Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Psalm 84 Is dit nie voorbarig, selfs arrogant om ‘n dankdiens te reël nog lank voordat jy die uitslag van die basaar ken nie? Die vraag is: Sê mens net dankie as die doelwit suksesvol behaal is? Of sê mens steeds dankie al is die doelwitte nie gehaal nie? Dit hang seker van ‘n mens se verstaan van God af? En vanoggend se dankie gaan oor gesondheid, die voorreg om ons ouderdom te kan bereik, oor God se goedheid aan ons en ja, ook oor die basaar. 1. Dieper ‘n Mens moet dieper kyk met hierdie psalm. Dit help ook om so bietjie agtergrond te ken. Hulle is oppad na die loofhuttefees. Dit is die fees na die vrugteoes. Veral olywe en druiwe is geoes. Ons weet nie of dit ‘n goeie oes was nie. Dit was gewoonlik ‘n vrolike fees. Vol dankbaarheid en met ‘n hele klomp seremoniele handelinge. Die mense is oppad na Jerusalem toe vir die fees. En ek neem aan, soos maar met ons ook, as mens stap, dan begin jy alhoe dieper dink. En later dink jy oor God. Hierdie psalm gaan oor God. Daar is geleerdes wat kies vir die ou vertaling hier: “Hoe lieflik is U wonings Here ...” Want dit laat die absolute verwondering deurbreek vir God. Ja, die tempel was blykbaar ‘n baie mooi gesig. Veral as die oggendson op die groot stene geskyn het. Maar kyk dieper. Kyk verby die drumpel van die tempel. Waar is jy regtig veilig? Waar het jy krag gevind om aan te gang toe jy nie meer krag oor gehad het nie? Wie het vir jou nuwe deure oopgestoot toe die deure in jou gesig toegeklap het? En kom dan uit by die belydenis van vers 12 en 13: “12 Die Here God is ons krag en ons beskerming, die Here gee genade en eer, Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie. 13 Here, Almagtige, dit gaan goed met die mens wat op U vertrou!” Dit is nie die eerste keer dat die digter sê dit gaan goed met die mens wat op God vertrou nie. Die hele psalm spel dit op verskillende maniere uit. By God kom jy tuis. Regtig tuis. 2. Verlang. Dit is asof die digter sukkel om die regte woorde te gee om sy verlange na die Here weer te gee. Hy gryp na prentjies. Hy raak verwonderd. En dan weer dors hy na God: “Ek versmag van verlange ...”. Dan weer kyk hy na die voëls en hy dink maar dis God wat hulle huisves. Selfs hulle het ‘n plekkie by God. En die besef word vir hom net al hoe sterker: Dit is beter om in God se omgewing te wees as om in ‘n grênd huis te bly sonder God. Eerder op die drumpel van die tempel staan en toekyk, as om sonder God te leef. Dan spoel die woorde uit: Vers 5: Dit gaan goed met mense vir wie u huis 'n tuiste is: hulle hou nie op om U te prys nie. Sela.” En as jy mooi kyk dan sien jy dit gaan nie oor die tempel of oor die huis van God nie. Dit gaan oor God. Want hulle hou nie op om God te prys nie. Ek het by die Victoria valle gesit en luister hoe mense gaande is oor wat hulle sien. En ek het gepraat met mense wat gaande was oor die God wat dit wat hulle sien, geskep het. Daar was ‘n man wat sy arms in die lug in gegooi het en O Heer my God in Engels begin sing het en dan weer sy kop vas gegryp het in pure verwondering. Die eerste groep sien die tuin. Die tweede groep dink aan die Tuinier wat die mooi tuin geskep het. Psalm 84 vra dat jy verby alles kyk en God sien. Die psalm wil ons innooi na hierdie God toe. Ons laat raaksien maar by God, is al waar jy wil wees. Nêrens anders is die moeite werd nie. Die mens wat so sy hoop in God plaas, wat om hom of haar kyk en God sien en Hom prys ... dit is die mens wat raak sien dat dit God is wat soos bv in vers 7 die fonteine laat oop gaan selfs daar waar jy deur moeilike plekke of tye beweeg. En daarom, hoor dit vandag weer, uit die Skrif uit: Vers 6 “Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind en graag na u tempel toe gaan.” Die klem is op die U. Op God. 3. Verkwik. As jy kyk na vers 8 dan is hulle nog oppad. Hulle is te voet oppad na een van die groot feeste, waarskynlik die loofhutte fees. Hulle is moeg en het deur droë wêreld gestap tot hier. Maar daar was lafenis. En hulle het krag gekry. ‘n Mens begin voel hoe God ‘n huppel in hul stap gesit het. Dalk vir mekaar ook gesê wat ons in vers 8 raak lees: Ons kry elke keer weer krag ... totdat ons voor God in Sion verskyn. Dit gaan goed ... omdat God God is. Omdat God dit met ons goed laat gaan. Of die basaar goed gedoen het of nie. Vandag loof ons God suiwer omdat Hy God is. Vir geen ander rede as sulks nie: Net omdat Hy God is. Ons God. Want ons weet by Hom is die lewe. Daar is vertalers wat kies om in vers 3 eerder te vertaal die “God wat lewe gee”. Dit is tog hoe ons Hom beleef. Hy gee ons tweede kanse. God gee ons lewe. God en God alleen het nog elke jaar hierdie gemeente behoue laat bly en laat groei. God en God alleen het ons bymekaar gehou selfs al het ons weerbarstig nie wou saamstaan nie. Daarom loof ons God. Smag ons na Hom. Is ons soos ‘n wildsbok in dorre streke wat smag na water. So smag ons na God. Daarom het ons die basaar biddend aangepak. Gereeld gebid vir gister. En vandag kan ons fees vier want ons God het weereens water gegee in dorre tye. Kom ons loof en prys Hom.