Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 12: 38 -42 Meneer, ons wil ‘n wonderteken van u sien. Wat party van die skrifgeleerdes en de fariseërs eintlik vir Jesus sê is: Bewys jouself. Hulle gooi net so ‘n hoflike sousie daaroor. Vandag sê mense eerder reguit dat geloof werk nie vir hulle nie. Hulle het bid al probeer maar volgens hulle het dit nie gewerk nie. Hulle het vir hulself uitgemaak, God is afwesig. As ons meer eerlik is dan wil ons eintlik hê God moet vir ons gee wat ons wil hê. Dis ook maar net mooi maniere om te sê “Bewys U self, Here, dan sal ek glo. Ek wonder hoe het dit gekom dat die klei sulke dinge vir die Pottebakker kan sê? Hoe iets so tydelik soos ‘n mens vir die Ewige kan sê bewys uself. Kom ons laat dit daar. ‘n Mens wonder wat se wonderteken het die skrifgeleerdes en fariseërs in gedagte gehad het. Was al die genesings nie genoeg nie? Die man met die gebreklike hand wie se hand weer gesond geraak het. Die duiwels wat Jesus uitgedryf het. Verlamdes wat weer kon loop en blindes wat weer kon sien. Was dit dan nie die profete se vooruitsegging van die Messias se koms? Juis hierdie tipe genesings wat vir die mense as teken sou dien dat die Messias gekom het. Maar mense wat die Skrif geken het, herken nie hul Messias nie. Hul erken niks groots aan Jesus nie. Hulle soek ‘n teken. As ‘n mens na die oorspronklike Griekse teks kyk dan vra hulle vir iets groots in die hemelruim. Nie wonderwerke nie. Hierdie versoek om ‘n teken, staan nie los van die beskuldiging dat Jesus deur die mag van duiwels duiwels uitdryf nie. Hulle probeer steeds maniere vind om Jesus te diskrediteer. Van alles wat ek nageslaan het, is dit duidelik hierdie beleefde vraag is eintlik maar net nog ‘n bedekte aanval. “Meneer, ons wil ‘n wonderteken van u sien.” Jesus weier die versoek. Hulle het alles wat hulle nodig het om te glo. Hulle het die wet en die profete. Hulle het die geskiedenis wat wys hoe God betrokke was by hulle volk se storie. Die profete het oor die eeue hulle opgeroep om te bekeer. Selfs Johannes die Doper het dit gedoen. Maar nee. Hulle is onversetlik in hul gevoel dat hulle en hul alleen weet van God. Dit sê baie dat Jesus hulle ‘n afvallige geslag noem. Sommige vertalings gebruik die woord owerspelige geslag. Bedoelend dat hulle sê hulle glo in God maar hulle dien ook ander afgode of dinge. Dat hulle ontrou aan God is. Ander goed het vir hulle meer belangrik geraak. Hulle het nie tekens nodig nie. Hulle het die Skrif. Die Woord van God. Jesus gee hulle drie beelde, of dan drie metafore: Die eerste sinspeel op sy dood en opstanding. Moet nou nie vasgevang word in die hele gesprek oor die drie dae en drie nagte nie. Jesus gebruik dit as ‘n beeld. ‘n Beeld wat sê na die opstanding sal hulle besef dat juis Sy kruis en dood en opstanding die teken is. Vandag nog staan dit sentraal in ons geloof. En so terloops: Jesus prrat van Jona en die vis as ‘n regte gebeure en nie soos sommiges wil beheer ‘n storie met ‘n boodskap nie. Die tweede metafoor is Jona wat uiteindelik na Nineve gegaan het en gepreek het en Nineve, die groot heidense stad, met sy godlose, wrede mense, het tot bekering gekom. En nou is hier Iemand wat groter as Jona is, en hulle hoor die Woord van God by Hom en hulle kom nie tot bekering nie. Nineve was beter as hulle wat daar ingespek met Jesus gestaan het. Nineve sal deel wees van die wat sal oordeel oor daardie skrifgeleerdes en fariseërs. Die derde beeld is die van die koningin van die Suide wat gehoor het van Salomo se wysheid en baie ver gereis het om self te kom sien en hoor. En hier staan Een wat groter is as Salomo, en die fariseers en skrifgeleerdes en hulle volgelinge doen nie moeite om Hom te hoor en hulle te bekeer nie. Dit is vir my uiters hartseer dat die Seun van God in hulle midde kon staan en hulle so vol van hulself en hul kennis was dat hulle God self nie kon herken nie. Ek vermoed hulle was so vasgevang in hulle rituele en gebruike dat hulle hulle eie sonde nie begryp het nie. Twee keer kom die frase “En hier staan Een wat groter is as ...” voor. Groter as Jona wie se preek die hele Nineve tot bekering gebring het. Groter as die grote Salomo ook. Vir wie mense van heinde en ver gekom het. En die Een wat groter as alle mense is word geminag en uitgekryt as vals en dat Hy duiwels uitdryf met die hulp van duiwels. Die vraag kom vanoggend na wat maak ons met die Woord. Laat ons die Woord van God diepgang in ons vind en deur God se Gees ons lewens verander. Bekeer ons ons gereeld van die verkeerde in ons lewens. Een van die kommentare, Eduard Schweizer, gebruik die beeld van ‘n man wat vir sy vrou sê sy moet vir hom bewys dat sy hom nog lief het. Hy is nie tevrede met alles wat sy reeds vir hom uit liefde uit doen nie. Hy soek meer. Iets groters. ‘n Mens kan seker sê die man is blind vir die liefde van sy vrou wat heeldag aldag daar is vir hom om te sien en te beleef.. Schweizer skryf dat die blote vraag sê dat geloof is nie meer ter sprake nie. As bewyse gevra word het vertroue die wyk geneem. Ek verstaan mense hou van die sensasionele. Maar dan, kyk net om jou. Sien die omswaai in die natuur. Lente noem ons dit. Sien raak dat God besig is in jou lewe. En om jou besig is. Maak jou oë oop. Gaan sit by God, oop en eerlik en afhanklik. En luister. Paulus skryf in 1 Korinthiers 1: 22 oor die Jode as volg: 21 Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. 22 Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, 23 maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit 'n aanstoot en vir die ander is dit onsin, 24 maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. Die Jode vra wondertekens. God gee Sy Seun. Wie ontvanklik is ontvang veel meer as wat hulle op kon hoop. Hulle ontvang Een wat groter is as al die grootste figure in die geskiedenis. Hulle ontvang die Seun van God. God self. Ons vra nie vir wondertekens nie. God het reeds Sy Heilige Gees in ons geplaas. Ons leef nie van sien nie maar in geloof. Hebreers 11: 1 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Dit is hier wat dit moeilik raak. Veral in hierdie tye waarin ons nou is. As jou geliefde siek in die hospitaal is, dan smag jy na ‘n wonderwerk. As jy in ‘n motorkaping of ‘n aanval is, smag jy na uitkoms. Bid ons nie almal iewers Here help. Here red. Here genees. Soek ons nie almal iewers ‘n wonderwerk of drie van God af nie? Of soos die dissipels vuur uit die hemel om die vyand te verdelg. Dis okay. Nie die vuur deel nie maar die vra vir ‘n wonderwerk. Die verskil is ons vra omdat ons glo. Ons bid omdat ons oortuig is Jesus is die Seun van God. Ons smag na meer van God omdat dit wat ons van God ervaar ons aangryp. Wat ons nie doen nie is om ons geloof afhanklik te maak van wonderwerke en tekens. Iewers verskuif ‘n mens se geloof en dus jou verhouding met God van dit wat God doen, van genade en vergifnis af na ‘n begeerte om net met God te leef. Dit maak ons anders as die skrifgeleerdes en fariseers in hierdie gedeelte. Ons vra nie tekens nie. Ons glo in die Seun van God en ons vertrou Hom.