Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 12: 9 – 14 Wat verwag Jesus van ‘n mens? Eitlik moet ons dit meer persoonlik maak. Wat verwag Jesus van my? Die antwoord gaan ‘n groot stuk nederigheid van ons vra. En ‘n eerlikheid oor ons self en ons eie gebrokenheid sodat ons medelye kan hê met ander wat self worstel en swaar het. Jesus wil van ons mense maak wat nederig en vol meegevoel en omgee vir ander leef. Toe Jesus aangevat is oor sy dissipels wat op die sabbatdag koring pluk om te eet, want hulle was honger, het Jesus hulle verdedig en gesê: 7 As julle begryp het wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie,’ dan sou julle nie mense wat onskuldig is, veroordeel het nie. Matt 12:7 En ons het verlede week gehoor dat elke reël het ‘n uitsondering, of is ten minste ondergeskik aan die liefdesgebod. Want liefde is die samevatting van die hele wet en die profete. Wel niemand is so doof soos hy wat nie wil hoor nie. Of dink hulle ken al die antwoorde. Soos die fariseers van daardie tyd. Hierdie keer kry ons hulle in hulle sinagoge. En weer is dit op die sabbat. En weer is dit meer van dieselfde ou storie. Mag jy of mag jy nie. Hierdie keer gaan dit nie oor ‘n handvol koring nie maar oor die kwaliteit van iemand se lewe. Mag jy iemand gesond maak op ‘n sabbatdag? Jy mag mos nie werk op ‘n sabbatdag nie? Behalwe as jy ‘n priester is wat in die tempel moet diens doen (12: 5). Sien die toneel in jou verbeelding. Die fariseers soek konfrontasie. Hulle is waarskynlik nog krapperig oor die insident by die koringlande. Hier is hulle op hul eie gebied, in die sinagoge en hier is ‘n man met ‘n gebrekkige hand. Hulle wag nie om te sien of Jesus iets gaan doen nie. Hulle forseer die punt. Mense begin nader staan om die drama te sien. Die atmosfeer raak gelade. Mag jy iemand op die sabbatdag gesond maak? Daar is twee sienings gewees. Die skool van Hillel het ‘n sagter siening gehad oor die sabbat. Die skool van Shammai was meer rigied. En meer rondom Jerusalem gevestig. Beide het gereken jy mag iemand wie se lewe in gevaar is op die sabbat genees. As sy of haar lewe in gevaar is. Hierdie man met die gebrekkige hand kalifiseer nie. Dit is maklik om te sê hierdie man met sy gebreklike hand kan maar wag tot more. Dit sou maklik wees vir Jesus om te gesê het: Kom more oggend eerste ding na My toe dan sort ons jou hand uit. Of More, teen hierdie tyd, sal jou hand gesond wees. Hy het die mag om dit te kon doen. Het Hy nie die slaaf van die offisier genees sonder om eers na die offisier se huis te gaan? Jesus kon mos maar die genesing vir ‘n dag uitgestel het en dan was die fariseers stil en almal happy. Dan het Hy die sabbat gebod onderhou en barmhartigheid bewys. Weliswaar is die barmhartigheid dan eers die volgende dag maar die man se hand sou gesond gewees het. Maar dan sou sy dissipels en die omstanders niks geleer het nie. Hulle sou nes die fariseers met verkeerde interpretasie van die wet van God gesit het. Ons ook! In die bergrede het Jesus geleer dat jy aan ‘n ander moet doen wat jy aan jouself gedoen wil hê (Matt 7). Sou jy as jy die man met die gebrekkige hand was, tot more wou wag vir genesing as die Geneesheer nou voor jou staan en nou vir jou die wonderwerk kan gee? Hoekom wag tot die volgende dag? Nee. Help hom nou. Kom ek sit ‘n bietjie inligting by hierdie drama. Lukas sê dit was die man se regterhand. Dus sy sterk hand, of dan sy dominante hand, neem ons aan. Die evangelies volgens die Hebreers, (‘n apokriewe geskrif) vertel dat die man ‘n klipkapper was (stonemason) en dat hy by Jesus gepleit het om hom te genees want hy wou nie as ‘n bedelaar opeindig nie. ‘n Mens sukkel nie om simpatie met die man te hê nie. Matteus gee ons nie al dit nie. Hy sê net daar was juis ‘n man met ‘n gebreklike hand daar. En die fariseers probeer dadelik ‘n konfrontasie skep. En hulle vra: Mag ‘n mens iemand op die sabbatdag gesond maak? Ek het dit eers misgekyk. Hulle glo Jesus kan hierdie man gesond maak. Hulle verwag dat Jesus dit gaan doen, gegewe al die genesings. Maar dit help hulle nie om die Messias raak te sien nie. Dalk wil hulle juis hê Hy moet dit op die sabbatdag doen dat hulle ‘n saak teen Hom kan maak. Maar hulle wil nie eers wag tot Jesus dit doen nie, hulle probeer die saak ryp druk. ‘n Man met ‘n gebreklike hand kwalifiseer nie. So, wat nou? Jy kan sommer aanvoel hoe alles tot stilstand kom en dinge stil raak. Jesus sê vir die man om op te staan. Almal kyk vir die man. Dalk voel hulle saam met hom. Dalk soos met die fariseers is hy net ‘n pion in hul oggend drama. Dan vra Jesus ‘n teenvraag. ‘n Vraag om hulle self ‘n waarheid te laat ontdek. 11 “Wie van julle sal nie die een skaap wat hy het en wat op 'n sabbatdag in 'n sloot val, dadelik uithaal nie? Stilte. 12 Hoeveel is 'n mens nie meer werd as 'n skaap nie? Stilte. Dan mag 'n mens mos op die sabbatdag goed doen.” Matthew 12:11-12 Liefde of wet? Dis beter om lief te hê en ‘n nood te verlig as om die letter van die wet te misbruik. As die fariseers Jesus se vraag met ‘n ja beantwoord, dan wen Hy. Dan is Jesus se interpretasie van die sabbatsgebod reg en hulle verkeerd. Sê hulle nee hulle sal nie die skaap uit die sloot uit haal nie draai die mense teen hulle want die mense weet hul sal. So hulle bly stil. Dis so ‘n ongemaklike stilte. Skaakmat. Almal wat staan en toekyk wag met asems opgehou om te sien wat gaan nou gebeur. Jesus sê vir die man: “Steek jou hand uit.” Hy het dit gedoen en sy hand was reg soos die ander een. Vers 14 sê: 14 Die Fariseërs het toe uitgegaan en planne beraam om Jesus om die lewe te bring. Kom ek gaan net ‘n oomblik terug. Vers 13. 13 Toe sê Hy vir die man: “Steek jou hand uit.” Het jy dit gesien? As jy nog nooit God gesien werk het sonder ‘n mens nie, dan hier is dit. Jesus raak nie die man se hand aan nie. Jesus doen nie ‘n gebed vir hom of sê enigiets wat op genesing wys nie. Hy sê net steek jou hand uit. En God doen die res. En die fariseers mis dit. Hulle regulasies en selfbeheptheid het hulle verblind. Hulle sieninge meer belangrik as die man en as God. Is ek lelik? Skielik is ... of wag, kom ek stel dit so, daar is nou hierdie ongemaklikheidjie van dat moord teen die wet is maar nie die fariseers pla nie. Ek is bekommerd dat ons mense met belydenisse raak en loopgrawe grou van waaruit ons onbeweeglik veg teen enigiets wat nie stryk met ons siening nie. En met ons bedoel ek alle denominasies. En ons mis God. En ons mis mekaar. En ons mis uit op God se liefde. Die man wat die gebreklike hand gehad het. As jy hy was sou jy Jesus se manier van gehoorsaamheid verkies of die fariseers se vorm van gehoorsaamheid. Sou jy wou wag tot more of sou jy liefde nou wou beleef? Die alternatief is mense met versies vir ander maar wat self selektief is vir wat hulle gehoorsaam en wat nie. Moenie so wees nie. Hoor God se hart hier klop. Sien dit in Jesus se omgee. Wat Jesus hier doen is liefde in aksie. Liefde sal ewig bly. Luister net weer na Jesus se uitnodiging: 28 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.”(11:28, 29).