Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1 TESSALONISENSE 2: 5 -13. ‘n Vriend van my was op ‘n keer op pad na ‘n ontbyt saam met ‘n ander vriend. Hy het ‘n bedelaar by ‘n robot in Vereeniging opgelaai en saamgevat na die ontbyt by ‘n Wimpy. Die outjie was ‘n dwelmverslaafde en was al lank op straat. Lang storie kort gemaak. Die outjie het sy lewe vir Jesus gegee. Hulle het vir hom ‘n werk geskep en gehelp om ‘n nuwe begin te maak. Alles was wonderlik. Die genade was groot. Die outjie was aan die brand vir die Here. En die twee vriende het ‘n verskil in die man se lewe gemaak. Tot op ‘n dag. Toe val die outjie van die wa af. Hy is weg by die werk terug strate toe. Na ‘n ruk weer terug gekom want die Here laat los nie iemand nie. Hulle het hom weer deur rehab geneem. Weer gehelp. En eventueel het hy weer bedank en ek het kontak met sy storie verloor. Dit is hoe ek na al die jare die storie onthou. Soos ek sit hierdie week met die vraag: Hoe sê ‘n mens dankie vir die Here? Dankie vir Sy vêrsiendheid deur die nagmaal vir ons te gee. Kom hierdie verhaaltjie weer terug. En ek wonder: Wat as ons padjie soos die outjie in my storie verloop het? As ek die wonder van nagmaal mis en lukraak laat verby gaan. As ons God se tweede en 100ste kanse so blaas? Wat as dit wat God in ons lewens wil sien na nagmaal en na ons bekering, net nooit in ons lewens gebeur nie? Ek besef dinge is nooit so eenvoudig nie. Mense leef bloot wat binne in hulle leef uit. En tog is dit ook so eenvoudig. As Jesus in ons leef, leef ons anders. Dan staan of val alles in ons lewens by of ons werklik glo in Jesus. Of ons die evangelie ontvang het met die oortuiging dat dit nie mense woorde is nie, maar die Woord van God. (vers 13) Alles staan en val in ons lewens by of ons Jesus glo, of nie. Paulus gebruik in hierdie deel twee mooi beelde. Soos ‘n ma. Soos ‘n pa. Kom ek vra, na aanleiding van 1 Tess 2: 9-13 wat, volgens vers 11, doen ’n pa vir sy kinders? Die teks sê: Bemoedig/ aangespoor/ op die hart gedruk. The Message vertaal vers 11 soos volg: “Holding your hand/ whispering encouragement/ showing you step by step how to live well before God”. Gaan dink aan mense wat 'n positiewe invloed op jou lewe gehad het. Dalk 'n lewensveranderende invloed. Wel dis jou beurt om dit te wees vir mense waarmee jy elke dag te doen kry. Dis jou beurt om soos ‘n Paulus mense se lewe te gaan beinvloed. En ja, jou invloed maak regtig saak. Dit is presies die punt wat Paulus hier maak in 1 Tess 2. ‘n Ding wat ons maklik vergeet is dat Christenskap gaan oor verhoudings. Die grootste verhouding is met God. Om in Jesus te bly en Hy in ons (Joh 15). En dan om mekaar lief te hê soos Jesus ons liefhet (Joh 13: 34, 35.) Slegs hieraan sal mense weet dat ons Jesus se dissipels is. In die oggendboodskappies hierdie week het ons gekyk na selfverloëning. Kom ons gebruik dit vanoggend weer as voorbeeld. As mense na ons kyk, kan hulle sien dat ons onsself verloën ter wille van Christus? Of het ons in hierdie week net Jesus se leiding meer gemaak met ons sondes en self gerigte lewe? Vir wie was ons ‘n voorbeeld. Niks meer hulle of julle nie ... niks meer myself handhaaf ten alle koste nie ... net dood gewoon lief te hê ... jou lief te hê soos ek myself lief het. Ons weet dit. Gaan lig jou lewe ... en begin liefhê soos Jesus jou lief het ... en begin selfs goed te doen aan hulle wat jou ondergang sal geniet. Ek vra nie van jou wat ek self nie vanuit God se genade gaan leef nie. Die Here Jesus het met groot opoffering en pyn Sy lewe gegee om ons te red ... en ons stap net tien tree weg ... of dis paar dae na nagmaal, en ons gooi die nuwe lewe en al die vergifnis en al God se liefde in Sy gesig terug deur terug te gaan na ons ou manier van lewe en ons wereldse maniere van mense hanteer. Besef jy, dat al dink jy niemand stel belang in jou nie, is jy steeds iewers ‘n voorbeeld vir iemand? Maak dit ‘n voorbeeld van Christus al is daar niemand wat toe kyk nie. God is daar en sal sien hoe jy Hom uitleef. Vanoggend kyk ons na die spore wat ons trap ... waar hulle loop, hoe hulle loop en die effek wat ons op mense het. Ons leer uit Paulus se woorde ‘n paar dinge: Tree op soos 'n ma. Miskien is dit dalk gevaarlik want wat die griekse woord wat ons met “vertroetel” vertaal beteken eintlik “borsvoed”. Die punt is ons moet teenoor mekaar ... teenoor mense optree soos vs 7: “ons was liefdevol en sag teenoor julle soos ’n ma wat haar kinders vertroetel.” Twee woorde is hier vir ons belangrik: “liefdevol” en “sag”. Of ek kan die beginsel anders stel: met “sagte oë”. Dis hoe Jesus teenoor ons optree. Dis hoe Hy oor ons voel! Kom ek help met ‘n storie van ‘n ma in Glasgow, Skotland: ’n Tienermeisie het moeg geword vir al die beperkings in haar huis en gesê: “I don't want your God. I'm leaving!” Dinge het aanvanklik rooskleurig begin, maar sy het uiteindelik ’n prostituut geword. Die jare het verby geglip, haar pa het doodgegaan, haar ma het ouer geword… Die ma het egter nie opgehou soek nie. Uiteindelik het sy gehoor dat haar dogter iewers in Glasgow se agterstrate lewe. Sy het by elke tuiste vir haweloses ’n plakkaat met haar eie foto opgesit. Op die plakkaat was geskrywe: “I love you still.., come home!” Maande daarna sien die dogter die foto van haar ma. Toe sy woorde daarop lees, het sy begin huil. Dit was te goed om waar te wees. “Na alles wat ek gedoen het…” Sy het laat aand by ’n donker huis aangekom. Toe sy die deurknop draai, het dit oopgegaan en sy is dadelik na haar ma se kamer toe… Albei het gehuil en mekaar vasgehou. Die dogter het eerste gepraat: “I was so worried! The door was open and I thought someone had broken in!”Die ma het saggies geantwoord: “No dear. From the day you left, that door has never been locked.” Dit is hoe God met ons is. Dit is hoe die Here dit wil hê in hierdie gemeente. Dat ons alle mense met ope arms moet ontvang. Maak nie saak wat hulle gedoen het nie. Al het hulle presies soos ons opgetree ... moet ons hulle met dieselfde vergifnis en liefde en sagtheid ontvang waarmee Jesus ons hanteer. En nee, dit gaan nooit oor jou of my nie maar oor God. So gaan begrawe maar jou brose ego en gaan veras jou eie Ek. Want daardie ego en daardie eie Ek gaan jou die ewige lewe kos. Paulus gebruik ook 'n tweede beeld: die van 'n pa. (Sien vers 11,12) “Net so weet julle ook hoe ons elkeen van julle behandel het. Soos ’n pa sy kinders, het ons julle bemoedig, aangespoor en dit op julle hart gedruk om tot eer van God te lewe…” 11 Julle weet goed dat ons vir elkeen van julle lief was soos ’n pa lief is vir sy kinders. 12 Ons het met julle gepraat soos ’n pa met sy kinders praat. Ons het gesê julle moenie moedeloos word nie, julle moet aanhou probeer. Ons het gesoebat dat julle so moet lewe dat God tevrede sal wees met julle. Want dit is Hý wat vir julle gekies het, Hy wil julle Koning wees en oor julle regeer.” (Bybel vir Almal) Dit laat my dink aan wat ene Rabbi Nachman gesê het: “It’s easy to make them feel unwanted. Anyone can do it. What takes effort and skill is picking them up and making them feel good.” Drie woorde is hier belangrik – bemoedig, aangespoor en op julle hart gedruk. Dis waarmee ons moet besig wees. Mense moet net goeie goed kan praat oor Jesus se gemeente. Dit beteken ook dat ons die dinge van vers 5 tot 6 versigtig voor moet wees: 5 “Met vleitaal het ons ons nooit opgehou nie, soos julle trouens weet. Hebsug was nooit ons verborge motief nie; daarvan is God ons getuie. 6 Ons het nooit daarna gestreef dat mense ons sou eer nie, of dit nou julle is of ander ...” Dit vat ‘n eerlikheid voor God om die dinge in jouself raak te sien. En dan ‘n gebrokenheid. En dan vloei die ware dankbaarheid. Die soort dankbaarheid wat net vir Christus leef. Net God wil vreugde verskaf deur hoe ek leef ten koste van myself ten gunste van God en die wat Hy kies om op ons pad te plaas. In vers 13 dank Paulus die Here gedurig oor die gemeente in Tessalonika die boodskap van God aangeneem het .... En ek wonder of ek in die weke wat kom God ook so sal kan dank vir ons dankbaarheid jeens Hom wat deurbreek in hoe ons God se woorde aangeneem het. Oor ons gehoorsaamheid aan Hom en ons soos-Jesus-liefde en ons soos-Jesus-omgee en vergifnis. Oor ons dankbaarheid vir die feit dat ons nog lewe. En ek bid dat mense eendag voor God sal kan sê ... dankie Here dat U so en so (en ek sit jou naam hierin) oor my pad gestuur het. Dankie vir jou voorbeeld.