Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 1: 39 -56 Kersdag 2021 As God jou lewe aanraak, dan kan jy nie anders as om te sing nie. Dis wat met Maria gebeur het. Die engel het haar klaar gesê sy sal geboorte skenk aan 'n Kind en hierdie Kindjie is die Messias. Maar soms wonders mens oor dinge. Dink jy dalk dis te goed om waar te wees. Of, dit kan nie met my gebeur nie. Maar toe Elizabeth haar groet met: “Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot! 43 Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom? 44 Kyk, net toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my van vreugde beweeg. 45 Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!” Lukas 1:42-45 Ek dink toe breek die sekerheid deur. En as ek so lees toe kon sy ook nie anders as om God se grootheid te besing nie. Die Here is ongelooflik. Maria praat en die ongebore Johannes die Doper weet hy is in die teenwoordigheid van die Messias. Die gedagte oorweldig my. Maar dit sê ook vir my: As jy jou Verlosser – die Verlosser van die mensdom ontmoet – dan kan jy nie stilbly nie. Jy wil uitbreek in sang. Jy moet reageer. En ja party reageer met haat en uitroepe van “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Maar vir Maria was dit 'n loflied. 'n Pryslied wat hier diep uit haar bekommerde hart deurbreek. Ongetroud, Swanger. Gaan Josef my wegjaag? Wat gaan die mense sê? Het ek die engel reg verstaan? Maar dis onmoontlik. Hoekom ek? En deur dit alles breek die pryslied aan God. Iemand het gesê: Dis soos die solo in 'n opera wat die groot tema van die hele opera dra. Net hierdie is nie 'n tragiese opera nie maar 'n blyspel. Dit gaan oor die beste nuus wat die aarde nog bereik het. Sy sing van God se omgee – van Sy deernis en liefde en hoe God die wêreld nuut maak. Dis asof sy saamvat al die liedere en al die hoop van Abraham tot by haar tyd. (Bv Psalm 82) Maria se lied kom sê hoe klop God se “hart”. Dit vertel van hoe Hy klein mensies raaksien en groot dinge in hul lewens doen. Dis haar persoonlike getuienis: Sy sing van die wonderwerk van God in haar lewe. Kyk, sê Maria, Hy het my uitgekies. Wie is ek dat Hy dit sou doen. Ek is dan niks. En ek dink ons moet net op nuut weer hoor: “God gee om! Hy gee om! Hy ontferm Hom! Hy verander die lot van mense ten goede!” Eintlik doen God niks vreemds nie. Dis hoe Hy nog altyd is. Getrou aan Homself as die God van ontferming, kies Hy een uit die “geringes” as moeder vir die Messias, sy Seun en ons Verlosser. Lukas volg hierdie loflied op met die geboorte van Johannes die Doper. En dadelik die loflied van Sagaria, Johannes se pa. En as Jesus gebore word, dan is Lukas skielik spaarsamig met die woorde. Dan in ‘n enkele sin, na hy die geboorte in tyd en plek vasgevang het, skryf hy in ‘n enkele vers: 7 Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in 'n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie. Lukas 2:7 En weer breek God se lof deur. Hierdie keer is dit die menigte engele uit die hemel wat ten aanskoue van die skaapwagters wat in die omgewing was, skaapwagters wat die nag in die oopveld, sonder onderdak was, hulle hoor die aankondiging en die engele koor. Hierdie week, vir die eerste keer, het ek die lyn van lofliedere hier behoorlik raakgesien. Vanoggend wil ook ons uitbreek in lofsang aan die Here. En ek is seker dat ons harte ook ‘n ander lied sing, ‘n jubeling het wat ek en jy nie in woorde kan sê nie want God het iets aangrypends en groot gedoen in ons lewens. En dit is iets intens persoonliks. Sy Seun wat ook in ons kom woning maak. Ook ons geliefde kinders van die Almagtige maak. Immanuel. God by ons. Nooit vêr. Elke oomblik in ons, by ons. Hoe word ’n mens deel van hierdie blyspel? Dit is tog immers waarom Lukas sy evangelie geskryf het en die doel van hierdie preek – sodat almal wat dit hoor sal opstaan en saam sing! Die saamsing begin in die hart. Dit borrel uit as jy besef hoe lief God jou het en dan Hy jou in jou geringheid raaksien en versorg. Maar dit bly nie net by sing nie. 'n Bly-“spel” het ook beweging en aksies wat uitgevoer word. Soos Maria moet die sing opgevolg word met 'n totale oorgawe aan God. Nadat die engel vir haar gesê het wat God beplan, sê sy: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het” (Luk 1:38). En so gee sy haar lewe .... sonder voorbehoud ... vir God. En vir die res van haar lewe wy sy haar daaraan toe om die Messias te ontvang en te aanbid. Sy gee nie net haar biologiese potensiaal vir God – soos ’n surrogaat ma – nie. Sy sê: “Ek is tot beskikking van die Here.” En die woordjie “ek” beteken “alles”! Maria is in die Lukas evangelie dié voorbeeld van hoe ‘n mens die Messias behoort te verwelkom. Jy stel jou hele lewe tot beskikking van die Here. En jy doen dit onvoorwaardelik en uit dankbaarheid uit. Dis my gebed vanoggend dat die Here so elkeen van ons sal aanraak dat ons vanoggend nie net sal sing nie – nie net 'n kersgebruik as familie bywoon nie – maar so aangegryp sal word ... dat ons onsself sal oorgee aan God. Dat u sal uitroep: Ek is tot beskikking van die Here.