Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Psalm 40 Ons almal weet daar is niks so lelik soos ‘n ondankbare kind nie. Daardie wat nie die woord dankie ken nie. En as hulle dit sê, dit nie bedoel nie. Ons wil nie sulke kinders wees nie. Ons wil nie net ‘n voorbeeld stel nie. Ons wil uit ons harte uit vir God kom dankie sê vir Wie Hy is. En ons wil ook sê: Here ons sien raak wat U doen en alles wat U vir ons gee. Dankie. Dankie, dankie! ‘n Mens leer gou in die lewe dat daar altyd iets is om God oor te prys. En om oor dankbaar te wees. Onthou, onthou hou jou by die Here. Gefokus, by die Here. 1. Wat die Here alles doen. Die digter skop sommer af met alles wat die Here doen. Hy vertel hoe groot sy moeilikheid was. Dat dit vir hom gevoel het of hy afgesak het in ‘n diep slymerig modder put. Uit die put van dood. Hy vertel hoe hy na God geroep het. Letterlik gesmag het na God se hulp. En die Here het Hom gehoor en hom gehelp. 1.1. Die Here hoor as ons om hulp roep. Die Here haal ons uit ons moeilikhede uit. Dink maar aan die 2020 en 2021 met Covid-19. Ons het hier deur gekom. As gemeente en as individue. En nee, alles het nie net reg verloop nie. Ons het hartseer en spanning en donker tye geken. Die Here laat ons ‘n nuwe lied sing. ‘n Loflied aan Hom. Dit voel vir my die digter wil nie eers waag om te sê dat omdat God hom gehelp het, het hy ‘n nuwe lied gesing nie. Nee. God het hierdie nuwe lied as’t ware oor Dawid se lippe laat uitrol. God is in die kollig. Nie Dawid wat dankbaar is nie. Ook nie Dawid se nuwe lied van lof aan God nie. Nee. God is in die kollig. God is die een om wie dit draai. Ons kan dit gerus aanleer. Teveel maak ons geloof oor ons. God wat ons moet help. God wat vir ons dinge moet doen en God wat vir ons moet gee en gee en gee. Dis nie reg nie. Dit is ‘n verkeerd-om-godsdiens. Kyk weer na Psalm 40. Ja, die Here help vir Dawid. Die Here doen dinge vir Dawid. Maar regdeur die psalm weet jy Dawid dien vir God. Dawid gehoorsaam vir God. Die volk Israel het graag offers gebring om God te loof. Maar elke dag gehoorsaam wees, elke dag dinge doen wat God van hou, was nie hoog op hulle prioriteitslys nie. Daarom sing Dawid ook dat God nie soseer brandoffers of sondeoffers wil he nie as wat Hy gehoorsaamheid soek. Gehoorsaamheid, want op God se pad, in God se wil is waar jy veilig is, versorg word. Nie daar waar jy jou eie kop volg en dinge op jou manier doen en speletjies speel nie. 1.2. God vergeet ons nooit. Trouens, twee maal in hierdie psalm word vir ons gesê: God dink altyd aan ons. Dit is een van die dinge wat vir Dawid in verwondering het: God dink altyd aan ons. Al is ek arm en swak, God dink aan my. Ek weet dat as God aan iemand dink dan gaan iets verander. Dinge gaan begin gebeur. Dink aan Noag en sy gesin op die water. In Gen 8:1 staan daar en God het aan Noag en sy gesin gedink. En toe begin die wind opkom en die waters begin terug trek. En God het Hanna se gesmeek in die tempel gehoor en God het aan Hanna gedink en sy het swanger geword en Samuel is gebore. En na sy hom by die tempel afgegee het het God weer aan haar gedink en sy het weer swanger geword. Die kinderlose vrou het toe ‘n hele paar kinders gehad. Dit gee my soveel moed vir die tye waarin ons leef. Dit maak my rustig want God sien raak wat in ons lewens gebeur. Hy dink aan ons. En ek weet dat iewers sal die antwoord of uitkomste deurbreek. En intussen, terwyl ons wag, ontdek ons in die klein dinge hoe God na ons omsien en aan ons dink. Dan wil ‘n mens God net loof en prys. God plaas ‘n loflied ook op jou en my lippe. 2. Gehoorsaamheid. God verwag gehoorsaamheid. Vers 7. “Dit is nie diereoffers of graanoffers wat U wil hê nie, nie brandoffers of sondeoffers wat U vra nie; U wil gehoorsaamheid hê.” Nie as ‘n moet nie. Maar uit die hart uit. Omdat ons wil. En omdat Dawid iets van dit verstaan het, doen hy soos dit in die boekrol voorgeskryf is: Hy kom staan in die tempel om te bid. Daarom ... Vers 9. 9 Om u wil te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe.” Dit is dan ook hoekom ook ons vir God regtig uit die hart uit wil loof en prys en dankie sê vir alles in ons lewens. Vir al die groot en klein dinge wat Hy hierdie jaar in ons lewens gedoen het. Daarom gaan ons nie net sing van God se grootheid nie. Ons gaan van vooraf weer fokus op gehoorsaamheid. Elke dag gehoorsaam wees aan God. Elke dag leef soos Jesus se voorbeeld was. Elke dag lief he en en en. 3. Ek sal nie stilbly nie. Die derde saak wat uitstaan in hierdie psalm is die feit dat jy nie kan stilbly oor wat God doen nie. 3.1. Sal nie stilbly nie. Dawid sê spontaan dit wat ons Here Jesus vir ons as opdrag gegee het. Gaan praat oor wat God in jou lewe gedoen het. En steeds doen. Moenie stilbly nie. Praat. Party mense noem dit getuig. Gaan deel jou opgewondenheid oor wat God in jou lewe doen met ander. En laat hulle sien jy loof God deur hoe jy lewe. As jou lewe vir hulle wys jy loop agter Jesus aan, jy leef in gehoorsaamheid aan jou hemelse Vader, dan sal hulle God eer daarvoor. Nie eers dit wat ons doen, ons dade, mag stil bly oor God nie. Jy sal dit sien in hoe ons altyd leef. Ons dien Hom. Ons werk vir Hom. Ons leef vir Hom. En ons praat oor wat die Here ons God in ons lewens doen! Ons bly nie stil nie. 3.2. Ons bly bid. Want die wereld waarin ons leef is stukkend. Mense word vermoor op die lelikste en wreedste maniere. Misdaad is volop. Elke dag hoor jy van nog iemand en nog iemand wat deur geloop het. Ons is in die moeilikheid. Daarom bly bid. Bly bid ook vir dele wat nog nie herstel het van die vorige droogte nie. Nou eers vir die eerste keer in sewe en agt jaar weer reën gekry het. Bly bid want dit gee aan God die erkenning dat Hy alleen is ons hoop. Ons maak op Hom staat. Daarom is gebed deel van ons dankbaarheid en ook deel van ons gehoorsaamheid. 17 Laat almal wat by U hulp soek, jubel en bly wees oor U, laat dié wat op u hulp staat maak, altyddeur sê: “Die Here is groot!” Hy sluit met ‘n belydenis: 18 Ek is hulpeloos en arm, maar die Here dink aan my. U is my hulp en my redder; my God, moet tog nie talm nie! Dit is ons God. So is Hy! Hy tref nie onderskeid nie. Hy help. Hy gee om. Kom ons leef dankbaar voor Hom.