Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Romeine 8: 26 – 39 Ek onthou my pa se ondersteuning. Ek sukkel om aan ‘n sport byeenkoms te dink waar hy nie by was nie. Aan die kant besig om my aan te moedig. Trots op ons. Hy het vir ons ruimte geskep om in te groei en ons drome na te jaag. En my nie veroordeel as ek steeds na al sy moeite nie geweet het wat om met my lewe te doen na skool nie. Of oor my skool punte nie. Hy het ons onvoorwaardelik lief gehad. En ek dink nie, nie ek weet, hy het nooit opgehou om vir ons te bid nie. Ek onthou vanoggend weer hoe my broer in 2013 vir my gesê het hy sien alhoe meer my pa in my. In hoe ek is, my maniertjies ensomeer. Dit het my onkant gevang.En ek het hom so drie jaar later gevra wat het hy daardie dag bedoel. Was dit positief of negatief bedoel? Positief, sê hy. En ek het besef, sonder om dit doelbewus te doen, of om eers daaroor te dink, het ek soos my pa geword. Ek het geloof geleer. Nie soveel by pastore, predikers en dominees waarmee ek in my lewe te doen gehad het nie, maar in wat my ouers geleef het. My pa se leef van sy geloof. In Johannes 1: 12 hoor ons dat God ons die reg gegee het om kinders van die Almagtige genoem te word. Om God as Vader te kan ken. Vanoggend moet ek net met jou deel van ons hemelse Vader se droom vir ons. Sy hartsbegeerte. Dit wat God graag in ons lewens wil sien oop vou. Romeine 8: 29 Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. Gal 4: 9 My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry. Dar is so baie wat ‘n mens oor Romeine 8: 26 ev kan sê ... ek kan nie als ordentlik deurtrap met ons vanoggend nie. So ek gaan hierdie een ding probeer tuisbring: God het jou so baie lief. So lief dat Hy in Jesus Sy lewe opoffer vir jou. En elke dag bid Jesus vir jou. Romeine 8 sê so: 26 Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 34 Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Die Heilige Gees pleit self vir ons. Jesus pleit vir ons. Awesome. Kom ek gee jou ‘n oomblik om dit te verwerk. Paulus vra eintlik ‘n baie goeie vraag in vers 34: Wie kan ons veroordeel? Ons is dan geroep, gered en aan God toegewy. Ons is dan God se kinders. Daarom maak dit nie sin as ons ons self veroordeel. As ons onsself so met negatiewe gedagtes kasty en selfs twyfel aan ons kind van God wees. Mag ek vra: Hoekom twyfel jy of jy ooit goed genoeg vir God sal wees as jy reeds Sy kind is? Hoekom twyfel jy dat God kragtig deur jou kan werk? Onthou, God is nie net ons Vader in naam nie. God doen ook die pa ding met ons. Hy skep vir ons ruimtes. Hy staan by ons waar ons deur goed gaan. En Hy bid vir ons. Die Heilige Gees en Jesus bid elke dag om jou onthalwe. Pleit is eintlik ‘n sterker woord: Jesus pleit vir ons. Dit sal dom wees om nie te vra waarvoor pleit hulle? Die eerste antwoord is in die teks self: Hulle pleit dat ons gelykvormig sal word aan die beeld van God se Seun. Dat ons soos Jesus sal begin optree en soos Hy sal dink oor mense en omstandighede. Dat ons soos Jesus sal eenkant stilword om God se wil te ontdek en dan sal uitgaan tussen mense in en daar net sal doen wat ons by God gesien en beleef het (Johannes 8). Want God weet dit is die beter manier van hoe om ons lewens te leef. Soos Jesus. En Jesus het Sy aardse lewe gelewe soos Sy Vader. Die tweede antwoord is die Heilige Gees pleit om ons onthalwe omdat ons nie weet wat of hoe om te bid nie. Ons bid nie oor die regte goed nie. Jakobus sal sê dat ons dikwels selfsugtig bid en dan kyk hy na mense se lewens en hy wys uit hoe verskeur hulle mekaar. So gaan kyk na jou gebede en kyk of jy nie dalk selfsugtig is nie. ‘n Derde antwoord kom uit Lukas 13: 6 ev uit. Eintlik sluit dit maar aan by Romeine 8. In Lukas vertel Jesus die gelykenis van die eienaar van ‘n wingerd wat opdrag gee dat ‘n sekere vyeboom uitgekap moet word want dit dra geen vrugte nie. Die tuinier pleit vir uitstel. Net nog ‘n jaar waarin die tuinier vir die book alles sal gee wat die boom nodig het om vrugte dra: die grond losspit, bemes ens. Jesus pleit dat God ons nie sal uitkap oor ons so min of geen vrugte dra nie. Onthou ook asb Johannes 15: As julle in My bly sal julle vrugte dra. Om nie vrugte te dra nie impliseer dat ons nie meer in Jesus bly nie. Ons loop nie meer op die selfde padjie as Jesus nie. Ons leef nie uit Sy krag nie. Of uit Sy teenwoordigheid nie. Ons maak op ons self staat. Lees en bid en glo is maar ‘n ekstratjie in ons lewens. Jesus doen alles, behalwe om oor te neem, om ons te help om vir God die vrugte gee wat Hy i ons lewens wil sien. En as jy rerig nie weet watse vrugte nie ... optrede wat by Jesus pas ... omgee soos Jesus s’n ... vergifnis soos Jesus sn ... of kyk maar net Gal 5 se vrug van die Gees. God wil hê jy moet slaag. God wil hê jy moet Sy visie vir jou realiseer ... om gelykvormig aan Sy Seun te word. Die Seun en die Gees pleit by God om ons te help hierin. Die feit dat jou lewe nie perfek is nie moet jou nie terughou nie. Kom ons begin met dieselfde erns vir ons kinders bid. Die regte goed vir hulle te bid. Dat hulle soos Jesus mag word. Dat hulle vir God sal leef en vrugte sal dra wat wys dat hulle onder beheer van die Gees lewe. Kom ons dink weer oor wat ons voor ons kinders leef. Oor ons gesindhede. Ons woorde en maniertjies. Want ons wil nie die voorbeeld wees wat hulle weg van God af dryf nie. Stef Bos sing in sy liedjie, Papa, hoe sy hy sy pa met tye gehaat het. En nou as hy na sy eie hande kyk, sy pa se hande sien. Sien hoe hy nes sy pa word. Kom ons maak seker ons voorbeeld is een wat na geloof trek en vir ons kinders iets van God wys. Kom ons gee hulle ‘n prentjie van God om na te boots. Die Here gaan vir jou en my nie los soos ons is nie. Hy is nie klaar met ons nie. Hy het ons nie gered en herskep sodat ons ons ou selwers kon bly nie. Ons is gered om te word soos Sy Seun. En ons kan. Maar eers aanvaar: Aanvaar God het jou lief. Onvoorwaardelik lief netsoos jy is. Jy kan ook ophou worrie of jy goed genoeg of enigsins die genade werd is want Hy het toe jy geskep is jou al liefgehad. Liefgehad met Sy lewe. So, staan op en gaan leef God se droom vir jou. In Hom is jy genoeg!