Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matt 13: 1-9, 18-23 Doel gelykenisse? Jesus se gelykenisse vra altyd vir 'n keuse van jou kant af. Maak 'n besluit. Vandag weer: Kies. Vir my, en ek dink vir ons elkeen, is die keuse om te groei. Om as familie van Jesus regtig tuis te kom en in te pas in die Koningshuis. Baie van Jesus se gelykenisse en beelde het te doen met landbou. Wingerdstok en lote. Onkruid tussen die koring. En vanoggend die saad wat nie orals so mooi opgekom het nie. Gelykenisse wil ons leer. So leer is wat ons moet doen. Dit is vir my ook n les oor familie wees. As jy wil tuin maak leer jy gou dat jou grond belangrik is. Die soort grond wat jy in gaan werk, kan nogals jou uitslag dikteer. Die res hang af van jou toeweiding. As jy nie die harde werk insit nie gaan jy nie oes nie. Jesus praat van 4 soorte grond: Op die hardgetrapte pad geval. Op klipbanke met vlak grond. Tussen onkruid. Op goeie grond. Op die einde kom dit neer op verhard; Oppervlakkig; verlei en laastens vrugbaar. Of sal ek eerder sê, en dis meer korrek, oes gelewer. Het jy gesien, daar is orals gesaai. Die saad is rojaal versprei. Op die pad, op die klipbanke langs die land. Tussen die bossies en ook op die goeie grond. Die saaier het wyd gesaai. Kom ons sê vir mekaar orals. En orals kan mense, as ek die sprong maak, orals het mense die kans om die saad in hulle hand te neem en te besluit wat hulle daarmee gaan doen. Kom ek vertel ‘n storie. Ek het dit hierdie week weer herontdek. Dit was ‘n lentedag en ’n “naweek tuinier” het vir ’n vriend uit ’n ander dorp pakkies saadjies gewys. Hy het die saadjies deur die pos gekry. Die pakkies het die mooiste prentjies van groente opgehad. Veel kleurig en aanloklik. Vol belofte van ‘n mooi wat kan kom. Netjies verpak. “Dit sal verseker my beste tuin ooit wees!” het die naweek tuinier gespog! Later die somer het dieselfde vriend weer kom kuier. “Hoe gaan dit met jou tuin?” “Ek is jammer om te sê, maar dit het nie goed gegaan nie!” antwoord ons naweek-tuinier. “Dis ’n jammerte”, simpatiseer sy vriend, “wat is die probleem? Swak grond? Pes? Droë weer?” Die tuinier het sy kop geskud. “Was die saadjies ’n probleem?” vra die vriend verder. “Ja, ek dink jy kan so sê. Jy kan maar sê die saad was die probleem.” het die tuinier geantwoord. “Jy sien, ek het nooit gekom by die punt waar ek die saadjies kon plant nie!” Ons het die saad ontvang. Ons glo. Die evangelie van die koninkryk van die hemel, groei in ons en dra vrug. Maar ons kan nie omblaai en verby hierdie deel lees nie. Ek het al paar keer met n groentetuin begin in my lewe. Dit gaan vir lank goed. Dan gebeur daar ‚n klomp goed in die gemeente en die druk gaan op en ek kry nie kans om my hand op die groentetuintjie te hou nie. Of jy gaan weg met vakansie, of word siek en die bossies neem weer oor. En later maak ek dit toe en plant gras daar. Ek het nou weer een begin. Die bossies begin al weer met hul streke. Maar ek gaan nie opgee nie. Oor en oor sal ek die onkruid moet verwyder. Water gee. Kunsmis. En as oestyd verby is dan begin ons weer. En mag ek maar sê: Die feit dat ek die saad aan die groei gekry het, en selfs welig laat groei het, beteken nie daar gaan ‚n oes wees nie. Die feit dat ek tot bekering gekom het, seker by drie geleenthede in my lewe, sê nie noodwendig dat die evangelie vir God die oes gaan lewer in my waarop Hy hoop nie. Ek leef oop oë moet hierdie werklikheid. So elke dag is dit in die tuin van my lewe in. Elke dag moet ek saam met die Groot Tuinier my lappie grond bespreek. Die ou kerkvaders het graag gesê: En altyd begin ons weer. Jesus se beeld van die saaier vra n diepgang wat mense mis. Ons ken hierdie deel dalk net te goed. As ons by bekering vashaak, by, die Woord aanneem, mis ons dalk net iets. Dit is nodig om wyer as bekering te kyk. Dit is nodig om te kyk wat maak jy met al Jesus se woorde. Ons moet ook besef dat ons nie net die grond is waarop die saad val nie, maar ook self saaiers word. Ons word aan die einde van die Matteus evangelie uitgestuur as saaiers. En baie van Jesus se beelde wys dat ons in God se wingerd en op God se lande moet gaan werk. Dws in die koninkryk van die hemel dien ons God nou reeds. Met herhaling kom ons tot bekering. Neem ons die Woord opnuut weer aan. Nie net een maal nie. Maar gedurig oor en oor soos ons dinge ontdek in ons lewens wat nie vir God vreugde verskaf nie. En ons breek uit liefde vir God daarmee. So kan ons leer om elke dag ons self te moet afvra: watter tipe grond was ek vandag vir God? Uitgeloog, soos 'n tuin wat nie bemes word nie? Onvrugbaar? Is ek besig om die saad van die lewe in my te verstik met alles wat ek myself veroorloof? Kom ek vra dan: ■ Wat het jy vandag gemaak met die belofte oor bekommernis? ■ Het jy dit dankbaar aangeneem en toe net mooitjies die volgende dag weer vergeet? ■ Is die belofte opgepik deur negatiewe mense of dalk deur die hitte van finansiele druk verskroei? Ons dink hopeloos te maklik my saak is reg met God. Nes Israel van ouds. EN ... waar het hulle opgeeindig? In Ballingskap. Oorspoel deur ander magte. Soos die Romeine. Ja, jy is 'n kind van God. Leef jy elke dag of die doel van jou lewe is om hierdie saad die beste kans tot sukses in jou te bied? Nou wonder ek ... en ek hoop jy vra vandag dieselfde vraag aan jouself: Het jy, het ek, God se goeie nuus gesaai sodat God 'n oes kan hê ... of is die evangelie nog netso netjies verpak as toe jy dit ontvang het. Ek meen, die goeie bedoelings van die man met sy mooi veelkleurige pakkies saad het nie vir hom 'n groente tuin gegee nie. Dus help goeie bedoelings nie: Het jy met jou leefstyl en woorde Jesus verkondig? Kon mense Jesus in jou sien? As die Here vandag in jou lewe kom kyk, gaan Hy Sy tuintjie daarkry? Of lyk ons lewens dalk soos 'n stoorkamer, rakke vol saad, -- geheues vol gepak aan die Woorde van God --- maar nooit geplant en laat groei nie? So hier is wat moet gebeur: 1) Ons moet doen wat God gesê het. Ons moet die evangelie saai. Ons moet vir mense vertel wat Jesus in ons lewens doen en vir ons beteken. God is nie vasgevang in die bladsye van die Bybel nie ... God is ook nie veraf nie. Hy woon in jou. Hy werk nes in die Bybel hier vandag in ons lewens. 2) God saai self in ons lewens. Ons is aan die ontvangkant van die gesaaiery. Elke keer as ons uit die Bybel lees en dalk bybelstudie doen of na 'n preek luister, word daar in ons lewens in gesaai. Dink dan daaraan dat dit nie daar kan stop nie. Besef ons is nie saad depot's nie. Daardie woorde moet nou geleef word. Ek moet gaan doen wat ek in die Skrif gelees het. As ek lees van: „Moet jou nie bekommer oor die dag van more nie ... „ dan moet ek my probleme vir die Here gee en by Hom los. „As ek lees ek moenie sonde doen as ek kwaad word nie. Vuil taal moenie oor my lippe kom nie. ... Dan moet ek daardie einste dag nog begin om my humeur beter te bestuur ... en ek moet daadwerklik ophou vloek. As jy lees oor vergifnis, dan maak jy die harde pynlike keuse, en jy vergewe. Ons verstaan tog wat die Here bedoel? Soos ons deur Matteus se boek werk, is die doel om te leer. Om ons geloof vorentoe te neem. Om dit was ons elke dag doen meer in lyn te trek met wat God wil hê. In Matteus 12: 46 tot 50 is daar ‘n vreemde toneeltjie waar Jesus se ma en broers Hom kom soek het. Die huis waarin Jesus mense geleer het, was volgepak. So hulle moes buite staan en iemand vra om na binne die boodskap aan te gee. Jesus gryp die geleentheid aan om die mense iets belangriks te leer. Hy vra: Wie is my moeder, en wie is my broers? En dan antwoord Hy Homself. En ek wil die antwoord vir jou lees. Vir in geval ons kieskeurig wil raak oor watter dele in die Woord ons wil toepas in ons lewens en watter nie. 49 Toe wys Hy met sy hand na sy dissipels en sê: 50 “Daar is my moeder en my broers! Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is, dié is my broer en my suster en my moeder.” Matteus 12:49-50. Elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. En ja, in hoeveel ... of hoe min .... ons van die Bybel elke dag leef ... wys skerp uit watter tipe grond ons regtig is.