Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Handelinge 28: 23 - 31 Ek wonder wat was in die Joodse leiers van Jerusalem se gedagtes toe hulle na Paulus geluister het. Was hulle Joodsheid die probleem? Hulle tradisies en sieninge? Hoe is dit dat sommiges oortuig geraak het ander nie. Jesaja het dit al gesê. Jesus ook. En nou sê Paulus dit ook. Niemand is so doof soos hy wat nie wil hoor nie. En niemand is so blind soos sy wat nie wil sien wat reg voor haar oë is nie. Hoe is dit dat die Jode nie hul Messias kon eie nie? Maar die Grieke wel? Die Grieke het tog baie godsdienste gehad om uit te kies en tog het groot getalle van hulle gedraai en hul lewe aan Jesus kom gee. Dalk het jy al gewonder: Sou ek ‘n christen gewees het as ek in bv Indië gebore was? Sou ek nie dan ‘n buddhis of ‘n Hindu gewees het nie? En tog is daar baie Indiërs wat in Jesus glo en Jesus naleef. Miskien moet ons vanoggend vra wat maak Jesus so aantreklik vir mense? Vat maar Paulus. Iets aan Jesus moes Hom so aangegryp het dat hy van sy ou lewe af weggestap het en ‘n pad geleef het vol lyding en swaarkry en opofferings. Daar is net iets aan Jesus. Paulus was as Jood gebore. Hy was’n aanhanger van die Joodse leer. Hy het in die Joodse leer bo baie van sy rydsgenote uitgestyg. Hy was ‘n fanatieke yweraar vir die Joodse geloof en wou die kerk van Jesus Christus uitgeroei het. Dis dieselfde man wat na ‘n ontmoeting met Jesus op die Damaskus pad, sy lewe omgekeer het en Jesus verkondig het. Wil jy die rede weet? In Galasiërs 1 skryf hy: Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in Sy genade geroep. God het dit gedoen toe Hy Sy Seun aan Paulus geopenbaar het. Die doel was dat Paulus die evangelie aan die heidennasies kon verkondig. Jesus self het die evangelie in ‘n openbaring aan Paulus gegee. Nie mense nie. Jesus self. Palus se lewe was ‘n lewe deur die Heilige Gees gelei gewees. Ons het Vrydagaand gehoor, dit was in Handelinge 20: 24, dat Paulus gesê het: Sy lewe was vir hom kosbaar. Hy was nie iemand met ‘n death wish nie. Maar sy lewe was nie vir hom so kosbaar dat hy sou ophou met die werk wat Jesus hom gegee het nie. Jy kom agter dat Jesus hierdie werk aan hom toe vertrou het en Paulus wou niks doen wat daardie vertroue sal skend nie. So kan jy die apostels een vir een vat. Behalwe Judas Iskariot. God se genade was vir hulle iets so groots dat hulle nie anders wou as om God te dien nie. En die Heilige Gees het hulle lewens kragtig gevul. Wat aan Jesus het die dissipels getrek om als te los en Hom te volg? Vir die skares net buite Jerusalem om hulle klere in die pad oop voor Hom te gooi as tekens van hul bewondering en aanbidding. In die Naam an Jesus het mense gesond geword. En in Handelinge het skares mense hulle lewens kom gee vir Jesus. Soos iemand gesê het: Na ‘n eenvoudige boodskap van Petrus op Pinksterdag het ongeveer 3000 mense aan die kerk se deur kom klop en gesê ek wil deel wees hiervan. Ek wil aan hierdie Jesus behoort. En in Handelinge 4 waar mense die dryf na rykdom en besit prys gee en alles onder mekaar begin uitdeel sodat niemand ‘n tekort sal hê nie. Wat aan Jesus ontlok so ‘n reaksie? Ek nooi jou uit om hier oor te dink. Meer spesifiek: Wat aan Jesus trek my, jou, na Hom toe? Dit sal goed wees om net weer te onthou hoekom ons so lief vir Hom is. En so lief vir God is. En tog is ons lewens so kragloos gemeet teen die vroee kerk. Is dit omdat ons die doel van ons lewens verloor het? Nl. Om te verkondig dat die koninkryk van God hier is. Het ons getuienis kragloos geraak omdat ons meer begaan is oor ‘n instansie genaamd kerk, as oor die uitdra van die evangelie aan alle mense? Ghandi het gesê dat Jesus vir hom aangrypend was maar Jesus se kerk nie. En baie mense in die laaste 10 jaar, om en by, het gemeentes verlaat. Hulle sê hulle is nog lief vir Jesus maar sien nie kans vir Sy kerk meer nie. Wat natuurlik ‘n weerspreking is want ek kan nie sê ek is lief vir my vrou of my man maar ek haat sy of haar lyf nie, kan ek.? Hoe kan Jesus lief hê maar nie Sy liggaam, Sy kerk wat Hy deur Sy bloed gekoop het. Ek en jy moet egter besef dat ons ons vals-self wil wees gaan mens wegstap. As jy koninkrykies bou en jou self wil laat geld, gaan mense Christus mis. Mense word getrek waar God se liefde en vergifnis geleef word. Waar daar iets aan gelowiges is wat hulle mis in hulle eie lewe. En daardie iets is Jesus. Kom ons vra ook: Here, wat aan my maak dat ander U nie wil ken nie? Wat aan my, ons, dryf mense van U en U kerk af weg? Dit is vir my interresant dat Paulus vir die Jode in Rome probeer oortuig het vanuit die wet van Moses en die profete dat Jesus die Messias is. Party het dit ingesien. Ander nie. Wat gelei het tot Paulus se aanhaling van Jesaja. Niemand so doof soos hy wat nie wil hoor nie. Jesus het dit ook gesê. Ek dink ek lees dalk iets in maar ek wil dit tog sê: Wat kort is ‘n ontmoeting met Jesus. Wie oortuig raak moet Jesus soek. In Sy teenwoordigheid word ‘n mens verander. Dit is meer as kopkennis, verstandelike instemming. Kennis moet belewing word en belewing moet verhouding word. Paulus het Jesus innig lief gehad. Sy lewe is diep geraak deur Jesus. Lees maar Galasiers 1. Hy was so oorweldig deur die genade dat hy net een droom gehad het en dit is om Jesus te verkondig aan die hele wêreld. Lees maar Handelinge 20: 24. Hier aan die einde van die boek Handelinge kom dit weer deur. Die evangelie, die goeie boodskap van Jesus wat vir ons genade en hoop kom bring het, moet die wêreld in. Ons kan dit nie vir onsself hou nie. Die boek Handelinge is juis die storie van mense wat onder leiding van die Heilige Gees die evangelie die wêreld in vat. Bv In Handelinge 8 lees ons hoe die mense uit Jerusalem uit weg gevlug het oor die vervolgings teen die kerk van Jesus Christus. En sover hulle gegaan het het hulle vir die mense van Jesus vertel. Hulle liefde vir Jesus en hulle dankbaarheid teenoor Jesus was so groot dit het oor die kante van hulle harte en monde geloop en hulle het vertel: Jesus sis die Here. Jesus is die hoop. Ek het in my opleeswerk iewers ‘n storietjie raakgelees van ‘n ds Tromp van die Christelik Gereformeerde Kerk. Hy was verantwoordelik vir hulle sendinguitreike in Kaapland. Ds Tromp sê hy het baie keer moedeloos geword met al die pap wiele wat hy op die slegte grondpaaie opgedoen het. Tot hy besef het, by elke pap wiel waar hy alles moes afpak om die spaarwiel uit te kry en band te ruil, het hy met mense gesels en het hy ‘n gemeente kon stig. God het pap wiele gebruik om hom op die regte plekke te laat stop. Handelinge 1 se opdrag was: Gaan wees Jesus se getuies in jou tuisdorp, provinsie, land en die wêreld. Hand 28 sê Paulus het dit gedoen tot in Rome in die teenwoordigheid van ‘n Romeinse soldaat wat aan hom vasgeketting was. Ek is seker ons kan dit ook doen. Wat keer ons? Wat keer jou om Jesus se getuie te wees? Dalk moet ons net weer seker maak: Hoekom het ons Jesus so lief? Dit word nie hier uitgespel nie. Maar dink daaroor. Handelinge is die boek van die Heilige Gees. Van Sy werk. Van die evangelie wat verder versprei. Van Jerusalem, deur Judea tot in Rome. In hierdie laaste hoofstuk word die Heilige Gees skaars genoem. Een keer in vers 25. Maar kyk agter die skerms, of tussen die lyne as jy wil. Paulus is ‘n gevangene. Hy is ‘n gevangene omdat hy Jesus as Messias verkondig het. In hoofstuk 17 was hy in die moeilikheid omdat hy Jesus as Here verkondig het. Teenstrydig met die wtte van die keiser. Die keiser wou here wees. En hier is Paulus in Rome, ‘n gevangene wat in ‘n self gehuurde huis mag bly. Vasgeketting aan ‘n soldaat, ja, maar vra om mense te ontvang en te getuig van Jesus, die Christus. Vir twee jaar lank. Van hier kom die briewe aan Kolosse en aan Filemon. Trouens die laaste vers sê: 31 Hy het die koninkryk van God verkondig en die mense alles oor die Here Jesus Christus geleer. Dit het hy gedoen met die grootste vrymoedigheid en sonder enige verhindering. Dit is die werk van die Heilige Gees. Wat in jou keer dat jy meer oorgegee aan Jesus leef? Wat keer jou om ‘n lewende getuie te wees van Jesus?