Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Jesaja 49 verse 1 tot 7 Dis lekker as jy in die loop van jou dag van jou geliefde af ’n whatsapp kry: Ek dink aan jou. Of, jy is vir my kosbaar. In Psalm 40 staan daar: God dink aan ons. En weer in Psalm 115: God dink aan my. Vanoggend kan ek sê: God ken jou by jou naam. Hy gaan nie eers sê: “O ja, jy is Arno en Anriha se dogtertjie nie. Hy gaan sê: Dis Anske Nel. Ek ken haar al lank voor haar geboorte.” In efesiërs 1 staan dit selfs voor enigiets geskep is het God alreeds ons geken. Vir klein Anske ook geken. So sal God elkeen in hierdie gebou by die naam kan groet en jou hele geskiedenis vir jou kan uitlê. Maak dit jou bang? Nee. Dis pure lekkerte! Dink net. God wat alles geskep het, al die melkweë en planete en sonnestelsels; al die grassoorte en plante en diere en en en ... Hy ken jou persoonlik. En Hy glo jy gaan nog groot dinge vir Hom doen. Dalk voel jy nou so bietjie oorweldig. Of dalk soos die alkoholis wat na ’n lang gesprek met sy dominie oor sy stryd met alkohol vir die dominie gesê het: ““Dominee, ek glo nog in God, maar ek dink nie meer God glo in my nie!” Vanoggend – hoor tog net -- God glo nog in ons... Netsoos Jesus in Petrus geglo het. Geglo het dat Petrus deur Hom soos Hy op water sal kan loop. Ek het al gesien dat bekende sportmense se ouers plakboeke van hulle kind se loopbaan maak. Ek vermoed klein se ma maak ’n album vir haar. Hulle wil elke oomblik bewaar. Dis omtrent wat vers 1 vandag vir ons wil sê: Iets in die lyn van God hou ’n “scrapbook” van my en jou lewe, omdat Hy in ons glo en Hy iets in gedagte het vir ons. Baie mense besef dit nie. Dis nogal hartseer. Daar is baie mense wat aan hulself dink as ’n ‘niemand’, ’n ‘nobody’. Party glo blykbaar, soos iemand iewers geskryf het: “Die lewe is ’n wrede grap en regtig nie eers snaaks nie.” Maar as jy glo wat in vers een staan, dan hoef jy nie meer so te dink of so te voel nie. Dan kry jou lewe betekenis. Dan wéét ons alles is nie tevergeefs nie. Dan vra jy nie meer “what’s the use?” nie. En jy sê ook nooit meer daardie tiener ding van “whatever!” nie. Want jy weet. Jy is spesiaal. Jy is geroep. God gaan iets deur jou in hierdie wêreld regkry. Dis so opwindend! Ek sê dit sommer weer. Jesaja het geglo dat hy ’n plek van betekenis en waarde in die samelewing het. Dit het begin die dag toe hy besef het “God glo in my – en Hy glo al in my van nog voor my geboorte”. Wat God van jou dink – dit bepaal wie jy is en wat jou waarde is. Kom ek lees weer vers 1... “voor my geboorte my geroep... op my naam geroep...” Jy was nog klein – ’n paar maande oud – toe het God Homself aan jou verbind en jou laat doop. En elke keer as iemand gedoop word – soos bv vanoggend – dan is dit ’n uitnodiging om opnuut te besef: God het Hom aan my verbind. God het belowe Hy sal met My die pad stap en ek sal die voorreg hê om vir Hom te kan leef en werk. Wat ’n eer doen Hy ons nie aan nie! Daarom sou dit goed wees as ons vanoggend nes Jesaja sal besef dat ook ons is ’n instrument in God se hand. Dat God jou wil gebruik om ’n verskil te maak. God wil deur ons Sy mag bekend maak. Die Nuwe Testament noem ons God se kinders. Kan ek byvoeg die woordjie geliefde, geliefde kinders van God. Aan die kruis uit liefde uit gee Jesus Sy lewe vir ons. Ons is geliefde kinders. Ons is heiliges. Sout. Lig. Tempels vir die Almagtige. Uitverkore volk van God. Dit is wie jy is. Dit is jou identiteit. Omarm dit en leef dit. Kan ek byvoeg: As die besef regtig by jou tuiskom dat selfs jy, soos jy is, reeds ’n geliefde kind van God is, ogv jou geloof, dan raak jy minder paniekerig oor dinge en jou vrese begin wegsmelt want jy weet God is by jou en Hy het ’n plan met jou en ’n plan vir alles wat gebeur in jou lewe en om jou. Laat ek maar nou ook se wat elke prediker, dominee, pastoor of wat ookal moet leer: Dit gaan nie oor ons nie. Dit gaan oor God en wat God doen en ons wat die kollig op God hou. Dit gaan daarom ook nie oor jou of my verlede nie maar oor God se toekoms wat Hy vir ons sien. Daar is kommentare wat meen dat ons in hierdie deel nie net Jesaja se stem moet hoor nie, maar dat hy namens Israel praat. Namens die selfde Israel wat in ballingskap weggevoer is oor hulle ontrou. Maar deur God se trou weer gered is. Nie jou verlede nie, nie jou sonde of jou foute, het die laaste woord oor jou nie. God het. Die God wat by jou doop met jou ’n verbond gesluit het. God wat ons foute wegwas en ons aanstel om Hom te dien. Daar is hierdie echo in Jesaja hier vanaf hoofstuk 42 kom dit deur: 42: 1 Hier is my dienaar, Ek stel hom aan. Ek het hom uitverkies, hy geniet my guns. Ek laat my Gees op hom kom, hy sal my wil aan die nasies bekend maak. 44: 1 Maar luister nou, my dienaar Jakob, Israel wat Ek uitverkies het: 2 So sê die Here wat jou gemaak het, Hy wat jou gevorm het in die moederskoot en jou nou nog help: Moenie bang wees nie, my dienaar Jakob, Jesurun wat Ek uitverkies het. En in 49 “Die Here het my voor my geboorte al geroep ...” Maar dikwels is ons soos ’n speler wat opgeroep is vir die springsbokspan en dan nie opdaag nie. Ons mis uit op ons “destiny” ons roeping, ons lewe as ons Sy roeping mis. Weet u wat is die hartseerste woorde wat mens kan sê? John Greenleaf Whittier, ’n digter uit die negentiende eeu, hierdie bekende woorde neergeskryf: “Of all sad words of tongue or pen, the saddest are these: It might have been.” Moenie so dink en praat nie. Jy is ’n nuwe mens. ’n Deur God self nuutgemaakte mens. Herskep. Jy is ’n geliefde kind van God. Jy is heilig. Jy is sout vir die aarde, lig vir die wêreld. En in God propvol moontlikhede. God woon deur Sy Heilige Gees in jou. Dieselfde Gees deur Wie al die wonders in die Bybel gebeur het. En so ook al die wonderwerke en groot geloofsdade wat deur mense gedoen is: Dis deur die Gees gedoen. En nou, hoor vanoggend: God wil dit deur jou doen! Jou doop is al reeds teken van God se roeping en God se aanstelling. Daarom: Gaan wees jy iemand wat God se hoop aan almal bring wat voel God glo nie meer in hulle nie. Maar asseblief tog, moenie iemand wees wat eendag gaan prewel: Het ek maar net gedoen ... of dalk ... dink net wat sou kon gewees het as ek my deel gedoen het. Daar is vir jou ’n besonderse plek in hierdie samelewing. Jy het baie waarde wat jy kan toevoeg. Dit begin vandag as jy vandag sal besef. God glo in jou. Jou doop bevestig dit. Luister weer. God maak jou ’n skerp potlood. En al voel jy dalk al jou werk is tevergeefs en jy sloof jouself verniet af --- elke keer as jy jou kop optel dan trap iets dit weer plat – al voel jy so – weet dan dit: God vergeet jou nie. ’n Ma kan haar kindjie wat sy borsvoed dalk nog vergeet maar God sal jou nie vergeet nie. En Hy het ’n opdrag vir jou – en Hy sal jou die krag gee vir daardie opdrag. Dit alles sê net een ding. Al het alles met jou skeef geloop en al sou jy soos Israel kon sê dis my eie skuld – God het jou gekies en Syne gemaak nog lank voor dinge in jou lewe skeefgeloop het. En die opdrag bevestig dat God jou waardig ag – waardig maak. Aanvaar dit. Moenie vir God probeer wegkruip of Hom ignoreer nie. Begin weer bou aan jou verhouding met jou Vader. En begin leef in gehoorsaamheid aan Hom. Amen