Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Moedersdag 2021 2 Korinthiers 3: 1 – 6 Skriflesing eers later In Paulus se tyd het 'n klomp mense rond beweeg van een dorp na die volgende om te preek. Dan kry hulle 'n brief, iets soos 'n getuigskrif, wat hulle dan saamdra na die volgende dorp. Dis 'n bekendstelling en n aanbeveling sodat die volgende gemeente kan weet: dis darem 'n meneer van 'n prediker die. Nou wil die gemeente by Paulus sy brief sien. Dalk omdat daar ouens was wat teen Paulus was. Van hulle was waarskynlik van die rondreisende predikers wat Paulus se werk ongedaan wou maak. Paulus skop hierteen vas. Die gemeente in Korinthe is oral bekend. Almal weet tog van sy rol in die gemeente. Hulle hoef maar net na die gemeente te kyk om te weet wie en wat Paulus is en wat hy preek. Ons moet ook onthou dat Korinthe nie 'n model gemeente was nie. Hulle was vol dinge en probleme. Jy hoef maar net so terug te blaai in die 2 briewe aan die gemeente om te weet dit het maar rof gegaan met tye. En tog skryf Paulus van hulle: hulle is sy aanbevelingsbrief. LEES 2 KORINTHIERS 3: 1 – 6 Niemand hoef ooit vir my ma te gesê het wie ek is of hoe ek is nie. Ek hoef nie met ‘n aanbevelingsbrief, of ‘n getuigskrif, by haar deur aangeklop het nie. Jy sien, sy ken my. My lewe is eintlik ‘n aanbevelingsbrief of getuigskrif vir haar. Al is alles in my lewe ook nie noodwendig goed en mooi nie, bly my lewe ‘n getuigskrif van haar opvoedingswerk en invloed in my lewe. Kom ek gebruik ‘n ander beeld. 'n Mens is eintlik soos 'n boek. Kom ons maak dit 'n draaiboek. Iewers skryf 'n skrywer die draaiboek en dan word 'n klomp akteurs ingebring om die draaiboek te leef. Daar is 'n klomp karakters in so 'n draaiboek. Stelselmatig ontvou die plot of intrige van die boek. Die karakters word so stukkie vir stukkie deur die skrywer ontwikkel. Die hoofkarakter gaan deur dinge, lyk soms soos 'n held en ander kere kom hulle sleg daarvan af. En soos jy lees of na dit kyk, word jy of dieper ingetrek in die boek in, of meer verveeld daarmee en sit jy dit neer. As jy my lewe kon lees, ... soos 'n draaiboek, – van geboorte tot waar ons nou trek – sal jy die hand van my ma daarin sien. My pa ook, maar dis moedersdag so ons hou maar net by ma. Dieselfde met jou lewe, as ek jou lewe sou kon lees. Ek sou jou ma se hand kon sien in hoe jy baie dinge doen, in hoe jy dalk jou kinders hanteer ens. Ek sal ook ander dinge sien. Nie alles goed nie. Ons is almal maar gevorm deur die goeie en die slegte wat op ons ingewerk het. Enige boek het paragrawe wat swakker geskryf is as ander. En tog sit ons nie die boek neer of gooi dit weg of praat dit sleg oor enkele paragrawe nie. Al was niemand se ma perfek nie. Was hulle en is hulle vir ons kosbaar. Al het ons dalk nie so 100% uitgedraai soos hulle gehoop het nie, is jou ma tog trots op jou. En jy gee aan haar erkenning vir die groot rol wat sy in jou lewe gespeel het. Vandag is jy self 'n ma. Of 'n pa. En ek wonder wat ons kinders oor ons gaan sê? Gaan hulle met net soveel lof praat? Of gaan hulle in hulle gedrag hulself distansieer van ons. Ek bedoel gaan hulle onbewustelik hulle alles gee om nie soos ons te wees nie. In die dae toe ek baie getuigskrifte moes skryf, het ek baie keer kon sê: Ek kyk na die gesin en as ek die kinders sien dan kan ek met vrymoedigheid 'n klomp positiewe dinge oor die ma sê. En nee, die kinders was nie noodwendig engeltjies nie maar ek kon sien waar hulle gaan eindig. Die kinders was soos 'n getuigskrif van die ma wat baie dinge oor die ma bekendmaak. Die kinders het gewys wat ma in hulle draaiboek ingeskryf het. Ek is nou jammer, mevrou maar of jy nou wil erken dat jy nogal soos jou ma is, of nie. Dit kan gesien word. Dis so duidelik soos ink op papier sit. So gee haar maar erkenning vir die mooi en vergeet die minder mooi. As Christen bely ons dat ons probeer om God se draaiboek vir ons lewe na te leef. Die Heilige Gees skryf en ons probeer ons keuses daarvolgens maak. Dit is wat ons die heeltyd voor oë moet hou: Ons is briewe van Christus. Ons bepaal nie die inhoud van die brief nie. En ons ma's ook nie. En so moet ook niemand anders, nie vriende of wie ook al, ons draaiboeke skryf nie. Ons is God se skrywes aan die wêreld. Geskryf met die Gees van die lewende God’ (vers 3). Verse 5-6 onderstreep hierdie feit: ‘Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van ‘n nuwe verbond te wees’. ‘Julle is baie spesiaal! Julle is briewe geskryf deur Jesus Christus self!’ Dit is baie belangrik dat ons dit moet besef. Want ons is ook maar nie anders as die gemeente in Korinthe nie. Ons sukkel ook maar om ons geloof orals te laat deurbreek. En tog is ons briewe wat deur Jesus geskryf is – aan ons kinders – aan ons eggenotes – en aan die res van Deneysville gestuur is. Dit herinner my so mooi dat alles in ons lewens is genade. En draai dus om God. God maak ons wat ons is (Efes 2: 8 -10). God laat ons leef. Werklik leef. En God laat ons bou. Dit lê 'n groot verantwoordelikheid op ons. Want ons word gelees. Of ons dit wil weet of nie, mense lees ons soos 'n brief. Dat mense jou raaksien ... hulle sien wat jy doen en hulle sien hoe jy ander mense hanteer. En hulle vorm op grond van die paar paragrawe van jou lewe wat hulle te lees kry, nie net 'n opinie oor jou nie maar veral oor die Skrywer van jou lewe. Oor Christus. God is aan't bou in ons lewens en God is deur ons en met ons aan't bou in ander se lewens. Daarom, as 'n “work in progress” moet mense ook die verandering in ons kan sien. Hulle moet kan lees hoe ons groei en ontwikkel. Sommige hoofkarakter in 'n goeie boek het ook foute. Alles loop nie altyd reg nie. Hulle tree soms erg dom op. Kan ook later hulle hare uit hulle kop uit trek oor wat hulle aangevang het. En tog trek die Skrywer hulle deur. En tog inspireer hulle ons. Of gryp ons aan. Wat ek dan vanoggend vir ons moet sê is: Jy is nie net die hoofkarakter in jou eie lewensboek nie. Jy is ook 'n belangrike karakter in ander se boeke. En as sulks moet jy so leef dat jy die een is wat opbou en inspireer en die held help om beter te wees. God wil van jou die karakter maak wat raak vat, in krisis daar is, wat ophelp en dinge laat gebeur vir almal om haar. En nee, dit gaan nie oor jou nie. En dit gaan in 'n sekere sin ook nie oor hulle nie. Dit gaan alles oor God.