Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 12: 22 – 31 28 “Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom. Matthew 12:28 The proof of the pudding is in the eating. So die fariseers en skrifgeleerdes kon die ou Testament uit hul kop opsê. Hulle kon die mense die Woord leer. Maar tydens hulle diensbeurt is die duiwel nie oorrompel of terug gedryf nie. Trouens hy het veld gewen. Want van die fariseers en raadslede het agteraf dinge gedoen wat God bedroef het. Byvoorbeeld, die huise van weduwees ingepalm vir hul self. Die hoëpriester en sy gesin was verdink van geld maak uit die verkopers se tafels by die tempel. Voor mense was hulle die vroomheid vanself. Agter af was hulle liefde vir geld groter as hul liefde vir God. Nog ‘n voorbeeld van hul skadukant het kort voor hierdie gebeure afgespeel. Na Jesus die man met ‘n gebreklike hand op die Sabbat genees het, het hulle begin planne beraam om Jesus om die lewe te bring. In Matteus 12: 22 en verder beskuldig hulle Jesus dat Hy met die duiwel se hulp duiwels uitdryf. Dit is die godsdienstige leiers en godsdienstiges wat so praat. Daar is altyd afbrekende mense. Mense wat as dit nie hul aksie of werk is nie afbrekend sal wees of praat. Of as dit nie by hul agenda in pas nie. Ek sê graag: Op pas vir ‘n ridder op ‘n wit perd. Iewers gaan hy of sy dink die doel heilig die middele. Oor een ding stem Jesus en die fariseers saam. Daar is net twee kampe. Of die kant waar Beelzebul, of dan die duiwel besig is. Of God se kant. 1. Die beskuldiging. Die Fariseërs het Jesus agteraf gesê Jesus is aan die duiwel se kant. Wat ‘n growwe belediging. En agteraf boonop. Jesus se koms en Sy lewe het die duiwel stuk stuk terug gedryf. Jesus het die een oorwinning na die ander oor die bose behaal. Kom ek gee ‘n paar voorbeelde. Jesus het voor die begin van Sy aardse bediening Hom self onttrek in die woestyn in. Om te gaan bid. En die duiwel het sy luck kom probeer. En verloor. Die duiwel het van Hom af weggegaan. Jesus het siekes genees, duiwels uitgedryf. Elke soort siekte en kwaal genees. Hier in die gedeelte wat ons saam gelees het ‘n man wat blind en stom was. Die mense het hom as in die mag van ‘n duiwel beskou. Jesus het hom gesond gemaak. So het Jesus ook gewys dat die koninkryk van die hemel deurbreek in hierdie wêreld in. En die Satan en sy donkerte terug gedruk. Die een duiwel na die ander is deur Jesus uitgedryf. Dit is verregaande om Jesus daarvan te beskuldig dat Hy die duiwel se hulp gebruik om duiwels uit te dryf. Ek meen die beskuldiging is tipies van iemand wat agter die deur staan en dan ander van goed beskuldig. 2. Uitgewys. Op ‘n manier voel hierdie gebeure ver van ons lewens af. Wat hierdie verhaal wel in ons lewens intrek is dat daar twee domeine is wat uitspeel. Dat jy of by God is of weg van God af is. Die streep word getrek. Die koninkryk van die hemel wat deurbreek in mense se lewens, teenoor wat ek nou maar die wêreld gaan noem. Petrus sê tog in sy brief, julle is nie van hierdie wêreld nie. Johannes sê dit ook. Kyk mooi na vers 30: 30 “Wie nie aan my kant is nie, is teen My; en wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar. “ Of ons werk saam met Jesus of ons is besig om dit wat Hy doen ongedaan te maak, al bedoel ons nie om dit te doen nie. Of ons help of ons jaag die skape uit mekaar uit, sê Jesus. Daar is nie ‘n tussenin nie. Die fariseers dien as ‘n waarskuwing van hoe geloof kan skeefloop agv eie belange wat belangriker raak as God in jou lewe. As jy goed in laat by die agterdeur wat nie by God se kinders pas nie. Die Bybel sê, as jy die Heilige Gees bedroef. Hartseer maak. Om die beginsel van “as iemand die Heilige Gees bedroef” beter te verstaan, haal ek vir ons ‘n paar verse aan: Stefanus tydens sy verhoor het gesê: (Handelinge 7:51) “Julle hardkoppiges! Julle is heidens in julle harte. Julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees. Soos julle voorvaders gemaak het, maak julle ook. Acts 7:51 Dit is deel van Stefanus se verdediging voor die Joodse raad. Let op drie dinge in die vers. 1) Hulle is heidens in hulle harte. 2) Hulle is doof vir die woord van God. En (3) Hulle weerstaan altyd die Heilige Gees. En nou het dit uitgeloop op ‘n hoogtepunt, of sal ek sê ‘n laagtepunt, hulle het die Regverdige vermoor (vers 52). En in vers 53 sê hy hulle het die wet van God ontvang maar hulle gehoorsaam dit nie. Paulus skryf in Efesiers 4: 30 En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag. Ephesians 4:30 Dit word opgevolg met “31 Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. 32 Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het. Ephesians 4:31-32 Elke verkeerde keuse of gesindheid wat ons toelaat om in ons lewens wortel te skiet, skep die weg vir nog meer en meer dinge/ gewoontes wat ons van God af wegneem. Dit is soos ‘n onkruid in jou tuin. Net een onkruid wat kans kry om saad te skiet, begin ‘n plaag van onkruid in jou tuin. As ek dit omkeer, as jy een nuwe en positiewe gewoonte aanleer, dan word dit dikwels gevolg deur meer en meer nuwe positiewe gewoontes. En in 1 Tessalonisense 5: 19 19 Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. Dit is duidelik dat dit vir gelowiges in ‘n nagmerrie kan ontaard. Dit kom alles neer op in wie se span speel jy. Aan wie se kant skaar jy jou? In hierdie is daar nie ‘n Switzerland nie. Jy kan nie neutraal wees nie. Of jy leef vir Jesus. Of jy leef vir die Bose. Klink dit hard? Ek het gedink dit is. Tot ek besef het. As daar net twee kante is, en ek is nie in Jesus se kant nie, dan moet ek, al wil ek dit nie weet nie, aan die ander kant wees. In die ander span wees. Dit is eintlik verskriklik om Jesus van hierdie dinge te beskuldig. Die klassieke definisie van sonde teen die Heilige Gees is: Dit is opsetlike vyandskap teen die Heilige Gees en ‘n volhardende weiering om die evangelie te aanvaar wat so ‘n punt bereik dat die Heilige Gees Hom van so ‘n mens onttrek. 3. Die sleutel Kom ons kyk net weer na vers 28: 28 “Aangesien Ek deur die Gees van God die bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom.” Aangesien Jesus deur die Gees van God Sy werk doen, siekes gesond maak, duiwels uitdryf, die mense leer soos iemand met gesag. Die sleutel vir jou en my is deur die Gees van God. Om ingestel op die Gees te leef en te leef soos die Gees ons leer. Gehoorsaam God. Leef die woord. Kyk weer na Efesiers 4 se riglyne vir die nuwe lewe. Dit is hierdie riglyne waar Paulus waarsku dat gelowiges nie die Heilige Gees moet bedroef nie. En dan sê hy dinge soos: 31 Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. 32 Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.” Die fariseers was blind vir hulself. Hulle het gedink hulle is reg en hulle is die ridder op die wit perd wat die godsdiens en die volk kan red. En dat wat ookal hulle doen of beplan rondom Jesus hulle doel sal regverdig. Ek en jy moet nie dieselfde fout maak nie. Gehoorsaamheid aan die Heilige Gees, om elke dag ons opnuut oor te gee an God en seker te maak ons bly binne God se wil, maak van ons medewerkers aan die koninkryk van die hemel. ‘n Goeie lewe red nie. Jesus red. Vers 30 bly vir my ‘n harde werklikheid: 30 “Wie nie aan my kant is nie, is teen My; en wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.” Opmerklik is die woorde “wie nie saam met My die skape bymekaar maak nie”. Dalk moet dit vir ons van groter bekommernis wees as om net te weet wat word bedoel met die Heilige Gees bedroef. Die mense om ons moet kan ervaar vanuit ons verhouding met Jesus, dat die koninkryk van die hemel ook tot by hulle gekom het. Aan wie se kant leef ons?