Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 24: 46 – 53 Ek het eendag ‘n meisie ‘n saamrygeleentheid gegee vanaf ‘n dorpie in die Wes Transvaal na Pretoria. Sy het by haar kêrel gekuier en het saam met ons terug gery Pretoria toe. Elke keer wat ek in die truspieeltjie gekyk het het ek gesien sy huil nogsteeds. Dit is ‘n drie ure rit gewees. En nee hulle het nie uitgemaak nie. Afskeid neem is net swaar. Toe my dogter NZ toe is was dit vir my swaar om haar op die lughawe te groet. Afskeid neem is swaar. Vir die meeste mense was dit net ‘n doodgewone dag. Baie mense het hulle geliefdes op die lughawe gaan ontmoet. Op daardie vir ander mense net ‘n doodgewone dag moes ek my kind gaan groet. Dit was swaar. Daarom kan dit mens onkant vang om te lees dat die dissipels bly was. Nogals met groot blydskap gevul was toe Jesus van hulle af weggeneem is. Jesus se close vriende van 3 jaar vat die pad terug na Jerusalem toe met groot blydskap. Kom ek sit ‘n ander afskeidstorie by. Hierdie een haal ek uit die strokiesprente uit: As die kleinkinders ‘n week of meer by oupa en ouma gekuier het, en hulle gaan huis toe, dan is oupa en ouma ook bly hulle ry. Dan is hulle ook gevul met groot blydskap. Dis nou as die kleinkinders darem nie te ver weg bly nie. Of as ses jaar oue Gertruida weet haar pa gaan vir haar ‘n nuwe fiets in die stad koop, dan kan sy nie wag dat hy moet pad vat nie. Want sy is angstig om die nuwe fiets te kry. Waar pas die dissipels in met hulle groot blydskap afskeid? Wel: Jy het die Jesus storie. En jy het die gemeente storie. En die brug tussen die twee stories is die hemelvaart. Die gom wat hierdie twee verhale aanmekaar hou is Jesus se hemelvaart. 1. Jesus skep ruimte. Jesus skep die ruimte vir die nog groter dinge om te gebeur. In Johannes 14 het Hy gesê hulle sal doen wat Hy gedoen het en selfs nog groter dinge doen. Jesus het dit voor die kruisiging gesê. Nog voor die dissipels die nag in gevlug het toe Judas in Getsemane opgedaag het met die tempelwagte en die soldate. En nog voor Petrus Jesus drie maal verloën het. As jy na kort na die kruisiging kyk, dan kry jy die dissipels besig om weg te kruip uit vrees vir die Jode. Daar was op daardie oomblik nie ‘n manier wat daardie manne en vroue die evangelie vêr en wyd sou verkondig nie. Jesus se weggaan skep die ruimte vir die koms van die Heilige Gees om te kom. Jesus onttrek om ‘n groter nabyheid met Sy volgelinge en toekomstige volgelinge te skep. Dit gebeur deur die Heilige Gees wat in elke gelowige woon. Dit sit die dissipels en ook ons as gelowiges, in die 6 jaar oue Gertruida se situasie. Net ons gaan nie ‘n fiets kry nie. Wat op ons wag, wat die dissipels voor moes wag in Jerusalem, is die uitstorting van die Heilige Gees oor hulle. In Handelinge brei Lukas meer uit. En Hy gee vir ons Jesus se belofte weer: Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees ... 2. Jesus skep ‘n vennootskap. Die dissipels sal martures (getuies) wees en Jesus sal die dunami (krag) voorsien. Jesus se weggaan skep die spasie vir die Heilige Gees om in hulle in te beweeg, wat weer die spasie skep vir hulle om met Sy krag Jesus se getuies te wees. Ek wil dit herhaal, so bietjie anders die keer: Jesus se hemelvaart stoot die deur oop vir die Heilige gees se werk en die Heilige Gees stoot die deur oop vir die dissipels en elke gelowige om getuies te wees van Jesus die Christus. En van deure wat oopgaan gepraat: Jesus se kruis en opstandinge stoot die deur oop vir genade en die redding van sondaars. Sy oorwinning oor die dood trek ‘n streep deur al ons ou poginkies om dinge met God reg te hou, en ‘n streep deur al ons sondes en ons onvermoeë om God na behore lief te hê en skep in ons ‘n nuwe hart en ‘n nuwe uitkyk op die lewe: die begeerte om God met alles wat ons is en het lief te hê. Ek onthou ‘n storie, of eintlik maar net ‘n deel van ‘n storie waar ‘n Arabiese leier sy gevangenes ‘n keuse gee: Daar is twee deure, sê hy. Die een is tronk en marteling. Die ander is ‘n geheim. Dit kan ‘n wrede dood wees. Of vryheid. Hy sê bitter min mense kies ooit die tweede deur. Die Heilige Gees se koms help ons om die tweede deur te kies en te ontdek dit hou vryheid en lewe in. Wie die tweede deur kies, kies ‘n vennootskap met Jesus. Hy gee krag en ons is Sy getuies. My staaltjie van die Arabiese leier is vol drama en intrige. Jesus se uitnodiging is eenvoudig. Kom na My en Ek gee jou rus. My juk is sag en my las is lig. So ook is Lukas se beskrywing van die hemelvaart eintlik so eenvoudig. Dit is hierdie grootse oomblik en al wat Lukas skryf is “Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.” Geen vreesaanjaende kragte soos aardbewings en vuurspuwende berge en weerligflitse, rukwinde of oorverdowende geluide nie. Geen drama waarin die mense in vrees op die grond neerval nie. Ook nie sagte briesie nie. Niks. Net ““Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is Hy in die hemel opgeneem.” Alles gebeur in die grootste eenvoud. 3. Wat nou verder? Ons maak ‘n keuse. Ons aanbid Hom as Verlosser en Heer. Ons gaan vertel aan almal wat wil luister dat die Christus moes ly en op die derde dag weer uit die dood opstaan. En dat daar in die Naam van Jesus bekering en die vergewing van sondes moontlik is. Dat daar ook vir hulle ‘n kans op ware lewe is. Vir my persoonlik is daar ‘n mooi by verhaaltjie in hierdie gebeure. ‘n Sê nou maar net storie, of ‘n wat as storie. Wat sou gebeur het as die dissipels, of van hulle nie saam met Jeus uit Jerusalem na Betanië wou gaan nie? Sê nou net hulle het ander dinge gehad om hulle mee besig te hou op daardie dag. Dit was ‘n doodgewone Donderdag. ‘n Werksdag. Op ‘n doodgewone dag het Jesus aan die dissipels verskyn en hulle na Bethanieë uitgelei. En ek hoop jy sien raak daar was geen hemel ligte, aardbewings weerlig flitse of watter groot goed mense op die grond in vrees sou kon laat neerval nie. Net Jesus. Net Jesus wat Sy dissipels seën En dan ruimte skep vir die Heilige Gees. Gewone dae het potensiaal. Gewone dae kan God gevulde dae wees vir die wat oop is vir God. Ons leer hier ook dat Jesus aanbid moet wword. Dat Sy lewe en Sy Godheid ontlok aanbidding en blydskap. Die dissipels se reaksie op Jesus se weggaan was juis om Hom te aanbid en toe is hulle gevul met groot blydskap terug Jerusalem toe om te gaan doen wat Hy beveel het. En dis was om te bid en te wag op die gawe van Bo. Baie mense soek die krag van die Gees sonder die oorgawe of die gehoorsaamheid. Sonder die getuie wees deel. Die vennootskap is: Jesus gee krag en ons getuig. Die krag is vir getuie wees. Getuie wees is meer as woorde en belydenisse. En meer as sing. Getuie wees is ook wat jy doen en hoe jy doen en is as niemand jou sien nie ... en ook as almal jou sien. Dit vra krag om getrou te bly en so op te treë dat ander die verandering in jou kan raaksien en self ook na Jesus vra. Afskeid neem kan vreugdevol wees as jy weet daar is ‘n weersiens. Veral as jy weet die Here kom nou op ‘n ander manier in jou leef. Nie meer langs jou nie maar in jou.