Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 2: 21 - 40 ‘n Mens kan nogal raaksien hoekom God Maria en Josef gekies het. In Lukas 2:21-40 is hulle besig om noukeurig die voorskrifte van die wet ten opsigte van hulle eersgeborene te vervul. Hulle gehoorsaamheid sit soos ‘n portret raam om hierdie deel. En die foto in die middel is die twee profete wat die kindjie herken vir Wie Hy is en dan praat oor sy betekenis. Dit gesê: Kan ek vra, het jy gister lekker kersfees gevier? Ons weet mos hoe dit nou gaan werk? Volgende Vrydag is ou jaar en dan is die nuwe jaar weer op spoed aan die gang. Dan is die lewe weer hard. Dan vergeet die meeste mens sommer gou die vrede op aarde en hulle keer weer terug na hul ou streke toe. Dan is al die “nice” met mekaar wees verby. Maar voor dit gebeur gee die Here ons ‘n kans om weer te dink en weer te kies. 1. Keuses. Wat jy glo kleur in hoe jy na dinge kyk, wat jy doen en wie jy word en is. As wat jy doen en is nie rym met wat jy glo nie dan het jy ‘n ernstige probleem. Op ‘n stadium in my lewe was geloof vir my persoonlik te verstaan in die vraag: Kan God of kan Hy nie? Dis nog daar. Maar ek is meer begaan oor God se teenwoordigheid. In die taal van kersfees, is ek meer ingestel op geloof as God Immanuel. God hier by ons. Tussen ons. En in ons, as Sy tempels. En ek raak al meer bewus oor verse soos 2 Kor 4 vers 18 wat praat van die heerlikheid van God wat alhoemeer uit ons uitstraal. Op die Facebook blad, Inner Awakening, dat ene Pauli Hubbard skryf dat die kerstyd al hoe belangriker vir haar raak. Advent, as voorbereidingstyd vir kersfees. Met die verskil dat dit nie meer net ‘n Desembermaand ding is nie, maar ‘n heel jaar voorberei en gereedmaak vir die Koms. ‘n Heel jaar tyd van afwagting, luister, … en ek sit hier my interpretasie in, … luister en uitkyk nie net vir die wederkoms nie maar ook spesifiek vir Jesus, Immanuel ook in my/ons as Sy tempels. Deur die krake van ons lewens skyn die heerlikheid van God al hoe sterker. Mag ek dit maar so sê? Natuurlik nie net uit die krake uit nie. Ook uit ons hele mens wees. Dit maak kersfees soveel kosbaarder. God Immanuel. God in ‘n stal. En in hierdie deel in die tempel. In Su plek van samekoms daardie tyd. Dit maak dat die vrede van kersfees heel jaar by ons bly want ons bly heel jaar bewus van Wie se tempels ons is. En ons beweeg verby “nice” wees vir ‘n week of twee en ons beweeg na werklik liefhê, heel jaar. En so breek geloof deur in ons lewens in iets wat ook gesien kan word in hoe ons God vertrou om dinge in ons lewens te doen selfs al lyk dit onwaarskynlik. En geloof word veral ons wat doen wat God vra, gee wat God vra en leef soos God ons herskep het, al kos dit ons meer as wat ons sommige dae dalk voor kans sien. Selfs al voel dit of God se beloftes uitbly. Kom ek verduidelik met ‘n wereldprentjie. Dit is al lank dat daar spanning in die Midde Ooste is. Meer spesifiek Israel en die Palestyne. Daar was al oorlog. Daar was al vredes ooreenkomste. Daar word gereeld mortiere geskiet op Israel en Israel vergeld dit keer op keer. Toe ek in Betlehem was moes ons Joodse gids van die toerbus afklim by ‘n petrolstasie buite die stadsmure van Betlehem. Hy is ‘n pragtige Christenmens. Dit maak nie saak nie. Sy paspoort is Joods. Hy was nie welkom nie want Betlehem is ‘n Palestynse dorp. Selfs in die omgewing van Betlehem, waar die engele destyds gesing het: "vrede op aarde vir die mense in wie Hy 'n welbehae het", klap die skote en ry die pantserkarre, en word mense uitgesluit oor hul etnisiteit. Ek is seker dit is nie wat God wil hê nie. God wil die leeu en die lam in vrede langs mekaar sien lê. Nie oorlog nie. Nie die een besig om die ander op te vreet nie. God wil hê ons moet die lig sien! Sien daar is ‘n beter manier. Maar die keuse is nog die mens s’n. Vir nou. Ek voel sterk ek moet dit weer sê: Of jy sien die Lig (hoofletter L), of jy sien dit nie. Sien jy God se Lig, leef dan in daardie lig. Gaan wees dit wat God jou gemaak het: Lig vir die wêreld. Sout vir die aarde. Dit het daardie dag toe Josef en Maria gehoorsaam tempel toe is, duidelik geword. ‘n Ou man het die baba Jesus, gesien, en geweet Wie Hy is. Lukas sê dat die Heilige Gees op Simeon was. Hy het geprofeteer en die baba "'n Lig tot verligting van die nasies" genoem. Hy het gesê, die Baba is God se verlossing wat Hy gereed gemaak het voor die oë van ál die volke. Simeon het Hom raakgesien en geweet. ‘n Stroom mense wat ek aan neem ook godsdienstig was het verby gestap die tempel in om te aanbid, …. Hulle het nie die Seun van God raakgesien nie. Die plek waar Simeon gestaan het toe hy dit alles gesê het, is vandag nog daar in Jerusalem. Maar die tempel is weg. Al wat daarvan oor is, is 'n stukkie fondament – die Jode se klaagmuur. En daar staan ook twee moskees van die Moslems. En weet u wat: nóg die Jode, nóg die Moslems, glo dat hierdie Kindjie – van wie Simeon sulke wonderlike goed gesê het – die Messias is. Maar Simeon het gesê dit gaan gebeur. Hy het dit voorspel. Want hy het Jesus ook genoem: "'n Teken wat weerspreek sal word." 2. Jou roep! Ek en jy staan nie by die klaagmuur in ou Jerusalem nie. Ook nie by een van daardie twee moskees nie. En tog is dit nou vanoggend ons beurt. Jy moet vir jouself uitmaak: Is Jesus Wie Hy gesê het Hy is? Het Simeon en Anna dit reg gehad? Moenie ‘n fout maak en vinnig antwoord nie. Die vraag sny veel dieper. Dit vra dat jy anders begin dink en doen. Alles verander in ons. Deur Jesus gered, met Hom as ook jou Messias en as ons Koning, verander alles in jou lewe. Jesus het vir Nikodemus gesê dit is ‘n wedergeboorte. Alles verander vir jou. Jou eie ek word ontroon. Jou belange is ondergeskik aan wat God wil. Eintlik begeer jy net een ding en dit is om te leef soos Jesus dit van jou vra. Soos Jesus vir ons gewys het dit gedoen moet word: in selfprysgawe, met persoonlike opoffering en hope omgee en liefde. Niks is meer jou eie nie. Dit is in diens van God. Jou eie gemak, jou begroting, jou voorkeure, jou gevoelens oor wie is aanvaarbaar en wie nie, jou ou seerkry en haat en bitterhede is nie die middelpunt nie. Dit is nou irrelevant. God se vergifnis, God se voorsienigheid ook aan jou, God se besluite en versoeke, God self is nou waaroor dit gaan. Iemand vertel my nou onlangs dat jou tiende ook ‘n tiende van jou tyd insluit. Vir my is dit eenvoudig: of ek behoort aan God volledig, of nie. Of ek het my hele lewe vir God gegee of nie. En as ek net ‘n deel gegee het, watter deel is dan gered en watter deel nie? (Korinthiers het so geredeneer: as my siel gered is is ek okay. Ek kan met my lewe maak soos ek wil) Laat ek jou dan maar sê een vrot appel maak die hele mandjie vrot. As Simeon soos baie van vandag se gelowiges geredeneer het dan was hy daardie dag of nie in die tempel nie, of hy het verby die twee mensies met hulle 8 dae oue Baba gestroom soos al die ander. Maar hy was getrou en hy was gelei deur die Heilige Gees. Ons Suid-Afrikaners is deesdae erg eie willig. Ons maak soos ons wil. Wel, gaan kyk mooi: Josef en Maria het gedoen wat God vra. Simeon ook. Anna het nie een dag in die tempel gemis nie. Sy het God dag en nag gedien deur te vas en te bid. Ek lees woorde raak soos gebruiklik, getrou, soos deur die wet vereis. Ek kan seker dan met veiligheid raai dat hulle elke aspek van hulle lewens onder God se beheer probeer hou het? Nie ‘n deeltjie nie. Hulle het vir God geleef. So moet dit ook vir ons wees, want ons het die Lig gesien. Die Lig van God in ons kom woon. 3. Weerspreek. Weet net dit: Jesus is nie 'n maklike teken nie. Hy is steeds 'n teken wat weerspreek word. Óf jy sien in Hom die God raak wat jy met jou lewe kan vertrou; óf jy skep vir jou iets wat jou moet uithelp vorentoe, iets soos geld, mag of jouself. Weet net dit gaan jou lewe vat. Óf jy vertrou Hom goed genoeg om selfs jou lewe om sy ontwil te verloor, en ontvang dit daarna as 'n geskenk van Hom terug. Óf jy veg self om jou lewe ten alle koste te behou en verloor dit juis daarom. Hier is niks wat jy moet gaan doen vandag nie. Geen opdragte. Geen niks. God bied jou die kans om op te staan of te val. Nes jy wil. Hier in die tempel, waar die baba Jesus volgens die wet, tot beskikking van die Here gestel word, is daar geen opdragte nie. Hier val die lig nie op iets wat enige mens moet doen of selfs kan doen nie. Hier val die lig geheel en al op wat God aan die doen is. Hier val die lig op God se antwoord op ons stukkende lewens en wêreld. God se antwoord op eeue se gebede. ‘n Beeld: Dit is soos die moet waarvan 'n meisie praat as sy met sterre in haar oë by 'n vriendin aankom en sê: "Ek het iets wat ek vir jou moet vertel. Kan jy dit glo, hy 't my raakgesien!" Kan jy dit glo? Hy 't ons raakgesien. Elkeen van ons. Soos Hy vir Simeon en Anna raakgesien het. So sien God ook vir jou raak.