Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Johannes 2: 1 – 11 Daar was ‘n bruilof in Kanaan. Jesus se moeder was daar. Jesus en Sy dissipels was ook genooi. So begin hierdie voel goed storie. En as jy daaroor dink, besef jy, dit is omdat Maria daar was en haar Seun Jesus ook daar was, dat hierdie ‘n voelgoed storie geword het. Toe die wyn opraak, toe sê Maria vir haar Seun, “Hulle het nie meer wyn nie.” Jesus sê nog vir haar: ““Waarom sê u dit vir My? My tyd het nog nie gekom nie.” (Johannes 2:4). Maar Maria was klaar besig om vir die kelners te sê om te doen presies wat Jesus vir hulle sê. Maak nie saak wat dit ookal is nie. Maria sit druk op Jesus. En Jesus eer Sy moeder deur uit te help. My hart wil sommer sing as ek lees hoe Jesus die vrolikheid gered het daardie dag. En die arme bruidegom en bruid se dag sommer gemaak het toe die seremonie meester sy verbasing uitspreek. “'n Mens sit gewoonlik eers die goeie wyn voor, en as die mense goed gedrink het, dié van swakker gehalte; maar jy het die goeie wyn tot nou toe teruggehou.” John 2:10 En ek is sommer saam met die bruidegom dankbaar teenoor die Here dat Hy hom uit sy penarie met die wyn gered het. Want dit laat my op nuut besef dat ons Here gee om vir ons hele lewe. Nie net die geestelike nie, maar ook ons penaries waarin ons beland. Ek weet nie van jou nie, maar ek is nog oorspoel van vreugde en dankbaarheid oor die Here. Oor elke nuwe dag wat Hy ons mee bederf. Oor die gemeente hierdie twee jaar oorleef en deurleef het. Ek is dankbaar dat die Here ons intrek in Sy koninkryk in en ons laat deel wees van Sy mense. Maar ons sal uit mis op soveel mooi as ons hier vas haak. Daar is ‘n rede hoekom Johannes sommer vroeg in sy evangelie begin met hierdie wonderwerk. En partykeer moet jy die hele evangelie eers ‘n paar keer lees voor jy besef wat die eintlik wonderwerk was en wat dit God gekos het. Ou lewens wat nuutgemaak word. En ja in hoofstuk 3 skryf Johannes al hieroor. Oor wedergeboorte. Nuut word. Johannes sê nie vir ons wie trou nie. Hy sê net Jesus het die vrolikheid – die onthaal gered. ‘n Mens raai dat Hy die bruidspaar geken het. Of ten minste was Sy ma, Maria, goed bekend met die familie. Sy treë in as dinge skeef loop en gee self opdragte aan die kelners. En Jesus treë in en spaar die bruidegom en die se familie ‘n groot verleentheid. Dit sou baie sleg wees as die wyn opgeraak het. Amper so sleg as jou lewe opraak en daar is nie ‘n Redder wat die oomblik vir jou kan red nie. Johannes vertel (v 11) dat dit Jesus se 1 ste wonderteken was. Jesus het hier Sy mag gewys en Sy dissipels het tot geloof in Hom gekom. Nie net tot geloof gekom nie. Maar wel geloof IN Hom. Hulle het in Jesus geglo. In hierdie teken sien mens Jesus se heerlikheid. Jy sien dat Hy die Here oor alle dinge is. Die water word wyn. Kwaliteit wyn. En natuurlik sal mense hieroor verskil. Baie mense het nie eers geweet wat gebeur het nie. Ander het dalk die punt gemis (gedink Hy het net die partytjie gered). Of hulle was in vervoering oor die wonderwerk en die punt gevolglik gemis. Net party het Jesus herken as die Messias. En in Hom geglo. Dit sal vanoggend in hierdie diens ook so wees. Vir party van ons, al sal ons dit nie erken nie, sal die nagmaal net soos die een of ander ritueel of gebruik afspeel. Ek meen: 'n blokkie brood … 'n proeseltjie wyn … en daarna gaan hulle onaangeraak terug na hul ou manier van lewe. Vir ander gaan dit oor die onthou wees. Die herdenk van Jesus se dood. Somber … sonder die blydskap … van die besef … wat regtig met Jesus gebeur het. Ja, ek weet dit was 'n gru-dood soos min. Skrikwekkend. Traumaties. Alles ons skuld. Maar hoor wat het gebeur: Die nagmaal kom herinner jou: • ons was dood … NOU lewe jy • ons was verlore … nou is ons TERUG in die Vaderhuis • ons het geen toekoms gehad … NOU is ons koningskinders en erfgename van God. Moet ons nie bly wees nie? Hoe het dit gebeur? Deur 'n blokkie wyn en 'n proeseltjie wyn? Nee! Deur 'n wonderwerk! Net so vreemd soos water wat in kwaliteit wyn verander. Netso onverklaarbaar. Net veel groter. Jesus se dood in ons plek bring nuwe lewe en hoop vir mense wat ter dood veroordeeldes is agv hul keuses en sondes. Dit is so aangrypend en die werk van die Heilige Gees in ons so volledig dat ons nou genoem word: NUWE MENSE. Weergebore … oorgeskep … vry van ou sondes en foute en mislukkings … met meer as net 'n nuwe skoon bladsy … nou met 'n hele nuwe skoon lewe!!! As jy netnou die glasie druiwesap in jou hand neem, dink hieraan. Jy is op hierdie troue en die wyn is op. En Jesus neem water, reinigings water en verander dit in wyn. En soos jy na die wyn kyk, wat op daardie dag eens water was ... besef dat God deur Jesus se bloed, jou neem en van ‘n sondaar en veroordeelde, jou weergebore maak as ‘n kind van God. Kan ek sê: God het ons nie wedergebore / herskep om van ons christene te maak nie. Die doel was nie sodat jy God se statistieke op die sensusvorms beter kan laat lyk deur christen in te vul nie. Jy is herskep tot nuwe mens sodat ons weer met God verenig mag lewe. Herstel kan wees na paradys status voor die sondeval. As jy al ooit vir Adam en Eva verwens het oor die etery van die boom van kennis … dan moet jy nou twee keer dink voor jy sonde doen … jy is herskep … dis nou jy wat moet nee sê vir die verleiding. Jy is omskep van ou mens na nuwe mens op net so 'n radikale … netso onverstaanbare en onverklaarbare manier soos water wat in goeie wyn verander is. So het God van Saulus Paulus gemaak … van die seuns van die donder ... dissipels en Johannes die apostel van die liefde. En van jou … Sy kind gemaak. Johannes sê die dissipels is in hul geloof versterk omdat iewers op ‘n troue in Kanaan 'n wonderwerk gebeur het en hulle iets van Jesus se heerlikheid kon sien. Wat het hulle gesien? Hulle het gesien dat Jesus die onmoontlike moontlik maak. ‘n Troue red. Die wese van dinge verander. Water … na wyn … goeie wyn (v10). En hier diep binne my weet ek as die Here dit kon doen … dan kan Hy my ook verander. Ek hoef nie te bly soos ek is nie … ek is nie verdoem tot my foute en my verlede nie … Dit gee die vrymoedigheid om te bid … want God kan water in wyn verander … en dus kan hierdie Jesus, ons Here, die mense in hierdie land verander … jou man … jou vrou of jou kind verander. En as jy dit nie glo nie hoekom dan nagmaal gebruik? Is die brood en wyn dan nie die tekens wat ons herinner aan die dag wat Jesus aan die kruis ons kom nuut maak het en ons lewens verander het? Tog is dit nie als goeie nuus vir almal nie. Christus verander dinge soos Hy dit wil en nie soos ons dit wil nie. Vir baie van ons mense is dit net te pynvol of te veel moeite om te verander. Hulle wil die genade sonder die veranderde lewe hê. Hulle wil wyn wees maar steeds water bly. (in die taal van ons beeld) As die Selfsug in jou lewe dalk hard uitroep vandag: Ek is okay soos ek is. Ek hoef nie te verander nie. Ek is reg. So gemaak so laat staan. Aanvaar my net! Maak dan jou selfsug stil. Christus verander jou. Die water moes wyn word. Saulus moes Paulus word. Mense se lewens moes nog altyd radikaal verander … so verander dat die heidense mense van toendertyd teen hul gedraai het. Christus verander jou … jy kan nie meer soos mense leef wat God nie ken nie. Los die ou lewe en die wêreldse maniere … breek met dit wat God jou van bewus maak …. Los dit. Kan ek weer sê: Jesus het nie gekom om jou wense te vervul nie maar om God se beloftes te vervul. Ons vreugde vandag is gekleurd deur Sy uur en Sy gru-dood. Ag en onthou … voor jy nou depressief raak … die eerste plek waarheen Jesus Sy dissipels gelei het was na 'n vreugdefees. 'n Bruilofsfees. En toe die kans ontstaan dat die vreugde sou kwyn het Hy die onthaal gered. As jy agter Jesus aanleef .. onthou dit … Hy gee jou vreugde … lewensvreugde.