Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Vrouedag 2021 Verskeie tekste Ons lees vir ‘n invals punt, Spreuke 31: 10, 28 - 31 More is vrouedag. En Augustus is vroue maand. Kom ons vier vandag vrou wees deur ons vrouens en moeders te eer. En ons doen dit deur na 'n klompie vroue in die Bybel te kyk ... en by hulle te leer. Vra jouself, wat sien ek in hulle optrede van God se bedoeling met 'n vrou. En as vrouens, vra ons ook, wat wil U Here, vir my sê in die voorbeelde. En as mans, Here, help my om haar meer te waardeer deur als wat U my leer uit hierdie voorbeelde uit. Ons begin met Salomo se vrouens, en ons vat hulle een vir een. Kom ons begin by nommer een. Haar naam was ... Nee. Okay, ek sal ernstig wees. Kom ons hou die volgende ingedagte. Ek gaan dit net noem, dis die meer negatiewe. Ek dink nie dit was die Here se bedoeling dat die vrou: • Al haar begeertes bevredig moes hê rakende sekere goed wat vir haar so aanloklik of mooi lyk nie. Soos Eva met die verbode vrug of keuse. Of as jy nou daardie paar skoene net moet hê, al is dit jou 100ste paar. Ps 23 sê so mooi ons het genoeg, ons kom niks kort nie. • Of soos Herodias jou dogter gebruik om jou aanklaer se kop op 'n skinkbord te eis nie. • Of soos Mikal wat vir Dawid dinge smalend dinge toe gesnou het oor sy dansery voor die ark van die Here. (Lg het ook positiewe dinge gedoen). (2 Sam 5: 20) • Of soos 'n Delila verraad en dood probeer bewerk. En die man wat vir jou lief is verraai en uitlewer nie. Kom ons kyk eerder positief. En ons begin by Sippora. Haar man was Moses. In Eksodus 4: 24 – 26 lees ons hoe sy haar man se lewe gered het. Die Here wou daardie nag vir Moses dood maak. Moses was so besig met wat hy in Egipte moes gaan doen het dat hy die basiese van die verhouding met God nie na gekom het nie. Hy het nie sy seun besny nie. Hy het die verbondshandeling nie na gekom nie. Dit is sy vrou Sippora wat die situasie red. Nie Moses nie. Sippora red Moses se lewe en haar gesin deur te besef wat aangaan en die seuntjie te besny en so die verbondshandeling te voltrek. Ragab, 'n dame met minder goeie sedes. 'n Prostituut. Dalk is dit onregverdig om haar so uit te wys synde ons nie weet of sy die beroep gekies het of dalk daar in gedwing is deur omstandighede nie. En tog gaan staan sy met haar besluit in vir die voortbestaan van haar familie. Nee, ek praat nie van haar ongure beroep nie. Sy het die twee verkenners weggesteek. En voor hulle kon verder gaan, toe vra sy hulle dat hulle met 'n eed voor die Here moes belowe om haar en haar gesin te spaar. Jy kry haar storie in Josua 2. So red sy haar gesin. Ek haal haar aan omdat sy in die Here se geslagsregister opgeneem word. Definitief nie oor haar beroep nie. En ek wens ek het geweet hoe haar storie verloop het, en watter keuses sy gemaak het, na die val van Jerigo. Het sy toe ook die Here gedien? Moet ek iets oor Rut sê? Sy bly getrou aan haar skoonma. Sy stap weg van haar eie volk en mense af weg. Sy hou haar troubelofte aan haar man selfs na sy dood. Tenspyte van haar hartseer oor haar eie man se dood, dien sy God. Versorg sy Naomi. Al moet sy oorskot koringare optel saam met ander weduwees om te kan oorleef. En dit in 'n vreemde land, afgesny van haar eie mense. En God het haar geseen. Ook sy kom van buite Israel af in God se volk in. Ook sy is in die Here se geslagsregister al is sy 'n Moabiet. En vir haar trou aan haar skoonma. Ook Rut het 'n nuwe koers aan haar lewe en haar gesin gegee. God sien elke vrou, elke mens, individueel aan. God sien vir jou raak. God sien jou keuses, jou opofferings en iewers ontdek jy dat God jou seën en nuwe deure oopmaak. Een van die mooiste voorbeelde van die waarde van 'n vrou en ma is Abigajil. 1 Samuel 25. Hier is ‘n paar beskrywings wat ek aanhaal oor haar man. Sy was eers getroud met 'n knorpot met die naam van Nabal. Die Bybel sê Nabal was “'n regte korrelkop en onbeskof”. En “hy is so 'n verkeerde man dat 'n mens nie met hom daaroor kan praat nie.” (vers 17). en “Hy is netsoos sy naam. Sy naam beteken dwaas, en dwaas is hy.” (vers 25) Ek vermoed sy het maar swaar gehad onder Nabal. Nabal het van Dawid se manskappe grof beledig en weg gejaag. Vers 10, 11. En Dawid was sterk oppad om met vierhonderd gewapende mans hierdie ongure karakter te gaan uitsorteer. Weet jy wie het die situasie gered? Abigajil. Die vrou wie Nabal as man gehad het. Haar vinnige optrede. Hoe sy Dawid tegemoet gegaan het met kos en voorrade. Hoe sy gaan pleit het dat Dawid haar en haar gesin sal spaar. Dit het die dag gewen. En dit is hoekom Nabal se werknemers agter sy rug met Abigail gaan praat het oor wat aan die gebeur was. Sy het die dag gewen. Dawid het van sy planne afgesien. Maar die Here het Nabal se lewe geneem. Dawid het haar later as vrou geneem. Van Abigajil word gesê “Die vrou het 'n goeie verstand gehad en sy was mooi ...” (vers 3) So dink ek aan die Siro-Feniese vrou. Die Bybel laat haar naamloos. Oorlewering uit die derde eeu na Christus beweer dat haar naam Justa, was. Die Here Jesus het haar weg gewys, tot driemaal, maar sy het aanhou pleit en aanhou glo dat Hy haar dogtertjie van duiwelsbesetenheid kan genees. En Hy het. Sy is die enigste vrou en net een van twee mense van wie Jesus ooit gesê het sy het 'n groot geloof gehad. (Mark 7: 24 – 30) En met daardie geloof het sy haar kind gered. “Mevrou, sê Jesus vir haar, “Jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” Van daardie oomblik af was die dogter gesond. (Matt 15: 28) Gun my 'n laaste een: Dorkas. Ook genoem Tabita. Van haar wil ek net uitlig hoe sy vir die arm mense om haar gesorg het en hoe groot leemte daar was toe sy sterf. Soveel arm vroue was van haar afhanklik. (Hand 9:36 – 43) Ons kan vanoggend nog praat oor Lydia (Hand 16), of oor Petrus wat skryf hoe 'n vrou haar man vir God kan wen deur voorbeeldig te leef, selfs, sonder om “n woord te sê. Maar ek gaan hier volstaan. Ek dink ons moet om ons kyk vanoggend en begin raak sien die rol wat ons moeders en die vrouens in ons lewens speel. Sien raak hoe hulle in God se hand, ons lewens verryk. Ons dikwels van ons eie onbesonnenheid bewaar. Sien raak hoe hulle gesinne bymekaar hou. En besef dat hulle baie keer in die spervuur gaan staan vir ons. Soos Abigajil en Ragab. Meneer. Ons is wat ons is deur God se genade. Maar besef jy dat die vroue in jou lewe daarvoor gebid het? Jou ma. Dalk selfs ook jou vrou. Ek het 'n vriend wie se vrou vir 15 jaar vir hom gebid het om werklik tot bekering te kom en die Here met oorgawe te begin dien. Hoe lank en hoe gereeld bid ons ma's nie vir ons bekering of ten minste net ons veiligheid nie. Die lewe het baie duur geword. Vandag trek vrouens langs ons ook aan die spreekwoordelike ploeg: Hulle arbeid en inisiatief bring geld in die huis in soos die vrou van Spreuke 31. Hulle verdien regtig nie wat hulle in hierdie land beleef nie: mishandeling, verkragting, dronk eggenote, afbrekende woorde, houe. En ja, dalk is dit nie jy wat dit doen nie. Maar ek en jy kan vir hulle 'n liefdes -ruimte skep waarin hulle kan gedy. Ons kan hulle gewaardeerd laat voel. Ons kan hulle gaan liefhê soos Jesus Sy kerk liefhet. Ons kan haar as gelyke hanteer en haar beste vriend gaan wees. Want dis wat die Here bedoel het toe Hy haar geskep het. En jy kan haar help soos die Here bedoel het ons mekaar moet help: in alle omstandighede ongeag wat ook al. Vandag, dames, dank ons die Here vir julle. Deur hulle gebede en opofferings is ons wat ons is. En dames, stap die pad met die Here. Bly by Hom, in Hom, soos Joh 15 dit stel en hou aan met bid vir julle mans en kinders, die gemeente en die gemeenskap. God het julle lief. God is met jou. Dankgebed.