Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Judas 24 25 Ek hoor dat mense sê: Covid was iets daar vêr, maar nou is dit ons gesinne wat geraak word. Ek self hoor al hoe meer van ons mense wat tot drie naby familielede verloor het. En ek wonder of daar ‘n gesin is wat nie ‘n familielid of vriend het wat ernstig siek geraak het nie. Dit maak ‘n mens swaarmoedig. Die laaste paar weke was ook nie goed vir ons land nie. Dit voel soms of die lelikheid nie ophou nie. Nou kom ek vanoggend met ‘n boodskap oor dankbaarheid. Die rede tot dankbaarheid is God self. Die mense vir wie Judas aanvanklik geskryf het, was mense wat self deurgeloop het onder vervolgings, verdruk is, uitgeskuif uit die markplek is en gesukkel het om te oorleef. Judas sê dat hy wou skryf oor die verlossing wat ons almal in deel. Maar dat hy sy tema moes verander om die gelowiges aan te moedig om te bly stry vir die geloof wat God vir hulle gegee het. Deel van die stryd is om die Here te dien en nie jouself nie (vers 4). Bly vir God lewe. Hou aan om elke keuse ‘n keuse vir God te maak en vir dit wat vir die Here belangrik is. Ons fokus behoort nie soseer op die krisisse of die negatiewe te wees nie. Die lewe sal altyd uitdagings hê. En ja krisisse is erg en dit kan die mat onder jou uitruk. Leer eerder om altyd jou lewe om God te laat draai. Probeer om in alles wat jy doen en in wie jy is, vir God vreugde te verskaf. Word dit wat God ons voor geskep het. Judas eindig sy brief op ‘n besonderse manier. Hy prys God. Hy herinner ons daarmee presies Wie hierdie God is vir Wie ons leef. Hy sê net weer iets van die God in Wie se hand jou en my lewens is. Kom ons kyk van naderby. Hierdie is een van net drie dele in die Nuwe Testament wat vir ons sê God is magtig. • Rom 16:25 sê God is magtig om ons te laat vasstaan. Hy gee vir ons 'n fondasie wat niemand kan skud nie. • In Efes 3:20 prys Paulus vir God omdat God magtig is om oneindig meer te doen as wat ons kan bid of dink. • En dan natuurlik Judas 24, 25. Kyk na die drie dele. Neem jou grootste denke oor wat jy dink God kan doen, en vergoot dit 1000 plus keer. En jy sal steeds te klein dink oor God. Judas fokus ons aandag op drie dinge wat God in ons lewens doen. 1. Hy bewaar ons van struikeling. Die Griekse woord is aptaistos. Dit word gebruik van bv 'n perd wat sy trap ken. “Sure-footed” is soos die Engelsman sou sê. 'n Mens is aptaistos as jy nie maklik foute maak of val vir versoekings nie. Judas wil sê dat as jy met God lewe sal jy okay wees maak nie saak wat gebeur nie. Jy gaan nie maklik gly en val nie. Jy sal kan vas staan in jou geloof en lewe. Dr Arnold Moll vertel van sy bekering. Hy het vir die dominie gese ek weet en verstaan alles van die kruis en die opstanding. Ek kry dit nie geanker in my lewe nie. Die dominie het 'n pen opgehou en gevra kan die pen op sy eie bly staan. Hy sê dit was die korste bekerings preek ooit. Hy het net daar God aangeneem as die Verlosser en Eienaar van sy lewe. God is magtig om jou staande ... regop te hou ... selfs as almal om jou val. 2. God is magtig om jou sonder sonde voor Hom te laat staan. God doen dit. Jy kan nie self nie. God laat ons onbevlek voor Hom staan. Al wat ons hoef te doen is om onsself volledig aan God se leiding oor te gee. Totaal oor te gee aan God. 3. God is almagtig en deur Sy almag laat Hy ons met vreugde Sy heerlikheid aanskou. Een van die verse wat se diepte ek nie kan peil nie, is waar Paulus skryf dat God in ons aan die werk is met dieselfde krag waarmee Jesus uit die dood opgewek is. (Efes 1: 19 - ) Dit is ‘n krag wat meer is, meer intens, meer ... help my met woorde .... as wat ek in my klein koppie kan uit maak. Dan laat sak ek my kop vir my kleingeloof en my gebrek aan geloof en aan vertroue. Ek wonder oor hoekom ek so bekommerd kan raak oor dinge. Net om weer opnuut te besef dat ons daagliks vrye toegang tot God het. Dat ons self direk met God kan praat en al ons vrese en bekommernisse by Hom uitpraat, deurpraat en dat Hy regtig luister. Dat ek dit steeds mag doen al sukkel ek om God se grootheid en vermoeëns te besef. Esechiel vertel hoe hy toe hy voor “dit was soos die magtige verskyning van die Here ...” te staan gekom het, het hy inmekaar gesak ... hy net eenvoudig plat neergeval. Lees gerus weer Esechiel 2 en 3. Die heerlikheid en die almag van God, dit wat God nog altyd was en is en sal wees, dit laat Esechiel inmekaar sak. Dink jouself in hoe jy sal voel as jou sonde eensklaps ontbloot word en hoe God se heiligheid jou sal oorweldig ... Sien dan ook raak: God vat al daardie vrese en skaamte weg. In die plek daarvan sit Hy dankbaarheid. En saam met die dankbaarheid gee Hy jou die begeerte om Hom te loof en prys en te wil ken vir Wie Hy regtig is. Deur Jesus se kruis en opstanding word die kwaai Regter, ons liefdevolle Vader wat ons vryspreek en lief het. Nou kan ons elke dag, enige tyd, met Hom gesels ... sonder om bang te wees. Sonder om skuldig te voel. Nou mag ons dinge vra en ons ontvang so baie van Hom. Judas prys God as Verlosser. En ons doen dit vandag ook. Ons dank Hom vir genade en voorregte en versorging ... ons dank God vir die lewe self. Ek wil dit onderstreep met ‘n beeld. Ek sien hierdie massiewe berg wat ons moet uitklim. Regaf kranse. Die tipe berg wat net bergklimmers met toue en penne uitklim. Covid-19, die onluste van twee weke terug, die politiek in die land, sg grondhervormings wetgewing. Misdaad. Werkloosheid. Watter krisis jy aan kan dink. Dis die berg hier voor ons. En ons gaan dit uitklim. Met vertroue uitklim. Hierdie is nie ‘n freestyle klim nie. Jy weet mos, daardie dapper mense wat sonder toue of gereedskap die krans uitklim. Waar een glips of fout jou na die dood kan laat val. Ons klim dieselfde berg. Maar ons is met toue en harnasse aan mekaar verbind. Ons klim agter ‘n Kenner aan. Hy anker ons. As jy jou greep, jou vingerpunt houvas verloor, of mis trap en jy val. Ontdek jy Hy het jou! Jy is nogsteeds stewig, veilig, aan Hom vasgebind. Hy trek jou weer op. Al wat ons het om te doen is om die Here te vertrou. Ons hou vas waar Hy wys. Ons sit ons voete waar Syne was. Ons hou ons self totaal afhanklik van Hom vir elke handgreep, voetvastrap plekkie, vir krag. Alles. En ons vermy die alternatief. Ons sê nee vir die versoeking om ons los te knip van die tou en kort paaie te probeer vind. Een fout en jy tuimel na benede. Ek wil net iets weer sê oor die Kenner wat ons lei en Anker. Hy het al die mag om dit te doen. Maw Hy kan!! Hy keer dat ons gly. En as ons gly en sondig is Hy so magtig dat Hy selfs vir my en vir jou nie net van struikeling bewaar nie, maar ons onberispelik of onbevlek Sy heerlikheid laat sien. God doen dit! Ek het ‘n woord uitgelaat. Ek het dit met rede uitgelaat want ons moet dit nie mis nie. Die woord is Vreugde. Met vreugde. Hier is die volledige vers. “24 Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, “ Met vreugde. Dit is iets om na uit te sien. En dan brei Judas uit op hoe God is. Hy brei uit op die magtige deel. 25 aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen. Laat dit insink. Aan God behoort die krag, die mag. Heerlikheid en die majesteit. Aan God kleef hierdie grootsheid wat jy nêrens hier op aarde sal vind behalwe in God. Trouens hierdie aarde met die son en maan en planete ingesluit, wys op God se heerlikheid en majesteit en grootsheid. Daar is geen noemenswaardige mag buiten God om nie. Wat mense hier op aarde as mag beskou is ‘n illusie. Teen God gesien is dit niks. Nietig. God is dit nog altyd en God sal dit nog altyd hê en wees. En die feit dat God jou en my kies om in te woon en Hom aan ons verbind deur Jesus die Christus, maak ons oneindig bly. Dit vul ons met ‘n vreugde wat niks uit te maak het met hoe groot die berge voor ons is nie. Ek hoop jy het gehoor dat Judas ook vir jou wil verseker van drie dinge: • God is sterk genoeg om te keer dat jy struikel. Geestelik en andersins. • Hy kan jou onbevlek, asof sonder sonde, voor God laat staan. • Hy bring ons in in die heerlikheid van God in. Mag ook jy dit so beleef. En mag dit jou vul met ‘n diepe vreugde en dankbaarheid.