Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Romeine 4: 13 - 25 Geloof. ‘n Geloof wat ‘n verskil in jou lewe maak. As die Here ons dit gun vier ons volgende Sondag nagmaal. Vanoggend begin ons selfondersoek doen. Dit is nie net belangrik vir die nagmaal nie. Dit gaan ons ook bring by ‘n besef hoekom ons dinge doen soos ons dit doen. En dalk gaan ons weer van vooraf oor wil dink oor wat ons doen. Ek wil begin by ‘n feit: Sonder God se genade wat Hy verniet sonder dat ons dit verdien vir ons gee sou ons dood wees ... en ewig dood ook. Geloof is die hand waarmee ons die genade ontvang. Ek moet dit sê want die Woord is duidelik: Ons word vrygespreek deur geloof. Johannes 6: 47 Wie in my glo het die ewige lewe. Maar as jy net glo ter wille van die ewige lewe verarm jy jou lewe totaal. Kom ons kyk. Kom ek vra die vraag wat baie mense nie wil vra nie maar tog binne in hulle dra. Hoekom moet ek glo? Of sal ons sê hoekom moet ek nogsteeds glo? Ek vra die vrae want daar is baie mense, goeie oulike mense wat weg geraak het uit die eredienste uit. Wegdryf van God af want, so lyk dit vir my, God doen dit net nie meer vir hulle nie. En God se kerk doen dit definitief nie meer vir hulle nie. So volgens hulle lê die fout by jou en by my. En ek vermoed hulle sien te min van God en te min geloof in ons lewens. Hulle ervaar te min liefde en teveel veroordeling in mense se los praatjies. As ons ernstig is oor God, dan moet ons ernstig by God gaan pleit dat Hy ons lewens kom verander. Dat Hy Sy vrug in ons uitwerk. Ek besef elke dag meer en meer, ek wil nie hemel toe gaan – dws hemel soos in baie mense daaraan dink nie, bv as hierdie idilliese plek nie – ek wil ten volle by God wees. Ek wil God duidelik kan sien en toegevou wees in Sy teenwoordigheid. Ek wil Hom kan aanbid sonder alles wat my vandag pooitjie. In Johannes 17 sê Jesus: “En dit is die ewige lewe. Dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus wat deur U gestuur is.” Soos jy ook, wil ek solank ek nou kan God ken en met God leef al is dit net ten dele. Dit gaan vir my oor God. Daarom gaan vandag en elke dag vir my ook oor God. Maar kom ek antwoord die vraag: Hoekom moet ek nogsteeds glo? Ek gaan reguit sê hoekom ek glo. En dan aan die hand van Romeine 4 en Abraham se lewe ook sê maar dit is hoekom ‘n mens glo. En dan, nou dat ons weer duidelik voor oë het hoekom ons glo, gaan ons volgende week DV nagmaal gebruik. Hier is my redes: 1. Christus gebruik geloof om ‘n verhouding met my te hê en deur geloof het ek ‘n verhouding met die lewende Here. 2. Deur uit geloof te leef wys ek vir ons Vader dat ek weet, Hy, beter as ek weet, hoe ek my lewe moet lewe. 3. Glo is hoe ek my oopstel vir God om ‘n verskil in ander se lewens te maak. 4. Geloof is die bakhande waarmee ek God se genade ontvang. 5. Geloof is die bakhande wat ek oop hou vir die wêreld om te kan neem wat God ook vir hulle wil gee. 6. Glo is hoe ek my eie-Ek afsterwe en my ware self ontdek, vry van maskers en die mure wat ons so graag om ons bou. 7. Geloof maak dat ek nie begaan is oor myself nie want ek weet God sorg vir my. 8. Geloof is waarmee ek na die nuwe bloeisels kyk en werklik weet God sorg selfs nog beter as dit vir my. En so kan ek aanhou ... geloof is al wat ek, Carlie Schiel het, om vir die wêreld te bied. En selfs my geloof, is ‘n geskenk van God. Ek leef uit God se genade alleen en deur en uit geloof alleen. En ek is oortuig dat jy nou ook sê: Maar dis ek ook! Dit is ook jou belydenis. As genade alleen ons red ... Jesus se genade aan die kruis en opstanding ... as geskenk aan ons gegee ... ons red ... waar pas geloof in? Paulus is besig om te redeneer dat die wet en genade radikaal teenoor mekaar staan. Dit bots. Daar is geen tussenin waarin jy kan glo en nog kan help om gered te word deur feesdae en Sabatte te onderhou en sekere Joodse dinge na te kom nie. Dis of die hele wet, dws die hele ou Testament, of net die genade van Christus. Nou skryf Paulus: Abraham is vrygespreek omdat hy in God geglo het (4:3). Sien raak ... dit is baie belangrik om te sien ... die inhoud van Abraham se geloof was nie net dat God bestaan nie. Dit was spesifiek oor Abraham God se beloftes aan hom, geglo het en daarvolgens opgetree het. Vanaf vers 14 brei Paulus uit oor die belofte wat Abraham ontvang het en waarin hy geglo het. Die eerste wat Paulus duidelik maak, is dat Abraham nie die belofte ontvang het omdat hy die wet onderhou het nie. Hy het dit op grond van sy geloof ontvang. Die belofte kan nie deur dit wat jy doen, bv deur die 10 gebooie te onderhou, ontvang word nie. Dit is of die een of die ander. Of geloof alleen, of wetsonderhouding alleenlik. Jy kan nie glo en vertrou dat God jou sal red en dan probeer om jouself te red nie. Deur jouself deur wetsonderhouding te probeer red, maak jy dit daarom duidelik dat jy nie werklik glo dat God jou sal vryspreek uit genade nie. Daar is slegs een manier om by God uit te kom – is deur te glo in dit wat God belowe. Het. En Jesus is die vervulling van God se beloftes. Dit is hoekom Paulus dit oor en oor sê: Abraham het uit die geloof gelewe toe hy op God se beloftes vertrou het. Selfs toe hy al klaar te oud was om kinders te verwek, het hy geglo God kan die ontmoontlike doen (vers 19). En ja. God het Abraham se geloof versterk. Gaan lees gerus weer vers 20. En God sal ook jou geloof versterk. Neem Hom net op Sy Woord. Abraham het aan God se belofte vasgehou (vers 21) en daarom is hy vrygespreek (vers 22). Ons lees in Genesis van verskillende beloftes wat God aan Abraham gemaak het: Die eerste is dat hy ’n seun sou hê; die tweede dat hy ’n groot nasie sou word, Kanaän sou beërwe, geseën sou word en ’n seën vir alle volke op aarde sou wees. En Abraham het God geglo. Hy het God op Sy Woord geneem. En toe God sê pak jou goed en trek na ‘n land wat ek jou sal wys. Toe pak Abraham sy goedjies en trek. Want hy het God geglo. En God het Woord gehou. In die slotverse maak Paulus dit duidelik dat Abraham se vryspraak nie net ter wille van homself was nie, maar ook vir alle gelowiges wat in die geloof leef dat God Jesus uit die dood opgewek het. Daarom is hy die vader van alle gelowiges. Deur geloof in God, die absolute sekerheid by ons dat ook hierdie God se gemeente is en ook ons elkeen individueel aan God behoort, het ons deur die Covid pandemie sover gekom. God alleen. Genade alleen. Geloof alleen. En op hierdie oomblik vat ek Jesus op Sy Woord dat Hy mense sal oprig as Sy dissipels en dat Hy deur die Heilige Gees hier ‘n nuwe reformasie, ‘n herlewing sal begin. En dat Hy ons sal verder dra in hierdie vreemde tye wat ons oorval het. En in die afgelope week het ek God gevra om by my te begin en dan ook by jou wat vanoggend sit en luister. Ek het gebid dat God jou geloof sal versterk ... soos Jesus vir Sy dissipels gebid het ... en dat ons tot inkeer sal kom en sal begin om soos Jesus te leef. Absoluut uit God uit te begin lewe. Volgende Sondag doen ons ‘n geloofsdaad. Ons gaan ‘n stukkie brood neem en ‘n klein bietjie wyn of druiwesap en ons gaan glo dat God ons daarmee gaan versterk. En ons gaan in geloof vir God dankie sê vir vergifnis, en vir die voorreg om sy kinders te mag wees. Geloof gaan ook wees om ‘n klein stukkie brood en wyn te neem en in handafwagting op God oortuig te wees dat God iets groots in onns en vir ons sal oopbreek.