Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 12: 33 – 37 En weer is daar nie ‘n tussenin nie. Maar dan weer, nie een van ons wil ons man of ons vrou net half lief hê nie. Ons wil onsself volledig aan hulle gee. Ek het Woensdagoggend gedink: My vrou is so lief vir my dat ek met baie, wat dalk vir haar klein irreterende gewoontetjies is, kan weg kom. Ek is seker daar is min dinge waarmee ek nie sal kan wegkom nie. Maar wil ek? Wil ek regtig ‘n lewe leef van kyk waarmee ek kan weg kom? Nee. Ek wil ‘n lewe leef waarin ek myself druk om die beste man te wees wat ek kan vir haar. Ek wil ‘n lewe leef wat haar nie frustreer nie. Ek wil nie vir haar hartseer veroorsaak nie. ‘n Mens kan natuurlik onder die wanindruk verkeer dat jy die wêreld se beste man of vrou is. En dat die probleem by jou maat lê, dis nou sou daar ‘n probleem wees. As ‘n mens eerlik met jouself oor jouself is, sal jy weet dit kan nie waar wees nie. Niemand is perfek nie. Maak dit nou van toepassing op jou verhouding met Jesus. Wil jy ‘n lewe leef van kyk waarmee jy kan weg kom? ‘n Lewe wat staatmaak op Sy vergifnis terwyl jy dag na dag aanjaag? Of wil jy God so liefhê dat jy die beste kind vir Hom probeer wees wat jy kan? Net omdat jy so lief is vir Hom. Ek wonder soms wat frustreer God in ons. 1. Gefrustreerd Ek weet nie of God ooit gefrustreerd raak nie, maar dan weer sê die Bybel daar is tye wat God kwaad geword het. En Jesus se aardse lewe het ook oomblikke gehad waar jy kon sien Hy is erg gefrustreerd. Hier is ‘n paar moontlikhede: In die lig van Matteus 12: 22 – 32, verlede week se teks: As ons soos die fariseërs en skrifgeleerdes van die Nuwe testament jou diens aan God verander in ‘n godsdiens wat eintlik ‘n diens aan jouself is. Waar dit gaan oor jou en wat jy wil hê en jy geloof gebruik om bewondering van mense af te ontvang. In die lig van Matteus 11: 20 – 24: As jy ten spyte van alles wat God in jou lewe doen, jou steeds nie bekeer nie. Kyk maar na vers 20: 20 “Toe het Jesus die dorpe waarin Hy die meeste van sy wonderdade gedoen het, begin verwyt omdat hulle hulle nie bekeer het nie: 21 “Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, ...” In die lig van vanoggend se gedeelte: As Jesus jou oorlaai met liefde, Sy lewe aan ‘n kruis gegee het ook vir jou, vir jou ‘n nuwe lewe gegee het en jy steeds of geen vrugte dra nie, of slegte vrugte dra. Wat sou dit dan anders wees as ‘n lewe waarin jy kies om te kyk waarmee jy als kan weg kom. Is dit liefde? Is dit om God lief te hê met jou hele hart, jou hele verstand en met al jou krag? Nee. Jesus gebruik skerp taal hier. Hy verwyt die fariseërs ten sterkste. Hy sê hulle is dan sleg. Hoe dink hulle dat daar enigiets goeds uit hulle lewens kan kom? Kom ons gaan positief hier. Dit begin by dit wat in jou leef. Iewers kom dit wat in jou leef, ook alles wat jy opkrop, en alles wat jy probeer het om diep te begrawe, uit. En vra my, dit kom op die verkeerdste denkbare tye uit. Ek dink ons almal ken seker die beeld van ‘n beker koffie wat jy dra. En as iemand aan jou stamp dan is dit koffie wat jy gaan stort. Nie tee nie. Koffie. Want dit is koffie wat in die beker was. Dit is wat Jesus ons hier wil leer. Jou innerlike moet silwer skoon gehou word, gewas en gevul met Jesus. Sodat selfs as die lewe baie hard jou stamp, net die Heilige Gees en Geesvervulde woorde of aksies uit jou beker sal spoel. 2. Stoorkamer. Ek het ‘n man geken wat gesorg het dat sy vrieskaste en kruidenierskas propvol moes wees ten alle tye. Daar moes altyd iets wees wat hy vir iemand sou kon gee. My kinders weer het my gespot oor my garage. As hulle iets soek dan sê hulle kyk in oupa se garage. Want daar was altyd iets gebêre waarmee ‘n job klaar gemaak kon word. En dit is lekker om te kan sê, wag net ‘n oomblik, ek dink ek het die regte ding. Met die trek is dit alles tot niet gemaak. Dit is Jesus se beeld. Dit is wat God in ons lewens wil sien. Dat ons ‘n diepte in ons het wat so gevul is met dit wat van God kom, dat ons altyd baie het van dit wat positief is, om uit te deel. God wil die stoorkamers van ons lewens so vul, dat ons selfs onder druk goeie vrugte sal voortbring. Dink aan Psalm 1: 1 Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, 2 maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink. 3 Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak. Dieselfde kry jy in Jeremia 17: 7 en 8. ‘n Lewe met God as die besluitnemer in jou lewe, ‘n lewe geleef in vertroue op die Here, is ‘n lewe met ‘n voller stoorkamer. Daar is altyd iets in vir ander. 3. Voortbring. Kyk na jou lewe as ‘n stoorkamer wat tot God se beskikking is. Probeer om daardie stoorkamer vol te pak met God se Woord, met die vrug van die Gees. Fokus veral op dit wat Jesus ons leer: dinge soos nederigheid, kindjie wees, om ‘n oordeel vrye sone te skep en en en. Pak jou dag vol met Geesvervulde besluite en leef met God ten nouste saam. Wees soos Jesus se dissipels en nie soos ‘n fariseer nie. Ek het nou verkeerd gesê: Ons is reeds Jessus se dissipels. Sy leerlinge. Wees een wie se huiswerk op datum is, die lesse geleer en geintegreer. En wat uitsien daarna om saam met Jesus deur jou dag te werk. Kom ek bring ten laaste vers 33 en Johannes 13: 35 by mekaar uit. Matteus 12: 33 33 “As julle sê 'n boom is goed, moet julle ook sê sy vrugte is goed; en as julle sê hy is sleg, moet julle ook sê sy vrugte is sleg. 'n Boom word tog aan sy vrugte geken. Johannes 13: 35: 34 Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. 35 As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” Sien die twee sinne raak: n Boom word tog aan sy vrugte geken. 35 As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” Ek sluit af: Wil jy ‘n lewe leef van kyk waarmee jy kan weg kom? ‘n Lewe wat staatmaak op Sy vergifnis terwyl jy dag na dag aanjaag? Of wil jy God so liefhê dat jy die beste kind vir Hom probeer wees wat jy kan? Net omdat jy so lief is vir Hom. Die lewe is nie ‘n veelvuldige keuse vraestel waar jy kan wag vir die laaste opsie: D> All the above. Al die bogenoemde. Daar is nie ‘n tussen in keuse nie.