Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
ESRA 1: 1, 2; 8: 21 - 23 Wat ‘n week! Wat gaan God doen? Kan ek jou herinner vanoggend: Met God saam moet jy gewoond raak aan die ongewone. En aan ‘n anderse tydsberekeninng. En ja, God het hierdie dinge sien kom. So raak rustig. Wie weet hoe God hierdie slegte situasie wil gebruik of gaan omswaai in ‘n positief. Het ons nie reeds gesien die week hoe mense oor ras grense handevat en dorpe en sentrums verdedig nie? Selfs die taxis het gehelp. Dalk moet ons eerder stil word en by die Here sit met ‘n ander vraag: Here, wat verwag U van ons in hierdie tyd? Is dit ‘n tyd om paniekerig te raak? Of is hierdie ‘n geleentheid om terug te draai in God se arms in. Om ‘n anker te wees vir ander wat nie die hoop en vertroue in God het wat ons het nie. Nie prekerig nie. Maar deur lig te wees. God se lig uit te straal. God se kalmte vanuit ons te laat hang. Die gedeelte wat ek vir ons voorgelees het, is in my beskeie mening, 'n vreemde begin. 'n Verrassing om die minste te sê. Dit maak dat ek meer wil lees. Veral as ek daaraan dink dat in daardie tyd is geglo dat as ons jou volk verslaan in oorlog dan is ons god sterker as julle god. Israel het verloor. Die boek Esra begin met die koning wat die oorlog gewen het, en laat ek dit bysê, hy was een van die magtigste wereldheerser van sy tyd ... Esra begin met hierdie magtige koning wat besluit: Die Here, die God van die hemel, wil hê ek moet vir Hom, die God van Israel 'n tempel in Jerusalem gaan bou. Ek hoop jy hoor dit: Hy wil dit nie vir sy afgod bou nie, maar vir die Here die God van die hemel ... die Here die God van Israel. Dan weer, dit behoort nie vir ons ‘n verrassing te wees nie. Dit is lank vooruit voorspel. Jeremia het nog die profesie uitgespreek. Die Here laat nou bloot in vervulling gaan dit wat Hy lank tevore voorspel het deur die profeet Jeremia. God is volledig in beheer. Daarmee saam ontdek ‘n mens dat God die menslik onmoontlike moontlik maak. Dit sal goed wees as ons dit nie net onthou nie, maar ook daaroor herkou en dit laat insak in ons dieper menswees in. Ek wil dit weer sê: Verwag die ongewone. Leer dat God anders dink en doen as hierdie wêreld. Ons moet dit nie oor ons maak nie. Hetso oor ons geloof, of andersins, oor ons krisis want kyk hoe brand hulle ons land en ons dorpe. God se oog is dalk net anders ingestel. Dalk is hierdie iets wat moet uitspeel voor die einde kom. En dalk is dit ‘n geleentheid waar God nuwe leiers gaan voortbring. Daarom moet ons juis bid. Juis sorg dat ons by die Here bly. Op Hom alleen vertrou. God is altyd in beheer. Tussen die slegte en die goeie wat gebeur is die Lewende God besig om Sy planne te laat werk. En as jy opwinding soek en dinge wil sien gebeur in ons leeftyd, dan is die plek om te wees by God. Dan is God die Een wat jy wil volg en dien want Hy laat groot dinge gebeur. En natuurlik sal daar bangmaak oomblikke wees. Dalk selfs skrikwekkende oomblikke. Jy sal moet aanmeld omte help en te werk. En hopelik nooit vir ‘n geveg nie. Maar hoor vandag net eers iets oor God. ‘n Vriend van my het deur ‘n moeilike tyd verlede jaar gegaan. En ons het oor sy krisis gesels en die sê-nou-maar-dit-of-dat-gebeur ding gedoen. Waarop hy vir my sê: Ek is nie bekommerd nie want as die ergste sou gebeur dan gaan God nie sê o gits X het ‘n krisis, wat gaan ons nou doen nie. God het lankal ‘n plan. As ek terug kyk dan sien ek dit weer: God het ‘n plan gehad en alles het vir X goed afgeloop. God is altyd in beheer. Koning Kores van Persie is die eerste koning wat ek kon agterkom, wat sy ballinge uit vrye wil die kans gee om terug te gaan. EN hulle toelaat om hulle tempel en stede weer te laat opbou. Met sy hulp. En vir my, ... is daar net een wat so 'n omswaai in beleid kan bewerk – so 'n omkeer van hart – en dit is die Lewende God, ons Vader. God gebruik die magtige wêreldheerser Kores om sy volk te help. God stuur die regte mense (Esra en Nehemia) om die groot taak uit te voer. En: God sorg vir die mense aan wie Hy 'n belangrike opdrag toevertrou. Kortom, en dit is eintlik wat Esra hier wil sê: God is deurgaans in beheer. God het 'n opregte en geleerde man, Esra, gestuur om sy verwarde mense in Juda te gaan opbou. En saam met Esra, het die Here ook die nodige priesters, Leviete en tempelslawe gestuur om Esra te help. En wanneer Esra se geselskap uiteindelik die lang reis aanpak en deur vreemde en gevaarlike gebiede reis. Met 'n klomp waarde volle goed in hulle besit. En sonder die beskerming van die keiser se soldate, vertel Esra 8:31: `Ons God het sy hand oor ons gehou en ons nie in die mag laat val van vyande of rowers langs die pad nie'. Hoor jy dit? Ons God het sy hand oor ons gehou. En dan, wanneer hulle die koning se opdragte oorhandig aan die plaaslike owerhede, dit is nou die goewerneurs van Wes-Eufraat, lees ons in Esra 8: 36: `Hulle het van toe af bystand verleen aan die volk en aan die tempel'. En as jy nou vandag dink hulle het hierdie groot geloof gehad, dan is jy verkeerd. Of as jy dink dit was maklik vir hulle, dan is jy verkeerd. Ons lees dat hulle te skaam was om nog hulp by die koning te vra. Toe het hulle gebid, gevas – trouens vers 21 sê 'n vasdag is uitgeroep om hulself voor God te verootmoedig. Hulle het die druk gevoel, nes ons. En God het voorsien. Hoekom was God so goed vir Sy volk? God wou seker maak dat sy volk Hom weer kan dien. God wou sorg dat sy verbond met sy kinders aangaan. God wou seker maak dat sy beloftes aan sy volk nie maar net by leë beloftes bly nie. Eintlik is dit nie iets nuuts wat God hier in Esra doen nie. God maak dit nog altyd vir sy kinders moontlik om Hom te dien. Daarvoor het Hy konings gebruik, Rigters aangestel en gebruik, profete, toegewyde priesters en 'n lang stroom opregte gelowiges wat Hy gebruik het soos Hy dit nodig geag het. Die Nuwe Testament sê dieselfde. In die boek Handelinge lees ons bladsy vir bladsy hoe die Here in die vroeëre kerk mense voorsien het om die evangelie die wêreld in te dra. En as ek een kan uitsonder: Kyk hoe het die Here die fanatiese vervolger van Sy kerk, Saulus omgedop en geswaai tot ‘n passievol kerkleier, Paulus. En as ek iets van die gelowiges van die Nuwe Testament kan sê, dus ook van jou en my. Ek haal Petrus aan: `Die kerk van Jesus Christus is 'n uitverkore volk ... die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat (h)ulle ... geroep het' (1 Petrus 2:9). Ek en jy is deel van God se uitverkore volk. Ook ons is geliefde kinders van God. Hou vas hieraan. Ook jy is ‘n geroepene en gestuurde van God. Vandag se Esra’s en Nehemia’s. As ek kyk na nuusberigte en die ellendes wat mense beleef. As ek dink oor Covid-19, hierdie week se vandalisme, plundery en brandstigtig, as ek dink aan plaas aanvalle en plaasmoorde, misdaad, korrupsie, dan sou ‘n redelike mens sê hier is weinig om op te hoop. Ek vra nie vandag of dinge omgekeer kan word nie. Ek wys jou na Esra en Nehemia. Na onmenslike swaar situasies in die Bybel. En God het voorsien. God het dinge omgeswaai. Ek plaas my hoop op God. Jy kan my maar so aanteken. My hoop is op God alleen. Want God is genadig, barmhartig en vol omgee en liefde. Hy word met herhaling in die Bybel so bekendgestel. Bv Psalm 145. God het Esra se mense vergewe en hulle weer terug geneem na hul eie land. As ons met ons hele hart en lewens na God terugkeer sal daar vir ons genade wees. En ‘n omkeer aan die geskiedenis. Maar dan moet ek en jy wat vandag hier luister, die res van die land se mense help om ook die Here te vind. Sal dinge nog kan verander? Ek is seker dit is in die ballingskap op die een of ander manier ook gevra. Dus: Ja, dit kan. Altyd. Want God is in beheer.