Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 12: 43 – 45 Daar is nie maklike dele nie. Sommiges is moeilik om te verstaan. Ander, soos hierdie een wat maklik lees, het ‘n diepgang wat ‘n mens maklik miskyk. So, hou asb jou gedagtes, jou fokus hier by die Woord. Luister na die Heilige Gees sou Hy binne jou beweeg. Ek begin vanoggend by die einde. Dit is goed om dinge aan te pak met ‘n duidelike beeld van wat jy moet verwesentlik. Iewers lees ek die week op die internet van ‘n Kraft Mayonnaise advertensie. ‘n Man staan op in die middel van die nag en stap yskas toe en begin alles uithaal wat nodig is vir ‘n lekker toebroodjie. Botter. Mostert. Pastrami. Agurkies. Blaarslaai. Mayonaise. Jy kan sien die man raak so half opgewonde. Hy kwyl van die lus. En dan ontdek hy sy geliefde mayonaise is klaar. Iemand het die bottel leeg terug gesit in die yskas. Jy sien in die advertensie hoe die man se gesig val. Hoe hy alles met hang skouers terug pak in die yskas. En dan verontwaardig en telleurgesteld, gaan terug klim in die bed. Ons praat nie van ‘n laatnag toebroodjie nie. Ons praat van gelowiges wat soos ‘n leë mayonaise bottel leeg in die yskas staan. Die ene belofte maar niks daarin nie. Christen in naam, wêreldling in daad. Die mense om so ‘n gelowige staan diep telleurgesteld en stap dan weg van Christus af. Hier is ‘n sleutelwoord om dit mee te verstaan: Onbewoond. In die mayonaise advertensie is die bottel leeg en vuil terug gesit in die yskas. In Jesus se beeld is die huis skoon en aan die kant. Wat dieselfde is, is dat albei leeg is. Die mayonnaise bottel is leeg en die huis is leeg, onbewoond. En dit skep die probleme. 1. Jesus se antwoord. ‘n Mens lees ‘n teks teen sy agtergrond. En saam met die verse voor en na. Hierdie beeld van Jesus hang nie in die lug nie. Dit is deel van Sy antwoord aan die Fariseërs. Die Fariseërs het Jesus beskuldig dat Hy duiwels uitdryf met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die duiwels. Jesus antwoord hulle met vier beelde. Die eerste is die beeld waar iemand ‘n sterk man se huis wil beroof. Dit kan nie gebeur tensy die sterk man nie eers vasgebind word nie. Anders sal hy mos nie toelaat dat jy sy goed wegdra nie. Netso sal die duiwel nie vir Jesus help om die duiwel te beroof nie. Dit is deur die krag van die Heilige Gees dat Jesus duiwels uitdryf. En dan keer Jesus die tafels om op die Fariseër met ‘n tweede beeld. Hy sê ‘n boom word aan sy vrugte geken. Jesus se vrugte is duidelik te sien: Hy laat blindes sien, verlamdes loop weer, n gebreklike hand herstel en duiwels word uitgedryf. Die koninkryk van die hemel het in Jesus gekom. Mense stroom na Jesus toe want hulle sien en ervaar iets wat die Fariseers duidelik nie het nie. Die fariseers se vrugte is ‘n genadelose en koue godsdiens vol moenies en mag nie’s. Jy mag nie op die Sabbat ‘n gebreklike man se hand genees nie. Dit moet wag tot die volgende dag. Jy mag nie ... so is daar ‘n lys wat nimmereindigend voel van wat verbied word. Hulle is in terme van my beeld die mayonaise bottel wat vuil en leeg terug gesit is in die yskas. Hulle lyk van buite gesien, nes die ware Jakob. Maar binne is dit leeg. Daar is nie ‘n manier, volgens Jesus, dat hulle enigsins goeie vrugte kan dra nie. Hulle harte is sleg. En ja, ons het in Mateus 12: 14 gelees dat hulle begin planne beraam het om Jesus om die lewe te bring. Hulle harte is so sleg dat Jesus van hulle sê dat selfs die slegte Nineve tot bekering gekom het ogv Jona se preek. En nou staan hier Iemand groter as Jona en hulle kom nie tot bekering nie. Dieselfde met die koningin van die Suide. Sy raak gaande oor Salomo se wysheid maar Iemand groter as Salomo staan voor die Fariseës en hulle mis Hom. Daar skort iets. Wat afwesig is, is ‘n lewe gevul met die Heilige Gees. Gevul met ‘n verhouding met God. ‘n Mens kan vra: Watter gees bly in jou? Die Heilige Gees? Of ‘n bose gees? En dit is die vierde beeld. Hierdie Fariseërs met hulle netjies gedissiplineerde lewens en vertoon, se lewens is eintlik leeg. Hulle is dalk besig met die dinge van God maar die God van die dinge kom hulle nie by uit nie. Hulle diens aan God is uiterlik. Dalk het dit nie so begin nie. Wie weet. Kyk jy na Jesus se beskuldigings teen hulle, bv dat hulle wit gepleisterde grafte is, of bekers wat buite skoon gewas is maar die binnekant is nie gewas nie, dan wonder jy oor hulle. Dink aan Johannes die Doper se aanklagte teen hulle toe van hulle gedoop wou word. Johannes die Doper het hulle uitgewys en gesê om vrugte te dra was bewys dat hulle bekeer is (Matteus 3:7, 8) En nee, nie almal was so nie. Ons moet nie veralgemeen nie. Nikodemus, vir een, was anders. 2. Wat gebeur in die huis? Niks. Dit is onbewoond. Die huis is skoon en aan die kant. Jesus sê nie hoekom die bose gees die huis verlaat het nie. Dit kan ‘n sinspeling wees op ‘n duiwel wat uitgedryf is. Of nie. Dalk het die bose gees uit eie wil die huis verlaat. Hoekom kom die bose gees terug? Hy soek ‘n rusplek en kry dit nie en dan kom hy weer terug. En dan begin die moeilikheid. Hy gaan haal sewe ander geeste, slegter as hyself en hulle trek saam met hom in. En dan kom die brieke af. Waar daar in die eerste beeld ‘n sterk man in die huis was wat eers oorval moes word, is daar nou net mooi niks. Jesus sê, aan die einde is so ‘n mens slegter daaraan toe as in die begin. Jy kon iewers die keuse vir God gemaak het. Jy kon deur Jesus skoon gewas geword het. ‘n Nuwe lewe ontvang het. Maar as jy iewers in jou toeweiding verslap, nie meer God sentraal in jou lewe hou nie, en dus op jou terme leef, dan is daar risikos. Ek sê nie dat jy duiwel besete kan raak nie. Dit is net ‘n beeld na aanleiding van ‘n klag van dat Jesus met duiwels se hulp duiwels uitdryf. So ons gaan nie daar nie. Wat ons wel moet besef is dat die verhouding met God deur Jesus, ons lewens moet vul. Sonder Jesus, gaan Nineve eendag ook teen ons getuig. Ek vra weer die vraag van vroeer: Watter gees het toegang tot jou lewe? Is die Heilige Gees in beheer? 3. Wat behoort te gebeur? Ek gaan bly by Jesus se beelde. Jy het tot bekering gekom. Jou huis is skoongemaak en aan die kant. Wat moet nou gebeur? ‘n Sterk man moet in beheer van jou lewe wees. Jou lewe deur geloof gevul met die Heilige Gees en onder die Heilige Gees se beheer. Jy is nie daardie sterk man nie. Jy het reeds moes vlug na God om hulp en redding. Nou is jou lewe nie onbewoon nie. Jy is ‘n tempel vir die Heilige Gees. Jy is God se huis. Die hartseer van onbewoon is dat ons dink ons het ‘n vol lewe. Maar wat ons einntlik het is ‘n besige lewe. ‘n Lewe wat oor ander dinge gaan en die Gees verdring word. Verdring deur ons eie regverdigings en opinies en ons vertroostings dat ek glo en darem lees en bid in die aand of in die oggend. Ek besef nou, daar is ‘n verskil tussen ‘n tempel en ‘n huis. Paulus sê nie julle is huise vir God nie. Hy sê julle is tempels. Ons is tempels. Plekke wat toegewei is aan God en aan die diens van die Here. Ek vra soms vir nuwe intrekkers, as hulle hul adres gee, hoe kom ek daar. Dan beduie hulle en beskryf ‘n uitstaande baken bv dis ‘n wit huis met ‘n groen hek, arguments onthalwe. Dan sê ek oo, okay, nou het ek dit, dis tannie so en so se huis. Wel, dikwels bly die tannie al jare nie meer daar nie en was daar dalk al vier of vyf ander inwoners wat ek dalk nie geken het nie. Vir my is dit nog tannie so en so se huis. Die vrees is dat ek so oor my eie lewe kan dink. Dat ek nog onthou ek het my hart vir die Here gegee, jare gelede. Dat ek vir myself sê dis die Here se huis. Maar die Here bly dalk nie meer hier nie. Soos ‘n fariseër in Jesus se tyd wat geglo het hy dien God maar God is nie in sy hart nie. Kom ek gebruik nog ‘n beeld. Brood. Ek kan brood geniet. Ek kan vir ‘n lank tyd iemand wees, wat net brood eet. Maar as ek ophou brood eet, nooit weer brood breek en eet nie, is ek nog iemand wat lief is vir brood? My beeld is na aanleiding van Jesus se woorde dat Hy die Brood van die lewe is. Kom ons wees anders as die fariseërs met hul dooie negatiewe vorm van godsdiens – die ene moets en mag nie’s – Kom ons wees die vervulling van Johannes 7 waar die Heilige Gees so in ons woon en werk dat Jesus se woorde dat strome lewende water uit julle sal voortvloei, waar word. Ons is huise deur God skoon gemaak, gereinig en aan die kant gemaak. Maar nooit onbewoond. Want ons is tempels vir die Almagtige. Ek sluit met my beeld aan die begin: Hierdie keer is die mayonnaise bottel vol. En die man gaan uiteindelik terug na sy rus, versadig en gevoed met die Brood van die lewe. En die Here is die sterk man in my huis.