Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 11: 1 – 6 Dit is ‘n deurmekaar wêreld. Ons is al tot vervelens toe vertel dat ons moet gewoond raak met die idee van ‘n nuwe normaal. Ons word vertel dat covid-19 is die groot reset. Ons weet net nie hoe gaan die pad vorentoe lyk nie. Gaan alles regtig anders so wees? En ja, ‘n klomp goed het geskuif. Maar, het ons al ooit geweet hoe die pad vorentoe lyk? Wat vandag nog gaan gebeur? Wat ek vandag moet doen is om deur al die onsekerheid te sny tot by ‘n kernvraag. Jy mag dink ek matig my nou iets aan. Post modernisme het ons tog probeer wysmaak daar is geen absolute waarhede nie. En nou kom ek met ‘n absoluut. Hier is my vraag: Is Jesus regtig Wie Hy sê Hy is? Dink deeglik, of dan dink noukeurig hieroor. Dit is ‘n persoonlike vraag. Moenie jouself probeer antwoord met vaaghede of intelektuele antwoorde nie. Wie is Jesus vir jou? Moet nie skaam wees as jy onseker is nie. Groot figure in die geskiedenis het al getwyfel, bv Johannes die Doper. Hy wat Jesus gedoop het en by daardie einste doopgeleentheid gesê het “ Daar is die Lam van God ...” en “... daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.” (Johannes 1: 29 -34 opgesom). Wat ons nodig het, is sekerheid. En as ons seker is Jesus is Wie Hy sê is, dan vat ons koers elke dag met Hom. Want Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe. Dan gaan ons die groot reset en die nuwe normaal kan trotseer. Want Jesus is dit alles en meer. As Jesus dit nie is nie, dan doop ons verniet, dan is ons geloof nutteloos. Dan sit ons met dieselfde dilemma as Johannes. Net, Johannes sit in die tronk. Hy het Herodus skerp gekritiseer oor laasgenoemde sy broer se vrou vir hom gevat het. En Johannes het as God se gestuurde Herodus gekritiseer daaroor. En nou sit Johannes in die tronk. En hy dink. En hy wonder of alles die moeite werd was. Johannes het in die tronk gehoor wat Christus alles gedoen het en hy laat vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?” Mat 11:3 En al wat Jesus doen om Johannes te antwoord, is om Johannes se volgelinge te sê: Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien. Maw Johannes moet self sy mind opmaak: Is Jesus die Christus. So, moet ek en jy vandag dieselfde doen. Vir ons self uitmaak of Jesus is wie Hy sê Hy is. En as Hy dit is, dan moet ons lewens koers kies saam met Hom. Dan leef ons as mense wat aan Hom behoort. Dan verloën ons onsself ten gunste van Hom. Dan gaan dit nie meer oor ons nie. Ons lewens gaan oor Hom en Sy groot liefde en genade. Dan leef ons soos mense wat ‘n ander soort groot reset beleef het: Jesus is ons reset. En dan is Jesus ons nuwe normaal. Kan ek ook vir jou sê: Jesus los ons net met twee opsies: Of jy glo, of jy glo nie. Daar is nie ‘n tussenin of ‘n half half nie. Daar is nie ‘n ek behou myself en Jesus moet my krisis hulp wees nie. Dit is alles of niks. Hy is nie ‘n groot profeet of iemand om te bewonder nie. Jesus soek nie bewonderaars nie. Jesus maak ons kinders van God. Mense wat Jesus alhoe meer uitstraal na buite. Kyk mooi na Jesus se antwoord op Johannes se vraag. Johannes se volgelinge moet gaan vertel wat hulle gesien en gehoor het. Matteus gee vir ons dit wat almal daardie tyd kon sien: 5 Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, en aan armes word die evangelie verkondig. Matthew 11:5 Jesus weet dat Johannes dadelik die Skrifgedeeltes oor die Messias sal eien in wat sy volgelinge gesien het. Dit is goed wat lank reeds voorspel is dat die Messias dit sou doen. Ons word nie gevra om ‘n veraf, oertyd se verhaal te glo nie. Ons word gevra om ons oë oop te maak en te kyk vir wat God doen vandag. En as jy niks sien nie dan vra jy God en jy hou aan vra en jy hou aan met ‘n oopkop en oë kyk. Alles begin met ‘n ontmoeting met die opgestane Jesus. Een op Een. Daar is dae wat ek wonder oor God. Wat my deurdra is wat ek sien en ervaar. Dit wat ek by God, en saam met God beleef, maak dat ek weet God is netso werklik en meer, as jy wat vandag hier sit. En God is nie veraf nie. Hy is hier. Dit is hoekom ons vanoggend Hom meer aanbid het. Selfs anders, met skrifverse, aanbid het as normaal weg. Ek vra jou om iets raak te sien vandag. Jesus het kort tevore, hoofstuk 10, en kyk na 11: 1, sy eie dissipels uitgestuur om vir mense te gaan sê die koninkryk van die hemel het naby gekom. Om te gaan sê wat hulle sien en hoor saam met hierdie Jesus. Sien ook raak dat Jesus Johannes se volgelinge terug stuur na Johannes om te gaan vertel wat hulle gesien en gehoor het. Word bewus dat Jesus ons na ons kinders toe stuur om hulle te vertel. En vir ons vriende te gaan vertel wat ons gesien en gehoor en gelees het. Jy sien, die wat glo, die wat sien, word altyd gestuur om te gaan vertel. Dit is okay om soms te twyfel. Moet net nie jou twyfel in die lug laat hang en niks doen nie. Doen soos Johannes die doper. Doen wat jy kan om met Jesus te praat. Gaan na Jesus toe met jou twyfel. Bid daaroor. Sit by God daarmee. Al hoor jy niks. Iewers sal jy agterkom dat God jou nuut laat kyk. Dit is moeilik vandag, ek weet. Ons leef eeue na hierdie gebeure. En tog is Jesus vandag nog net so werklik en netso teenwoordig. Nou, as die opgestane Here. Die Oorwinnaar. Ek vra jou vandag om nog iets te sien. Dat Jesus ons herskep het, nuutgemaak het, wedergebore het, nie ter wille van onsself nie, ja dit ook, maar ter wille van God en God se koninkryk. Moet dit nie oor jouself maak nie. Ons lewens is geleenthede om God te eer en verheerlik. En ons ontdek dat dit wat God ons gee meer besonders is as enigiets wat ons ooit geken het. Hierdie studie van ons van Matteus evangelie, dis ‘n vakleerlingskap by Jesus. Oor lewe en oor wat saak maak. Leer by Hom. Die vraag op die tafel is: Is Jesus wie Hy sê Hy is?