Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 12: 15 – 21 Hierdie een is vir jou. Ek weet hierdie is deel van dit wat Jesus Sy dissipels geleer het, een van die talle lesse. Geleerdes sê Matteus het hier Jesaja 42 se lydende kneg van die Here, hier op Jesus van toepassing gemaak. Mag jy vanoggend ontdek hierdie is vir jou. Vanoggend kyk ons na ‘n woord-foto van Jesus. En om ons foto is ‘n raam wat sommer wys hoe die mensdom kan wees. In hierdie geval die Joodse leiers, fariseers en hul meelopers en hul planne om Jesus om die lewe te bring. Ons kan sien hoe is Jesus in ‘n koue wrede wêreld wat nie veel anders is as ons eie wêreld vandag nie. In die fotos self sien jy Jesus. Jy sien drie dinge in die foto: Dit begin met Jesus wat Hom so ‘n bietjie terug trek om verdere konfrontasie met die Joodse leiers te vermy. Jesus wag vir die oomblik wat God sê dit is nou tyd. Ons kom al nader aan daardie oomblik. So vier hoofstukke verder lees jy dat Jesus sê dit is tyd. Die tyd het gekom. En Hy begin doelgerig pad vat Jerusalem toe. Ek hoop jy sien dat Jesus net wou doen wat God die Vader van Hom gevra het. Dat Sy woorde in Johannes 5: 19, daar waar Jesus gesê het, dat Hy net gedoen het wat Hy eers by die Vader gesien het en dat wat die Vader doen doen die Seun net so. ‘n Ingesteldheid, ‘n voorbeeld, wat die dissipels moes leer navolg en ons vandag ook. Hoe moeilik ons dit ookal mag vind, ons moet probeer en bly bid dat God ons dieper in die doen van Sy wil intrek. So trek Jesus Hom vir eers terug van skares af, of van ‘n te vroee konfrontasie met die fariseers. Baie mense het steeds agter Jesus aangegaan. En so ver Hy gegaan het, het Hy mense gesond gemaak. Het Jesus wonderwerke gedoen. Wonderwerke, genesings, noem dit wat jy wil, wat mense iets diepers van Hom gewys het. As die Here wil sal ons volgende week by so een stilstaan waar die mense in reaksie gesê het: 23 En die hele menigte mense was verslae en het gesê: “Is Hy nie miskien die Seun van Dawid nie?” Maar dis is DV volgende week. Jesus het die mense verbied om van die genesings in die openbaar oor te vertel. Wat sien ons nog in die prentjie van Jesus wat Matteus hier skep? Die Gees van God sal op Hom rus en Hy sal God se wil aan die nasies bekend maak. Nie meer net aan Israel nie. Maar aan die nasies. Die nasies sal God se wil hoor. En die nasies sal hoop vind in Hom. Jesus het nie maar net vir ‘n paar gelukkiges, byvoorbeeld net vir die Jode gekom nie. Hy het ‘n nuwe lewe vir almal kom skep. Van die begin af het die Here vir Abraham gesê: Jy sal tot seën wees vir die nasies. Die Jode het dit op net hulself van toepassing gemaak. Hulle het hul visie dat hul God na die wêreld toe moes neem laat wegraak. Ek en jy is deel van die ander nasies. Ek en jy is deel van die wat by Jesus die wil van God leer ken. As jy terugblaai na die Bergrede, Matteus 5 - 7, dan sien jy dat Jesus die mense God se wil soos dit van die begin af bedoel was kom leer het. Hy het keer op keer gesê: Julle het gehoor dat daar gesê is ... maar Ek sê vir julle. By Jesus leer jy die volle bedoeling van dit wat God verwag van mense. In eenvoud. Sonder moets en moenies en regulasies en bepalings. Uitgekristaliseer, opgesom tot liefde vir God en liefde vir jou medemens. En as my medemens volgens die gemeenskap nie werd is om lief gehê te word nie? Jy mag nie oordeel nie sê Jesus in Matteus 7. Dit is God se werk. Ons werk is om lief te hê. Ons werk is nie om soos die Fariseers mense met hul sondes te misbruik en te veroordeel om gestenig te word, soos met die vrou in owerspel betrap, nee, ons werk is om genade te wees soos Jesus die vrou genade betoon het. En ja, sy moes ophou met haar sonde. Dit is liefde. Dit is om nie die geknakte riet te breek nie. Net kinders doen dit. Jy weet mos hoe maak ‘n kleintjie? As hulle ‘n skeurtjie in ‘n bank of iets ontdek dan sukkel hulle met dit tot dit groot opgeskeur is. Die kleinkinders se verjaarsdag is by my gevier. Ek sien na die tyd ‘n stuk bamboes wat gebreek is. Ek onthou die bamboes was geknak maar ek het gedink dit ek sal nog tamaties met dit kan oplei. Die kleinkinders het die geknakte riet heeltemal gebreek. Want dis mos klaar stukkend. Dit is nie vir my en jou om geknakte mense verder te breek nie. Ons weet nie wat Jesus met hulle nog kan doen nie. Soos met Petrus na die opstanding. Soos met jou en my. Hoor dit dalk net weer vanoggend. Maak nie saak wat skeefloop in jou lewe nie. Kom terug na Jesus. Of bring dit net na Jesus toe. Met vertroue. Met hoop. Want Hy sal jou nie breek nie. Hy sal jou heel maak. Die foto van Jesus wys vir ons Hy maak mense gesond. Hy maak mense heel. Hy vergewe mense. Hy sal nie die laaste bietjie lig wat jou lampie nog dapper probeer uitstoot doof nie. Hy sal jou eerder weer vul en helder laat brand. Kom na Jesus toe. Hy is ons hoop. Matteus eindig hierdie deel met: (en ek haal aan) 21 “En op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.” Kan ek net weer vra: Wat lê tussen die twee dele? Tussen vers 15 en 21? Jesus se andersheid. Selfs anders as wat jy dalk vandag dink of voel oor Hom. Ek het in ‘n boek, Die groot boek van illustrasies van die lewe vir die lewe, die volgende storie van Malcolm Muggeridge raakgelees. Dit gaan so. Volgens ‘n legende het ‘n man verdwaal en in ‘n gat dryfsand geval. Confucius het die man se verleentheid gesien en gesê: Dit is duidelik dat ‘n mens so ‘n plek moet vermy. Boedha het verby gekom en gesê: Laat die man se ellende ‘n les wees vir die res van die samelewing. En nog ‘n ander leier sou gesê het: Ongelukkig is dit die wil van God. Jesus het daar verby gekom en vir die man gesê: “Vat My hand, Ek sal jou red!” Mooi storie. Hartseer ook. Die realiteit is dat dit wat die wêreld het om te bied, wat wêreldgodsdienste het om te bied, laat mense net meer soekend. In die gedeelte wat ons as die Here wil volgende Sondag gaan behandel, spesifiek vers 22 en 23, lees ons hoe Jesus ‘n man wat blind en stom was gesond gemaak het. En die omstanders was verslae en het vir mekaar gevra: Is Hy nie miskien die Seun van Dawid nie? Waar ek vandag aan die hand van Matteus 12 vir jou ‘n prentjie kon teken van Jesus, en van hoe Hy tsv die fariseers se komplotte teen Hom en tsv verwerping, mense steeds in liefde gedien het, is dit vir jou en my om ten laaste ook ons Vader se foto van Jesus te sien. Vers 18. En jy kan terug gaan na Matteus 3: 17 na Jesus se doop. Jesus is die Geliefde Seun van God. God verheug Hom oor Jesus. En nou moet jy besluit is Jesus wat hier staan of is Hy net ‘n gewone mens? En as jy in hierdie foto die Seun van God raaksien, dan is dit vir jou en my om Hom te dien en soos Hy mense te gaan hanteer. Om heel te maak en nie met praatjies of dade mense verder te breek nie. Want glo my, elke mens is iewers al geknak. Begin dan ook by jou self sodat jou gebreektheid nie oor ander onskuldige mense bloei nie. Kom na Jesus. Hy sal jou seer en stukkendgeid genees.