Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 11: 7 -19 (opvolg op 11: 1 – 6). Ek wil ‘n storie van Veltkamp (1985:34), ‘n bekende Nederlandse teoloog, so ‘n bietjie anders gebruik. Die storie gaan so: Daar is aan ‘n rabbi vertel dat hy die sofar moet blaas want die Messias het gekom. Die rabbie loop toe na die venster, maak dit oop en staar na buite. Hy maak toe die venster toe en sê: "Nee, Hy het nog nie gekom nie, alles daar buite lyk nog dieselfde." Dit is die krisis van die wêreld: Hulle kyk na gelowiges en hulle sien dat niks verander het nie, vir hulle lyk alles nog dieselfde en hulle sê, Nee, Hy het nog nie gekom nie. Die wêreld twyfel nie. Hulle is seker. Gelowiges wat vashou aan God en God se genade, hulle beland soms in twyfel. Hulle stoei met dit wat hulle sien wat bots met dit wat hulle hoop en glo. So was dit met Johannes die Doper ook. Kom ek lê nog ‘n laag op Johannes se twyfel. Ek het verlede Sondag gewys hoe seker Johannes was dat Jesus die Lam van God is. Kom ek wys op ‘n paar ander uitsprake van Johannes die Doper oor die Messias: Hy het die skrifgeleerdes hard aan gevat en gesê hulle moet hulle bekeer want die byl lê klaar teen die wortel van die boom (Matt 3:10). Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. En ook “Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Hy het Sy sop in die hand en Hy sal Sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. (3: 12). Dalk het Johannes Jesaja 53 vergeet, die lydende kneg van die Here wat vir siekes en armes uitkoms bring. Gelowiges stoei en worstel en sukkel as Jesus anders is as wat hulle gedink het. Ongelowiges het nie ‘n saak met Jesus nie. Net veragting. So het die skare teen Johannes die Doper begin draai. Hy is dan in die tronk. Kyk hy twyfel. Het Johannes in sy laaste gefaal? Nee. Jesus laat dit nie daar nie. 1. As Jesus vir jou opkom. Die mure het ore. Die mense hoor dinge. Dit is waar van hierdie gesprek van Jesus met Johannes die Doper se volgelinge. Hy het gesien dat hulle skielik anders begin dink oor Johannes. Dat sommiges op hom begin neerkyk het. Dit alles oor sy oomblik van twyfel. Jesus begin toe met die mense oor Johannes praat. Hy leer hulle iets. Hy gebruik ‘n tipiese proses van daardie tyd. Jy vra vrae en lei die mense om hulle eie antwoorde te ontdek. Jesus vra drie vrae. Vraag 1: Wat het julle in die woestyn gaan kyk? Na ‘n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word? Antwoord: Nee! Vir die mense was Johannes die Doper eerder soos ‘n sterk boom met goeie wortels. Jesus los hulle nie daar nie. Hy vat hulle verder. Hy vra: Vraag 2: Maar wat het julle uitgegaan om te gaan sien? ‘n Man met deftige klere aan? Weer is die antwoord: Nee. Want Johannes het die die fyn klere gedra wat die mense in paleise kon bekostig om te dra nie. Hy was dus nie iemand wat buig voor die koning en heersers nie. Sy rowwe klere van vel was alles behalwe gepas vir die paleise van die wêreld. Ek vermoed sterk dat jy die spreekwoordelike speld sou kon hoor val. Jesus het hulle aandag gehad. Weer vra Hy: Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? ‘n Profeet? En hierdie keer is die antwoord ja. Drie retoriese vrae. Jesus antwoord die eerste twee met ‘n Nee. En die derde met ‘n ja. Die profeet vir wie hulle uit die pad uit gegaan het om te gaan sien, die profeet wat hulle agting verloor oor hy in die tronk twyfel, daardie profeet is groter as enigeen op aarde. Jesus kom vir Johannes die Doper op. En gee dan perspektief. Die geringstes in die koninkryk van die hemel is steeds groter as Johannes die doper. 2. Vers 11: Groter en geringstes. Waar pas ons in? Ons het die voorreg om te mag terug kyk. Ek wil drie verse wys. Matteus 11: 11 11 “Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie, en tog is die geringste in die koninkryk van die hemel groter as hy. Matteus 18:4 4 Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. Matteus 23: 11 11 “Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien. Konsekwent, regdeur die evangelie, loop die lyn van “wees eerder ‘n geringe.” Wees een wat dien. Johannes die Doper was ‘n geringe. Een wat dien. Toe mense vir hom kom sê dat Jesus se dissipels doop was Johannes se woorde: Hy moet meer word en ek minder. Johannes het nie aangetrek om te beindruk nie. Hy het eenvoudig geleef. Hy het gedoen wat God van hom gevra het. Kom ons blaai terug na Matteus 10: 32. Jesus is besig om te praat. “32 “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is.” Selfs in Johannes se oomblikke van twyfel, is hy eeue later steeds ‘n getuie. Iemand wie se aksies na Jesus wys. Sy stuur van sy dissipels om te gaan vra: Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?, wys ons om self na Jesus te draai. Veldtkamp vertel ‘n tweede storie oor twee rabbies. Dit vat iets van Johannes die Doper se verhaal raak. Dis so ‘n bietjie anders as die een waar die rabbi hom dood staar teen alles wat dieselfde bly. Rabbi Jehoshua vra: ‘Wanneer kom die Messias?’ Rabbi Simon antwoord hom: ‘Gaan vra hom self!’ En waar sit Hy, wil rabbi Jehoshua weet. “Hy sit by die armes, en Hy is by die siekes. Kom die antwoord terug. 3. Wie is Jesus vir jou? Ek het dit verlede Sondag ook gevra. Dit maak al die verskil. In ‘n wêreld waar mense dikwels soos riete is wat heen en weer in die wind van populêre mening waai. En veral in die eindtyd waar mense agter vals christusse gaan aan hardloop en afvallig word. Moet ek en jy met hierdie vraag bly stoei. Veral waar ons nie ‘n einde sien aan plaasaanvalle, moorde op bejaardes, vroue en kinders nie. Veral in hierdie misdaad geteisterde land, en jy wonder wanneer gaan God ingryp? Moet ek en jy besef dat God nog kans gee vir bekering. Besef dat al lyk die land nog netso op die afgrond soos gister, is God se koninkryk aan die groei in mense se lewens. In ons lewens. Al leef ons in ‘n paralelle wêreld waar aan die een kant moord en misdaad en korrupsie skynbaar aan die wen kant is, gee God vir die wat ernstig soek na Hom, Sy koninkryk. Sien raak ... mense wat hulle kragtig inspan. Mense wat met erns, of met mening, werk aan hulle verhouding met God. Sien die koninkryk van die hemel. Beywer jou vir dit. Gryp dit aan. Al is die wêreld soos kinders wat hoogs verveeld is en self nie wat hulle wil speel nie. Ek sluit af met Jesus se beeld van hoe mense is: Kom ons speel troue troue. Nee sê die ander klomp. Ons is nie lus nie. Kom ons speel begrafnis. Julle is die draers, jy is die lyk. En hulle voeg sommer daad by die woord en begin ‘n klaaglied sing. Maar die ander wil ook nie dit speel nie. Maar nou wat wil julle speel? Ek los dit daar. Johannes die Doper het nie geeet en gedrink nie en die mense het gesê hy is van die duiwel besete. Jesus het geëet en gedrink en die mense het gesê Hy is ‘n vraat en ‘n wynsuiper, ‘n vriend van tollenaars en sondaars. ‘n Mens wil verontwaardig sê: Rerig! Ek kom weer vir oulaas terug na Veldtkamp se rabbies. Net hierdie keer is jy en ek die rabbies. Kyk by die venster uit. Wat sien jy? En aan die hand van die tweede verhaaltjie: By Wie sit jy? En tussen wie sal iemand jou gaan soek?