Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 11: 20 - 30 In ‘n tyd waar mense moeg en byterig is, die druk hoog is by die werk en mense bekommerd is oor finansies en hul werk, is hierdie ‘n belangrike boodskap. Die versoeking is om minder tyd aan verhoudings te spandeer net om te kan cope. En die eerste verhouding wat afgeskeep of afgerammel word is die verhouding met Christus. Ons sit hier met wat ‘n geleentheid kan wees of ‘n verleentheid. Die gedeelte wat ons saam gelees het speel af in ‘n totaal ander wêreld met druk en bekommernisse van ‘n ander aard. Wat keer op keer in die slag bly is innerlike vrede en gemoedsrus. Jesus se mens word, en Sy werk, is steeds vir die mensdom ‘n geleentheid of dalk selfs ‘n verleentheid. Kom ons praat eers verleentheid. En dan geleentheid. 1. Verleentheid. Elke aksie van Jesus is gemik om mense die kans te gee om werklik tot God terug te keer. Ek gebruik die woordjie “is” en nie, “was”, doelbewus. Ons moet kan hoor dit is nie in die verlede dat elke aksie van Jesus gemik was om mense tot God terug te bring nie. Elke aksie van Jesus vandag nog het die bekering van mense in die oog. Vandag nog is daar mense vir wie die oordeelsdag ondraaglik gaan wees. Vandag nog is daar mense wat nie die keuse vir Christus maak nie. Nie bekeer nie. Ellende wag vir hlle, sê Jesus. Kapernaum was natuurlik Jesus se tuis basis. Miskien, sommige geleerdes meen so, het hulle begin sê Jesus bly hier en Jesus werk van hier af. Daarom is ons so tree of drie voor die res van die land. Wel, Kapernaum, dit help jou niks om Jesus in jou midde te hê en jy bekeer jou nie. Jesus vergelyk hullle met die lot van Sodom wat oor hul sondes uitgewis is. Selfs Sodom sou as al die wonderwerke daar plaasgevind het tot bekering gekom het. Ons hanteer die twee dele saam vanoggend want dis twee kante van dieselfde geleentheid. Jesus wys op die verleentheid, as ek dit nou sagkens stel, wat wag vir die wat nie bekeer nie. Jesus maak ook die deur oop vir mense wat hul eie verleentheid raaksien en ervaar as sleg en bied vir hulle ‘n geleentheid. Jesus het gekom om mense terug te sit in die regte verhouding met God. Om vrede tussen mense en God te bewerk. Glo jy in Hom, word jy gered en vernuwe. Dan word jou lewe nuutgemaak en leef jy anders van daar af verder. Sigbaar anders. Hierdie deel waarsku ‘n mens opnuut: dink oor jou verhouding met Jesus en dus met God. Bekeer! Bly terug keer tot God. Bly dinge op God se manier doen. Wees anders as die gemeenskap. 2. Jesus se rol en plek. As ons tot hiertoe oordeel gehoor het, nou hoor ons ‘n sagte liefdevolle uitnodiging. ‘n Uitnodiging wat kom met ‘n groot stuk dankbaarheid aan God die Vader. Dankbaar dat God die evangelie oopgemaak het vir selfs die eenvoudigstes om te kan verstaan. Aan die anderkant is die wat hulself slim en volleerd ag, die wat dit eenvoudig net nie kan of wil snap nie. Dit laat ‘n mens besef dat dit net genade is dat ons wel glo. En dat dit net genade is om die evangelie nederig te leef. Intens bewus dat ons nie ‘n aandeel het nie behalwe om onder die leiding van die Heilige Gees te bly kies vir God. Elke dag oor en oor te kies vir God en vir dit wat vir God belangrik is. Wat hierdie uitnodiging kosbaarder maak, nog meer begeerlik maak, is Jesus se hegte verhouding met God. ‘n Verhouding wat jou laat besef hier hoor ek nie net vir Jesus nie, ek hoor God self ook. Kyk mooi na Jesus se verhouding met God. Vader Seun. ‘n Hegte saam wees. Intiem. ‘n Verhouding wat ons help om God se hartklop te hoor en ons lewens daarvolgens in te stel. Dit is belangrik. Ons wil deur God geken wees en ons wil God ook mag ken. Jesus sê hier dat niemand die Vader kan ken tensy die Seun Hom aan hulle bekend gemaak het. En dit is waar Kapernaum en Gorasin en Betsaida en ‘n klomp ander dorpies se mense uit die bus geval het. Die Seun het met wonderdade God aan hulle bekendgestel maar hulle het hulle nie bekeer nie. 3. ‘n Geleentheid Jesus bied aan ons die geleentheid om God te ken. Wie Jesus ken ken die Vader. En in wat Jesus gedoen en geleer het leer jy die hart van God ken. En uit die hart van God kom die uitnodiging na ‘n diens van liefde aan God. God wat uit liefde uit Sy Seun gee sodat ons die ewige lewe mag hê en ons wat God lief het met ons hele wese. Daar is drie werkwoorde of opdragte wat ons moet raaksien en op reageer. Kom. Neem. Leer. 3.1 Kom. Die eerste een is eenvoudig. Kom na Jesus toe. Kom vertrou jou hele lewe aan Hom toe. Alles, werk, huwelik, ontspanning, geestelik en innerlik, letterlik alles kom plaas jy onder Jesus se regering en bestuur. Wat jy gaan ontdek is dat Hy jou sal heelmaak. Jou lewe gaan nuwe, beter, kwaliteite aan neem. Jou motivering gaan skuif. So ook jou gerigtheid. En ‘n nuwe manier van wees sal voor jou oopgaan. As jy aanhou om saam met die Here te werk, sal jy vorentoe terugkyk en sê dit was die beste besluit ooit in my lewe. ‘n Oom het my in die laat 80 ger jare vertel hoe spyt hy was dat hy eers toe hy 62 was tot bekering gekom het en nie reeds toe hy 16 was en begin werk het al nie. Ek het ‘n leeftyd van vreugde en vrede en van God se teenwoordigheid gemis. Was sy woorde. Jesus vergewe nie net ons sondes nie. Party mense dink dis al die sondes tot hiertoe nie. Nee, hy maak jou totaal nuut. Dit is ‘n nuwe begin. Nuwe lewe. ‘n Lewe waarin Hy ons krag gee, in ons werk en om ons aan die werk is. Ons word toegevou in Sy liefde. Onder Sy bestuur ontdek ons dat Hy voorsien vir ons. Daar is nog ‘n dimensie hieraan. Jy raak ontslae van jou bagasie wat jou terughou en jou vreugde steel. Kom. Na Jesus toe. 3.2 Neem. Ons tweede werkwoord vir vanoggend. Hierdie werkwoord is moeiliker. Om na Jesus te kom is maklik. Jy bid tot Hom en jy gee jouself vir Hom. Die moeilike deel hiervan dra Jesus. Hy gee Sy lewe. Met Sy kruisdood en opstanding koop Hy ons vry. Hy dra die straf op ons sonde. En hier moet ons nie dink aan ‘n paar verkeerde dinge wat ons sou gedoen het wat God ontstel nie. Ons moet daaraan dink dat ons die punt van lewe gemis het. Dat ons lewens ontaard het in iets wat dit nooit moes geword het nie. En daarom vernietig moet word. Jesus gee vir ons ‘n nuwe hart, nuwe gerigtheid. En dit is op God. Die tweede werkwoord impliseer ek moet iets doen. Ek moet iets op my neem. Die meeste mense ignoreer dit. Nou word jy ingetrek in die koninkryk van God waar dinge, vreemd vir ons dalk, anders gedoen word. En ons moet dit aanleer. Neem My juk op, sê Jesus. Dis hier wat baie mense dalk net voel maar ek het al soveel hooi op my vurk en ek voel al so oorweldig en oorlaai met werksdruk en verpligtinge, dat ek net nie kans sien vir nog iets by dit alles nie. Nog minder ‘n juk op my nek. ‘n Juk is mos daardie ding wat jy op ‘n bees se nek sit en met kettings aan die trekstang van ‘n wa. ‘n Juk insunieer werk wat kom. Kom ek wees die een wat jou ontnugter. Elke mens het reeds ‘n juk wat hulle dra. Die een of ander siening waarvolgens hulle leef. Of denke oor hulself bv ek is nie goed genoeg nie. Sal nooit goed genoeg wees nie. Geld of ‘n vrees vir armoede kan byvoorbeeld jou juk wees. Wat ookal jou juk is, is ook dit wat jou dryf of jou terug hou. Daarom maak dit sin om jou juk versigtig te kies. Jesus sê “Neem My juk op.” Waarop sinspeel Jesus hier? 'n Rabbi se interpretasie van die wet of Torah is 'n juk genoem. ‘n Juk is dus al die moets en moenies wat die rabbie jou leer om na te kom . Die rabbies het vanuit die Torah moets en moenies bygevoeg. Soveel so dat die mense moedeloos geraak het met al die moets en moenies dat hullle hulle uitsig op God verloor het. Jesus het in effek twee dinge gedoen: Hy het die straf wat die wet oor ons gebring het weggevat deur self die straf te dra. En tweedens, Hy het die wet eenvoudig kom maak vir die mense. Hy het vir ons ‘n opsomming gegee wat alles sê: Jy moet die Here jou God lief hê en jou medemens soos jouself. Want, hy het geweet, die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Die liefde maak 'n ander mens se lewe mooier en makliker. Die liefde vergewe, is bedagsaam en toon respek. As jy liefhet stel jy jou geliefde se belange bo jou eie. Die uitnodiging is om na Jesus te kom. Hy is vir ons die Weg die Waarheid en die Lewe. Wat my by die laaste werkwoord bring. Leer 3.3 Leer by Jesus. Leer by Jesus om God so te vertrou soos Jesus, God vertrou het. Leer by Jesus met die doel om soos Jesus te word. Die werkwoord “ om te leer” sê tog sit werk in. Doen moeite om te leer wat Jesus vir ons wys. Leer kom nie van self nie. Dit vat gekonsentreerde werk. Dit is oa hoekom ons die Matteus evangelie so vers vir vers deurwerk: om te leer by Jesus . Meer spesifiek leer hoe om in die koninkryk van God te leef. 4 Die belofte: Rus Jesus se uitnodiging sê, kom, neem op en leer by My. En jy sal rys vind vir jou gemoed. Ons kan nie altyd ons omstandighede verander nie. Ons kan covid-19 nie wegwens nie. Ook nie die skade wat regerings beleide aanrig nie. Maar ek kan rustigheid in myself ontdek ogv Jesus Wie in my leef. Ek weet ons word moeg. Fisies moeg is een ding. Lewensmoeg, innerlik moeg is ‘n ander ding. As jou moeg moeg is, is jy al in die moeilikheid. Ons hoef nie so moeg te word nie. Dit ontdekking is dat daar vrede tussen God en jou is. Die vreugde van stil word en praat met God. Die hoop wat Sy krag bied gee ruimte om asem te haal en te leef. Rus vra nie minder goed gedoen nie. Jy kan heeldag op die strand lê en nie rus vir jou gemoed hê nie. Die gejaagdheid sal bly kleef soos gom. Rus vir jou gemoed kom uit ‘n gesonde verhouding wat daagliks gebou word. ‘n Verhouding gebou op die liefde wat God vir jou het en jy as gevolg ook vir God het. Kom. Neem. Leer. Dit moet soos ‘n mantra wees: Kom na Jesus toe. Hy gee rus ook vir jou gemoed.