Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 12: 1 – 8 Ons is besig om by Jesus te leer. Ons, vandag, is Sy dissipels, maw Sy leerlinge. En ons begin nou met ‘n nuwe afdeling en dis ‘n afdeling oor moets en moenies. Hoe om binne God se wil te lewe. Hoe om te kan onderskei op hierdie oomblik wat is van God en wat nie. Wat in hierdie deel gebeur gebeur vandag nog. Nes jy dink jy doen reg volgens hierdie deel in die Bybel, kom daar iemand verby met ‘n ander versie en haal jou uit. Ons kan in ons self dalk nog sulke kritici afmaak as vals, maar ons sit met ‘n dieper vraag: Is ek binne God se wil. Jesus in hierdie gedeelte wys op twee goed: 1. Hy is groter as die wet. As Seun van God is Hy die een wat regtig weet en nie die fariseers nie. En Hy illustreer hulle verkeerde sieninge. 2. Barmhartigheid. Omgee. Dit is wat belangrik is. Anders gestel, as jy gaan fouteer, fouteer na die kant van dieliefde en omgee. Die samevatting van die wet en die profete is die liefde. Liefde vir God en liefde vir mense. Die probleem daardie dag was nie dat die dissipels die een of ander boer se graan gepluk het en geeet het nie. Die probleem was dat hulle dit op ‘n sabbat gedoen het. Hulle was vry, volgens wet, om ‘n handvol hier en daar te pluk as hulle werklik honger was. Die fariseers kom beperk hulle vryheid. Hulle interpretasie van die wet het gesê enige dag net nie op die sabbat nie. ‘n Mens moet seker byvoeg dat die fariseers redes gesoek het om Jesus te diskrediteer en selfs aan te kla. Hulle motiewe was waarskynlik vals. Die sabbat storie gaan nog ‘n paar keer opduik. Vanoggend leer ons die praktiese kant van Jesus se woorde in Matteus 11: 28 – 31. 28 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30 My juk is sag en my las is lig.” Die mense van daardie tyd het van ‘n rabbie se interpretasie van die wet, gepraat as die rabbie se juk. Jesus nooi ons uit om Sy interpretasie van die wet ons eie te maak. Dit is nie ‘n 600 plus stel moets en moenies nie. Dis sag en dit is lig. Dit is om lief te hê. Om God regtig lief te hê en om jou medemens met liefde te hanteer is meer belangrik as wat jy op die Sabbatdag doen of nie doen nie. Maar wat gedoen as interpretasies bots. As die samelewing om jou onbuigbaar is. Of totaal wetteloos is. Hoe moet ek my pad vind! Jy moet God bly liefhê. Met alles in jou God lief hê. En dit sal oorspoel in liefde vir ander. Die Joodse rabbies het strengs moets en moenies ontwikkel om seker te maak niemand werk op die Sabbatdag nie. Dit was deel van die swaar juk wat hulle op mense gelaai het. Ons sal vandag ons koppe in ongeloof skud as ons besef waarmee hulle alles vorendag gekom het. Die fariseers was hier weer eens besig om die wet van God te begrawe onder hulle mensgemaakte tradisies en reëls. Hulle bedoelings was nie eerbaar nie. En dit is hoe jy die vloei van liefde vir God stop. Jy dam dit op met moets en moenies. Jy verhef die minder belangrike na die belangrike toe. Jy vat dit wat mense se lewens moet beter maak en jy draai dit om in iets wat dit vir mense moeilik maak om God te dien en om werklik te leef. Moet nooit so wees nie. Die voorbeeld in aksie is die fariseers se siening van hoe jy die sabbat moet onderhou. Die ergste is dat hulle gedink het hulle dien God as hulle bladsye vol reels skep. Jesus sny deur dit alles en sê die Sabbat is vir die mens gemaak. Die Sabbat is geskep is vir die mens om balans te kan hê tussen werk en leef. In die rus met God ontdek jy wat is regtig belangrik. Nie mensgemaakte moets en moenies nie. Maar liefde vir God en vir mekaar. Ek is seker, wel ek hoop dis ten minste so gewees, dat die fariseers lank voor Jesus se koms na die aarde die sabbat regulasies daar gestel het om mense te help om nie teen God te oortree nie. Maar soos ‘n trein wat begin spoed optel stop dit nie maklik weer nie. Kry dit ‘n lewe van sy eie. Word dit gebruik om mag oor mense uit te oefen. So het hulle regulasies meer geword en hul aandrang op die hou van die regulasies ook meer onverbiddelik geword. En die mense vir wie die dag bedoel was as rusdag het al swaarder geleef. So, wie is reg? Jesus of die Fariseers? Kom ons raak tegnies en vra: Watter wet is die belangrikste? Is dit Deutronomium 23: 25? 24 “Wanneer jy in jou buurman se wingerd ingaan, mag jy net soveel druiwe eet as jy wil om jou honger te stil, maar jy mag niks in jou sak sit nie. 25 Wanneer jy in jou buurman se koringland ingaan, mag jy are pluk met jou hand, maar jy mag nie 'n sekel in sy koringland gebruik nie.” Of is die ‘n interpretasie wat regulasie geword het op die sabbatswet wat sê om ‘n handvol koring te pluk is so goed soos oes en as jy die doppe afvryf het jy gedors boonop? Jesus illustreer die dilemma met ‘n stukkie uit Dawid se lewe uit. Elke week is die 12 brode op die altaar vervang met vars brode. Een vir elke stam van Israel. Slegs die priesters mag van daardie twaalf brode geeet het. Dit was soos God dit bepaal het. En tog toe Dawid in sy vlug voor Saul uit baie honger was het die priester Abjater vir God se gesalfde en vir die se manskappe, dis nou Dawid en kie, daardie brode gegee om te eet. En dit was okay. Al was hulle nie priesters nie. Want ‘n reël bestaan nie ter wille van dit self nie. Dit is bedoel om mense se lewenskwaliteit te verbeter. Daarom het die meeste reëls ‘n uitsondering daarop. En die uitsondering is die liefde en omgee. Of soos Jesus dit stel: 7 As julle begryp het wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie,’ dan sou julle nie mense wat onskuldig is, veroordeel het nie. Om my vraag te antwoord. Die samevatting van die wet, die hele gees van die wet, is meer belangrik as iemand se kommentaar op ‘n enkele sin in die wet. Jesus in sy beeld oor Dawid sê eintlik die tempel is nie so belangrik soos die Een wie se tempel dit is nie. Die God van die tempel is groter as die tempel of die wet. So is Jesus Here ook oor die sabbat. Het jy al in openbare geboue so ‘n hout boksie met glas voor gesien? Dis gewoonlik naby die brandslang. Daar staan op geskryf: In case of fire, break the glass. In geval van nood, breek die glas. In terme van my beeld dan: in geval van erge hongerpyne, breek die glas en gebruik Deutronomium 23: 25. Neem ‘n handvol koring en eet. Breek die reël. Daardie sabbat was die dissipels bitter honger gewees. Hulle het gedoen wat Deutronomium bepaal het: ‘n handvol hier en ‘n handvol koring daar soos hulle deur die lande gereis het om hulle honger te stil. Hulle het nie hul sakke volgemaak nie. Maar die haters het hulself blindgehou vir die bepalings van die wet en het net een gebod uit verband uit geruk. Elke dwaling het ‘n versie. Kom ons bring dit nader aan ons lewens. Ek het gewonder hoe sou ek iemand antwoord wat my vra: Wat sê hierdie deel nou eintlik vir ons vandag? Leer God se hart ken en verstaan. Moet in die eerste plek dink in terme van moets en moenies nie. Dink in terme van ‘n liefdes verhouding met God. Pa kind verhouding. Vol omgee en liefde. Wat leer ons by God? Ons leer dat jy iemand so lief kan hê dat jy jou lewe vir hulle opoffer. God het dit in Jesus gedoen. God wat mens word. Ons leer om vanuit liefde en barmhartigheid te dink, te redeneer en te leef. Ons eerste reaksie is om God te vra wat Hy wil hê. Ons draai nie eers na die reelboek nie. Ons draai na God. Want ons behoort aan die Here. Ons wil mense wees wat soos Paulus met ‘n rein gemoed kan sê die lewe wat ek nou leef is Christus in my. Daarom, hou jou oog op wat dit wat God wil hê. Omgee en liefde vir ander. En ja, of moet ek sê nee, moenie ‘n beterweter wees nie of iemand wat altyd vinger wys of verkeerd skree nie. Moenie fout soek by almal nie. Moenie met al jou baie kennis ‘n fariseer word nie. Wees nie blind vir jouself nie. Wees iemand wat lief het. Let op Jesus se aanhaling uit Hosea 6: 6. “6 Want ek verwag troue liefde, nie offers nie; kennis van God eerder as brandoffers.” So staan dit ook in Amos 5: 21-22; Miga 6: 6: Wat anders eis die Here van jou as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om nederig die pad saam met God te loop. Jesus se hartseer versugting, is waarmee ek afsluit: As julle maar net begryp het wat bedoel word met “Ek wil barmhartigheid hê en nie offerhande nie, sou julle hierdie onskuldige mense nie veroordeel het nie. Kom laat ons bid.