Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 13 verse 24 tot 30 en 36 tot 43 Het jy al ooit gewonder oor ... Hoekom haal God nie net al die slegte mense uit nie? Dit loop hand aan hand seker, met die vraag of daar nog iets goeds uit SA kan kom. Is daar nog hoop? Of is die land, as dit ‘n oes sou wees, geruineer? Jesus wys op iets baie belangriks. Iets waar ek dink die meeste van ons ‘n kopskuif op sal moet maak. Hierdie is ‘n gelykenis oor die koninkryk van God. Dit is die onderwerp waaroor Jesus die meeste gepraat het. In die koninkryk van God … Gelowiges, ek en jy leef nou reeds in God se koninkryk. Nou reeds onder God se heerskappy. Of regering, as jy die woord verkies. In die koninkryk van God het ons vrylik toegang tot ons Koning. Ons kan met Hom praat oor alles. Ook oor die onkruid in Sy saailand. En ons is verseker van Sy liefde vir elkeen van ons. En al lyk dinge soms hoe sleg Hy is in beheer en sal Sy kinders deur alles dra. Deur goed en sleg, dik en dun, dra Hy ons. Ons moet net by Hom bly. Vir Abraham het die Koning gesê: “Leef naby My!” (Gen 17:2) En in Matteus 6 sê Sy Seun: Soek eers die koninkryk van God en al die ander dinge sal vir jou toegevoeg word. Daar is min dinge so mooi soos ‘n saailand wat vol koring staan. Daar is min dinge so lelik soos ‘n saailand waar die onkruid mooier as die korinng groei. Kan ek net weer uitlig: Die koninkryk van God is hier en nou. Nie eendag ver nie. Maar hier tussen ons. Dit is belangrik dat ons lewe soos ‘n mens in die koninkryk leef. Ons is elke dag God se advertensie. Hoekom dan, laat God slegte mense toe om te floreer soos hul wil? Hoekom laat God toe dat hulle met al die lelik skynbaar weg kom. 1. God boer anders as ons. Jesus gebruik ‘n pragtige beeld om ons vraag te beantwoord. ‘n Saailand. En daar is drama rondom die saailand. Daar is ‘n man wat goeie saad saai. En daar is ‘n slegte mense wat in die nag onkruid tussen die saad kom saai. Hulle wil die oes ruineer. Noem dit ekonomiese sabotasie. Sover ek dit het het die Romeine selfs wette gehad teen die saai van onkruid in ander se land. So die vorm van ekonomiese sabotasie het wel voorgekom. Hier word waarskynlik na drabok (’n giftige plant) verwys wat met ontkieming nes koring lyk. Wat dit moeilik maak om die onkruid uit te trek sonder om van die koring dal kook uit te trek. En dis duidelik dat die Eienaar van die land die laaste sê gaan hê. Wat die koninkryk anders maak as wat ek en jy in Suid-Afrika ken, is hoe die Eienaar die krisis bestuur. Hy storm nie in met gifstowwe en skerp ingrypende optrede nie. Hy laat nie, soos sy werkers wou, die onkruid tussen die koring uithaal nie. Hy wag geduldig. Hy laat ook die onkruid voordeel trek uit die water en kunsmis wat ek aanneem hy gegee het. En as die oes ryp is en dit maklik is om te onderskei tussen onkruid en koring, dan laat hy eers die onkruid verwyder en verbrand en bring dan die koring in sy skuur in. Ons moet by Jesus leer vanoggend. In die koninkryk van God is daar liefde en geduld. God maak seker dat geen koring per ongeluk deur werkers uitgetrek word nie. God maak seker dat nie een siel verlore gaan nie. Besef u wat sou gebeur het as God soos ons geredeneer het? Ons is moeg vir misdadigers en vir bedrieers. Genoeg bedrog en oneerlikheid. Ons wil hê God moet hierdie misdadige elemente en die korruptes van die lewe uit ons midde uit verwyder en vernietig. Of eerder: God moet die mense wat ons besluit is onkruid tussen ons uit verwyder. Maar wat van as God sou omdraai en dieselfde maatstaf op ons gebruik? Dis tog wat juis vir ons baie mooi geleer het sommer van vroeg af. Daar in Matteus 7:2 reeds. Moenie oordell nie. Volgens die maatstaf wat jy ander oordeel sal jy geoordeel word. En ek weet u steel nie, is nie korrup nie, moor of kaap nie. Maar volgens Jesus ( Matt 5:21 – 22) word in die koninkryk van God niemand uitgeskel as ‘n idioot of ‘n gek nie. Daar word nie geoordeel nie. Ons kry nie die voorreg om te besluit wie is onkruid en wie is koring nie. Want ons is almal as onkruid gered en in koring verander. En daarom is ek bly dat die koninkryk ook anders is as wat die mense om ons optree want anders sou die dorpie maar bra leeg gewees het … en ons ook uitgepluk en vernietig gewees het. Kom ek noem so 'n paar mense se name wat nie ons oordeel sou oorleef het nie en vroeg vroeg vir onkruid uitgetrek sou gewees het. Maar hulle is deur God anders hanteer: Oor sy blatante bedrog: Jakob. Oor sy gerondslapery en moord: Dawid. En Saulus met sy hardhandige vervolging van die kerk. En tog in God se hande het hulle stories positief geeindig. Man Friday kla by Robinson Crusoe oor al die verkeerde dinge in die lewe en hoekom God nie sommer alles wat verkeerd is, vernietig nie. Crusoe gee ’n wyse antwoord: “Stadig, stadig… jy wil hê God moet sonde straf? Sê nou hy begin by jou en my?” Geduld is ’n baie positiewe saak; dit het te doen met God se liefde en met Sy genade met mense; Sy sagte hande en oë! In hierdie gelykenis leer ons dat God byna altyd bereid is om iemand of iets nog ’n kans te gee, om te kyk of die onkruid nie dalk in koring sal verander nie. Dalk maak dit nie vir jou sin nie maar by God is dit moontlik. In Jesaja 55:13 staan daar: “In die plek van die doringbos sal daar ’n sipres opskiet, in die plek van ’n dissel, sal daar ’n mirteboom opskiet…” In God se boerdery word ‘n landskap omgedop en waar die doringboom eers was is sipresse, distels vervang met mirtebome… Jakobs word Israels; Saulusse word Paulusse, Simons word Petrusse, manne van donder word apostels van die liefde… selfs ek en jy is anders… Daarom is ons altyd bereid om iemand anders nog ’n kans te gee! In God se koninkryk gebeur wonderwerke: mense verander. In die koninkryk van God word die onvergeeflike vergewe , omdat God die onvergeeflike in jou vergewe het. Jare gelede in Skotland het ’n Sondagskoolonderwyser se Sondagskoolklas net uit arm, rebelse seuns bestaan én die stoutste en slegste seun was Bob. Die Sondagskoolonderwyser wou moed opgegee het, maar hy het elke keer weer probeer. Toe word hierdie Bob uiteindelik ’n predikant: Robert Morrison was een van die sendelinge in China wat die Bybel in Chinees vertaal het. Onkruid kan in koring verander! Toe hulle vir Morrison gevra het, kort nadat hy in China aangekom het, of hy regtig dink dat hy ’n geestelike impak op China gaan hê, het hy geantwoord: “No sir, but I expect God will!”. 2. In die koninkryk is die werkers ook anders. As jy die koninkryk reg verstaan, verloor jy jou lus om altyd te wil oordeel. Dis net nie meer lekker om skerp en afbrekend oor ‘n ander te praat nie. In die koninkryk ontwikkel jy hierdie fyngevoeligheid vir die harde woorde wat mense oor ander loslaat. Is dit ‘n teer saak vir jou as iemand iemand ander sleg sê of sonder respek hanteer. Op ‘n manier kan mens seker sê hierdie hele gelykenis is ’n verduideliking van Jesus se woorde in Matt 7:1 “Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie.” Hoekom nie oordeel nie? Hy was bang die werkers trek die koring uit - menende dat dit onkruid is - en omgekeerd - ons het nie altyd die vermoë om mense reg te beoordeel nie. Die predikant en skrywer, Ewald van Rensburg, vertel die storie van die man wat hy by ’n sekere winkel waar hy sake gedoen het, ontmoet het: “Die ou het tatoeërmerke en oorringe vir die hele Afrika gehad. Ek het altyd gewonder oor hom. Eendag stel hy sy vrou aan my bekend: “Dis nou Ds Van Rensburg, dis sy boeke wat ons altyd vir ons seun koop…” Ek was stomgeslaan...” Elkeen van ons het sulke tipe stories van waar ons verras is deur iemand wat ons gemeen het is nie, sal ek sê, vars nie. Daar is ’n laaste rede hoekom ons versigtig moet wees vir oordeel: ons eie lewens het ’n hele klompie onkruid in. As jy wil oordeel, begin eers by jouself. Begin eers die onkruid in jou lewe een vir een uittrek. In die koninkryk van God laat ons mense al so ’n bietjie van die hemel belewe! 3. Ons is God se koring Een van die mooi dinge in die lewe is as jy deur ‘n streek ry waar hulle goeie reen gehad het en die koring staan vol en dig en mooi. Veral so in die laatmiddag son as die lig se invalshoek die koring so ‘n diep kleur gee. Jy weet natuurlik ek praat van jou en my. Van hoe ons lyk as die ware Lig net reg in ons lewens skyn en dit duidelik raak vir gewone mense die koring is mooi en dis ryp en God se oes is groot. Jesus is die saaier. Die saailand is die wêreld. Ons is die goeie saad. En so groei ons tussen mense met slegte bedoelings. Mense wat deur die Bose geinspireer is om ons soos onkruid dood te wurg in ‘n land. En tog is dit steeds net ons wat vir God die oes sal lewe. Onthou dit. Ons is die oes. Kyk na ons en jy sien wat God gesaai het. En jy skep moed want as God my kan verander dink net wat Hy met die res kan doen. In die koninkryk van God kan mens lewe en groei. Jy kan gedy. In die koninkryk van God … is ons kosbaar. Weet ons, dat al sukkel ons om tussen die onkruid uit te groei, daar kom ‘n dag wat ons sal skitter soos die son. Vers 43 “Dan sal die gelowiges in die koninkryk van hulle Vader skitter soos die son. Wie ore het moet luister.” Kom ons wag geduldig op die Here. Hy weet wat Hy doen.