Of jy net moeg gesukkel is. Dan voel ‘n nuwe jaar soos net nog meer van die ou jaar. Psalm 18 wil daardie gevoel van uitgelewerdheid, van maak nie saak wat jy doen nie dis nie genoeg nie, twee tree vorentoe en drie agteruit, psalm 18 help mens om van dit af weg te beweeg, hoop te skep en met entoesiasme vorentoe te beur. En kan ek sê, as jy voel die lewe is twee treë voorentoe en drie terug, onthou dan dans is ook so, twee vorentoe en drie terug. Laat God jou lei in die dans van die lewe. En fokus op Hom en volg Sy elke beweging. Hopelik het ons geleer dat God getrou is en ons deur alle dinge dra. Ek hoop ons het ook kon ervaar dat God ons oneindig lief het. Kyk weer na die volgende verse : 29 U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my. 30 Met u hulp loop ek 'n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie. 33 God omgord my met krag; Hy maak my pad voorspoedig. Wat sê Dawid? Met God by my is enigiets moontlik. Kan ek enigiets oorkom, ook al is dit hoe groot en swaar. 1. Verhouding Hier is ‘n baie mooi verhouding raak te lees in psalm 18. Dawid het God lief. Baie lief. God is sy skuilplek, sy skild en verlosser. God is die een na wie toe hy draai as dinge skeefloop of mense net met hom die spot dryf. Dawid sê hy was opreg voor God (vers 23). Hy was op sy hoede teen ongeregtigheid. Hy het sy pad met God geloop. As daar een ding is wat nogal skerp deurkom in hierdie psalm dan is dit juis die verhouding tussen Dawid en God. God wat ‘n klomp dinge vir Dawid doen en gee en hom red. As mens in ag neem dat Dawid dalk eers nader aan die einde van sy lewe hierdie gedig of lied geskryf het, dan besef jy dat die noue verhouding wat hy met God gehad het hom gedra het. Ek probeer sê: ons praat nie hier van ‘n spaarwiel godsdiens nie. Bedoelend jy bid net as jy in nood is nie. Ons praat van ‘n lewe ten nouste met God geleef. Ek dink aan kere wat Dawid die Here geraadpleeg het oor of hy teen die Filistyne moet optrek. En dan ook wanneer en wat moet sy taktiek wees. Groot krygman maar hy het raad gevra by God. En God het geluister en hom gelei. Ons is aan die einde nog ‘n jaar. Dalk is dit ‘n goeie tyd om terug te kyk en 2021 anders te bekyk. Hierdie keer nie vir laagte en hoogte punte of om te kan sê dit was ‘n goeie of slegte jaar gewees nie. Dit sou irrelevant wees want die jaar is verby. Weg vir altyd. Kom ons kyk eerder na die hoe van ons verhouding met God. Gaan kyk na jou gesprekke met die Almagtige. Na hoe jy jou uitkomste of oorwinnings hanteer het. Wie het jy die erkenning daarvoor gegee. En het dit jou nader aan God gebring? Het dit jou vertroue in Hom gebou? Ek stel dit voor want Dawid het juis dit gedoen. Die tyd wat Saul hom wou doodmaak was ‘n donker en moeilike tyd in sy lewe. En na aanleiding van dit skryf Dawid: 2 Hy het gesê: Ek het U baie lief, Here, my Sterkte. 3 Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting. 2. Erkenning (Lof en dank.) Een van die bronne wat ek mee besig was, is geskryf deur oa ‘n teoloog uit Afrika uit. Hy skryf oor hierdie eerste verse dat ons as Christene God nie genoeg eer en dank nie. Ja, seg hy, ons het “praise and worship” in die diens, maar hy vermoed dit gaan vir die meeste mense oor die lekker sing en saam swaai met die lyf. “Our bodies participate, but our hearts are not worshipping God.” Dit maak my bang oor die diepte van ons verhoudings met die Here. Dit maak my bang want dalk is God nie die Alles in ons lewens nie. Dalk is Hy net baie belangrik en het ons Hom nie lief met ons hele hart en hele siel en hele verstand en met al ons krag nie. Dalk is ons soos die mense in Maleagi se tyd wat swak en mank diere as offers aan God gebring het en die goeies vir hulself gehou het. Dalk is ons mense wat roem op ons suksesse en ons vaardighede en hoe goed ons was en is. Mense wat die kollig op ons trek. Mense wat dink dat God in hulle behoeftes moet voorsien … daar is om hulle lewens te vervul. Ek leer uit die psalm uit dat ek nie een van God se vyande wil wees nie. Ek wil nie die Almagtige teen my laat draai nie. Dat ons lewe saam met Hom kom met groot verantwoordelikheid. Dit is ‘n wedersydse verhouding. Psalm 18 is die kollig op God. Dawid gee aan God die erkenning. Hy sê goed wat vir ons vanuit die Nuwe Testament snaak is bv “Hy leer my hande om oorlog te maak, my arms om selfs die stramste boog te span. (35)” En hoe God hom stewig laat staan het en hy kon sy vyande agtervolg en inhaal en uitwis (38). Dawid sê (my interprtetasie) ek het oorleef en ek het gewen want God het dit moontlik gemaak. Die eer kom God toe. Ek wil vanaand sê: Geluk, jy het 2021 ook oorleef. Want God was by jou. God het ons deur gedra. Deur al die dinge en krisisse. God het jou oorlaai met vaardighede en gesondheid en krag. Met wysheid en deur Sy Gees. En ons op baie terreine geseen. Die eer kom Hom toe. Ek dink nie ons kan Hom ooit genoeg eer nie. 3. Ons Vader. Kan ons ten slotte net so ‘n oomblik praat oor God. Nie oor Dawid nie. Nie oor ons nie. Maar net oor Hom wat Alles is en meer. Oor God wat vir klein mensies soos ek en jy skuilplek bied en ons beskerm teen die storms van die lewe. God wat in liefde Sy Seun gegee het sodat ek en jy mag lewe. En in Jesus se eie woorde: “Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. (Joh 10: 10b) ” En regdeur hierdie psalm is dit wat mens sien: Dit is God wat redding bring. God wat die ergste omstandighede omkeer en Sy mens daaruit red en ophelp. Daarom, kom ons bou ons lewe en ook 2022 op en om hierdie Here. Die Here ons God. By Wie ook ons genade gevind het deur Sy Seun. Kom ons sê vir Hom uit ons hart uit: 2 Hy het gesê: Ek het U baie lief, Here, my Sterkte. 3 Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting. En mag ons met vrymoedigheid kan sê: Ek was opreg voor U. Ek het U lief met my hele hart, my hele siel, my hele verstand en met al my krag. God sal jou hoor. God sal luister. Hy sal by jou wees.