Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
2 Johannes 1 -6 Aan die uitverkore vrou. Die ding wat mense sekerlik die meeste pla met ‘n troue, is daardie tydjie, of ure wat die troupaartjie gaan fotos neem. Dit voel soms ondraaglik lank. Mense staan baie keer styf en ongemaklik rond. Deesdae het hulle slim geraak en sit hulle vir hul gaste stoele in ‘n tuin uit, ‘n drink dingetjie. Daar is canapes om te geniet. Sommiges noem dit ‘n broodtafel. En so begin die kuier. Ek dink soms dat mense gesteur voel as hulle in die onthaalsaal moet ingaan want hulle kuier net te lekker. Kom ons sê ek en jy is by hierdie troue. En ons wag vir die Bruidegom. En terwyl ons wag hoef ons nie styf en ongemaklik rond te staan nie. Daar is vir ons ‘n broodtafel. ‘n Baie spesiale een. Spesiaal want dit herinner ons aan die Bruidegom se liefde vir ons. Ons staan by die tafel van genade. Ons is vandag se uitverkore vrou … God se gemeente … Sy bruid wat wag op Sy koms … Vandag kyk ons in ons rond. En ons maak seker dat ons alles in plek het vir Jesus om op te daag. Ons wil nie soos die 5 dwase meisies in Jesus se gelykenis wees nie. Ons wil nie onkant gevang word nie. Ons wil met verlange die pad dop hou vir ons Geliefde Here se koms. By hierdie geleentheid ontdek ons dat ons spesiaal is. Uitverkore. 1. Uitverkore. Dit is vir my van die mooiste woorde om in die Bybel te lees en te weet dat ons vandag ons eie kan maak. Dit is op ook ons gemik. Vir ons bedoel. God kyk na ons as Sy uitverkorenes. Paulus sê dit ook. Gelowiges, ons, is uitverkies en ons is geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is (Efes 1). Of in sy tweede brief aan Timoteus dat ons gered en geroep is om aan Hom toegewy te wees. Ons is God s’n. God. Heilig. Almagtig. Ewig. Skepper. En veel meer. En Hy kies om met sondige nietige ongehoorsame mensies soos ek en jy ‘n pad te loop. Om ons Sy kinders te maak. Ons Sy uitverkorenes te noem. In Openbaring is ons as kerk Sy bruid. Kosbaar. En hier voor my lê brood en ‘n beker wyn … wat ons waarborg is dat alles wat God belowe … so is vir ons. Dat as ons in Sy Seun glo ons deel is van die uitverkore vrou, Sy bruid. En as bruid van Christus treë ons anders op. Straal daar iets anders uit ons uit. Want daar het alreeds iets van Jesus in ons lewens tuisgekom. Afgevryf op ons. 2. Herkenbaar aan die liefde. Die Griekse woord peripatein (om te leef of te wandel) kom drie keer voor in hierdie paar verse. Dit is belangrik. Juis dit wat vir Johannes bly gemaak het is om gemeentelede raak te loop wat leef soos Jesus van ons verwag. Of in mooier taal gestel: Wat leef in ooreenstemming met die waarheid. Ons moet leef in die waarheid. Ons moet die liefde leef. Daarmee bedoel hy dat jy Christus leef. God se liefde leef. Dit sal die bewyse teen ons laat opstapel sou iemand ons ooit oor ons geloof wou verkla. Die toets vir egte Christenskap is om in liefde te leef. Hoe lyk liefde? Paulus sê dis geduldig, hou nie boek van die kwaad nie. Dit hoop alles, verdra alles. Kyk ons na Jesus dan sien ons hoe Hy die wat hom kruisig vergewe. Ons sien dat Hy nooit terug beledig het nie, nooit gedreig het nie (1 Petr 2). Ek sien hoe Hy die skare innig jammer kry en hulle diepste nood aanspreek deur hulle te leer. Ek sien hoe Hy terugtrek na die nuus van Johannes die Doper se dood Hom ontstel het. En as die skare daar opdaag, dan gee Hy Homself weer en Hy leer hulle. Ek lees in Fillipense hoedat Hy alles in die hemel prysgegee het om mens te word. En ek kyk hoe Hy my ‘n egskeiding en nog baie ander sondes vergewe het en my tweede en derde en duisendste kanse gegee het en ek weet … ek weet Hy het my lief. Ek ervaar dit. Ek “sien” dit. En dit is wat liefde is en doen. Mense beleef dit by jou. God wil hê die wêreld moet dit by jou beleef. Ware Christelike liefde is `n ten-spyte-van-liefde. Dit word gemotiveer deur God se liefde vir my. Dit is om eerste lief te hê, soos wat Hy my eerste liefgehad het. Dit beteken ook om myself te gee vir ander, soos wat Jesus Homself ter wille van my gegee het. Dit is om jouself, jou tyd, jou gawes, jou geld te gee ter wille van hulle wat op jou pad kom. En jy gee jouself ook vir hulle wat jou ook irriteer, jou rus verstoor, en selfs hulle wat jou vyande is. Dit is hoe ons leef. Hoe ons is. Dit is ons DNA. 3. Van die begin af. ‘n Mens hoor Johannes se sagte wysheid. Hy help ons om te verstaan dat ons nie gevra om onbekende terrein te betree, of iets nuuts aan te pak wat nog nooit getoets is nie. Dit is nie ‘n nuwe wet wat op ons afgedwing word nie. Dit is net nog altyd so. Nog altyd het God se mense hier volgens gelewe. Ons moet mekaar liefhê. Liefde is om te leef soos God in Sy groot wysheid vir ons leer. Liefde is meer spesifiek om volgens die gebooie van God te lewe. Ook dit is niks nuuts nie. God het nog altyd verwag dat ons sal leef soos Hy vir ons sê. En in Johannes evangelie vind jy Jesus aan die Woord met : 21 “Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.” En weer in vers 23: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24 Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s'n wat My gestuur het. Kom ek verduidelik met ‘n beeld. Shiro en Madelyn Die mense van die eiland Aka, dit is in die Okinawa omgewing, die mense daar het ‘n monument opgerig ter nagedagtenis aan ‘n hond genaamd Shiro. Die storie gaan so. Shiro se baas mnr Nakamura het die eiland Zamami besoek . Shiro was saam en het daar verlief geraak op Marilyn. Na die besoek het die mense hom gereeld gekry waar hy deurswem na Marilyn toe en dan weer terug. Daar is selfs’n rolprent oor hom gemaak. Dit het meegebring dat al hoe meer toeriste van oor die hele Japan afgekom het om hierdie eilandjie te besoek. En natuurlik was dit ‘n goeie inkomste vir die eilandbewoners. Shiro is dood op 26 November 2000. Hy was toe 17 jaar oud. En daarom het die mense van Aka toe ‘n standbeeld opgerig op die plek van waar Shiro altyd begin swem het as hy vir Marilyn gaan kuier het. Shiro se liefde vir Marilyn het mense aangegryp. Hulle kon nie honde taal praat nie. Maar hulle kon sien. Hulle het gesien hoe hy elke dag, maak nie saak hoe die weer was nie, die 3km oor die seestraat geswem het om by Marilyn te wees. Wat hulle gesien het het hulle oortuig. ‘n Groot liefde trek mense. In Johannes 13 sê Jesus: 35 As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” Nee, nie aan ‘n standbeeld iewers nie. Jesus het nie ‘n standbeeld nodig nie. Ek en jy is Sy “standbeeldjies”. Ek en jy is voorbeelde van Sy liefde. Ons laat mense aan God dink met ‘n goeie gevoel. Want hulle sien God se liefde in aksie. Hulle sien hoe ons elke dag moeite doen om mekaar te help dra aan swaar goed, saam met mekaar bly is, nie boekhou van die seer wat jy in my lewe veroorsaak het nie. Vanoggned vier ons nagmaal. Deur Jesus self gegee om ons te herinner aan hoe lief Hy ons het. En elke keer wat ons die nagmaal sien … weet ons … ook ons is deel van Sy uitverkore vrou. Amen.