Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Genesis 17: 1-14 ‘n Eureka oomblik in my lewe is die dag wat ek besef het dat ek, het nog nooit iets gehad wat God nodig het. En ek, is net die ontvanger van genade op genade. En my padjie is finaal vasgeknoop in God se verhale in, by my doop. Dit maak dat die doop vir my een van die kosbaarhede van die Christelike geloof is. En ek is hartseer as mense dit afstomp tot ‘n historiese oomblik. Bv vandag; dag en datum. Nog erger: die dag en die doop word vergeet. Die doop dalk nog onthou as ‘n historiese moment, maar niks meer. Paulus skryf in Efesiers 1 dat: 4 So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. 5 In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. Dink hieroor: Brussow is maar net 'n baba. Hy het geen CV of “trackrecord” nie. Absoluut niks wat iemand sou kon laat sê: “die kind is goed of het potensiaal of agv sy prestasies kan ons 'n kans met hom vat nie. Niks. Hy is skaars gebore en het nog niks geleef nie. Sê die doop iets van hom? Nee, absoluut niks. Die doop sê alles van God. Van God wat uitkies en God wat gee en God wat doen. Dit sê alles van God wat inisiatief neem. En met elke doop jubel dit in my hart: Hy het ook my gekies en gekies om Hom aan my te verbind. En aan jou en aan ons kinders. Almal sonder dat een van ons dit verdien. God neem die inisiatief met Abram. Met jou. Met my. Ons moet die versoeking weerstaan om na ons eie CV’s te kyk. Die wêreldse CV is dalk indrukwekkend, vol van jou prestasies en persoonlikheid. Die ware CV wat voor God dien is leeg. ‘n Blanko vel papier met een woord op: Begenadigd. Ons het niks om God te bied nie. Niks wat God nodig het nie. Ons lewe met God, ons diens aan God, ons voorreg om Sy kinders te mag wees is suiwer genade. Genade alleen. Genade wat oopvou in ‘n liefdes verhouding tussen God en ons. Dit is wat God vanoggend vir ons wil oopvou. Juis ook vir jou en my wie se doop al in die vergetelheid lê. Kan ek vra: Wat is jou doopdatum? Wie weet? (14 Nov 1959). Kom ons kyk na Abram se begindatum met God. Dit is interessant dat voor Abram die teken van die verbond ontvang het, het God Homself reeds aan Abraham bewys as die Getroue. Die Een wat red. Die God wat omgee en Woord hou. Gaan lees gerus Genesis 12 tot 17. 1. Ken God persoonlik. In Gen 17 sê die Here vir Abram: “Ek is God die Almagtige. Lewe naby My en wees opreg!” Baie mense in Abram se leeftyd het geweet dat God is die Almagtige, maar hulle het God nooit geken nie. Abraham het. Dit was ‘n pad waar God gelei het en Abraham het gevolg. En kere waar Abraham sy eie kop gevolg het het dit skeefgeloop en God het gekies om elke keer te kom red. Soos byvoorbeeld toe Abraham gesê het sy vrou is eintlik sy suster. Halwe waarheid. Ja. Maar nie ‘n vol waarheid nie. Sy was sy vrou. God se bloedlyn vir Sy Messias was ook rondom Sara gebou. Sara was integraal in wat God wou doen. So, moet nie net op Abraham fokus nie. Sara het saam met hom uit Haran getrek en sy het nes hy getwyfel in die belofte. En sy het saam met Abraham die vrug van die belofte kon geniet. Kom ek raak persoonlik. Ons praat nie van weet van, of stories oor God te ken nie. Ons praat van ‘n verhouding waarbinne jy tyd met God spandeer. Met God praat. Waar jy God se leiding soek en aan die einde van jou dag met God gesels oor die dag wat jy gehad het. Leer God ken nie op grond van oorvertellings van mense of net vanuit die stories in die Bybel nie. Leer eerstehands met God leef. Persoonlik. 2. Lewe naby My. Dit klink vir my na die allerbeste om jou kind, en selfs volwassens te leer. Abram was 99 jaar oud toe die Here dit vir hom gesê het. Dit is gesê die dag wat God vir Abram gesê het Hy gaan ‘n verbond sluit met hom wat Abram is. En dit sal geld vir Abram en vir sy kinders en hulle kinders en al hulle nageslagte. Isak was nog nie eers gebore nie. Romeine 4: Abraham is die vader van al die gelowiges. Vanoggend het die Here gekies om Sy verbond, Sy ooreenkoms met Jaco en Anneke uit te brei na hul seun toe. Net soos Hy met Abraham en toe met klein Isak gedoen het en later met Isak se kinders. Toe God die verbond wat Hy met Abraham gaan sluit aangekondig het, toe sê Hy onder andere vir Abram: “lewe naby My en wees opreg”. Hy sê dit vir Abraham want God weet dat Hy kinders so geskep het dat hulle oa leer deur te sien. Hulle boots na. So vir Isak om iets oor God te leer moes Abram dit eers voor Isak leef. Abraham moes eers leer en Abraham moes eers leef dit wat Isak toe nog moes leer. Sodat Isak soos hy groter geword het, kon weet om naby God te leef. Isak moes ‘n voorbeeld hê van hoe leef mens met God. Brussow moet ‘n voorbeeld hê om te kan leef. Hy moet dit kan sien werk in julle en ons almal se lewens. En ek en jy moet so leef dat hy en ander kinders meer voorbeelde kan hê van geloof wat werk. Geloof wat ‘n verskil maak, anders is. ‘n Kind het eendag vir ‘n ou oom wat ‘n deurleefde kind van God was, gevra: Oom hoekom is oom so anders as die ander Christene. Die oom vertel toe ‘n storie. Hy het hierdie hond. En saam sit hulle op die stoep. Sy hond sien ‘n haas en hy jaag die haas. Sover as die hond gaan blaf hy en al die ander honde in die buurt hoor daar is ‘n haas. Hulle kom jaag saam en hulle blaf saam. Maar na ‘n ruk word die een na die ander hond moeg en val uit. So seun, hoekom dink jy is my hond nog al een wat die haas jaag? Nee ek weet nie oom, sê die seuntjie. Dis seker ‘n spesiale hond? Nee, sê die oom. Dit is omdat my hond die enigste een is wat die haas gesien het. En solank hy op die haas se spoor kon bly het hy die haas gevolg. Doop wys ons na God toe. Van hier af moet ons nie net leer van God nie, maar ons moet God self “sien” en volg. Nie net saam praat oor God nie maar self met God praat en deur God gelei word. Ons kinders en die bure se kinders moet dit kan sien. Een van die vertalings op Joh 6: 47 klink so: “47Luister daarom mooi na wat Ek vir julle sê: die ewige lewe behoort aan daardie persoon wat ’n persoonlike volgeling en vriend van My is.” Persoonlike volgeling en vriend van Jesus. Gaan bou jou vriendskap met die Here Jesus. ‘n Vriendskap waar Hy voorloop en ons nadoen. Waar ons Jesus nadoen soos Hy presies net dit doen wat Hy by die Vader gesien en gehoor het. Gaan lees gerus weer Genesis en let op hoe God met Abraham gepraat het. En Moses van wie later gesê is dat God met Moses gepraat het soos ‘n man met sy vriend. Gaan hê so ‘n verhouding met God. Dan sal jou kind dit ook eendag leef. Kom ek gee meer vorm aan dit. 4 “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. 5 Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.” Jesus self het gesê dit is die eerste en grootste gebod. Van seker meer as 2000 jr voor Christus tot vandag staan hierdie gebod. ‘n Waarheid wat bo tyd uit troon en steeds onveranderd bly staan. Jy moet die Here jou God liefhê. Die Jode word van klein tyd af geleer om dit te bid. Om elke dag dit op te sê saam met ander dele soos Num 15: 37 – 41 en Deutr 11: 13 – 21. Wat ookal jy lees in die Bybel gaan terug kom na hierdie basiese waarheid: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en siel, met al jou krag. Daar kom ‘n tyd in elke mens se lewe wat jy moet vra hoe hoog? Jy vra nie enige iets anders nie, jy vra net hoe hoog want die Een met Wie jy te doen het is net te groot. 3. Wees opreg. As jy werklik lief het kom jou opregtheid oor. Want hele hart en hele siel en al jou krag is alles, daar is niks oor of uitgesluit nie. En as daar iets oor is wat jy beheer of vir jouself hou, dan het jy God nog nie werklik met jou alles lief nie. Hy moet die EEN wees waarom jou lewe draai. Die Spilpunt van jou lewe. Meer as selfs jou hart se punt. Dit is wat ons kinders en kleinkinders in ons lewens moet sien. Dit is waarvoor mense ons moet onthou: Dat ons die Here ons God lief het met ons hele hart en siel, met al ons krag. Hoor die Here se woorde: “Ek is God die Almagtige. Lewe naby My en wees opreg!”.”